Song vir Zeus
Riette Rust
Die vrou op die koperbed kyk van haar koerant af op, na buite waar die reën
die takke van die geelhoutboom laat wipplank ry. Deur die effe oop venster ruik
sy die vermolmde grond.
Dan vat hy haar hand, draai na haar, glimlag …
Maar hy’s nie hier nie. Hy’s afwesig. Soos sy begeerte na haar.
“Kom uit jou kreatiewe doodloopstraat … Só kan ‘n skilder
‘n paar danslesse neem of ‘n liedjie skryf. ‘n Beeldhouer
kan ‘n verhaal skryf en ‘n skrywer klavierlesse neem of sing,”
lees sy.
Sy vou die koerant toe, staan op en laat sak haar glip-gladde kamerjas tot op
die vloer.
Dis tyd. Sy moet gereed maak om haar minnaar tegemoet te loop. Tintelend.
Uit haar kas haal sy ‘n haartangetjie en ‘n buisie ontharingsroom.
Sy gaan sit effe wydsbeen om room aan haar bikinlyn te smeer. Versigtig aan
die kante – te veel laat haar vel rooi en opgehewe.
Sy kyk vinnig na die wekker, gaan lê op haar rug, bene opgetrek en effe
oop sodat die room presies op sy plek sal bly. Sy stut haar rug met ‘n
kussing en plaas haar handspieël tussen haar borste. Só dat sy haar
wenkbroue daarin kan sien. Haar tepels is styf van die koue. Sy knip die bedliggie
aan en draai die spieël om, vergrootglas na bo. Dan pluk sy die enkele
oortollige haartjies tussen haar wenkbroue uit. Ook links, dan regs.
Die stilte het oor haar neergesif soos sneeu oor ‘n landskap.
Sy staan versigtig op, druk die CD-speler aan. Die lirieke is poësie …
Sy’t lank laas probeer dig. Dit laat sy aan haar minnaar oor. En lirieke
het sy nog nooit geskryf nie. Dalk móét sy. Enigiets om haar muse
terug te lok.
Sy beweeg ritmies die badkamer in. ‘n Liefdesdans, dink sy, en glimlag.
Sy laat die deur oop staan sodat sy die musiek kan hoor en vee haar bikinilyn
skoon. Draai dan die badkrane oop, gooi laventelolie in, mildelik, en kook die
water op tot skuim. Met blouerige bene klim sy in. Eers toe die borrels haar
neusgate laat kriewel, draai sy die krane toe.
Haar lyf is onsigbaar. Sy sluit haar oë, hoor nie meer die musiek of die
stuifreën nie, net die klank in haar kop:
Jou liefde is ‘n mantel,
‘n skans teen die suidewind …
Dit bedek als, glo als,
soos ‘n naïewe kind.(*)
Sy’t sowaar op haar Pegasus geklim! Eintlik moet sy die woorde neerskryf
… Maar sy sak laer af, tot die skuim byna haar hare raak.
Sy maak uiteindelik haar oë oop, kyk na die Novilon-badkamervloer. Dis
afgryslik. Die weelderige patroon krul soos onrustige slange, bruin en oranje.
Ná ses jaar is die venster steeds gordynloos. Maar met sulke vloere …
wat sal lap tog help?
Die horisontale diefwering dop af. Die ruit lyk soos dié voor ‘n
selvenster op death row. Hoe lank sal sy nog moet wag vir haar nuwe badkamer?
Wanneer sal sy tog eendag die kleibeeld voltooi?
Sy neem ‘n nuwe koekie seep, maak dit nat en vryf dit tot die pienk skuim
bokant haar hande uitborrel, nes die verkeerde waspoeier uit die wasmasjien
vanoggend. Sy weet nie hoe sy die bruin van die pottebakkersklei van haar hande
gaan afkry nie. Daar’s ook aanpaksels onder haar bros naels. Oftewel broos,
soos wat sy tans in dié huwelik van twintig jaar voel.
Sy vryf en vryf haar hande, skrop hulle met ‘n naelborsel. Die vlekke
kom nie heeltemal af nie. Is die droë, gebarste hande die moeite werd?
En dit van ‘n weke lange gesukkel met ‘n manlike kleibeeld. Aan
dié veertig sentimeter werk sy aanhoudend, maar meganies. Die beeld se
penis blý uit verhouding. Eers het sy die orgaan met ‘n silwer
paletmessie uitgesny, dit aan die lyf vasgedruk. Te groot. Toe’t sy die
penis afgehaal en dunner gerol. Maar elke keer was dit net groter.
Sy lig haar linkerbeen. Daar’s seepskuim aan haar skene. Sy vee die ergste
af en vervang dit met die pienk seep wat sy met die punte van haar vingers stadig
van onder na bo aansmeer. Wanneer laas het ‘n man so aan haar geraak?
Sy neem haar pers skeermes en begin met lang hale die haartjies wat net-net
bokant haar beenvel uitsteek, verwyder. Nou die regterbeen. Sy vee die seep
aan, weer van onder tot by die sagte binnevleis van haar dy.
“Jou lekkerste, mees weerlose deel,” sal hy weer sê.
Sy smeer die res van haar lyf ook in. Spoel dit af.
Die seep het van die laventelborrels opgevreet, sien sy, en klim uit. Droog
haar af met die nuwe luukse handdoek en smeer haar hele lyf met lyfroom in.
Rooswater-en-lanolien.
Soos strooisuiker oor ‘n koek wend sy lyfpoeier aan. Sy’t nie nou
lus om die getuienis van die vloer af op te vee nie, al kla haar man voortdurend
daaroor.
Hm, kersie, laventel, rooswater, lanolien. Soos Opperman gedig het: “…
daar’s ‘n vrou in elke geur.”
Sy wel haarself weer in die handdoek toe.
Terug in haar kamer trek sy ‘n swart kousband en bypassende kouse met
‘n ragfyn patroon aan, glip dan ‘n swartkant-deurtrekkertjie bo-oor.
Dié volgorde sal ekstase in sy bloed sit, dink sy terwyl die musiek eggo.
Sy skuif haar skuldgevoel opsy en plaas die bypassende bra terug in haar kas.
Dis ‘n onnodige stukkie ergernis tussen hom en haar. Sy kan nie wag dat
hy met vol hande weer die bekende woorde sê nie: “Jy’t die
heerlikste borste in die land.”
Sy klim in haar naatlose romp van syerige materiaal en trek dit op tot net bo
haar heupe. Dit pas knus. Sy kyk in die lang spieël. “Jou rondinge
maak my mal,” sal hy sê.
Die vrou trek die gebreide toppie oor haar kop. Versigtig – sy was immers
by die haarkapper.
Haar abdomen, plat geoefen, loer onder die swart uit. Liewer nie méér
wys nie; sy’s nie meer twintig nie.
Haar borste salueer haar onder die breistof. “Jy moet pasop dat hulle
nie gaatjies in die materiaal steek nie,” sal hy weer spot. En later sal
hy sê: “Jy’s so klein gebou, niemand sal kan raai jy’t
sulke sappige borste nie.”
Sy glip haar skoene met die dun hakkies aan.
Haar grimering hou nog, sien sy. Maar sy knap tog die bruin oogomlyner op en
maak haar lippe oop vir die spieël. Eers ‘n bietjie natblink aansmeer.
Sodat sy mond kan water.
Sy maak haar bedkassie oop, haal twee vonkelwynglase, toegedraai in ‘n
vadoek, uit en druk dit in haar groot handsak. Van die hotel kan mens net koeldrankglase,
oftewel een glas, verwag. Verblyf kos skaars twee honderd rand per nag. “Seedy,”
sal haar vriendinne sê. Maar sy kan mos nie van hom verwag om meer te
betaal vir enkele ure se pret nie.
Die vrou klop aan haar vyftienjarige se kamerdeur.
“But you know I love you. I will always love you,” sê ‘n
dringende vrouestem.
“Dis só cool,” sê haar dogter wat kussing- en uitdrukkingloos
op haar bed na die televisie lê en staar.
“Geniet dit, ek sien jou ná die vergadering.”
Die vrou buk, soen haar kind op die voorkop. “Jy weet mos waar die paniekknoppies
sit, nè?” vra sy.
“Ja, Ma.”
“En waar’s die draagbare een?”
“Hier langs my. En ek weet ek moet die rooi knoppie lank inhou,”
sê die kind met ‘n diep sug. “Baai, Ma.”
“Kyk net asseblief mooi na Boetie. Pappa kom eers ná my huis toe
… Moenie die voordeur vir enigiemand oopmaak nie.”
“Ek wéét dit darem teen die tyd. Weer baai, Ma.”
Sy klop aan haar seun se kamerdeur. Onder die gejelde kuif en agter die dik
Harry Potter steek haar tienjarige se neus en twee waterige oë uit. Terselfdertyd
raas sy blink CD-speler, rond soos ‘n broodblik. Die vrou buk af, soen
haar kind. “Soet wees. Mamma sien jou môre, want jy moet al slaap
wanneer my vergadering verby is. Dis skool.”
“Tatta, Mams.” Sy oë steeds op sy boek.
Die vrou trek die voordeur toe. Die tuin se groen lyk helder teen die grou.
Die neerslag het deurdringend geword. Sy kyk op haar horlosie. Sy’t presies
tien minute om daar te kom. Sy hou haar handsak oor haar kop en hardloop kar
toe. Die glase rinkink. Sy spring in haar motor en druk die hek se afstandbeheer.
Soos ‘n vonkelwynprop skiet haar motor agtertoe. In haar truspieël
sien sy dat die hek gelukkig dié keer sonder huiwering toe gaan.
Sy haal diep asem, maar dis eers toe sy op die N1 is dat haar senupunte toegaan.
Haar lyf ruk toe haar selfoon vibreer. ‘n Z verskyn op die skerm. Zeus
is haar troetelnaam vir hom: oor sy neus en oor hy oor haar emosies én
hormone heers.
“Haai, waar’s jy?” vra hy.
Vervlietend is jou woorde,
‘n vers vervorm tot rym.
Geskryf om my onthalwe,
jou verweer teen die venyn.
Die muse is hier, maar sy sê: “Amper daar.”
“Ek’s op die derde vloer. Kamer 323. Draai links wanneer jy bo
kom … En moenie rondkyk nie, netnou herken iemand jou,” sê
hy.
Sy motor staan neus na voor, sonder nommerplaat, voor die hotel. “Vir
ingeval iemand ongemaklike vrae vra.”
Sy haal ‘n botteltjie parfuum uit haar handsak. Muskusdruppels val op
haar bors en tango in die flouerige sonstreep wat vir ‘n oomblik skuins
oor haar motor val.
Die hotel se draaideur sluk haar in en spoeg haar in die voorportaal uit. Sy
kyk nie na die ontvangstoonbank nie, voel eerder of haar goue hoepel-oorbelle
behoorlik vas is. Sy loer onder haar hare deur. Herken sy enigiemand?
Sy stap die trap vinnig op. Die kamer se deur staan effe oop. “Jy’s
hier!” Hy kyk haar op en af. “Ek’s mal oor die koperstrepe
in jou hare.”
Hy trek die deur agter hulle toe, hou haar vas en soengroet haar. Sy donkerblou
trui hang oor die leertjie wat na ‘n kind se bed skuins bokant die dubbelbed
lei.
Op die tafel, wat soos ‘n toonbank van kunsmatige geelhout lyk, staan
‘n bottel vonkelwyn met vogdruppels. “Kaapse Vonkel; net die beste
vir die beste,” sê hy en lag. Sy oë, wat deesdae dikwels siedend
is, het vriendelik vernou.
‘n Klein glasbakkie hou ‘n voorraad biltongstukkies en in ‘n
ander, groter glashouer is kersies, ryppers en plomp. Baie van hulle.
Ek wil oor jou dig
maar my metrum is te lig.
Ritme is steeds soek,
soos die blaaie van my boek.
Ek wil vergeet,
ek wil onthou.
Maar al wat is,
is ek sonder jou.
Nadat sy vliegtuig geland het, was hy nog by die winkel ook, dink sy en sê:
“Dit lyk soos ‘n fees! As dit al donker was, het ek kerse onthou
… Nou moet die kersies maar doen.”
Hy lag en met sy lippe en tong steek hy haar aan die brand. Wanneer hy sy hande
onder haar top inglip, flonker sy. Hy kén haar heuwels en inhamme.
Hy kyk haar met ‘n uiloog aan oor sy braloos is en knipoog groen. Sy vingerpunte
kruip oor haar areolas. Sy druk haar onderlyf teen hom, voel die drif in hul
heupe. Dan maak sy haar lippe van hom los, dartel weg en steek ‘n kersie
in haar mond. Byt dat die sop spat, kou stadig. Vir jou, my minnaar, terg ek
soos ‘n skoenlapper van blom tot blom.
Sy maak haar handsak oop, haal die glase uit. Terwyl hy die vonkelwynprop lossukkel,
soen sy hom op sy jeans se ritssluiter. “Jy’s darem haastig,”
sê hy en glimlag skuins, steeds doenig met die prop. Sy bloos, maar soen
weer.
Sy speel met sy jeans se knoop en laat die ritssluiter stadig oopgly. Streel
sy dyhaartjies. Voel lig-liggies aan die binneste van sy binnebene.
Die prop skiet. “Cheers,” sê albei gelyk, klink hul glase
en vat ‘n sluk. Sy móét net ontspan. Sy sluk twee mondevol.
Soos seepbelle prik die gasborreltjies haar neus.
So in die staan steek hy sy hand onder haar gladde romp in en streel haar bobeen
tot by haar binnedy. “My gunstelingvleisie,” sê hy en laat
twee vingers tot onder haar broekie se rand ingly. Dan stryk hy haar gladde
bikinilyn. Sy sit haar een been om sy heupe, voel die bult in sy jeans. “Nou’t
ek jou in ‘n greep,” lag sy.
Jou drif is ‘n vulkaan,
‘n vlam gestook tot as
(wat grys is nes berou),
soos liefde eens verpas.
Stadig trek hy haar top uit en laat haar gladde romp sak. Sy ontglip hom weer,
hap ‘n stukkie biltong en stap bed se kant toe. Sy weet hy kyk haar agterna:
kantdeurtrekkertjie, kouse net tot op die dye, kousband …
Sy sit haar tulpvormige glas langs die bed neer, trek die beddeken af, gooi
dit op die enkelbed en gaan lê. Sy trek haar bene effe op sodat sy maerder
en meer sensueel lyk.
Soos ‘n tier wat sy prooi bekruip, sluip hy van die anderkant van die
bed na haar toe en kom met lang ledemate langs haar lê.
Haar tong proe die souterige binnekant van sy oor. Sy lek die skulp, in en uit,
in en uit. Lek-lek weer die holte. Dan gaan lê sy in die boog van sy lyf.
Sy voel sy asem in haar nek, ruik die denne-olie in sy naskeermiddel, en laat
haar kop in die harde holte van sy sleutelbeen rus.
Ná ‘n ruk staan hy stadig op. Wil hy haar ontglip? Hy laat sy jeans
en boxer tot op die grond val, klim daaruit en bring die kersies nader. Sy bene
is maerder as voorheen, sien sy. Sy neem ‘n pers vrug, kyk hom vas in
die oë en laat haar tong al in die rondte daaroor gly. Sy lek die punt
van die kersie en laat dit in en uit, in en uit by haar lippe glip. Haar minnaar
lyk of hy seerkry. Dan sit sy die vrug in haar mond. Knars dit. Hy trek sy asem
diep in en soen haar. Vraatsugtig. Nog voor sy die pit kan uithaal.
Hierdie spel van koud en warm wil sy uitrek. Sy neem nog ‘n sluk vonkelwyn.
Dan streel sy weer sy bobeen. Op, op, op. Speel met die haartjies op sy onderlyf,
soen vinnig sy penis. Sy sit haar glas neer en knoop sy hemp los. Knopie vir
knopie. Haar voete raak met syne deurmekaar. Haar tong gly oor sy tepels. Hulle
word harde knoppies. Hy neem ‘n slukkie vonkelwyn, gee haar ‘n sluk
van syne en sit sy glas langs sy kant van die bed neer.
“Vanaand vreet ek jou op,” sê hy.
Sy dink aan die gebrek aan seks in haar huwelik: “En ek vir jou …”
Hy soen haar, lek haar borste een-een terwyl sy die sagte, geswolle punt van
sy penis streel. Bo en dan onder, sy sensitiewe knoppie. Sy skuif haar hande
om sy heupe, vat sy boude vas en vryf liggies oor die stywe vel.
“Kom ons koel eers bietjie af, drink nog vonkelwyn,” sê sy.
Sy oë vernou, maar hy staan tog op, sy donkergrys hare deurmekaar. Terwyl
hy wegstap, kyk sy na sy boude – dis die vorm wat sy met klei probeer
naboots. Sy kyk na die grif van sy rug, dit wat sy so graag met haar vingers
nateken. Michelangelo se beeld, dink sy. Miskien moet “Zeus” eerder
“Dawid” word. Sy glimlag.
“Wat lag jy?” Sy antwoord nie, maar luister na die vonkelwyn wat
hy skink. Hy kom sit-lê weer.
“Wat sou jy sê is die redes vir so min seks ná die troue?”
vra sy.
“Moet ons nóú daaroor praat?”
“Ja, ek wil graag weet wat ‘n man sê.”
Sy eet nog ‘n kersie, gee vir hom ook een, soen hom en proe weer vrug.
“Waaroor praat jy ná werk? Positiewe dinge?” vra sy.
“Nee, nie deesdae nie. Dat my kollegas links en regs hul werk verloor.
Soos jy goed weet, is ek vyf-en-veertig en wit. In die arbeidsmark, ‘n
bedreigde spesie … En ek kan tog nie ‘n bestaan uit my digkuns alleen
maak nie. Dis waaroor ek praat. En ons stry. Ek kon glo al lankal moeite gedoen
het om ‘n meer uitdagende en meer stabiele werk te soek, maar …”
“Vra jy haar ooit hoe háár dag was?”
Hy skuif rond, kyk af. “Sy vertel sommer self – sy’s ‘n
ekstrovert.” Hy hap aan sy kersie. “Gee jy om om die biltongbakkie
nader te sleep?”
“En wat sê sy gewoonlik?”
“Sy kla ook maar, veral wanneer haar kliënte laat betaal, of glad
nie.”
“Is geld ‘n groot probleem?” Sy gaan sit, bakkie in die hand.
“Nie op die oomblik nie, maar sê nou ek word gevra om te loop? Ek’s
eintlik al een wat vir ‘n inkomste sorg …”
“Ek dog sy werk uit die huis uit?”
“Ja, maar ek sê mos, betaling is ongereeld. En nie soveel dat sy
met aanbouings en goed kan help nie. Sy onderhou haarself op ‘n manier
en koop hier en daar iets vir die kinders.”
Hulle eet ‘n paar stukkies biltong. Die stil oomblikke saam met hom is
ook goed, dink sy.
“Ek haat dit as sy sê haar eintlike taak is kinders grootmaak.
Daar’s tog talle vroue wat buitenshuis werk én kinders het,”
sê hy met ‘n frons.
“Dis g’n wonder sy vervies haar vir jou nie! Jy moet onthou, vroue
by die huis is dáár vir hul kinders se rugbywedstryde en balletkonserte.
En besef jy wat emosionele ondersteuning vir hulle beteken? Ek dink jy sou lankal
gecrack het van werkstres as dit nie vir jou vrou was nie.”
Sy voel die hitte in haar wange. Alle mans dink dieselfde, klink dit vir haar.
Tuis moet die kos reg staan, die kinders versorg en gelukkig wees. Hulle moet
presteer én gekarwei word. Dan moet die vrou ook nog die altyd-ongeïnhibeerde
en altyd-gewillige minnares wees én sakke vol geld verdien. En wat loop
en vertel dié mans? Dat hulle “liberated” is. Sy haal diep
asem.
“Was dit nie vir ‘n ma by die huis nie, was daar dalk al veel meer
swanger tieners of kinders op dwelms. En besef jy die waarde van kinders se
geluk?” vra sy driftig en voel vir ‘n oomblik skuldig oor haar twee.
“Ja, maar seker nie genoeg nie. My seun het juis nou die dag gesê
dis so lekker dat Mamma hom middae inwag. Van sy maats kry soggens die sleutel
en moet dan ná skool hulself met yskaskos help.”
“Nou, sien jy … Maar dink jy daar’s nóg redes vir
te min seks?”
Hy dink. “’n Gebrek aan romanse, sou ek sê. Of dis wat sý
sê. Maar hoekom sorg sý nie daarvoor nie? Vroue besef nie dat ons
ook soms romanties wil wees nie. Ons hou ook van kerse. En dan fantaseer ek
maar net daaroor dat sy een aand die voordeur in ‘n kalerige, swart kantnommer
sal oopmaak. Sy sê weer sy mis die dae vóór kinders. Toe
ons mekaar deur die huis kon jaag en seks oor die motor se louwarm enjinkap
kon hê.”
“Hm! … Dit ís so, kinders verander alles. Maar mens kan
jou jou lewe ook nie sonder hulle voorstel nie,” sê sy.
“Natuurlik nie.”
“Mens moet maar werk maak van jou sekslewe … Sê ék
nou!” Sy neem ‘n stukkie biltong uit die amper leë bakkie wat
hy nou vashou. “Soos om die kinders vir ‘n naweek na ouma toe te
stuur.”
Hy sug. “Jy’s reg. Maar daar’s nog iets wat pla. Werkspanning
laat die libido afneem … Mens kan seker ook nie verwag om nog so hups
te wees soos op negentien nie.”
Sy trek liggies aan sy lig-en-donkergrys borshare. Hy’t net genoeg. Nie
soos ‘n dik mat nie. En nie die bors van ‘n jong man wat soos dié
van ‘n blinkgladde Sondag-hoender lyk nie.
Hy sit die biltongbakkie op die vloer en neem met die opkom een van haar gekousde
tone in sy mond. Hy suig sag maar naarstiglik daaraan. Dan soen hy haar van
haar naeltjie tot by haar nek. Haar hormone waaier. Haar onderlyf gloei. Sy
haal diep asem wanneer hy, kamma uitgeput, op sy rug langs haar kom lê.
Sy rangskik ‘n paar kersies van sy naeltjie af tot in die middel van sy
heupe en pik hulle een vir een op. Sy kou hulle, haal die pitte uit, sluk en
laat haar tong verder dartel. Sy proe sy styfheid, die sagte warmte van sy punt.
Dalk ís my kleibeeld tog in proporsie, dink sy. Ek sal die kunswerk môre
voltooi.
Hy draai haar op haar maag, laat sy hande op haar rug rus, streel haar rondinge.
“Jou lyf maak my mal,” sê hy en glip haar broekie af. Hy sit
sy een hand onder haar heupe wat nou teen die laken druk en stoot haar onderlyf
effe op. Met sy tongpunt wat hare raak, soen hy haar steeds oor haar skouer.
Hy speel met die knippies van haar kousband. Sy vingerpunte tart haar binnedye.
Hy voel haar sappige sagtheid, ontdek opnuut die warm suigkrag van haar vlees.
Haar knoppie …
Hulle is in ‘n glashyser in ‘n reuse-winkelsentrum. Die deurskynende
glashok beweeg geruisloos na bo. Met sy onderlyf tel hy haar op. Sy styg algaande
teen die spieël uit. Die hyserklokkie lui … Hy kom kloppend en warm
tuis.
“Jy’s lieflik,” kreun hy. Haar lyf dein weer. Dis hooggety.
En ook die eerste keer in ‘n lang tyd dat sy die hoë C haal. Hy sak
op haar rug neer. Dan soen hy haar oral oor haar lyf, sag en nat. Hy hou haar
lank vas.
Hy knip haar kouse los en laat hulle afgly. Stadig trek hy haar kousband uit.
Hy neem haar aan die hand die stort in. Onder louwarm water masseer hulle elke
sentimeter van mekaar. Die seep het lankal geval. Sy soen hom vlugtig. Hy neem
haar borste in sy hande. “Ek kan eenvoudig nie laat los nie,” sê
hy en suig haar tepels.
“Ek ook nie … Moet net nie my hare natmaak nie; dit moet darem
lyk of ek by ‘n vergadering was.”
“Jy kon natgereën het.”
“Ja, maar nie só nat nie,” lag sy.
“Het jy die maan gesien?” vra hy haar oor die selfoon terwyl sy
terugry.
Die maan is helder bo die nag. Soos haar toekoms. Maar daar waar die lig die
helderste val, lyk die oppervlak grof. Die rand van die wolk wat effe skuins
oor die maan kom lê, glinster silwer.
“Van nou af sal ek altyd aan jou dink wanneer dit volmaan is,”
sê hy. “En aan vanaand. Lekker slaap. Lief vir jou.”
“Liewer vir jou.”
Die onthou is smaragte,
juwele teen my hals.
Dit terg nes jou gedigte,
soos woorde wat verras.
Dit het ophou reën, sien sy toe die hek voor haar huis oopskuif. Die bleddie
garagelig is dood. Sy hoop haar kinders is veilig. Sy byt haar onderlip.
Voor sy weer die afstandbeheer kan druk, flits motorligte in haar motor se truspieël.
Sy’s effe verblind, maar sien daar’s ‘n man in die ander motor.
Hy klim uit, sy klim uit. Haar keel trek toe toe hy haar woordeloos ‘n
brief gee. Sy pluk dit oop, kan nie veel sien nie en gaan onder die stoeplig
staan. Sy lees:
Loodgieter: Jacob Arries (Tel 914-3267).
Messelaar: Johan de Waal (Tel 913-3421).
Naaldwerkvrou: Sharon du Toit (Tel. 914-8976).
“Hulle begin môre met die badkamer,” sê haar Zeus.
Sy huil, sy kan nie praat nie.
Haar stem kom stadig terug: “Jy kry ook môre iets, en dis nie ‘n
pot of ‘n beeld nie.”
“Nou wat dan?”
“’n Song …”
“’n Wat?”
“’n Song, self geskryf. Byna klaar. En die beeld sal môre
verkoop kan word. Ten bate van die huisverbeteringe.”
Hy skud sy kop, glimlag en neem haar aan die hand. Sy sluit die voordeur oop.
Elke slapende kind kry twee soene op die voorkop. Een van Ma en een van Pa.
Sy kry ook weer een.
“Gelukkige huweliksherdenking,” sê haar man.
* Skrywer se eie lirieke.
LitNet: 22 Junie 2006
Wil jy reageer op hierdie verhaal? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
Of stuur jou eie smaakvolle, smaaklike erotiese prosa en poësie na Ingrid Lehmensich by hygstories.
boontoe / to the top
|