Erotiek / EroticismArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.


Vicky Scholtz
 

My liewe knaagdier

Vicky Scholtz

Ek stel my voor jy’s ’n ystervarkie. Bedrywig meestal in die nag, beskerm deur ’n yslike bos penne, met ogies wat heen en weer flikker as iemand te na kom. Betrap, hardloop jy agteruit totdat jy teen die bedreiging bots, en skarrel dan blitsvinnig weg, nadat jy ’n dosyn of wat penne in die bedreiging laat steek het. Ek dra nou wel nie persoonlike kennis van laasgenoemde eienskap aan ’n ystervark nie; ek het slegs daaroor gelees. Van jou dra ek wel kennis. En nog ’n paar pennetjies wat vassit, ook.

Ons het gister gaan stap by Kaappunt. Die weer was tipies van ’n Kaapse somersdag — helder en warm, met die suidoostewind wat ’n mens se harsings deurmekaar waai. Ons het ons dik met sonbrandroom gesmeer, en die besittings wat ons definieer, in die motor agtergelos. Jy wou eers jou selfoon saamdra, net “ingeval”, maar toe vergeet jy dit ook. Slegs water het ons saamgedra, en die fynbos ingestap.

Tussen die restio’s en die klippertjies het ons bokdrolle en akkedisse gekry, en selfs ’n skilpad of twee. ’n Slang het onder ons voete weggeflits, en in die verte het ons sebras gewaar. Onder, langs die kus, kry ons ’n familie volstruise wat ons ewe mak aanvaar het, en ’n trop bobbejane het ons skaam aangekyk. My skoene het vol sandkorrels begin jeuk, en spykeragtige grassies het in jou sokkies vasgesteek. Ons het kaalvoet oor die rotse geklouter om ons voete in die getypoel te gaan afspoel.

In die getypoel kry ons mossels, seeslakke en allerhande skulpdiertjies. Die water was louwarm en helder, en jy wou aanstap tot op die strand om te gaan swem. Jy het egter van besluit verander toe jy die waarskuwingsteken lees — swem gevaarlik — al het daar heelwat kinders in die branders gelukkig geswem en baljaar. Jy het terug oor die rotse geloop om jou voete skoon te hou, terwyl ek sommer oor die grasperk gedwaal het. Ek moes my voete met my sokkies afvee toe ek by die teerpad gekom het, terwyl jy klaar jou skoene aangetrek het en ongeduldig op my gewag het. ’n Pragvoël het verbygevlieg, en ek moes hom eers aankyk voor ek kon klaarkry.

Gisteraand moes ek vir jou salf insmeer, waar jy gebrand het. Jou nek veral, en jou ore. Jy’t gekrimp toe ek aan jou raak, en daarvoor hou ek die sonbrand nie verantwoordelik nie. In die laaste tyd laat jy my selde toe om aan jou te raak. Ek het nooit besef dat ’n dubbelbed so groot kan wees nie. As mense so apart slaap, kan daar maklik nog ’n liggaam of drie inpas. Ek wou my so iets nie voorstel nie — ek was bang jy verdraai my woorde en vertel later dat ek so iets wou hê. Ek het liewers in die ander kamer gaan slaap. ’n Enkelbed voel tog nie so alleen nie.

Ek het altyd gedink ystervarke is familie van krimpvarkies. Krimpvarkies is vir my oulik — sulke klein goed wat oprol in ’n bondel steekpenne as hulle bang is. Daarmee kon ek my vereenselwig. Toe ek klein was, het krimpvarkies nog in die Weskaap voorgekom, maar mettertyd is almal uitgeroei. Seker nie — miskien is daar net nie meer plek vir hulle in die Weskaap nie, as gevolg van verstedeliking en vooruitgang. Miskien vereenselwig ek my nog steeds met hulle.

Krimpvarkies eet erdwurms, klein insekte en allerhande grilgoeters uit die tuin. Ystervarke vreet wortels en plantgoed. Op die oog af lyk dit minder skadelik, maar waar hulle eet, sterf die plant. Insekte is volop, en nie so aangenaam soos plantegroei nie. Vir my, in ieder geval. Tog was jy ’n vegetariër gewees. Altans, so het jy my vertel. Soos ’n askeet het jy van bruinrys en vars lug geleef, totdat ek in jou lewe opdaag. Toe verderf die ideaal.

Soos ’n hansvarkie het jy voor my oorgerol, dat ek jou maag moet kielie. Onder die sagte vel kon ek voel hoe teer en broos jou liggaam was. Ek het nie die ysterpenne op jou rug gewaar nie.

In die begin kon ek nie my hande van jou afhou nie — nou nog, as jy my toegelaat het, sou ek jou liggaam gestreel het, geliefkoos het, tot onbeheer gedryf het. Eers met my hande, daarna my tong, en my lippe. Van die kuiltjies agter jou sleutelbene, af oor jou borsbeen, al langs jou tepels. Vir die hare om jou tepels is ek veral lief. Die bruinpienk tepels self sou ek met die onderkant van my tong streel, dat hulle in klein vuisies opslaan, en my dan verder af laat beweeg.

Jou maag se sagte ronding wil ek met my borste streel, met my opstandige tepels wat rooibruin uitgluur soos die oog van Sauron. Jou naeltjie roep my tong nader, en toe af, af, al langs die harepad tot in die digte bos van jou skaamhare. Daar, in die ryk, digte hitte sou my tong op jou liefdeswaard afloop. Rooipers, koninklike purpur. Glad, sysagte vel, glansend en vuurwarm, sou ek jou in my mond inneem, stadig, sagkens, met eerbied.

Ek onthou nog goed hoe voel jy in my mond — my lippe wat dig oor jou rondheid span, my tong en verhemelte wat jou lengte omhels. My keel wat jou dringendheid inwag, en afsluk. My lippe wat die laaste druppels opsoen. My liggaam wat om jou smelt. My self, wat in die hitte ontkom.

Gister het ons op ’n ystervarkgat afgekom. Jy was bang vir slange, maar ek wou weet of iets nog daarin skuil. Jy wou nie help nie, en stap toe weg. Jy het nie omgekyk nie, so goed het jy geweet dat ek dit sou los en jou agterna gevolg het. Maar gister, gister gebeur dinge nie so nie. Daar, in die donker dieptes van die gat, het ek iets gewaar. Ek skuif die rots ietwat, trap amper op ’n skerpioen, en kyk vas in die donker, vies oë van die ystervark.

Ek is van kleins af geleer om slange met rus te laat — hulle is egter meer bang vir jou as wat jy vir hulle is, is ek geleer, en sal jou nie aanval nie tensy hulle nie anders kan nie. Ek wou weet: hoe kan ’n mens weet wie die bangste is; miskien is ek wel banger, maar destyds het ek my bangheid afgeleer en voel nou slegs opgewonde as ek slange teenkom. Nou is hulle wel meer bang as ek.

Maar die ystervarkie, dié is ook bang. Hoe gevaarlik ook lyk hy, hoe vies en hoe moerig, en weet tog dat hy bang is. Toe los ek hom in sy gaatjie.

Toe ek by die motor kom, is jy net so vies. Net so moerig. En, gewaar ek, net so bang. Die ysterpenne staan alweer reg om te steek, maar die oë laat blyk iets wat ek nie voorheen raakgesien het. Dat ek jou nie agtervolg het nie, het jou laat bang voel. Nes die ystervarkie, los ek jou in jou gaatjie.

Gisteraand toe ek besef jy’s ’n ystervarkie, onthou ek iets. Daar in die noorde eet hulle die goed, en hulle smaak glo onbeskryflik lekker!

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.