|
|
En die woord het fees geword ...Erns GrundlingIn die tagtigs het ek my as kleuter altyd verkyk aan daardie speelgoed-monstertjies wat mens by die apteek kon koop dié wat in so n klein kapsule op die rakkie tussen die kondome en TDK-kassette gepryk het. By die huis swel dit uit tot n wafferse gedrog wanneer jy dit in koue (of was dit louwarm?) water dompel. Die twee feeste wat ek die afgelope ruk namens LitNet bygewoon het, het my aan daardie sponsagtige goggatjies laat dink ... as iets wat groter word en uitkring. Albei feeste, die Stellenbosch Woordfees en verlede week se Passaatwinde in Kaapstad, het rondom woorde (vers en liriek) sentreer en heelwat stof tot nadenke (én nadrenke) gebied. Dit sal seker vuilspel wees om dié twee woordvierings deurentyd met mekaar te vergelyk, maar hopelik wys die skeidsregter nie vir my n rooi kaart nie. Daar was egter heelwat interessante verskille én ooreenkomste tydens die feeste, wat ek graag sal wil uitwys. Ek het vandeesweek op n windstil Dinsdag die Passaatwinde by die Sentrum van die Boek in Queen Victoriastraat, Kaapstad, bygewoon. Die gebou lyk só fors en statig van buite (dis immers naby Mbeki se Parlement) dat ek dadelik begin paniekerig geraak het oor my ongeskeerde baard, kortbroek en plakkies, maar was met my aankoms aangenaam verras deur die ontspanne atmosfeer. Die Passaatwinde (of Trade Winds in Engels) is n voortsetting van die hoogs suksesvolle Winternachten wat al sedert 1995 jaarliks in Nederland plaasvind. Vanjaar het die eerste Suid-Afrikaanse weergawes in Durban en Kaapstad plaasgevind. Die Sentrum van die Boek se ouditorium slaan jou asem weg, en ek moes eers n sluk rooiwyn neem om tot my sinne te kom. Die ouditorium laat mens dink aan Bennie Boekwurm se ondergrondse huis op Wielie-Walie. Dit is iets tussen n Europese katedraal en n antieke biblioteek, met kandelare en rye boekrakke wat in magiese gelid staan. Die bietjie meer as n honderd geesdriftiges kon gemaklik op reuseboomstompe met kleurryke kussings sit en die verrigtinge aanskou. Ek het met n handvol locals gesels wat ook vir die eerste keer grootoog na die rye en rye boeke gestaar het. Dalk kan mens die twee Wielie-Walie-blommetjies kry om buite die Sentrum te staan en mense nader te wink, amper soos die wit hasie by Caltex of Cassies se pasteiman. Hulle kan sommer na jou karre ook kyk, want ek stem heelhartig saam met Toast Coetzer dat Queen Victoriastraat se autoguards kak is. But I digress ... Passaatwinde kry reeds in die vroeë stadium n goue sterretjie op die voorkop vir die atmosfeer waarbinne die woord gepleeg word. Infrastruktuur is n uiters belangrike oorweging wanneer dit by sulke geleenthede kom. Die Sentrum vir die Boek was myns insiens die perfekte lokaal. Dit is jammer dat die Stellenbosch Woordfees se lokale (net soos by die KKNK) nie altyd geskik was vir die spesifieke aanbiedings nie. Hoewel die Neelsie Studentesentrum en omliggende geboue redelik sentraal is, het die atmosfeer in sommige van die somber sale en onpersoonlike lesinglokale effe gekwyn. Mens het wel begrip vir die organiseerders en besef dat dit n duur affêre is, maar dalk kan daar in die toekoms na meer geskikte lokale gekyk word ... of kry n paar boomstompe en hooibale of gloeilampies met verskillende kleure ens. Maar vir eers terug by Passaatwinde. Die grapjas Marc Lottering was die seremoniemeester en het die woordjie vooraf gedoen. Maar hoekom slegs in Engels!? Dit was goed om vir Gert Vlok Nel, wat deesdae weer gereeld optree, eerste aan die beurt te sien. Sy songs oor vroue, die see en treine het die gehoor in n beswyming gehad. Selfs die boeke het vir n paar oomblikke ophou asemhaal, en dít spreek boekdele! Hy bewys weer eens hoe baie mens kan vermag met n D- en C-akkoord, mondfluitjie en n handvol beautiful woorde. Dit was gepas om sy pragtige, melankoliese Tuesday op n Dinsdagaand te hoor. Dit sal egter lekker wees om in die toekoms n paar nuwe nommers te hoor. Die organiseerders verdien weer n klop op die skouer vir die psigedeliese transparant wat teen die agtergrond projekteer is: sulke pers, paisleyagtige, sellerige goeters soos gesien deur n mikroskoop in die St 7-Biologieklas. Dit het beslis die atmosfeer geboost. Volgende aan die beurt was die bejaarde digter Keorapetse Kgotsitsile, n voormalige ANC-banneling. Met sy dikraambril, grys baard en leerbaadjie het hy voorgelees uit n nuwe digbundel, If I could sing. Hierdie man het nie nodig om te kan sing nie, want sy gedigte is treffend genoeg. Random reëls wat ek kan onthou, was the sun wipes her nose, people are not mountains, they meet when they meet ens. Goeie gedigte met n paar verwysings na die struggle en kolonialisme. Na Kgotsitsile het Rustum Kozain, n dosent by UCT, van sy gedigte voorgelees. Sy epiese gedig waar hy dae van die week gebruik het om die motief van sirkels en siklusse uit te bring was treffend, maar hy het bietjie meer tyd op die verhoog deurgebring as die ander deelnemers. Dit was weer tyd vir musiek en die Surinamiese sangeres Denise Jannah het die gehoor betower met songs in haar tradisionele taal, Engels, Hollands en selfs n Afrikaanse Leipoldt-gedig. Sy het ook einde verlede jaar by die Oude Libertas tydens die Ons paaie kruis-projek saam met Stef Bos, Laurika Rauch, David Kramer en ander. opgetree, en het n ongelooflike sangstem en warm verhoogpersona. Dit is inderdaad jammer dat daar deurgaans omtrent drie vertonings op dieselfde tyd in verskillende lokale plaasvind. Die organiseerders het wel probeer om van die vertonings te herhaal, en mens verstaan dat elke feesganger die keuse het oor wat hy of sy wil sien, maar dit bly n moerse pity. Ek moes letterlik n muntstuk laat besluit of ek eerder na Henk van Woerden en Saskia Schaik se Korreltjie Niks is my Dood- rolprent oor Ingrid Jonker wou gaan kyk, of om na n lesing oor Jazz en die Struggle te gaan luister. Ek het toe gesettle vir die rolprent (en was móérse beïndruk deur die treffende dog onpretensieuse manier waarop dit gemaak is), maar sou baie graag ook die lesing wou bygewoon het. (Terloops, Breyten Breytenbach het in die Jonker-rolprent die volgende oor Suid-Afrika gesê wat my vir twee nagte wakker gehou het: Die land is n sosiale hel binne n fisiese paradys.) Ek het dieselfde dilemma tydens die Woordfees op Stellenbosch beleef. Daar is net eenvoudig te veel vertonings wat tegelykertyd op verskillende plekke gebeur, dat mens skoon oorweldig word. Dit herinner my aan Lucas Maree se liedjie Weer n Keer waar hy sing Ek verduur die knetter / van jou woordeboekgeweer. Met alle respek aan Sheila Cussons, dit was n geval van: Ek word tintelend swakker. (Terloops, daar is n skitterende uitstalling van haar skilderwerk tot einde Maart in Stellenbosch se Sasol-kunsmuseum te sien.) As kloning maar n opsie was, kon mens dalk die saak beredder het, maar as Dolly (die skaap) nou al met artritis sukkel gaan dit beslis nie gou gebeur nie. Dalk kan mens een lokaal (soos die Sentrum vir die Boek) gebruik en teen die een muur n doek hê vir rolprente en teen die ander n verhoog. Dan kan die verskillende aanbiedinge op mekaar volg, en alles binne dieselfde ruimte plaasvind. As dié twee feeste reeds so oorweldigend is, gaan vanjaar se KKNK dalk een te veel raak. Gaan sien solank die prokureur, kry die testamente in orde, nooi die voornemende peetouers vir n Sondag-middagete. Mens kan dalk net vanjaar sterf aan n oordosis woorde by die KKNK ... Die Winternachten (moet dit nie eerder Herfsnachten heet nie?) Passaatwinde verdien egter beslis n plek op die podium as een van my mees genotvolle aande vanjaar in die Kaap. Die Kaap is inderdaad weer Hollands ... maar die keer sonder die eertydse koloniale juk. Terwyl almal die laaste ruk appels swaai oor of Van Riebeeck se 350ste herdenking gehuldig moet word in April al dan nie, waai die Passaatwinde soos n vars bries oor die Moederstad. Wel gedaan, mnre Ton van de Langkruis, Mories Römkens, Henk van Woerden en die res van die span organiseerders. Die Stellenbosch Woordfees (1- 3 Maart), bekend as 2:2 Dubbelpunt, was beslis ook n fees in die ware sin van die woord, en die organiseerders kry ook almal goue sterretjies. Aangesien dit egter n woordarsenaal was (en ek nie ad infinitum op alles wil óf kan voortborduur nie), gaan ek enkele hooftrekke (soos Riaan Cruywagen) in bullet-formaat noem.
So van hoenders gepraat: ek wil net nog twee eiers lê, wat op die Woordfees sowel as Passaatwinde gemik is: Wanneer gaan skrywers hedendaagse issues aanpak? Waar de f*k is die jongmense by hierdie geleenthede? Wanneer gaan die skrywers hedendaagse temas soos Vigs, verkragtings, kak rugbyafrigters, die lot van boere in Zimbabwe, en die invloed van realiteitstelevisie in hul werk begin aanspreek? Want magtig, is daar nie al genoeg oor die verlede en verbrokkelde verhoudings geskryf nie? Waar is die nuwe protes, die nuwe anger? Of raak ons almal te middelmatig en gemaksugtig in ons demokratiese, middelklas-mindsets? Net n gedagte, geen rooi kaarte nie, asseblief ... Waar is die jongmense by hierdie wonderlike feeste? Wat moet mens doen om Die Jeug te betrek. Ek dink regtig Toast Coetzer se idee van gedigte op bier-coasters kan werk. Want wie gaan hierdie tipe feeste reël (en besoek) oor twintig jaar as die jonger geslag nie nou al ten minste belangstelling toon nie? Ek moet darem twee jong entrepreneurs uitsonder wat by vanjaar se Woordfees hul allerbeste gedoen het om die Matie-studente te betrek. Natalie Hoffman en Natasha Taljaard, twee Dramastudente, het die biertent tydens vanjaar se Woordfees hanteer. En waar dié tipe tente by ander feeste gereduseer word tot n moeras van dronk omies met bierpense, kunstenaars met backtracks en irriterende poppies, was hierdie tent vanjaar n maalkolk van kreatiwiteit. Die twee meisies het behalwe vir n reeks T-hemde met nostalgiese Afrikaanse advertensies en slagspreuke, die jonger garde ook betrek by n Storieman-vertelkompetisie, bietjie boeresport, sowel as n kompetisie vir opkomende Afrikaanse musikante. Die pryse het gewissel van n ketel tot ou plate van Bollie en Liewe Heksie. Hulle het met hul poging bewys dat nostalgie cool is en dat jong mense wel by hierdie tipe feeste trakteer kan word sonder dat drank die bepalende faktor is. Die laaste woord in hierdie lang relaas behoort aan Gil Hockman, kitaarspeler van The Buckfever Underground. Dié groep het tydens die Woordfees by my oornag en net voor slapenstyd het Hockman, wat bittermin Afrikaans verstaan, my CD-rak skandeer. Toe hy by Breyten Breytenbach se Mondmusiek kom, met n onlangse swart-en-wit foto van die digter voorop, het hy verbaas uitgeroep: I didnt know Sean Connery has recorded a CD! Ek het gegrinnik, gegaap en woordeloos aan die slaap geraak ... |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |