Erotiek / EroticismArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Naak

Vicky Scholtz

Karina was die pienk nude, en Ilse die bloue. Altans, so het Jacques hulle voorgestel, daar waar hulle aan die ver ent van die ateljee — hulle esels altyd langs mekaar — staan. Krap-krap kruip die houtskool oor die papier. Die son skyn agter hulle deur die groot vensters in, en omlyn hulle met ’n Rafaeliese aura wat skimpe fluister oor hulle vorm onder hul Indiese katoenrokke. Karina is sag en gerond, gloeiend in pienke en bruine, terwyl Ilse — hoewel nie mollig nie, ook sag is, maar op ’n stiller, amper deurskynende manier. Haar hare, bruin soos Karina s’n, is gevlek deur blonde sonsoene eerder as gespat met rooi vonke, en haar oë blink so blou dat hulle amper bodemloos voorkom.

Jacques kyk verby die model, ’n stokmaer middeljarige vrou wie se klaarblyklik harde lewe om haar mond in diep lyne geëts is. Hy is versadig aan karakters teken, hy soek nou skoonheid. En hier, vlak voor hom, staan twee engele (alhoewel sonder vlerke) en skets. Jacques se aandag skarrel ver weg van die Tekenateljee waar die dosent tans half-geïnteresseerd tussen die esels ronddwaal om die klas die voordele van sy diep insig mee te deel. Vir Jaques is konsepte soos vorm, lig en skadu, gewig en diepte belangrik, maar slegs as middel om kleur voor te dra. Hy kon nie anders as kunstenaar word nie — sy hele lewe is tot dusver ’n poging om oppervlakke met kleur te vul, om vorm en beeld uit vlakkigheid te skep, om as ’t ware aan die lewe self vorm — deur middel van kleur — te gee. Jacques, vertel sy familie moedeloos, is ’n besetene. Mens kan nie met hom redeneer nie, jy moet hom maar aanvaar soos jy hom kry.

En nou gaan hy sowaar soos ’n besetene voort — hy hyg en hy buig, hy rek en hy strek, dié kant toe en daai kant toe soos hy teken; die houtskool verdwyn in stof soos sy hande oor die papier vlug. Sy klasmaats is al aan hom gewoond — nie die minste aandag word aan hom bestee nie, nog die minste belangstelling in sy werk getoon nie. Sy tegniese vaardigheid sou niemand ontken nie, maar sy kunswerk laat ’n mens altyd so ongemaklik voel — dis net te intens, op een of ander manier. En so hy ook.

Jacques het in sy eerste jaar, soos al die ander, in ’n koshuis beland waar hy, soos die eerstejaarsliedjie, groener as spinasie gesit en treur het. Hy het egter nie lank daar gehou nie — ontgroening het hom nog net al hoe meer “groener as spinasie“ laat voel, totdat sy ouers verplig gevoel het om vir hom ’n ander blyplek te soek. Die risiko van ’n woonstel wou hulle nie aandurf nie — gedagtes van geraamtes wat ontdek word eers na die bure se maandelange klagtes ondersoek is, wat blyk hulle uitgehongerde seun en sy onwillekeurige model te gewees het, laat hulle net angstig die brandewynbottel nader gryp. So ook ’n kothuis op ’n plaas, behalwe die afwesigheid van bure om die polisie in kennis te stel. Maar hulle aanvaar ook dat daar weinig mense is wat Jacques met ope arms in hulle huise as kamermaat sou verwelkom. Dus is hulle ekstaties om van die buitekamer te hore te kom. Die huis behoort aan ’n dosent in die wiskunde, en die buitekamer is oorspronklik gebou vir sy skoonma, wat laasjaar uiteindelik dood is aan die mismoedigheid wat haar bedlêende bestaan al hoe meer ondraaglik gemaak het. Die plek is nou uiteindelik ontruim, en ’n studentloseerder is gesoek. Na die bittere ouma is Jacques vir hulle soos ’n sonstraal op hulle drumpel, en die kamer is syne.

Jacques is dus alleen in die ateljee gelaat toe al sy klasmaats ewe skielik houtskool neergooi, hul sakke gryp en weghol koshuis toe — etenstyd! Teen die einde van die jaar sal daar wel van hulle wees wat onderhandelinge met hulle ouers aanknoop om die moontlikheid van private blyplek te oorweeg. Maar tot in hulle vierde jaar sal daar nog steeds van hulle wees wat in die koshuis aanbly — van hulle miskien teen daai tyd in die anneks; en — vermoed Jacques — Karina en Ilse sal onder hulle wees. Maar nou eers staan hy alleen in die verlate ateljee — altans, amper alleen. Die vae ou dosent is nog besig om met die model te reël oor pouses, terugkomtye en die oneindige debat voort te sit tussen vars lug en warmte in die ateljee. Rook is nou verban — diegene met kontaklense het dit stopgesit — maar met so baie warm wesens in so ’n klein lokaal word dit nogtans gou bedompig, en die vensters word oopgegooi in ’n paniekbevange poging tot oorlewing. Waarna die naakte model stadigaan begin verkluim. Oplossings is daar nie, maar debat nogal baie, wat die bedompigheid net aanspoor.

Jacques hou aan met sy werk, die kleinigheidjies wat hy gou klaar wil teken, die ryk detail uit sy verbeelding waaraan hy vorm wil gee voordat dit in etensuur-loomheid oplos. Hy word geleidelik bewus van die dosent se teenwoordigheid langs sy esel. Hy staan terug, maak sy oë skrefies en kyk lank. Jacques hou net aan teken. Die dosent se skoene sluip nader. Sy rooi gesig bons soos ’n ballon bo die esel — Jacques is maar korterig — met so ’n halfskaam glimlaggie aan die hoeke van sy mond vasgepen.

“Dis mooi,” begin die dosent, met effense onsekerheid in sy stem, “jou tekenvermoë is duidelik al goed gevestig. Tog  ...” (sy woorde dwaal ’n tydjie weg)  ... “Jou engelfigure is mooi, sterk, die gebruik van lig en skadu baie deftig, die vorm, die gewig, die tekstuur word baie lewensgetrou weergegee” (hy lag aan die idee van ’n lewensgetroue weergawe van ’n verbeeldingskepping) “maar tog is die karakter nie getrou aan die model s’n nie. Die liggame is anders, die gesigsuitdrukkinge, die persoonlikheid. Hierdie klas is veronderstel om Life Drawing te wees — dis waarom ons ’n model kry om vir julle te sit — tekene vanuit jou verbeelding kan jy altyd in Donderdag se vryetekenklas geniet!”

Jacques staan, verstom. Hy kan nie begin verduidelik dat hy wel van ’n model af gewerk het nie — trouens twee modelle, wat hier in die ateljee gestaan het — want as hulle daarvan te hore kom, sal hulle hulle selfbewus begin gedra en die onskuld verloor wat hy so graag teken. En boonop sou hulle in alle waarskynlikheid ook vra dat hy ophou — en dan sou hy moet. Hy hoor ver weg die dosent se stem wat hom herinner dat sy portefeulje aan die einde van die jaar ook genoeg life drawing moet insluit indien hy wil slaag, en dit moet herkenbare life drawing wees — die model moet duidelik herkenbaar wees, al is dit een van sy keuse en nie die klasmodel nie. Jacques raak effens benoud — as hy net vir Karina en Ilse kon oorreed om vir hom te sit, dat hy hulle lewensgetrou en herkenbaar op sy papier — of, nog beter, sy doek — kon weergee, sou die probleem verdwyn. Maar die moontlikheid daarvan is skraler as selfs die model. Hulle is medekunstenaars, nie voorwerpe nie, sou hulle sê, en ook wil hulle nie hê hulle gelykenisse moet almal vanaf mure in die gebou aankyk nie. Hulle is private mense, en — en Jacques voel dit is miskien die grootste probleem — hulle ken skaars vir hom.

Die dosent is intussen die kamer uit — seker huis toe vir komkommertoebroodjies en tee, meen Jacques — en die model het ook klankloos weggesmelt om aan te trek en langsaan in die studentekafeteria te gaan koffie drink. Jacques self verkies om eerder net aan te hou werk. Hy eet saans — die wiskundige se vrou stuur altyd vir hom ’n bakkie kos genoemd “oorskot”, maar hy weet sy maak ekstra net vir hom — en soggens word hy altyd ingeroep om ontbyt met die gesin te deel. Hy ly beslis nie honger nie. En buitendien, die ateljee sonder die oppervlakkige chit-chat van sy klasmaats is ’n veel aangenamer atmosfeer om werk in gedoen te kry.

Toe die res van die klas weer begin indrentel, is die mure vol van Jacques se frenzied kunswerk. Maskeerband plak tekening na tekening van die grond af op tot amper by die hoë plafon. (’n Stoel bo-op ’n tafel in die hoek getuig van sy pogings om dit reg te kry.) Nog steeds teken hy. Sy hande, arms, gesig is pikswart van die houtskoolstof, en die rol papier langs sy esel lyk maar skraal. Sy boks houtskool lê leeg, sy uitveër tot amper in afwesigheid opgebruik. ’n Fyn lagie swart poeier beklee sy tekkies, en die vloer gaan die skoonmakers ure lank besig hou.

Jacques hou aan teken, tot sy papier klaar is (hy leen selfs ’n stukkie houtskool by een van sy klasmaats om die laaste tekening klaar te maak) en sy energie klaar. Hy sit terug op sy hakke en beskou die lokaal. Dis nou nie Titian nie, maar dit skep so goed die atmosfeer van ’n engeleskare. In fact, meen van sy klasmaats, al hierdie engele laat hulle bietjie benoud voel, kloustrofobies en ge-crowd. Hulle beplan om teetyd te begin uitglip, vroeg die dag weg te kom, liewers in die biblioteek te gaan sit en werk aan hul kunsgeskiedenisopdrag. Jacques voel amper tevrede met sy handewerk — hy mis net die teenwoordigheid van kleur.

Na die teepouse — ’n pouse vir die model, wat deur die klas uitgebuit word — is daar net drie studente in die ateljee: Karina en Ilse, nog hard aan die werk, en Jacques, wat nog altyd sy werk sit en aanstaar. Die dosent stel voor dat hulle die model vroeg laat loop — hy raak ook effens beangs van al die engele wat hom onophoudend afloer — en daar word nie gestry nie. Vir die ander se tekeninge is daar egter geen plek teen die mure nie — dié sit nog steeds op esels of lê netjies uitgeleg op die vloer. Die dosent dra van hulle af om teen die gangmure op te plak, terwyl die model so hop-hop oor die vloer struikel, hard aan ’t probeer om nie op iemand se kunswerk te trap nie. Karina en Ilse pak ongehaas hul tekengoed weg in hul sakke. Hulle kunsgeskiedenisopdragte is al klaar, en hulle bespreek die vrye ure wat voorlê. Dorp toe loop trek hulle nie aan nie, dis te vroeg om terug koshuis toe te keer, en die weer is kouerig — hulle wil liewer binne bly. Jacques staan op en stap by die deur uit. Hy was op pad sy hande, kyk geskok sy gesig aan en besluit om hom so volledig moontlik in die wasbak skoon te was. Daarna stap hy die tweedejaarskilderateljee binne.

Maandae is Life Drawing-dag vir die tweedejaars, dus staan die ateljee verlate, donker, grotagtig. Jacques skakel die lig aan en stap na sy esel. ’n Pasbereide doek staan vir hom en wag. Sy kwaste, gewas en skoon, ruik verleidelik na lynolie en sy verfbuisies staan vet en verwagtend. Jacques gaan te werk, druk klein hoeveelhede verf uit op sy palet, pienke en bruine vir die pienk engel, skakerings van blou vir die bloue. Terwyl hy besig is, klap die deur meteens. Verras kyk hy op, om Karina en Ilse te sien inkom.

Skaam kyk hulle hom aan, asof hulle onkant betrap is. “Ons bespreek nou net jou tekeninge,” begin Ilse, verleë. “Dis mooi,” voeg Karina by. Haar stem is dieper as Ilse s’n, merk Jacques op, meer aards. Ilse bloos effens as sy weer begin praat. “Gister, na biduur, het ons gesit en gesels oor die geestelike armoede wat vandag so algemeen voorkom. Selfs hier, waar die meeste studente kerklede is, en gereeld kerk toe gaan, soek ’n mens maar tevergeefs na geestelikheid ...” Sy skud haar kop, mismoedig.

“Maar jou tekeninge,” begin Karina, geesdriftig, “Dis anders. Dis asof die geesteswêreld vir jou regtig bestaan. Asof jy die engele voor jou kan aanvoel, selfs sien!” Jacques bly liewer stil. Hy kyk hoe Karina stralend gloei soos ’n middeleeuse Christusfiguur. Sy vingers jeuk om haar so te skilder. Ilse se wimpers flikker oor haar potblou oë, kuis en rein soos die Maagd Maria.

Hulle voel almal ongemaklik, stap van mekaar af weg, en begin skilder. Jacques se gedagtes dwaal by die gesprek rond; hy moes verwag het dat hulle godsdienstig sou wees, en miskien ook sou vermoed dat hy aan sulke neigings ly. Dis die dat hulle besluit het om onder hom te kom bearbei, meen Jacques, maar hy neem hulle dit nie kwalik nie. Dit is eenvoudig deel van hulle verwysingsraamwerk, redeneer hy.

Voor hom op sy doek kom daar ’n Besoekingstoneel tot stand. Die binneplaas van die Skone Kunste-gebou — alhoewel sonder motorfietse en Coke-blikke — dien getrou as lokaal vir die geleentheid. Maria (die maagdelike Ilse) staan voor haar esel en skilder, terwyl die Aartsengel (die stralende Karina) die Blye Tyding voordra. Verskrik begin Jacques die figure effens vermom; tog bly hy getrou aan die kern, die wese, die uitdrukking. Die skakerings en nuanses word lewensgetrou weergegee, subtiel maar dubbelsinnig.

Toe Ilse-hulle hulle kwaste neersit, is Jacques se skildery amper klaar. Hulle kyk dit bewonderend aan, groet, en stap terug koshuis toe vir ete. Jacques verf klaar, maak sy kwaste skoon en stap kafee toe vir sigarette. Langs die pinballmasjien vergader die koshuismanne om skelmpies deur die laatste Scope te blaai, voordat hulle bokse sjokolades koop in voorbereiding vir die aand se kuier by die vrouekoshuise. Jacques draai egter nie lank nie — hy besef aan die mans se bier-en-slaptjips-reuk dat dit gou in ’n feeding frenzy kan ontaard. Met sy kunstige geaardheid, sy afgetrokkenheid en sy vertrek uit die koshuis is hy openlik as ’n “moffie” bestempel, en teen so ’n bondel bedrukte seksuele frustrasie soos dit wat voor hom staan het hy min kans, besef hy.

Jacques neem dus die agterpaaie terug huis toe, en wandel ingedagte by die hek van die botaniese tuin in. Die kortpad is nog verlate — eers later sal die verliefde paartjies die afgesonderde banke uitsoek om daarop hulle rituele uit te speel. Nou deel hy die stil beblaardheid met slegs die uile en die maan.

’n End af merk hy op hoe ligte in die koshuisvensters begin brand; die sagte klingel van klokkies onder die haastige hande van sjokoladeboksdraers in die tuine onder laat van die ligte weer blus en gretige voete by die trap afjaag. Eers na koffie in die sitkamer sal hulle begin uitglip, as die eerstejaar op voordeurdiens diep in haar boeke kyk en nie meer opmerk as iemand deur die voorportaal loop nie. Nog ’n uur voor die stilteryk omvergewerp word, sug hy. Nog net ’n uur voordat skoonheid skuilplek moet soek.

Die koms van voetstappe laat hom skrik; verras herken hy vir Karina wat nader stap. Sy lyk skoon opgewonde om hom te sien, en groet geesdriftig. Karina verduidelik dat sy op pad is kerkvergadering toe, maar sy sukkel heelaand met die gevoel dat die Here haar aansê om iets anders te doen, sy weet net nie wat nie. Nou kry sy hom hier in die tuin; nou weet sy wat dit is wat sy moet doen. Is hy op pad êrens, of kan hulle miskien iewers gaan koffie drink? Sy laaste geld op sigarette uitgegee, bied Jacques aan dat hulle by sy kamer koffie drink, en Karina stem gretig in. Vir die crowded koshuissitkamers of die woelige koffiekroeë is sy nie lus nie, en met slegs ’n ligte katoenrok sal sy gou buite koudkry.

Hulle praat op pad oor die kunsgeskiedenisopdrag, hulle dosente, waarvan hulle hou en nie hou nie. Karina enthuse oor alles; Jacques praat stadig, diep en nadenkend. Sy byvak is filosofie, hare Afrikaans-Nederlands. Sy beplan on skool te hou; hy, om te skilder. Sy vra hom nie uit hoe hy beplan om brood op die tafel te sit, soos haar Pa vir haar uitgedaag het toe sy die eerste keer aangekondig het dat sy kuns wou swot nie. Sy neem net aan dat Jacques op een of ander manier sal regkom — dit pla obviously nie vir hom nie, hoekom moet sy dan haar daaraan steur?

Terwyl hulle koffie drink, bring die wiskundige se vrou vir hulle beskuit en vrugtekoek aan. Sy het opgemerk hoe Jacques ’n vriendin saambring, en help graag om die meisie te laat tuisvoel. Daarna los sy hulle uit om met mekaar te gesels. Karina gesels egter gemaklik voort. Sy is nogal verras — sy was nog nooit tevore alleen in ’n kamer met ’n man nie, selfs nie haar Pa nie. Oftewel, veral nie haar Pa nie. Nie nadat  ...

Jacques merk verskrik op hoe Karina stil begin huil. Hy weet nie hoe om te reageer nie; menslikheid het nog nooit vantevore so na hom deurgedruk nie. Hy kyk haar stil aan.

’n Lang tyd sit hulle so. Hy bied nog koffie aan, sy skud haar kop. Sy moet loop, die koshuis sluit binnekort. Hulle stap woordeloos saam terug na haar koshuis, en groet skaam. Ongemaklik loop Jacques terug.

Die volgende oggend kom hy laat in die klas: die hoofpynpille wat hy gedrink het om hom te laat slaap, het te goed gewerk. ’n Brief lê op sy esel. Karina dank hom vir die koffie, die gesels, die bystand wat hy gebied het. Sy vra om verskoning vir haar gedrag, sal by ’n latere geleentheid verduidelik, sy dink sy painting is mooi. Jacques kyk oorkant na haar esel; van Karina is daar geen teken nie. Ilse kyk hom aan, groot vraagtekens sigbaar in haar helder oë. Jacques haal net sy skouers op en skud sy kop.

Etenstyd verskyn Ilse voor sy esel. Sy het die brief van Karina gebring. Karina is ongesteld, en Ilse wil weet wat Karina pla. Jacques weet nie, en raak self bietjie bekommerd. Ilse bly ’n tydjie staan. Sy is stiller as Karina, skamer, meer introspektief. Haar stem is sagter, suiwerder, soos ’n rooivlerkspreeu. Haar vel is porseleinwit, amper deurskynend, en Jacques ly onder sy begeerte om haar te skilder. Ilse bloos onder die intensiteit van sy blik. Sy kyk bewonderend na sy skildery, en bieg dat sy ook sulke hartstog in haar skilderye sou wou oordra. Bedwing, skilder sy tegnies perfekte — maar gedempte — kunswerke.

* * *

Jacques lê op sy maag voor sy sketsboek. Hy soek inspirasie, die wit papier daag hom uit, maar hy huiwer. Sy verbeelding is vandag leeg, en vergeefs soek hy motivering in sy omgewing. Die wiskundige se familie is die naweek weg, en die stilte van die buurt lê soos ’n dik mis oor hom. Die sagte klop aan die deur laat hom verskrik orent spring en hy wip om, om Karina in die deur te sien staan. Sy dra ’n bak vye wat sy die oggend by haar suster se huis gepluk het, en groet vriendelik asof sy elke dag so inloer. Jacques nooi haar binne, en hulle sit gemaklik op kussings op die vloer. Karina bied vir hom vye aan, en hy neem ’n vet, sagte vrug by haar. Die rypheid bars oop in sy mond, en die sap loop dik en soet by sy ken af. Hy kyk die vrug verbaas aan — binne die onskuldige groen vel bloos dit engelpienk, sag en vrugbaar soos die Val. Karina lê agteroor en lag vir sy verbasing, haar stem dik en soet soos vysap. Jacques kyk hoe haar skouers saggies skud, die luie bons van haar borste, hoe beweeglik haar liggaam word met die lag, tot by haar heupe wat stewig teen die kussing geplant is. Soos ’n boom, meen hy, ’n engelboom.

Hulle eet hulle dik aan die vye. Karina wou vir hom vertel van wat tot haar trane vroeër die week gelei het, maar die woorde ontglip haar. Hulle praat eerder oor engele, of engele geslag het, of engele hoër of laer vorme van die lewe is as die mens, en of die hemel wel bo in die wolke skuil.

Meteens vra Jacques beangs of hy vir Karina kan teken. Karina hoor die intensiteit in sy stem, stem lag-lag in, solank sy net kan lê daar waar sy is, en vye verteer. Jacques spring gou aan die werk, en binnekort lê die vloer vol versadigde engelfigure. Dié keer is dit duidelik Karina, haar engelvorm kuis bedek deur ’n fyn katoenrok, haar vlerke amper weggesteek agter wolkekussings. Karina straal van geluk toe sy die tekeninge gewaar. Sy gee vir Jacques ’n klapsoen op sy taai wang, en wil onmiddellik weghaas om Ilse te laat kom kyk. Jacques, verlig deur haar reaksie, stem in.

Na die twee weg is, pak Jacques sy kamer reg. Hy sit die engeltekeninge versigtig weg, en blaai rustig deur een van sy swaar kunsgeskiedenisboeke op soek na beklede engelfigure. Meestal is dit óf naak, óf met swaar kleding bedek; die ligte klerasie van die Karina-engele soek hy vergeefs. Dié nag droom hy van vrygewige Karina-engelfigure, lugbedek en laggend, met Ilse-engelfigure wat kuis van die kante van die prent inloer.

Die helder sonskyn laat Jacques besluit om buite in die natuur te gaan skilder. Dus sit hy in die sonskyn en bekyk die wêreld vanaf die damwal toe Karina en Ilse na kerk daar opdaag om piekniek te hou. Hulle is opgewonde om hom daar te kry, nadat hulle hom by sy kamer gesoek het. Die kombers word uitgegooi, die mandjie uitgepak, en die engele gerangskik. Jacques se aandag bly lank by die interessante kontras tussen die deurskynendheid van Ilse se kleure en oppervlak, en die soliedheid van haar vorm soos dit daar op die kombers die ruimte vul. So graag wil hy hulle skilder dat hy skaars reageer toe hulle hom kos aanbied. Die kos self bestaan uit ’n warm witbrood, ’n Aero-sjokolade, wat smelt as stukke op die brood geplaas word, en nog ’n bak van Karina se vye. ’n Bottel pienk sjampanje word in die vlak water laat staan om koud te bly. Hulle eet.

Volmaag lê hulle en ontspan in die warm son met ooglede wat swaar hang oor minsienende oë. Bene steek sorgvry onder die kuisheid van rokke uit, voete aards in hul fyn naaktheid. Jacques sit orent, soek na ’n sigaret en gaan rook ’n entjie weg. Fyn hou hy hulle dop, totdat hy dit nie meer kan uithou nie. Hy tel sy kwaste op en begin skilder.

Toe Karina en Ilse hulle oë oopmaak, sien hulle ’n doek vol slapende engele, ’n pienk engel en ’n bloue wat teen mekaar lê. Ingenome haal hulle die vergete bottel uit die koel water en maak dit oop. Die enkele koppie word verskeie kere volgegooi en gedeel, leeggedrink, en toe weggeruim met die leë bottel. Die warm son laat hulle verder ontspan, hulle gemoed wyd oop vir wat ook al die geleentheid aanbied. Dis toe dat Karina besluit om te swem.

Eintlik was dit eers bedoel om net so bietjie in die vlakkigheid te loop, maar loop het in baljaar ontaard, en toe die koel water op hul warm velle sis, besluit Karina en Ilse om sommer te swem. Hulle trek hulle rokke agter bossies uit, en skuil agter die tafeldoek totdat hulle by die water kom. Daar laat hulle dit lê, en spring in die dam in.

Jacques, wat besig is om sy skildery klaar te verf, kyk eers later op. Hy merk eers die hopie klere agter die bossies op, en toe die verworpe tafeldoek waaraan die damwater lek-lek tas. Karina en Ilse se koppe dryf in die verte, nat hare met sonstralekranse bedek. Oor die water kom die sagte weerklank van hul laggende stemme. Giggelend, weens die son en die sjampanje. ’n Hand waai vir hom. Pienk — dis Karina s’n, die sagte ronding van die vlees herkenbaar selfs van so ’n ent. Hy waai terug, sy skildery klaar, en sit ’n tweede doek op die esel.

Die swemmers kom nader. Hulle stoot-trek saam ’n groot boomstam, takke wat uitsteek teen seermaakhoeke. Hulle dryf nou in vlakker water, skouers sigbaar in die water, flitse van boude en voete soos hulle swem. Hulle roep vir hom, wys hom die vervalle boom wat hulle gekry het, soos ’n gretige hond wat ’n dooie padda die huis insleep en aan die voetenend van sy baas se bed los. Jacques kyk na die hande wat die boom vashou — sagte pienk, skraler blou. Die arms wat af en toe onder die oppervlak verdwyn, verskyn, verdwyn met hulle aankoms. Die voete — pienk en blou — aan slank enkels. Vol, pienk kuite, maerder bloues, onder die water. Sagte boude, witter, sodat die pienk en die blou gedemp is, nader aan mekaar in kleur as die res van die liggaam. Die skouers wat onder die nat hare skuil — van vlerke is daar egter geen teken nie.

“’n Kersboom vir jou engele!” roep Karina, in haar noppies. Ilse giggel effens, sluk water in en lyk beangs. Sy lig haar been stadig op, dat die enkel teen die boomstam rus. En oor. Meteens sit sy daarop, haar hande gryp styf aan die takke dat sy nie afgly van die slymerige stam nie. Jacques kyk haar verstom aan. Voor hom sit sy blou engel, haar porseleinlyf amper deurskynend in die Afrika-son. Haar sleutelbene glinster in die lig, poele water wat weerkaats en weer afloop as sy beweeg. Haar borste, klein, fyn, met sagte-pienk tepels in vuiste gedruk teen die koue. Die effense ronding van die maag — middeldeur gekruis met ’n fyn lyn donker hare vanaf haar naweltjie tot onder in haar fyn skaamhare. Haar ronde blou dye wat wedersyds van die boomstam vasklou. Sy blou engel, op die vervrotte ou kersboom. Geen vlerke meer nie, ook geen stralekrans nie.

Voor haar klouter Karina ook op. Die stam duik so bietjie onder die water in, en sy staan op om haar balans te behou. Sag en sterk, pienk en solied; Karina se lyf gloei in die warm son. Haar boude ryp en rooi soos granate wat wil bars, die ronding van haar heupe en haar stywe, ronde maag. Haar stewige borste, witter soos pampoenskil, met groot, donker tepels wat hom aankyk soos hondoë. Haar wilde bos skaamhare laat Jacques egter besef dat die engel ’n aardse Bruegel-vrou is.

Terwyl hy kyk, skilder Jacques. Die sondronk engele pose vir hom op hulle kersboom, giggelend en lomp. Karina beland ’n paar keer in die damwater en Ilse gly oral op die nat boomstam rond. Jacques probeer tevergeefs om vlerke en stralekranse op sy modelle sy liggaame by te voeg — dit lyk onnatuurlik en nagemaak, soos die borste op ’n Michaelangelo-skildery. Jacques gee die stryd gewonne — naak is hulle nie meer engelagtig nie; hy skilder hulle soos hulle voorkom — naakte vroue met mooi, skilderlustige lywe.

Later stap hulle saam huis toe — Jacques bied koffie aan, en die nat engelgeweestes gaan stort en draai hulle in handdoeke toe. Die halfnat rokke hang naby die verwarmer om droog te word, terwyl hulle op kussings lê en beskuit eet. Stadigaan raak hulle aan die slaap.

Jacques droom van die sagtheid van wolke, die heilige harmonie van die engelekoor. Die windjie streel sy hare, vryf oor sy wang, omvou sy moeë liggaam in sagte donsvere. In sy mond proe hy die soetigheid van heuningmelk, en die geur van speserye vul sy neus. Hy onthou Ilse se deurskynende porseleinvel, haar klein borsies, haar fyn skaamhare. Die stewigheid waarmee haar sagte dye aan die slymerige boomstam geklou het. Sy keel trek toe en sy asem raak dieper. In sy stywe jean voel hy sy liggaam tot aandag spring. Sweet prikkel op sy voorkop uit. In sy gedagtes sien hy Karina se sagte pienkheid, haar vrygewige borste en haar digte bos skaamhare, haar ligaam ryp en sappig. Hy kreun saggies en sy heupe maal teen die kussing.

Die oggend kom laat vir Jacques wakkermaak. Toe hy sy oë uitvee, staan die son al hoog in die lug. Langs hom lê opgefrommelde handdoeke, pap kussings, sy klere. Die lug in die kamer is bedruk en bedompig, swaar soos donderweer. Teen sy bobeen voel hy taaiheid, sy skaamhare lê gekoek, en op sy maag — kan dit wees — staan die perfekte afdruk van ’n stel tande. Jacques herken die digter reuk — die geur van seks! Hy struikel orent, op soek na Ilse en Karina, maar daar is geen teken nie. Hulle klere, hulle lywe, hulle gegiggel en hulle vlerke is alles skoonveld. Jacques se kop wil bars, en hy sukkel om by die venster te kom en die gordyne oop te gooi. Die lig streel in en hy smyt die venster oop. Hy trek sy onderbroek aan en begin deur die wrakstukke soek na ’n sigaret. Dis toe dat hy opkyk na sy kersboomskildery en staar verstom. Sy aardse Bruegel-vroue baljaar nog steeds so wulps op die ou kersboomstam, maar hulle gesigte dra nie meer die kentekens van te veel son en wyn nie. Hulle uitdrukkings straal van ekstase, hulle oë na die hemel gedraai in dankbaarheid en lof. Vanuit hulle skouers bars die briljantste vlerke wat Jacques hom kon voorstel, en tussen hulle nat hare uit loer die blinkste stralekranse wat nog ooit op ’n doek weergegee is.

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.