|
|
My sustersLouise HolmOne is not born a woman, one becomes one. Simone de Beauvouir Die vroue het gehurk gesit om die liggaam van die onbekende een. Hulle het haar gevind in die modder langs die pad met hulle terugkeer van die mark af. Oor die vuur hang n ysterpot met kookwater waarin een van hulle tiemiespriete gooi. Na n rukkie skep sy van die water in bakkies en gee een vir elke vrou. Hulle blaas dit koud, ritmies, soos n windkoor. Daarna was hulle haar wonde: die oopgekloofde oogbank, die vuishou op haar wangbeen, die wurgmerke om haar keel en verskeie kneusplekke oor haar arms, bors en bene. Hulle sing saggies vir haar terwyl hulle werk. Toe hulle klaar is, vou hulle haar lyf toe in n kombers van sybokhare wat hulle self geweef het. Die hele nag het hulle by haar gewaak. Selfs toe party van die vroue net daar op die vloer om haar aan die slaap geraak het, was daar altyd n paar wat wakker gebly het om hout op die vuur te pak. Met die sonsopkoms het die onbekende een haar oë oopgemaak. Opgewonde het die vroue die slapendes wakkergeskud en in mekaar se ore gefluister dat sy wakker was. Hulle het vir haar heuningwater gegee om te drink. Sy het haar gekneusde lyf orent gebeur. Baie hande het haar saggies teruggedruk op die bed wat hulle vir haar gemaak het van dassievelkarosse. Sy het die hande weggestoot en met n dringende stem verklaar dat sy dadelik moes huis toe gaan. Die vroue het met haar gepleit om te bly. Party het gehuil. Ander was woedend. Sy het gesê dat hulle nie verstaan nie. Dat hy nie n slegte man is nie. Dat sy lief is vir hom. Dat hy al is wat sy in die wêreld het. Dat hy haar sal kom soek en haar doodmaak as sy nie huis toe gaan nie. Skok en ongeloof het die vroue stom gelaat terwyl hulle gekyk het hoe sy haar nat, geskeurde klere met moeite aantrek. Selfs met hulle oë toegeknyp en hulle vingers in hulle ore kon die vroue nie die gekerm van haar pyn uitdoof toe sy in die reën huis toe hardloop nie. Teen laatmiddag het die vroue n simboliese graf vir haar gepak teen die berghang met witgekalkte klippe. Hulle het veldangeliere tussen die klippe ingedruk en gedigte opgesê. Eunanda het haar arms in die lug opgesteek sodat almal haar misvormde hande kon sien: sewe keer was die bene van haar vingers en hande gebreek en so gelaat om self te set. Hulle het aan mekaar belowe dat as n man ooit so iets aan een van hulle sou doen, hulle so n man na die dorpsplein sou sleep en hom daar stenig. Daarna sou hulle sy bloederige karkas in hulle plukmandjies pak en vir die rondloperhonde op die pad gaan voer. Dit was die gewoonte om smiddags te gaan swem in die rivier of piekniek te hou onder die groot Witstinkhoutbome in die somer. Op dié dag het die vroue spontaan hulle klere uitgetrek en gillend in die water ingestorm. Party het hulle krag gemeet teen die sterkte van die stroom; ander het diep geduik in die helder water en blou en pienk spoelklippies versamel; sommiges het visse geïdentifiseer wat hulle nougeset in hulle visregisters aanteken en skets met kleurpotlode. Na afloop van hulle waterspele vly hulle hulself neer op die swart rotsplate om hulle pelse droog te bak in die son: goud, roesbruin, rooi, silwer, swart. Laatmiddag sit hulle op bont lappieskomberse onder bome en gesels. Een van hulle sê dat sy nog nooit n orgasme ervaar het nie. Hulle het haar bene wyd oopgespalk en verduidelik dat die senuweekoord haar oorsprong het aan die voet van die Venusheuwel, waar die labia majora se gleuf begin en dat dit strek tot in die klitoris waar dit vertak en links en regs om die vulva skulp. Hulle noem dit die Heilige Wensbeen. Pepita het die onvoltooide vrou tussen haar bene laat lê sodat haar kop in die buig van haar linkerarm kon rus. Sy het die punt van haar middelvinger met speeksel natgemaak en dit saggies laat afgly in die skeiding tussen die skaamlippe. Aan die voet van die klitorus het sy vinnige, ligte sirkelbewegings gemaak, versigtig om nie die sensitiewe orgaan te kneus nie. Sy kon die senuweekoord voel verhard. Die vroue het haar aangemoedig en gesê dat hulle die labia kon sien swel en rosig verkleur. Hulle het onder mekaar gesê dat hulle kon sien aan die kromming van haar rug en die hortende asemhaling dat haar klimaks naby was. Pepita het later getuig dat toe sy kom, haar tepels kliphard was en haar pupille groot en donker soos n kat sn in die nag. In Meimaand is die jaarlikse vrugbaarheidsfees gehou. Party van die vroue het eiers uitgeblaas en volgemaak met gekleurde suikerkristalle, terwyl ander die doppe met helder kleure en ingewikkelde patrone geverf het. Hulle het gesê dat eiers n simbool van vrugbaarheid is. Sommiges het voëlent gesny en kranse daarvan gevleg en dit met rooi knope versier. Tussendeur het hulle vulgêre vrugbaarheidsliedjies gesing wat hulle self geskryf het en baie daaroor gegiggel. Op hulle mae het hulle die simbool van die baarmoeder in blou verf aangebring: die kop van n koei met sekelmaanhorings. Ook was hierdie die inisiasiefees van die jong manne. Enige van die vroue wat in hulle menopouse was, kon hulself aanmeld as inisiasiemoeders. Hulle het saam n rietskerm gebou met die ingang in die vorm van die vulva. Binne het hulle n sagte bed gemaak van kooigoed, kruieplante en skaapvelle. Op die vloer het hulle n spiraal gepak met wit melkkwartsklippies en geheime vrouesimbole in die hoeke van die skerm begrawe. Daarna het die inisiasiemoeders mekaar gehelp om hulle hare met oker te smeer en hulle voetsole rooi te verf sodat hulle duidelik herkenbaar sou wees. Die ou vroue het hulle touwys gemaak oor die ritueel: wanneer n jong man kom vra om n man gemaak te word deur een, moet hy vir haar n geskenk gee van kosbare parfuum patchouli, barnsteen of amandel sy moet hom voor haar laat kniel en sy pleidooi om manwording met spottery en n geterg beantwoord totdat hy rooi van skaamte die stryd gewonne gee. Sy moet hom daarna in haar arms troos, vir oulaas, soos n ma vir haar kind sal doen. Dan kom die tyd wanneer sy die seun aan die hand neem en hom na die rietskerm toe lei, waar sy vir hom die geheime van manwording sal wys. Wanneer hy weer te voorskyn kom, sal hy ontvang word deur die jong vroue wat mandjies vol blomme oor hom sal uitkeer en welriekende olies aan sy lyf sal smeer terwyl hulle luid uitkreet: Hierdie is n blye dag waarop nog n man na ons toe gekom het deur die baarmoeder van n vrou! Rondom die woning van die vroue is n breë stoep gebou met n rooi vloer. Die stoepdakrand is versier met outydse broekielace waaraan die vroue windklingels van glas en bamboes gehang het. Teen die muur, weg van die trappe af, is daar n skraffio-werk in blou en geel sement gedoen van n valkyrie wat op n rotslys sit en tuur. Die vroue het daarvoor n klein altaar opgerig waarop hulle wierook brand en klein stukkies rou vleis in n silwer piering laat as offerande vir die mitiese vrou-voël-godin. Hulle sê dat hulle almal iets van haar in hulself het: n ontembaarheid, skerp oë, n skerp bek, kloue wat kan verskeur. Voor die spieël in die tuin staan een van die vroue met haar borste ontbloot. In haar hand het sy n rituele messie wat sy self gemaak het vir dié doel. Die hef het sy gemaak van die punt van n gemsbokhoring en rooi linte is deur gaatjies in die lem geryg. Met haar een hand lig sy haar regterbors op sodat die vel styf span. Terwyl sy n snit maak van die tepel af tot by die sagte vel in die waai van haar bors, sing-praat sy haar mantra: Uit my hart, uit my gees, uit my bloed. Die rooi trane vang sy op in n foto wat sy in n tuit gerol en met n duimspyker vasgesteek het. Sy sit die foto-flessie in n erdebak vol droë gras en steek dit aan die brand. Druppels bloed sis in die vuur terwyl sy vooroor leun om die groen vlamme te sien wat die foto verteer. Sy vryf stadig met haar vingers oor die ou littekens wat soos geborduurde sonstrale in haar bors geëts is en onthou die ou liefdes wat sy wou vergeet: Riku, Mark, Babette, Adriaan, Xaviera, Sonet, Miguelle, Khyla. Op die stoep staan die vroue en kyk in stilte na hulle suster se ritueel. Uit respek vir haar pyn het hulle pers viooltjies om hulle enkels gebind, en steenkool aan hulle gesigte gesmeer. Toe sy na n lang tyd die trappe uitklim na die stoep, het hulle haar ingewag met n verband en kamfersalf en kamilletee. Hulle het saggies met haar gepraat en haar hare gestreel terwyl twee haar bors verbind het. Die aand om die kaggelvuur het hulle vir mekaar stukkies uit ou dagboeke voorgelees van mense en gebeurtenisse oor die jare wat letsels gelaat het geestelik, liggaamlik, wêreldwyd. Dit was Monifah se beurt om iets van haar lewensverhaal te deel met die vroue, soos wat hulle elke donkermaan gedoen het. Spesiaal vir die geleentheid het hulle n steierplankkonstruksie gebou sodat hulle bo-op die dak kon uitkom. Hulle het die volgende daar opgehys: n Persiese mat, twaalf kontinentale kussings met Indiese borduurwek op, n mandjie met eetgoed, ses en dertig kerse van verskillende groottes, n blik tee, nege komberse, n teestel, drie klein palmbome, n ketel, n streepsak hout en n swart pot om in vuur te maak. Nadat hulle als mooi uitgelê het vir die aand se verrigtinge, het hulle een vrou aangewys as vuurmeester en n ander as teemaker. Nadat hulle hul stewels uitgetrek het en hulself gemaklik gemaak het tussen die kussings en komberse, het Monifah haar storie begin. Sy het vertel dat sy in n kusdorpie gebore is wat hoofsaaklik deur vissersgesinne bewoon word. Haar ma is oorlede toe sy vyf was en haar pa het haar alleen grootgeslaan. Toe sy sestien was, het die seegod haar gebede verhoor en haar pa in n storm opgeëis as n laaste avondmaal. Sy het, ten spyte van die gemeenskap se protes, in haar pa se plek op die trawler gaan werk. Na ses jaar se harde arbeid op die Groot Blou, het selfs die vissers vergeet dat sy eintlik n meisie is. Hulle het haar Monibek genoem. Dievroue het begripvol hulle lippe getuit en sommiges het kopskuddend na die donker hemel gestaar. Dit was alom bekend: op die gebied van swets had Monifah geen gelyke onder hulle nie. Die weerlig het die hemel aan repe geskeur dié nag toe die swanger een se tyd kom. Vir maande lank beleef elkeen haar eie opgewondenheid oor die koms van die kindjie in hulle geledere. Babakleertjies is gemaak; n kamer ingerig met n wiegie wat hulle van vaatjiedye geprakseer het; spinwiele het dag in en dag uit gedraai om te kon voorbly met die wewers se aanvraag na gare en wol vir die kombersies wat hulle wou maak. Maar die trotsste was hulle op die bad wat hulle vir haar gebou het in die middel van die sitkamervloer. Hulle het pype deur die vensters aangelê van die donkie af sodat sy in warm water sou kon kraam. Daar kon met gemak drie of meer van hulle in die bad sit, so groot het hulle dit gemaak, en hulle het selfs prente van walvisse en meerminne en dolfyne teen die plafon geplak, sodat sy iets moois sou hê om na te kyk as sy agteroor lê. Die vroue wat nog nie kinders gebaar het nie, het haar kraamproses met nuuskierigheid en verskrikking waargeneem. Die moeders het haar moed ingepraat, haar lippe klam gehou met kamillesalf, haar rug masseer, haar hande vasgehou deur kontraksies en die progressie van haar ontsluiting fyn dopgehou. Toe haar water breek, en die kontraksies so sterk word dat sy bevrees uitroep dat haar lyf in twee gaan skeur, het die sterkstes onder hulle haar opgetel en in die kraambad gesit. So het die kleinste vroutjie van hulle geselskap gewigloos in die wêreld ingedryf en na n kortstondige verkenning van die nuwe waters, teen die moeë ma-lyf walgeskop en tussen haar borste tot ruste gekom. Trane het vrylik in stomme verwondering oor die wange van die vroue gestroom. Die wonderwerk het nie een van hulle onaangeraak gelaat nie. Saggies het elkeen aan die kleinste vroutjie gevat en vir haar gawes toegewens: geduld, liefde, uithouvermoë, handvaardighied, selfstandigheid, goeie gesondheid, humorsin, medelye, en wysheid. Maar die meeste het hulle haar n geloof in haarself toegewens. Die een gawe wat hulle almal gemeen gehad het. Die gawe wat hulle oorlewing bepaal het. Die gawe wat hulle gebind het soos bloedfamilie. Die gawe waarsonder hulle nie kon vroue wees nie. |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |