Erotiek / EroticismArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Lyflike genot in 'n woonstelblok

Nommer 428

My woonplek is heerlik ingerig op die vierde vloer van ‘n woonstelblok. Ek woon in nommer 428, waar ek na ‘n paar maande van planmaak en afwagting gerieflik ingeburger is met die ondersteunende luuksheid van die noodsaaklikste huishoudelike toerusting. Ek is handig met huishoutake en kan selfs stryk – ‘n vaardigheid uit die dae van diensplig doen – maar laat die harde werk oor aan my huishulp, Miriam, wat een keer per week die rondte doen.

Miriam is al wat oorgebly het van my verhouding met die pragtige Karin in nommer 424. Karin het haar in diens gehad vir daardie pligte wat ‘n mens nie graag self week in, week uit verrig nie. Ek was maar te bly toe Miriam ‘n oop dag aankondig en ons het vinnig ooreenkoms bereik dat sy ook my woonstel onder haar sorg sou neem. Die gevolg is dat ek genoeg tyd het om saans na werk te ontspan.

My ontspanning is nie beperk tot die vier mure van my woonstel nie. Ek gaan twee keer per week na die biokinetika-gimnasium, waar ek teen minimale maandelikse koste waak teen verval in my rankerige lyf. Hierdie oefening hou alles van my fiks, sonder die druk van spierpaleise wat andersins in kommersiële oefenplekke intimiderend oor hul medelede troon. Ek verstom my altyd aan die spierpompers wat grootdoenerig rondstaan terwyl dit duidelik is dat hulle die aandag probeer aflei van die onderontwikkelde spier aan die voorkant tussen hul bobene. Die “down side” is dat hierdie gimnasium nie afleiding bied aan die honger oog van ‘n fiks rankerige lyf nie, bloot omdat biokinetika meer toegespits is op rehabilitasie en ander spesialiteite, eerder as lus-vir-die-oog-ontwikkeling.

Ek lees graag en lees wyd. Nie alles swaar of akademies nie, want ligte leesstof en ‘n roman met romantiese ondertone wat die storielyn ondersteun, is prikkelend. Dikwels werk ek lang ure om voor te bly in die kantoor waar ek geld vir my brood verdien.

Kort en bondig: ek leef gebalanseerd. Ek jaag nie meisies nie en maak nie misbruik van elke geleentheid om ‘n gelukkige trekking of drukking te “score” nie. My oë is egter nie toe nie en ek doen genoeg verkenning om te fantaseer oor die plesier wat kan volg as ‘n mens met sommige van die mooi nommertjies kan deurmekaar raak.

Karin in nommer 428 was toe nie ‘n los meisie nie. Die opwindende eerste ontmoeting met haar was ‘n ontvlugting vir beide van ons, wat op daardie stadium net ontslae moes raak van ons gemeenskaplike bronstigheid. Ons het na daardie aand toe sy my haar woonstel binnegenooi het en dit uitgeloop het op seks in die slaapkamer, nie gou weer mekaar se privaatheid betree nie. Ek het kort na die episode woonstel 428 geokkupeer, sy het ingeloer om welkom te sê, maar niks sou ons beweeg om, bloot as gevolg van die eerste encounter, mekaar gereeld te bevlieg asof seks die enigste behoefte was wat tussen ons vervulling moes geniet nie. Karin was ‘n vervulling, selfs net om met haar in een vertrek te verkeer. Sy het goed kos gemaak en ek kon ook vir haar bederf met ‘n paar van my vaardighede. Ons het soms gekuier en soms net ingeloer met ‘n groetwoord. Die tye wat ‘n eetkuier oorgegaan het in vertroeteling, was spontaan en sonder dwang. Ons het mekaar bloot geniet en was vir mekaar ‘n belewenis en ‘n tonikum. Ons het geweet om niks van mekaar te verwag oor die lang termyn nie – na haar teleurstelling sou sy nie maklik weer in ‘n vaste verhouding geknoop wil word nie – en ek was te veel van ‘n losloper wat met ideale rondstap wat nie ruimte laat vir die eise van ‘n paartjie nie. Tog het ek gedurende daardie maande nie ander meisies bed toe geneem nie. Selfs nie al was die meisie openlik gereed vir dieper kennismaking nie. Ek het Karin se teenwoordigheid gekoester. Die lus wat as gevolg van ander sosiale rondtes in my opgevlam het, is net deur Karin geblus.

Toe Karin se loopbaan haar oorsee neem, was ons “open-ended” verbintenis opeens verby. Die meisie wat haar plek geneem het in nommer 424, was in ‘n verhouding betrokke wat haar meer dikwels nadelig getref het as voordelig. Sy was versot op ‘n takhaar wie se kom en gaan beheers is deur die gerief van ‘n blyplek as daar nie ‘n ander uitkoms tot sy beskikking was nie. Altans, so het dit vir my gelyk. En ek was nie lus om in daardie kringetjie betrokke te raak nie, al was die nuwe meisie nie onaansienlik nie en al het sy by tye wanneer ons mekaar in die gang raakloop, haar flikkers gegooi.

Op ‘n dag moes ek vroegmiddag van die werk terug woonstel toe om te gaan oopsluit vir die herstel van ‘n lekkende geyser. Op my staptog haal ek uit om die aantreklike lyfie wat vorentoe in dieselfde rigting as ek stap, van nader te beskou. Wetende dat daar net een woonstelbestemming is op hierdie roete, maar verderaan is daar ‘n paar duethuise, versnel ek my pas net genoeg om seker te maak dat ons twee die woonstelblok se ingangsportaal gelyk sal bereik. As dié oulikheid wel op pad is woonstelblok toe, kan ek saam met haar in die voorportaal beland en dan ‘n strategie ontwikkel. Dit hang maar baie af van die situasie en die meisie.

Ek sien dat sy omkyk, selfs ‘n tweede keer, en dit is asof haar pas afneem. Verblydend, want dit is warm en ek het begin twyfel of my poging om haar in te haal, suksesvol gaan wees. Dit is nou naby, en die figuurtjie en haar kleding se belofte verbeter met dié dat ek nou veel beter kan sien as toe sy in die verte voor my gestap het. Ek moet nou diep asemhaal om die inspanning van die stap en die opwinding wat in my borskas hamer, te bedwing. Nog net ‘n paar treë en ek sal weet … ja, en dit lyk my sy gaan by die voorportaal instap. Perfek.

Toe sy voor die posbusse gaan staan, stap ek by die voordeur in. Sy kyk nie na my nie en ek stap rustiger nader en sien dat sy by die tweede vloer se posbusnommers doenig is. Ek groet. Sy groet, kyk net tersluiks na my. Ek sien sy het nommer 228 oopgesluit. Ek besluit om my nommer 428 oop te sluit, al weet ek dat daar geen pos in is nie – daarvoor het ek ‘n posbus in die stad. Ek vra verskoning dat ek so naby haar beweeg om my posbus na te gaan en sy antwoord stilweg dat dit haar nie pla nie. Met dié is ek naby genoeg om te ervaar dat haar parfuum ontwerp is om haar aangenaam geurig te beskut, al het sy so pas die son trotseer tydens die staptog. Terwyl sy vroetel in die posbus, is ek erg bewus van die mooigevormde enkels en mooi leerskoene terwyl ek kamtig sukkel met die posbussleutel van nommer 428.

Ek sien sy begin klaarmaak en ek mompel dat my posbusslot vashaak en ek sal die agente moet inlig dat hulle die slot moet herstel. Ek gesels verder en sê dat hierdie ouer geboue meer aandag nodig het as die nuwes, maar dat dit lekker is om die ruimte van groot vertrekke om jou te hê. Sy antwoord dat sy in ‘n ander deel van die stad in ‘n nuwerige woonstel bly, maar dit was nogal lekker hier, tydens die paar geleenthede dat sy by haar vriendin gekuier het. Sy is nou juis weer hier om die parkiet te kom versorg, want dié is op hok gelos terwyl haar vriendin in Swaziland met vakansie is vir ‘n week of wat. Die parkiet mag nie verwyder word na haar eie plek nie, want die ding is temperamenteel en daarom kom sy elke dag om dit te versorg.

Vir my is dit nuus met ‘n belofte. Ons stap saam na die hyser en ek vertel haar dat dit vir my ‘n aangename ontmoeting is, terwyl ek ook heel toevallig nou hier moet wees om my stukkende geyser te laat herstel. Ek vra haar of dit nie makliker vir haar gaan wees om vir die tydjie in te trek nie – dit sal tog die parkietpoging vergemaklik. Sy sê dat sy dit oorweeg, want haar vriend gaan binne ‘n dag of wat vir ‘n onbepaalde tyd na Nederland en sy weet sy gaan haar blyplek net te alleen vind.

Met dié stel ek myself voor en sy sê haar naam is Chanette, aangename kennis. Ek kan egter nie vir haar sê watter aangename kennis dit vir my is nie, want dit kan haar op die verdediging sit. Haar oë het ‘n groen skynsel met ligbruin hare wat losweg op haar skouers rus. Die bloese is modieus oopgeknoop en sal die geheimsinnigheid van haar borste net genoeg blootstel, as sy vooroor buk, om die verbeelding verder te prikkel. Haar vel is sterk en dit lyk asof sy genoeg tyd in die son deurbring, waarskynlik met min genoeg aan om haar hele lyf bloot te stel, om oral ‘n verleidelike sonbrand op te doen. Haar romp is noupassend en geen onderklerelyn is sigbaar nie. Baie aantreklik, baie sensueel. Ek sien dat sy my onderlangs beskou en reeds my ringlose vingers opgemerk het. Toe ons in die hyser staan, is sy besig om my skoene en langbroek te takseer. Die effense drukking wat in my staaf opgebou het as gevolg van die opwinding wat hierdie roos meebring, is net-net merkbaar en ek is bly dat ek nie my beheer vrye teuels gegee het toe ek netnou ‘n fraksie teen haar geraak het met die instap by die hyserdeur nie.

Op die tweede vloer stap sy uit terwyl ek die deur oophou. Sodoende is ek in beheer van die groetproses en ek sê dit was aangenaam om haar te ontmoet. Ek sal later op die uitkyk wees as sy dalk sou besluit om tog in te trek om die parkiet-oppaswerk na te kom. Daar is baie interessante mense in die blok, maar as ‘n mens vreemd is, lyk alles onvriendelik en is dit gaaf om nuwe geselskap te verwelkom. Ek laat my oë oor haar figuur gly en sy glimlag tegemoetkomend.

Op pad na nommer 428 sukkel ek met die druk wat in my opgebou het. Mensig, die meisiekind het die opwinding behoorlik in my geplant. Dit is reeds ‘n tyd gelede dat daar, ná Karin, iemand my pad kruis wat my behoorlik warm gemaak het. Ek sal moet keer dat ek nou nie laf en oorhaastig raak en ‘n potensieel goeie ontmoeting knetter nie.

Na drie dae besluit ek om later in die aand ‘n draai te stap op die tweede vloer. Van die grondvlak af was daar geen teken van lig in die ietwat verskuilde vensters nie en ek moet begin seker maak dat ek nie tyd verspeel deur nie op hoogte wees as die te wagte inwoner haar opwagting maak nie. Ek besluit om met die trappe af te stap en loop rustig terwyl ek begin dink oor hoe om die volgende aanvoorwerk te doen. Die trapskag is half verlig en ek hoor dat iemand van onder af aan die opstap is. Waar presies, weet ek nog nie, maar dit is naby. Net voor ek afstap na die laaste stel trappe tussen drie en twee, besef ek die voetval is lig genoeg om dié te wees van ‘n vrou, en die volgende oomblik verskyn Chanette in die skemerlig.

Ek is heel oorbluf, maar kom gou tot verhaal. Sy het ‘n groen sweetpaktoppie en ’n wit broek aan, wat haar sierlike lyf beklemtoon. Die sweetpak lyk vir my net na ontspanningsdrag, want dit is modieus en bevat geen teken dat dit vir ‘n workout gebruik word nie. Sy is self ietwat onkant gevang deur my teenwoordigheid, want sy het klaarblyklik niemand gehoor afstap nie. Ek besluit om te erken dat ek op pad was om te gaan kyk of sy nommer 228 betrek het en sy sê dat sy reeds die vorige dag met die noodsaaklikste oorgetrek het, en nou lus was om van die boonste vlak af oor die stad te kyk. Sy sou dalk ook by my inloer, maar is versigtig om te steur as ek dalk ‘n besoeker het. Ek verseker haar dat ek nie tans besoekers ontvang wat omgee om gesteur te word nie.

Ons stap saam na die sesde vlak. Omdat ek gaaf wil wees, ondersteun ek haar aan die elmboog en sy laat dit toe. Ons praat nie veel nie, behalwe om vir mekaar te sê dat trapklim na bo moeiliker is as trapklim na onder. Toe sy op een van die trappies struikel, verplaas ek my hand na haar lyf en vir ‘n oomblik leun sy teen my aan.

Ons staan saam en kyk na die stadsligte, wat nou reeds helderder flonker. Die son is reeds onder en dit sal binnekort donker wees. In die woonstelle is daar die geluide van mense wat met alles en nog wat besig is. ‘n Man en meisie kom aangestap. Hulle is erg besig met mekaar en skuur by ons verby. Die man se hand druk by die meisie se lyfband in, waar haar toppie opgeskuif het uit die nousluitende langbroek. Ek vang Chanette dat sy die twee agterna kyk en sien dat sy so ‘n sagte verlangtrek op haar gesig het.

Ek vra haar of die vriend toe Nederland toe is. Sy sê ja, hy is weg, en dit is toe definitief vir drie jaar. Maar hy moes gaan – ‘n goeie werk wag en hy wil die inkomste nie misloop nie. Ek kan sien dat sy skielik huilerig raak, maar tog die emosie goed beheer. Omdat ek haar gevoel verstaan, gee ek haar arm ‘n drukkie en sy gee ‘n sug. Binne-in my weet ek die meisie is nou nie meer iemand s’n nie, maar weet ook dat ek nie sommer ‘n deur kan oopstoot en verwag dat dinge ‘n romantiese verloop neem nie.

Ons begin terugstap en ek nooi haar na my woonstel. Ons kan koffie drink en as sy lus is vir iets sterker, daar is ‘n klein verskeidenheid.

Ons gesels oor haar werk (bibliotekaresse) en sy vertel dat sy nog aan haar M-graad werk, maar besluit het om rustig te wees daaroor en dit oor twee jaar te voltooi. Sy het pas die eerste van vier opdragte voltooi.

Terwyl ons praat, is ek bewus dat sy ‘n onbelemmerde, gemaklike gang het. Sy is stylvol in beheer van haarself, en met die sweetpak aan is haar sit gemaklik en nie soos ‘n meisie sal beweeg as sy ‘n rok aan het nie. Sy sit op ‘n lae stoel en kruis haar bene nou en dan. Soms staan sy op om na iets in die woonstel te kyk en dit gee my die geleentheid om haar figuur te bewonder. Die noupassende sweetpakbroek laat min aan die verbeelding oor, want die rondbeweeg en sit en opstaan het veroorsaak dat al die gangetjies en gleufies van haar lyf blootgestel word. Sy trek hier en daar aan die materiaal om die nodige verandering te bewerkstellig, maar die poging is net oppervlakkig. My manlikheid is sag aan die pols hier waar ek sit en ek besef dat ek nie veel beter as sy daaraan toe sal wees as daar rede sou ontstaan om op te staan en saam met haar te beweeg nie. Dan sal sy waarskynlik bewus wees dat daar onder my klere prominente eienskappe is wat ook blootgestel is.

Ons kuier is skielik oor. Dit is asof sy besef dat sy nie hier tuisgaan nie en sy begin groet en sê dat ek nie met haar hoef saam te loop nie, sy gaan gou die hyser neem en is dan vinnig by nommer 228. Effens afgehaal deur die skielike verloop, laat ek haar begaan en groet. Ek sien dat sy afkyk; dit wil lyk asof dit skugterheid is, maar die prominente deel van my lyf waarheen haar oë gewend is, bring ‘n blos op haar wange en ek weet dat sy, stemmig en bedeesd ten spyt, nie onskuldig is as dit kom by die magiese aantrekkingskrag wat seksuele aangetrokkenheid meebring nie. Sy drafstap liggies weg en wuif skugter voordat sy om die hoek verdwyn.

Daardie aand spook die groenoog bruinkop by my. Ek gaan vroeg bed toe en lees verder uit die dagjoernaal van ‘n boswagter. Dis ‘n lewe wat afgesonder is van vroumense en die boswagterlewe is rof en gestimuleer deur die natuur, baie ingestel op sinlike ervarings. Die verhaal versterk ook my verbeelding, en die werklikheid van groenoog Chanette laat my met ‘n stewige pilaar wat polsend omhoog staan waar ek probeer om aan die slaap te raak. Ek wil nie toegee aan die begeerte om my lus weg te tos nie, dit gaan my laat met ‘n gevoel van onvergenoegdheid.

Daar gaan ‘n dag verby waarin my aanklop by nommer 228 niks oplewer nie. Ek stap vroegaand daar verby en later nog twee keer, maar daar is geen teken van lewe nie en ek gee die poging gewonne. Daar is verskeie verklarings vir haar afwesigheid en ek gaan nie daaroor op loop gaan nie.

Die volgende dag is ek net besig om ‘n Woolies-gereg op te warm, toe ‘n kloppie aan die deur my gedagtes onderbreek. Nog voordat ek die deur kan oopmaak, hoor ek iemand na my roep. Dit is onmiskenbaar Chanette se stem en my hart gee ‘n bokspring. Ek draai die deur oop en daar staan sy, effens uitasem en met ‘n inkopiesak wat sy na my uithou. Sy het ‘n deursigtige wit bloese en korterige wit rompie aan. Sy is nie lus om alleen te eet nie, en nooi my om haar inkopies met haar te deel in nommer 228, as ek ook van vrugte hou.

“Chanette, kom sommer in, ek is reeds besig met my aandete. Ons gooi saam en dan is dit nie nodig om jou plek ook met ‘n kosmakery om te krap nie. Daar is weer ‘n kans, op ‘n latere tydstip.”

Sy stap in, by my verby, en gaan sit sommer op die naaste rusbank. Ek gaan sit skuins op die ottoman teenoor haar om die inkopiesak wat sy daarteen neergesit het, op te tel. Met dié is ek reg voor haar en kan nie verhelp om na haar mooi bene wat onder die kort rompie uitsteek, te kyk nie. Sy sit nie met gekruisde bene nie en begin om haar skoene uit te trek, blykbaar onbewus van my aandag op haar. Vir ‘n vlietende oomblik het haar bene effens van mekaar beweeg en kon ek sonder dat dit so bedoel was, opkyk tussen haar bene in. Sy het ‘n wit deurtrekker aan. Sy is steeds besig om die gespes van elke skoen los te maak en beweeg en skuifel rond in die proses terwyl haar rompie effens hoër skuif. Ek sit vasgenael en aanskou hierdie vrug wat veroorsaak dat my hart nou donderend in my ore klop terwyl my pilaar sterk teen my broek pols. Ek kan nie sê dat sy moedswillig was nie, en daarom mag ek nie aanhou staar nie. En ek moet plan maak met hierdie geswolle manlikheid wat omhoog beur en die vorige dae se uitlokking moes weerstaan.

Ek draai kortom weg en skuifel half na die kombuis, waar ek agter die toonbank naarstiglik wring aan die vlees wat in my onderbroek op aandag aandring. Intussen is Chanette, nou kaalvoet, langbeen op die rusbank besig om in haar handsak na iets te soek. Haar slankheid is werklik oorweldigend en ek sluk swaar aan die droë opwinding in my keel, veroorsaak deur die meisiekind se onbevange optrede.

Dit is asof sy skielik besef dat sy nie alleen is nie en bloos. “’Skuus, ek het vergeet ek is nie by my plek nie.” Sy skuif haar rompie af en staan op om my te kom help in die kombuis.

Sy beweeg dartelend, met grasie, en gesels opgewek, sonder verveling. Ek het effens bedaar, maar is bewus dat ek enige oomblik weer kan verstyf, terwyl sy klaarblyklik van geen sout of water weet nie. Ek is meer as ooit bewus van die kontoere onder haar effens deursigtige bloese en rompie en verwonder my aan die gemak waarmee sy met haar liggaam verkeer. Dit is asof sy voor my in beweeg sonder dat sy dit bedoel. Ons raak toevallig aan mekaar en dit stuur prikkels van opwinding deur my. Dit is soos ‘n spel met net een speler, want sy gee geen teken dat sy deelneem aan enige vorm van ritueel nie.

Totdat ek sien hoe sy die rooi, ryp aarbei tussen haar vingers neem en onder die kraan afspoel. Die groen blaartjies wat die stam afrond voordat die ryp vrug oorneem, trek sy terug en vryf liggies met haar vingerpunt oor die vrug. Stadig, sag en amper met ‘n verlorenheid gaan sy te werk. Ek staar na die heilige oomblik, wetende dat haar emosies aan die opwel is, Net die lopende koel water uit die kraan is hoorbaar terwyl sy die afspoelproses voortsit, en ek kry die geleentheid om haar weer onopsigtelik met my oë in te drink. Ek kyk na haar borste en sien dat daar ‘n verandering plaasgevind het. Daar is ‘n stuwing daar onder die bloese en ‘n puntigheid het op elke prammetjie verskyn. Sy is sowaar gestimuleer deur die hantering van die aarbei. Ek vind dat haar asem vlak is, so asof sy in ekstase verval. Dit lyk nie asof sy wil klaarkry met die afspoelery nie. Ek is weer eens opgewerk, maar vermy om die krag waarmee my orgaan teen my kleure druk, te probeer verplaas om dit minder prominent te laat vertoon.

Asof onder hipnose beweeg ek stadig agter Chanette se rug in en plaas my hand sag op haar heup. Sy verroer nie en ek ervaar dat sy steeds vasgevang is in die erotiek van die vrug in haar hand terwyl die lopende kraanwater kabbel en die atmosfeer van sinlike genot versterk. Sy is onweerstaanbaar en klaarblyklik onbewus van my nabyheid, terwyl ek, meegevoer deur my eie belewenis van die erotiek wat sy uitstraal, begin het om oor haar rug en dye te streel, klein en groot liefkosende sirkels wat aan die ontwikkel is in ‘n druising van begeerte vir ‘n nimf wat steeds asof in ‘n droom haar erotiese belewenis versterk. Sy neem die vrug na haar mond en vou haar lippe om die rooi punt terwyl sy liggies daaraan suig.
My streling het nou oorgegaan tot ‘n ligte massering van haar arms wat oor haar skouers strek en agter haar rug af tot oor haar boudjies, wat ferm teen my hande druk. Haar stil liggaam het nou ‘n roering gekry en oorgegaan in ‘n kronkelende vertikale beweging, met bolyf en heupe wat stadig van links na regs beweeg, voete skuifelend om die balans te behou, en dan weer terug na bo. Haar oë is toe, gee amper die indruk dat sy in ‘n beswyming is, en sy is nou besig om die vrug tussen haar lippe stadig na binne te suig en te verteer. My mond is by haar ore en ek soen die oorskulpe en beweeg af teen haar gladde nek. Sy strek haar uit en leun teen my aan. My arms, nou van agter af oor haar gevou, trek haar teen my aan. Haar boudjies het my begeerte gevoel en druk nou met nuwe drang teenaan die pilaar wat opgehewe in my broek opwel en smag om uit te beur. Ek vou my hande oor haar kordate prammetjies en sy sidder van tevredenheid en lus terwyl haar tong na my mond soek vir die eerste soen, wat ons meevoer in ‘n ekstatiese soektog om dieper en dieper te verken aan mekaar se opgewekte liggame.

Die kombuis is nou geen plek om te wees nie. Ek lig haar in my arms op en voel hoe sy afwagtend teen my bolyf opkrul. Sy is ligter as wat ek van haar gemiddelde figuur verwag het en ek dra haar sonder inspanning na die kamer, waar my bedlampie die omgewing met ‘n sagte lig bestryk. Met haar oë steeds toe, beweeg haar mond soekende na myne en met haar een hand streel sy oor my bolyf terwyl sy kreun en teen my beur. Haar arm is nou agter my rug en trek my teen haar vas. Haar bolyf druk teen my aan en ek kan die opwinding deur haar teen my voel aanspoel. My eie opwinding is pynlik in my klere vasgevang.

Ek lê haar op die bed neer en sy strek haar grasieus uit met haar arms wat na my uitreik. Haar rompie het opgeskuif en ek sien dat haar wit deurtrekker aan die voorkant klammerig geword het. Sy knoop die rompie aan die kant los en stroop dit van haar af. Ek gebruik die geleentheid om my eie boklere los te maak en daarvan ontslae te raak. Nou lê ons halfnaak langs mekaar en begin uitasem te soen en suig aan mekaar se tong en lippe.

My hande streel oor haar bolyf en die prammetjies is parmantig ferm en vol. Ek voel hoedat die tepels spits onder die materiaal en verplaas die aanraking onder haar bloes in, sodat ek onder die sagte bra haar naaktheid vertroetel. Sy steun en snak liggies na asem toe ek my tong teen haar nek laat afgly en die kuiltjie soen. Ek beur effens aan die bloese en sy laat gewillig toe dat ek dit oor haar arms aftrek. Sy is nou naak, behalwe vir die deurtrekker wat uitlokkend haar geswolle skaamdele probeer verberg. Haar tepels is effens donker, maar die vlesige omgewing is rosig en amper polsend. Haar heupe beur na bo en ek kan sien dat Chanette gereed is vir ‘n storm. Sy lê effens oopmond en werk haar hande teen my bolyf op en dan af na my pilaar wat gedeeltelik by die hipster uitpeul, asof in nood om verlos te word van die ingehoue lading semen. My pilaar se glans is rosig en opgehewe, ‘n ligte vloeistof sypel by die kanaal uit. Haar hand beweeg oor die glans en versprei die voorspelvloeistof. Die aanraking stuur ‘n siddering deur my lyf en verhoog die lading wat in my testikels aan die opbou is.

Chanette se ekstase is ook aan die opbou en ek besluit om haar oor die deurtrekker te streel. Sy het ‘n effense bikinilyn geskeer en die venusheuwel vertoon uitlokkend bokant die geswolle lippe van haar vagina. Ek druk met my hand op die lippies en masseer ferm oor die uitlokkende vlees. Met my middelvinger druk ek tussen die lippies in en voel hoedat sy meegee terwyl haar bene oopvlek. Sy streel met haar hande oor haar prammetjies en af teen haar maag tot binne die rek van die deurtrekker, wat sy dan met een beweging teen haar bene afstroop. Dit is ‘n grasieuse handeling wat die opwinding in my verhoog. Haar bene, weer oopgevlek in afwagting, vertoon die rosigheid van opwindende genotlikheid. Ek kan haar klitoris sien uitstulp en sy raak momenteel daaraan om te wys dat sy gereed is vir stimulering. Ek beweeg twee vingers saggies oor die stafie en masseer met ‘n rolbeweging die plesierpuntjie sodat sy ekstaties kreun en hyg van plesier. Sy neem my penis in haar hande en masseer strelend en met drukbewegings die kloppende orgaan.

Toe oortref sy my verwagtinge! Sy skuif rats na onder en neem my glans tussen haar lippe. Stadig en met die nodige in en uit masseer sy my met haar lippe, tong en tande. Die effek is meer intens as wat ek kan onthou nog ooit met my die geval was. Die lading in my onderlyf wil met geweld uitspuit en ek moet met uiterste beheer die opwelling terug forseer. Sy besef wat aan die gebeur is en hou terug met die massering. Nou skuif ek af en beweeg my tong oor haar skaamlippe en bo-oor die klitoris, wat uitlokkend uitstulp. Ek suig haar skaamdele en soen-masseer die orgaan, wat parmantig vra vir meer. Dit het die effek dat Chanette hygend orent beur en haar heupe na bo druk. Sy is gereed vir penetrasie, maar steeds wil ek haar reaksie dophou en die oomblik van ontploffende genot uitstel. Ek besef ek wil haar eers bring na ‘n hoogtepunt en dan weer probeer om ‘n finale te bewerkstellig. Ek sê dit vir haar en sy knik dringend en uitasem haar instemming.
Haar orgasme is skielik en in oordaad. Sy kreet ‘n kort gil uit en sprei haar arms oop terwyl haar lyf krampagtig wriemel. Ek plaas my vingers weer tussen haar lippies in en masseer die wande van haar vagina terwyl sy uitasem haar arms om my slaan en haar naels in my rug druk. Sy krap my nie, dis net ‘n intense indringing van haar vingers om my nader na haar te trek … nee, in haar op te neem. Die siddering in haar bedaar ‘n oomblik, maar hervat toe ek weer met my mond oor haar vagina soen en my tong deur die lippies van haar skede trek. Sy spuit ‘n straaltjie van haar sap teen my gesig en ek beleef haar orgasme intens en met volle bevrediging dat ek daarin kon slaag om hierdie nimfie die vervulling te gee wat sy klaarblyklik so nodig gehad het.

Sy besef dat ek nog nie die volle pad gestap het nie. Die ekstase huiwer nog in haar liggaam en ek praat saggies om haar tot bedaring te bring. Ek vertel haar hoe pragtig sy was tydens haar ekstase en dat dit vir my meer beteken as my eie fisiese bevrediging. As sy kalm geword het, kan sy besluit of sy kans sien om weer te probeer, dat ek dan ook die dieptes van die bruisende waterval intuimel en saam met haar soos ‘n prop opskiet en die vulkaan van gloeiende ekstase uitkreet. Sy raak rustig en begin aan my tepels suig. Dan verplaas sy haar liggaam bo-oor my en streel my lyf met haar vingers. Sy verken my hele bolyf en beweeg subtiel tot by my penis en streel tot by my kringspier. Sy lek my lippe en soen my met ‘n suiging wat van diepe drang getuig. Sy werk my op na ‘n spanningsvlak wat my pilaar tot ‘n skerppuntspies verhef en my testikels laat saamtrek in ‘n krampagtige trilling. Sy laat sak haar orgaan bo-oor myne. Ek voel dat dit ferm is en beleef die jonkheid daarvan. Sy is amper te noupassend vir my geswolle penis en ek stut haar versigtig totdat ek seker is dat ek haar nie seermaak met my indringing nie. Nou begin sy my ritmies ry. Sy glimlag en hyg en haar gesig is een ontspanne beeld van plesier en ekstase wat opstyg na nuwe hoogtes van genot en ontlading. Ek vertel haar dat ek nou soos ‘n tuinslang gaan spuit en dat sy my moet vergewe as ek selfbeheer verloor. Sy uiter ‘n gilletjie van louter plesier en saam sloeg ons deur ‘n orgasme wat ek nie kon dink moontlik is nie. Sy hou aan ry en ek spuit en spuit binne-in haar ‘n week lange ingehoue koerasie. Sy praat met my en rapporteer die gevoel binne haar; sy wil nie daarmee klaar wees nie. Ons plesier is volmaak.

Dan is dit oor en ons sak vervuld terug op die bed … sy met haar kop in my arm terwyl sy oor my lyf streel, en ek vertroetel haar prammetjies met die besef dat ‘n herhaling hiervan met haar dalk net te onwaarskynlik is om realisties te wees. Sy sug tevrede en vertel my van haar fantasie om eroties met my te verkeer. Sy sê dat sy gestimuleer is omdat ek terughoudend was en nie my toenadering aan haar opgedring het nie. Sy het gehou van my reaksie op haar uitlokstrategie. Ek vertel haar dat my ekstase verhoog is deur die geheimsinnigheid van haar teenwoordigheid en dat ek onseker was of sy my sal toelaat nadat haar vriend so onlangs eers uit haar lewe is. Haar ritueel met die aarbei het my oorrompel. Ons soen en vertroetel mekaar en die opwelling wat elkeen ondervind, is kloppend teenwoordig terwyl ons die liefkosing voortsit. Ons word weer lyflik. Ons ontdek ‘n tweede konneksie, ‘n emosionele verbintenis, en dit verhoog die opwinding en deernis van die dringende seks wat nog ‘n slag gevra word. Hierdie keer neem ek haar van die begin af saam en my penis druk ek van agter in haar ontvanklike vulva, masseer gelyktydig met my vingers oor die klitorissie wat uitlokkend onder my vingers stulp en ervaar die plesier van haar hand wat tussen ons bene deur oor my testikels en penis masseer. Ons bereik nog ‘n hoogtepunt en ek spuit sterk strale semen in die warm beskutting van haar liggaam. Die nat van haar ekstase is warm in my hand wat ek oor haar lippies streel. Ons soene is smagtend en wedersyds vervullend. Ons snak na asem en ondersteun mekaar trillend en ekstaties. Voedsel vergete, maar honger na die sinlike genot … dit is ons aand se maal.





LitNet: 20 Desember 2005

Wil jy reageer op hierdie verhaal? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
Of stuur jou eie smaakvolle, smaaklike erotiese prosa en poësie na Ingrid Lehmensich by hygstories.


boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.