|
|
Liefdesbrief 5:Stem vir jou gunsteling liefdesbrief! Klik hier en lees die ander briewe en stuur jou keuse aan sharon@litnet.co.za. My geliefde … of liewers: my gewese geliefde, want dis nou al langer as drie maande dat ons mekaar behoorlik van aangesig tot aangesig gesien het. Ek het nie gedink ek gaan ooit weer vir jou skryf nie, maar noem dié dan maar my laaste liefdesbrief aan jou. Goddank tob ek nie meer oor jou nie. En soggens as ek wakker word, dan dink ek nie meer dadelik aan jou nie, maar ek moet erken dat jy tog nog so af en toe gedurende die dag by my kom spook. Saans as dit stil word, sukkel ek ook soms om nie oor jou te wonder nie. Maar dis veral oor naweke, die tyd wat ek en jy gewoonlik 'n paar gesteelde ure bymekaar deurgebring het, dat ek aan jou dink en wonder wat jy doen. Ek twyfel egter nie daaraan dat jy my al lankal uit jou gedagtes geskuif het nie. Dat jy teen hierdie tyd al die skouers van jou gewillige vriende nat gehuil het oor die nare man wat weer eens jou hart staan en breek het. Dis mos alles deel van jou lewenspatroon. Jy raak betrokke by mans wat reeds in 'n verhouding staan. Dis soos jy dit vir my aan die begin van dit alles verduidelik het. En daar staan en raak ek toe tot my ore toe verlief op jou. Dit terwyl ek reeds langer as tien jaar in 'n verhouding staan en voor my siel weet ek speel met vuur. Maar ... wat kan ek sê om my optrede te regverdig? Ek't jou geglo toe jy gesê het dat jy net so sterk oor my voel. Dat ek omtrent in alle opsigte perfek is vir jou. Maar dis natuurlik voordat jy van mening verander het. En sonder om dit enigsins verder te verduidelik het jy die kortstondige verhouding verbreek in die middel van November. En my net so gelos en geweier om my telefoonoproepe te beantwoord en alle kontak met my verbreek – skielik was daar niks nie. En ek moes aangaan. En probeer om van jou te vergeet. En toe skielik sien ek jou hierdie naweek. Eers Saterdagaand en toe weer Sondagoggend. Ek't die hele Sondag in 'n dwaal deurgebring nadat ek in jou vasgeloop het Saterdagaand en jy, doodluiters, asof ons mekaar die vorige dag gesien het, gegroet het met my spesiale naam. En toe sien ons mekaar weer toe ek en my lewensmaat 'n laat ontbyt gaan eet in die Tuine. Jy was weer daar terwyl ek so gehoop het dat jy teen daai tyd van die oggend alreeds weg sou wees. En nou? Wat sê 'n man as jou hart in 'n duisend stukke gebreek is, as al jou dagdrome summier afgeskiet en onder jou voete vergruis is, as jou geliefde jou skielik beskryf as 'n "stalker", maar weier om daaroor te praat? Jy skud maar net jou kop en gaan aan. Ek was vreeslik lief vir jou, my geliefde. Nie infatuasie nie, maar regte liefde. Ek kon ure lank na jou kyk, jou hand vashou en net by jou wees. Woorde was nie altyd nodig nie. Dit was vir my asof ons mekaar verstaan het so sonder woorde ook. Ek sou deur vuur geloop het vir jou ... Maar jy wou my nie glo nie. Of dit was nie wat jy wou gehad het nie. Dalk wil jy die ewige vrygesel bly. Die arme enkel gay man wat nooit 'n partner vind nie. Die een oor wie sy fag hag vriendinne hulle altyd bekommer. Die een vir wie sy involved vriende altyd dates probeer reël. Altyd die gemartelde ... nooit die martelaar nie. Wel, my geliefde, jy't my gemartel. My deur vuur laat loop. My nagte lank laat wakker lê en wonder en tob. Ek't my oë droog gehuil. Myself konstant verwyt en dae lank met dieselfde vrae in my gemoed rond geloop. Waar sou die fout lê? Wat het ek verkeerd gedoen? Maar daar was nie 'n woord van jou kant af nie. Net stilte. Amper asof ons mekaar nooit ontmoet het nie. Jy het my gedryf tot op die punt waar ek my lewensmaat vaarwel wou roep, en ja, ons was op die randjie van 'n breuk … Maar nou ja ... tyd is die enigste geneesheer. Dis drie maande later en my wonde het al rowe, maar God weet, ek het nie besef hoe seer jy my gemaak het tot ek jou oor die naweek weer gesien nie het nie. Doodgerus en koel en kalm. Asof ons mekaar gister gesien het. Nie 'n woord verder nie. Ek't alreeds te veel geskryf. Hiermee dan vaarwel. Ek sal nie weer vir jou 'n brief skryf nie. My tyd is te kosbaar om dit te mors op iemand wat teen hierdie tyd al van my vergeet het. Mag dit met jou goed gaan ... Nee bliksem! Mag dit wat jy aan my gedoen het, nie terugkeer na jou toe nie. Dis al. Sela. ludolf parker
Stem vir jou gunsteling liefdesbrief! Klik hier en lees die ander briewe en stuur jou keuse aan sharon@litnet.co.za.
Wil jy reageer op hierdie liefdesbrief? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |