|
|
Die prostituutAnna ArnoldDie vrou sit by 'n tuintafeltjie in 'n restaurant in Parktown. Sy laat val stukkies brood ongemerk en glimlag met 'n ingehoue vreugde as die duiwe op die grond langs fladder na die toegiffies. Die duiwe is vet en goed versorg ten spyte van die ysige winterkoue. Die duiwe is duidelik gemaklik tussen die gemaal van eters in die gewilde restaurant. Hulle vlieg nie eens op as die kelner 'n bottel wyn voor die vrou neersit nie. Sy drink 'n slukkie wyn wat die kelner skink en knik goedkeurend. Hy skink haar glas vol en sy bestel geroosterde calamari met suurlemoen-bottersous en glimlag weer na die duiwe. Sy verlustig haar in die ronde lywe, die spikkels op die kleiner bastertjie met die geveerde pootjies, kompleet asof die pa of ma 'n hoendertjie was. "Stoute voorouers," dink sy by haarself. Uit die venster van sy kantoor, wat deel vorm van die imposante herehuis waar hy en sy gesin woon, sien die man die vrou alleen by die restauranttafel sit. Sy het 'n modieus kort rok aan onder die lang kameeljas. Dit is te ver om werklik die ronding van haar knie en die slanke enkels waar te neem, maar hy ken die elegansie van haar bene. Hy maak 'n dringende oproep en stap summier oor die besige straat na die restaurant. Hy gaan sit by 'n tafeltjie waar hy die vrou kan dophou. Die vrou straal 'n teenwoordigheid uit wat haar laat uitstaan tussen die ander welgeklede restaurantgaste. Haar rok is net te kort vir dié van 'n kantoorwerker, haar jas net te duur, haar lippe te rooi vir die middaguur. Haar selfvertroue hang onbeskaamd soos 'n rooi mantel tussen grys kantoorklere. Sy kyk hom vol en uitdagend in die oë, maar laat geensins blyk dat sy die korterige, effens gesette man erken nie. Hy kug verleë, en is diep skaam dat hy nie sy oë van die ronding van haar knie kan afhou nie. Hy weet skaars wat hy bestel, gefrustreerd deur die begeerlikheid van die vrou tussen die duiwe. Hy probeer haar vergelyk met die mooi vroue van die dag - die Mej Johannesburg wat hy as voorsitter van die plaaslike diensklub enkele maande gelede moes kroon, die aanbiedster op televisie wat verlede jaar seremoniemeester was op een van sy maatskappye se jaareindfunksies. Die vrou tussen die duiwe is aantreklik, maar het nie naasteby die uiterlike skoonheid van enige van die bekende skoonhede wat daagliks in die pers verskyn nie. Tog omring 'n byna onpeilbare aura haar, 'n vrede met haar vroulikheid, 'n vreugde aan haar seksualiteit. Hy is vol afwagting oor die belofte in haar blik. Toe haar calamari bedien word, skink die kelner haar glas weer vol wyn en sy geniet met behaaglikheid en oorgawe die kos en wyn. Sy luister na die musiek wat sag maar duidelik uit die versteekte luidsprekers vloei. Vangelis se musiek vir die rolprent 1492. Sy onthou die rolprent veral vir sy subtitel, "Conquest of Paradise". Ja, Christopher Columbus het die ongerepte Amerika vir die Spanjaarde probeer verower, maar selfs nou, eeue later, is daar steeds 'n Columbus in elke mens wat sy eie stukkie paradys wil verower. Sy peins oor mense se strewe na status en geld. Sy dink aan haar eie verlange na 'n private paradys. Sy tob oor haar kliënt se daaglikse gejaag na sukses in die sakewêreld. Hoe min mense weet van sy ander persona - daardie verskuilde passie, al is dit vir 'n kort middagstonde. Hy is soos klei in haar hande, maar dit is waar hy herlaai word, waar eers sy manwees en daarna sy menswees gevoed word. Die vrou staan skielik op, haar maaltyd en die bottel rooiwyn vergete. Sy stap doelgerig by die restaurant uit sonder om te betaal, steek die straat oor en sluit die deur van die kantoor aangrensend aan die groot en imposante laat-Victoriaanse huis elektronies oop. Die ysigheid van die winter buite word in die luukse woning getemper deur ondervloerse verhitting. Sy trek haar kameelkleurige woljas uit en gooi dit nonchalant oor die gemakstoel in die ontvangslokaal. Sy stap op die dik wolmatte en skop haar ingevoerde hoëhakskoene uit. In die kantoor van die besturende direkteur trek sy haar duur kledingstukke een vir een uit en laat val dit ongeërg op die Persiese tapyt. Sy staan nakend voor die lessenaar toe sy die buitedeur hoor oop- en dan vinnig toegaan. Die slot klik en sy glimlag met afwagting toe die verleë, effens gesette man ongemaklik met haar jas, skoene en sykouse in die hand by die kantoordeur instap. "Jy moenie jou klere in die portaal neergooi nie," probeer hy raas. Hy laat val egter alles toe hy haar sien en stap na die nakende vrou. "Was die wyn goed? En die calamari? Hy staan op sy knieë voor haar en verberg sy gesig in die ronding van haar maag. Sy tong liefkoos haar naeljtie. Sy stamp hom liggies agteroor en maak sy das los; daarna sy hempsknope een vir een. Hulle hoor afgetrokke hoe 'n deur oop- en weer toegaan. Hulle luister na die bewegings in die vertrek langsaan. Toe die telefoon in die aangrensende vertrek lui, hoor hulle 'n vrou se stem: "Nee, mnr Poggenpoel is nie beskikbaar nie. Hy het 'n direksievergadering oor middagete en sal eers teen 15h00 beskikbaar wees. Seker, ek sal 'n boodskap los." Die man en vrou glimlag en sy gly liefkosend net haar tong teen sy naakte lyf af. Haar skouerlengte bruin hare bedek sy skoot soos die skutblare van 'n blom. Haar tong liefkoos sy lende. Hy kreun saggies en sy gaan sit wydsbeen oor hom: "Nee, my veerpootduifie, nog nie. Wag nog bietjie vir jou eie paradys. Daardie bemoeisieke stywelip hier langsaan moet eers wonder of hier iets aangaan. Kom ons tart haar so 'n bietjie. Sy reël jou lewe, sif jou oproepe, hou my van jou weg, beroof jou van die paradys van my lyf." Hy kreun onwillekeurig harder en die geritsel in die vertrek langsaan verstil. "Is alle vroue in jou beroep so geskool om 'n man te tart en te frustreer?" vra hy kortasem. "Waar kry jy jou opleiding? Hoe kan jy so wreed wees?" Sy glimlag net en antwoord: "Ek kan nie namens alle 'working girls' praat nie. Soos jy weet, het ek net een eksklusiewe kliënt. Maar om eerlik te wees: ek het alles by my eie man geleer." Daar is enkele oomblikke stilte en dan lui die telefoon op die reusagtige lessenaar agter hulle. Sy wys betigtend na die man toe hy onwillekeurig 'n beweging maak om op te staan. "Nee, vir jare al kom ek tweede behalwe vir hierdie gesteelde uurtjies dan en wan. Jou werk oorheers jou hele lewe. Hierdie tydjies is myne." Daar volg 'n besliste klop aan die deur en die man en vrou wag in spanning om te sien of die deur sal oopgaan. Die vrou swaai haar vol borste tergend bo sy gesig, haar eie gesig in afwagting gerig op die deur. Toe daar geen reaksie verder is nie, neem sy een van haar borste en vryf die tepel liggies oor sy neus terwyl sy sy maag saggies en ritmies vryf met die ander hand. Sy neem die ander bors en plaas die tepel in sy mond terwyl haar hand stadig ritmies beweeg. Hy kreun onwillekeurig en by die deur is daar 'n ongemaklike kug en 'n tweede, meer dringende klop. Sy fluister saggies in sy oor. "Nou." Hul liggame sidder verwoed in ekstase. By die deur is daar 'n doodse stilte, maar die man en vrou op die Persiese tapyt is in hul eie paradys. Na 'n lang ruk staan sy op en gaan na die toilet terwyl sy haar klere in die verbygaan opraap. Hy kyk haar met ondeunde oë agterna. Sy kom na 'n rukkie uit, geklee slegs in die lang kameelkleurige jas. Hy raap sy klere op en gaan die toilet binne. Toe hy uitkom, is sy besig om haar lipstiffie aan te sit en sy hou haar hand uit. Hy glimlag en haal 'n dik rol note uit sy sak en plaas dit in haar uitgestrekte hand. "Ek is jammer dat ek geld moet neem," sê sy met 'n glimlag. "Vir soveel genot behoort ek jou te betaal, maar dit is nou eenmaal my enigste inkomste. Ek kan nie anders nie." Hy glimlag en sê: "Vir so 'n grepie van die paradys betaal ek graag. Ek weet jy kan nie elke dag na die restaurant kom nie, maar asseblief, kom gou weer. Moenie weer so lank wag nie." Sy glimlag net en stap na 'n deur in die agterste muur van die kantoor, en kyk met 'n verveelde blik na die deur waar daar weer gekug word. "Ek moet die kinders by die skool gaan haal. Sal sien wanneer ek weer lus is vir rooiwyn en calamari en natuurlik die nagereg. Ek beloof niks nie." Die man gaan sit agter sy lessenaar, neem 'n lêer op en bestudeer dit vir enkele oomblikke. Hy moet vanmiddag 'n baie moeilike konsep aan die direksielede oordra. Hy moet hulle oorreed om elk 10 persent van hul winsdeling af te staan aan 'n kinderhuis, en dit in 'n jaar waar die winsdeling as gevolg van die ekonomiese toestand so swak is. Hy vrees al dae die komende vergadering, maar nou neem hy met selfvertroue sy tas langs die groot lessenaar en stap na die kantoor langsaan. "Middag, juffrou Kriel," groet hy die verbouereerde sekretaresse. "Ek het die direksievergadering met 'n uur verskuif. Ek het 'n dringende saak gehad om met my vrou te bespreek voor sy die kinders by die skool gaan haal. Ek sal nou eers teen 16h00 terug wees. Neem asseblief boodskappe." Die man, wat 'n halfuur later instap in die vergadering van direkteure, is 'n imposante figuur. Hy is korterig en effens geset, maar dwing respek af. Hy skets die maatskappy se swakker as verwagte prestasie oor die afgelope finansiële jaar. Hy verduidelik dat die verwagte winsgrens nogtans bereik kan word indien hulle die maatskappy se jaarlikse verbintenis tot die kinderhuis inkort. Hy praat met 'n innigheid en oortuiging as hy 'n beroep op die direkteure doen om vrywillig 10 persent van hul persoonlike wins af te staan ten gunste van die kinderhuis. Daar is 'n stilte nadat hy gaan sit. 'n Halfuur later kom die direkteure tot 'n vergelyk om elkeen 7,5 persent van hul persoonlike wins aan die kinderhuis te skenk. In die hyser mompel 'n direkteur: "Ek weet nie hoe hy dit doen nie. Hy is net so … ek weet nie … so seker van homself, so gelukkig … Wat het die man wat ons nie het nie?" Toe hy kort voor 16h00 met sy luukse motor op die geplaveide oprit stilhou, stap sy vrou, geklee in 'n denimbroek en modieuse skaapvelbaadjie, na die gesin se stasiewa. Sy roep in die verbygaan: "Ek het oor middagete betaling gekry vir 'n vryskutwerkie. Ek gaan dit nou blaas op 'n naweek vir ons en die kinders in die wildtuin. Dis tyd dat jy wegbreek van al die harde werk." Sy swaai haar skouerlengte bruin hare skalks en waai 'n rol note in sy rigting.
Wil jy reageer op hierdie verhaal? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |