OnderwysNet - ruimte vir opvoeders van AfrikaansArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW
Hiemstra
Trust

KURRIKULUM 2005

Leerprogram: taal, geletterdheid en kommunikasie addisionele taal (voorheen: tweede taal): Afrikaans

Faseorganiseerder:
Kultuur en gemeenskap

Programorganiseerder:
Groet vandag iemand in ’n ander taal en maak ’n vriend.

Kernspesifieke uitkoms tgk1:
Leerders skep en onderhandel betekenis en begrip.

Assesseringskriteria 2+3:
’n Sleutelboodskap word geïdentifiseer en verduidelik. Betekenis word geskep deur lees en afleidings word van tekste gemaak.

Addisionele spesifieke uitkoms 5:
Leerders verstaan, ken en pas taalstrukture en - konvensies in konteks toe.

Assesseringskriteria 1:
Kennis van taalkundige strukture en konvensies word aangewend om teks te struktureer.

Addisionele spesifieke uitkoms 4:
Leerders bekom, verwerk en gebruik inligting uit ’n verskeidenheid bronne en situasies.

Addisionele spesifieke uitkoms 7:
Leerders gebruik gepaste kommunikasiestrategieë vir spesifieke doeleindes en situasies.

Aktiwiteit 1
(op grond van spesifieke uitkoms 1)

Lees die onderstaande leesstuk deur en beantwoord dan die vrae wat daarop volg.

Groet vandag iemand in ’n ander taal en maak ’n vriend.

Groet iemand in ’n ander taal. Dit is die tema van die Taalbewustheidsdag wat vandag landswyd gehou word.

Die Hoyozela-veeltaligheidsbewustsheidsveldtog wat “welkomskrete” beteken, is vroeër vanjaar deur die departement van Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie van stapel laat loop.

Dié veldtog word gehou om mense bewus te maak van die land se elf amptelike tale. Die Handves op Menseregte verklaar dat elke mens daarop geregtig is om die taal van sy keuse te gebruik en het ook die reg om in die taal van sy keuse aangespreek te word.

Hoyozela is daarop gemik om mense aan te moedig om veeltaligheid te respekteer, ’n verdraagsame houding jeens alle tale te bevorder en om die begeerte aan te wakker om van mekaar te leer.

Anne Munnik van Constantia is Afrikaans, Engels, Xhosa, Italiaans en Duits magtig. Die oud-onderwyseres leer werknemers van groot maatskappye in die Wes-Kaap om Xhosa te praat.

Nie net geniet sy dié werk nie, sy beskou dit ook as ’n diens aan die gemeenskap.

Volgens Anne was sy gelukkig om as plaaskind naby Somerset-Oos in die Oos-Kaap tussen swart kinders groot te word. Sy sê: “Om Xhosa te praat was vir my so alledaags soos Engels en Afrikaans.”

Nadat sy die BA met Afrikaans, Engels en Xhosa en ’n hoër onderwysdiploma aan die Universitiet van Kaapstad verwerf het, het sy by Sacs in Nuweland gaan skoolhou. Sy was in 1987 die eerste onderwyser om Xhosa aan nie-moedertaalsprekers in die Wes-Kaap aan te bied.

Verder sê sy: “ Ek was gespanne daaroor, maar ook baie opgewonde. Dit was ’n geweldige uitdaging omdat Xhosa nie so maklik is om te leer soos Afrikaans en Engels nie.”

Anne wil mense aanmoedig om ’n derde taal aan te leer. Maar hulle moenie ’n taal probeer leer wat jy selde of nooit gaan gebruik nie.

“Leer die taal wat in jou omgewing gebruik word. En onthou: Volwassenes kry ’n Afrikataal selde onder die knie. Moenie eens probeer om dit vlot te praat nie. Leer eerder basiese frases aan en praat met selfvertroue”.

Kinders leer ’n nuwe taal makliker aan, sê sy. Daarom moet hulle so vroeg as moontlik aan ’n derde taal blootgestel word.

Anne glo nie die toekoms vir Afrikaans is op die spel nie. “Daar is te veel mense wat die pragtige taal praat, “ sê sy. (Uit: Die Burger, 11 Sept. 1998)

Kies elke keer die korrekte antwoord uit die vier moontlikhede en skryf jou antwoorde dan in jou werkboek

(a) Die titel van die artikel was die tema van die wat landswyd gehou is.
- Modebewustheidsdag
- Taalbewustheidsdag
- Erfenisbewustheidsdag
- Besoedelingsbewustheidsdag

(b) Volgens die leesstuk beteken “Hoyozela” ...
- Welkomskrete
- Welkomsgroete
- Welkomsrede
- Welkomswoorde

(c) Watter twee aspekte van Menseregte (volgens die stuk) is korrek?
- Alle mense moet ten minste drie tale magtig wees
- Elke mens het die reg om die taal van sy keuse te praat
- Alle mense behoort onderrig te ontvang in hul moedertaal
- Elke mens het die reg om in die taal van sy keuse aan gespreek te word

(d) Anne Munnik is oorspronklik van ...
- Wes-Kaap
- Noord-Kaap
- Oos-Kaap
- Suid-Kaap

(e) Die vyf tale wat Anne magtig is, is ...
- Afrikaans, Engels, Zoeloe, Xhosa en Duits
- Afrikaans, Grieks, Italiaans, Engels en Duits
- Afrikaans, Engels, Italiaans, Xhosa en Nederlands
- Afrikaans, Engels, Xhosa, Italiaans en Duits

(f) Sy was voorheen ’n ...
- verpleegster
- onderwyser
- ontvangsdame
- romanskrywer

(g) Watter stelling ten opsigte van Anne se huidige beroep is ONWAAR?
- Sy onderrig werknemers in die Wes-Kaap
- Sy onderrig Xhosa
- Sy geniet dit glad nie
- Sy werk by groot maatskappye

(h) Anne voel sterk oor sekere sake. Watter een van die volgende stellings is korrek?
- Kinders kry selde ’n Afrikataal onder die knie
- Die toekoms van Afrikaans lyk maar donker
- Leer die taal aan wat in jou omgewing gepraat word
- Mense moet leer om ’n vreemde taal vlot te praat

Beantwoord ook die volgende vrae:

(i) Aan watter universiteit het Anne gestudeer?

(j) Wat beteken die volgende uitdrukkings:
- “van stapel laat loop ...” (par 2)
- “om die begeertes aan te wakker” (par 5)

(k) Waarom was die onderrig van Xhosa nie vir haar so ’n moeilike taak nie?

(l) Hoe voel sy oor haar werk?

Aktiwiteit 2
(Op grond van Spesifieke Uitkoms 5)

Die volgende leesstuk handel oor Liz Mkucane se siening omtrent dié tema. lees dit sorgvuldig deur. Hier en daar is woorde uitgelaat. Herskryf die stuk en vul die ontbrekende woorde in. die woorde wat jy moet gebruik, verkskyn in die lys onderaan.

    Liz Mkuchane is (1) _______ Kaapstad. Sy werk (2) _______ ’n versekeringsmaatskappy van Standard Bank. Sy praat Sesotho, isiXhosa, isiZoeloe, seTswana, Afrikaans, Engels, sePedi en seSwati. Sy het Afrikaans, Engels en Suid-Sotho by ’n skool (3) _______ Soweto onderrig voordat sy in 1976 die beroep vaarwel (4) _________ het.

    Liz bevind haar sedertdien in die korporatiewe (5) _________ waar haar meertaligheid haar handig (6) _______ pas kom. Sy glo om ’n derde taal aan te leer, kweek harmonie. “Mense vertrou (7) ______ wanneer jy hul moedertaal praat. Leer aanvanklik groetwoorde en woorde soos “asseblief” en “dankie”. Jy sal verbaas wees (8)______ te sien watter verskil dit aan menseverhoudings maak.” (Uit: Die Burger, 11 September 1998)

      WOORDELYS: mekaar, van, by, geroep, te, in, wêreld, om

Aktiwiteit 3
(Spesifieke Uitkoms 1)

Die volgende leesstuk handel oor Hector Tshabalala.

    Hy is die hoofredakteur van taaldienste in die Parlement. Hy is ’n merkwaardige man. Hy kan tien van die elf landstale praat. As predikant het hy twintig jaar die land deurkruis en so ander tale aangeleer.

    Hy glo sy vermoë om taal maklik aan te leer, is “geneties” aangesien sy oom ook etlike tale magtig was. Hector, wat die graad MA in Teologie in Skotland verwerf het, het ook Grieks en Hebreeus vinnig onder die knie gekry.

    Maar hy vind dit jammer dat Suid-Afirkaners “buitelandse” tale aanleer, terwyl hulle hier nie met sommige landgenote kan kommunikeer nie.

    Volgens Hector was hy reeds as kind lief vir Afrikaans. Toe hy in sy eerste jaar van studie tussen Engels en Afrikaans as vak moes kies, het hy nie twee maal gedink nie. “Natuurlik het ek Afrikaans gekies.”

    Die voormalige senior Hansard-verslaggewer het die raad vir mense wat Taalbewustheidsdag ernstig opneem: “Probeer iets in ’n vreemde taal sê, selfs al sukkel jy. Jy sal onmiddellik ’n gaping oorbrug. Lag vir jouself en moenie bang wees om foute te maak nie. Dit is verbasend hoe gou die ys gebreek sal wees.

    (UIT: Die Burger, 11 September 1998)

Kies elke keer die korrekte antwoord en skryf dit neer.

  1. Hector Tshabalala is die (hoofredakteur/ hoofbestuurder)van taaldienste (van Die Burger / in die Parlement)
  2. Hy is (tien / vyf) van die elf amptelike tale magtig.
  3. As (besigheidsman / predikant) het hy vir (twintig / vyftien) jaar lank die land deurkruis en so die tale aangeleer.
  4. Sy (pa / oom) was ook etlike tale magtig.
  5. Hector het aan die universiteit (Engels / Afrikaans) as eerstejaarsvak gekies.
  6. Die besonderse man het ook (Grieks en Hebreeus / Grieks en Italiaans) gou onder die knie gekry.

Aktiwiteit 4
(Spesifieke Uitkoms 4)

Een van die mooiste maniere om welwillendheid te betoon is om iemand in sy eie taal aan te spreek of om ten minste te groet. Hector sê dat ’n mens ’n gaping oorbrug!

  1. Kies vyf verskillende lande en doen navorsing oor die groetwyses van die inwoners en skryf dit neer.
  2. Kies drie verskillende kultuurgroepe in suid-afrika en skryf hul groetwyses neer. demonstreer ook hul groetwyses.

Aktiwiteit 5
(Spesifieke Uitkoms 7)

In jou groepie moet elkeen een van die volgende situasies demonstreer:

  1. Groet iemand in ’n vreemde taal
  2. Groet iemand wat baie siek is
  3. Groet ’n vriend wat jy lank laas gesien het
  4. Groet die skoolhoof
  5. Groet iemand wie se naam jy vergeet het
  6. Groet jou tante se kinders
  7. Groet die verkoopsdame in die winkel

Aktiwiteit 6
(Spesifieke Uitkoms 7)

Jy het ’n persoon van ’n ander kultuur ontmoet en ’n baie verrykende ervaring gehad. Maak een inskrywing in jou dagboek om van dié merkwaardige belewenis te vertel.

Assesseringsriglyne

Aktiwiteit 1

  1. Taalbewustheidsdag
  2. Welkomskrete
  3. 2 en 3
  4. Oos-Kaap
  5. Afrikaans, Engels, Xhosa, Italiaans, Duits
  6. Onderwyser
  7. Sy geniet dit glad nie
  8. 3
  9. Universiteit van Kaapstad
  10. ’n onderneming loods / om mense te motiveer
  11. Sy het tussen Xhosa-sprekendes grootgeword
  12. Sy geniet dit. Sy voel dat sy iets vir die gemeenskap beteken.

Aktiwiteit 2

  1. van
  2. by
  3. in
  4. geroep
  5. wêreld
  6. te
  7. mekaar
  8. om

Aktiwiteit 3

  1. hoofredakteur
  2. tien
  3. predikant
  4. twintig
  5. oom
  6. Grieks en Hebreeus

Aktiwiteit 4 en 5
Moontlike assesseringsinstrument

Kriteria Altyd Soms Nooit
Was die leerders se bydrae sinvol?      
Het hy / sy spontaan deelgeneem?      
Was die inhoud prikkelend?      
Was die inhoud relevant      
Het die leerder goed na sy / haar maats geluister?      
Goeie beurtneming?      

Aktiwiteit 6
Wenke / Riglyne

  1. Dit behoort ’n persoonlike belewenis te wees
  2. Ek-vertelling
  3. Slegs hoogtepunte word opgeteken
  4. Styl kan wissel
  5. Dag en datum bo-aan
  6. “Liewe Dagboek” is opsioneel
  7. Geen adres word bo-aan geskryf nie
  8. Informele register is toelaatbaar
  9. Een inskrywing kan uit verskei paragrawe bestaan

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.