Erotiek / EroticismArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Koevoet

Hans Pienaar

Dit het begin by haar rug, die foto van haar rug.

Ek het saam met Mike gekyk hoe haar rug in die geel water van die donkerkamer verskyn, eers 'n vaal parallellogram, en daarna die rugstring, soos dié van 'n dinosourus, riffels vanweë Mike se effense oorbeligting. Toe het haar rug gegroei, vlees geword, en sterk geword, so sterk.

Ek wou impulsief die hooflig aanskakel. Maar ek het geduldig gewag dat Mike haar deur die fixer vat, en toe aangebied om haar self te spoel. Die water het soos deursigtige lakens om die kontoere van haar spiere gevorm en gevou.

Dit was 'n uitstekende stuk werk. Mike het die een kol lig oor haar skouer laat val, sodat haar gesig oorbelig was, wit soos 'n geisha s'n. Dit het genoeg skerp lig verskaf sodat dit 'n silhoeët van haar rugstring kon maak, met 'n tweede lig van die ander kant wat haar soepele rug laat rimpel het in grys.

Ek het hom sy bracketing vir my laat wys, kwansuis om agter te kom hoe hy dit gedoen het. Op een was net die een lig aan, en ek het hom gevra of ek 'n afdruk kon maak, om te vergelyk. Sy het daar gesit soos 'n rob wat opsukkel op 'n klip, haar rug gebol en haar gesig half na agter. Sy was seker styf die volgende oggend van al die kontorsies.

Ek het die afdruk in die afvaldrom gegooi, en voortgegaan met my eie goed. Toe Mike loop, het ek sy negatiewe weer uitgehaal, en 'n foto gecrop sodat net haar rug wys. Ek het die afdruk versigtig uit die afvaldrom losgetrek en saamgeneem huis toe.

Dit was die eerste keer dat ek Mike se vrou sien. Dit was net een van daardie dinge - ons het dik vriende geword in die ses maande wat ons toe al saam gewerk het, maar hy het my nog nooit aan sy vrou voorgestel nie.

Sy was nie onaantreklik nie, maar ook nie besonder mooi nie. Sy het 'n breë lyf gehad, en breë skouers. Het ek haar rug nie eerste gesien nie, op Mike se foto's, sou ek haar nie begin begeer het nie. 'n Soepel rug, waarteen jy wil gaan staan, sodat jy haar skouers in jou arms kon hou, en haar arms rys soos die vlerke van 'n engel, of iemand wat vlinderslag swem, sterk en toegewyd, en jy haar kon soen, waar haar sagte spiere oor haar blaaie span.

Die volgende paar dae het ek kort-kort aan haar gedink. Een maal gedroom van haar: ons het liefde gemaak, haar groot bene oopgespalk oor myne, en ek was binne-in al daardie wonderlike vlees. Die volgende dag, toe oë in die sonnetjie, het ek haar laat groei in my gedagtes, tot haar rugstring en ribbes oor my getoring het, die ribbes wat ek probeer ontsyfer het op die foto.

Ek was binne-in haar, soos Cro-Magnon-mense binne-in die karkas van 'n walvis. Hierdie mense, het ek in 'n artikel gelees, het die bene van walvisse gebruik as daksparre, en later vir die boë van hul bote, en nog later was dit die basiese vorm van hul nasate se katedrale.

Ek het geweet: dit was nie walvisse wat die grondslag vir die beskawing gelê het nie, dit was maar net die vrou, wat alles op haar rug geneem het, haar sterk en oneindig begeerlike rug.

Groot vrouens het my nie baie geïnteresseer toe nie. Die maer, slangeriges het in my bed kom inkruip. Hul ribbes en rugstringe was soos die sparre van vlieërs. Deel van die ontdekking was om hulle vas te hou soos jy 'n tingerige vlieër sou red van die wind.

Miskien was dit omdat sy getroud was. Miskien was dit omdat ek rusteloos begin raak het. Miskien was al die assosiasies met haar 'n versugting na iets nuuts, of iets ouds, soos permanensie, 'n gedeelde plek, durf ek dit aan myself erken het: 'n huis. VROU het iets anders begin beteken, meer soos walvis, permanent, onverwyderbaar, onverstoorbaar, 'n onverwyderbare stoor van wonderlike dinge.

Ek het aan haar gedink op 'n stil manier, nie met passie nie, nie as iemand wie se voete jy onder haar moet uitslaan nie, maar wie se kuite jy moet masseer, sodat sy kan vasstaan waar sy staan.

Dit was net gedagtes, drome. Ek is g'n puritein nie, maar 'n mens slaap nie by jou vriende se meisies of vrouens nie. Dis een van 'n stel reëls wat vir jouself 'n ruimte skep, vir ander dimensies, sodat jy verder kan lewe as net jou eie onmiddellike behoeftes, sodat die wêreld groter kan word, sodat jy kan weet waarvan mense praat as hulle van sekere dinge praat.

Dus het ek geweet hoe om my te gedra toe Mike my wel die dag nooi vir ete. Iets wat heelwat makliker was toe sy heeltemal anders as my fantasieë oor haar uitdraai - baie broser, baie impulsiewer, meer van 'n meisie, meer van haarself bewus, meer haar eie mens, ambisieus in haar werk, reeds vol planne vir haar volgende uitdaging, magswellustig, baie sexy. Niks nuuts nie.

Toe ek daar weg is, kon ek vir myself sê: dis net 'n fantasie, reeds by die eerste ontmoeting is die werklikheid al anders. Ek moes werk daaraan, maar die woorde "Vergeet haar" is oor daardie rug gestempel in my geheue.

Toe ek eendag die deur oopmaak vir 'n sagte klop, en haar daar vind, was ek dus ietwat van balans gevang. Sy het verleë toegekyk, haar handpalms teen mekaar gedruk terwyl ek soos 'n mal haas rondhol en orde in die plek probeer bring. Agter die wasgoed in my arms het ek myself verwens dat ek my myself in my verbouerering so blootstel aan haar.

"Waarom doen ek dit?" het ek my arms in die lug gegooi, sodat die klere op die vloer val. Sy het geamuseerd geglimlag, maar ook gevlei gelyk.

"Tee?" Sy het 'n ruk gevat om te antwoord, haar kop gesit en knik soos iemand wat besig is om 'n winskopie te oorweeg. Haar "OK" was 'n one-night-stand se OK. Net te koel, dalk.

Maar die spel het begin. Verskuilde betekenisse het oral uitgeloer, tussen ons woorde, agter die gordyne. Ons het mekaar gesit en takseer oor ons koppies. Sy het agter my kom staan terwyl ek die negatiewe teen die venster hou. Haar asem was diep en sterk, sy het geen parfuum aangehad nie, ek kon die souterigheid van haar nek amper op my tong voel.

Dit was tonele van soldate in en om Casspirs, om 'n veldtafel, op 'n bed, op patrollie in die bos. Daar was sand en heinings, ernstige, maer en bejaarde swartmans. Suidwes.

Hulle is besig om 'n boek uit te gee oor Koevoet, het sy verduidelik. Ek het die negatiewe op die tafel laat val. Hoekom het sy dit nie vir Mike gegee nie? Daar was iets voorbedags omtrent haar, asof sy alles fyn bereken het voor sy met my kom praat het.

"Dis nie wat jy dink nie," het sy gesê. "Ek het geweet jy sal dit nie wil doen nie. Maar dis juis oor nou die aand, al die dinge wat jy vertel het van die grens, wat my laat voel het jy is die regte persoon hiervoor."

Helaas. Dit het eg geklink.

Almal voel ongemaklik oor die boek, omdat dit 'n verheerliking van Koevoet is, het sy verduidelik. Dit het uitgeloop op 'n onderonsie met die baas van die uitgewery, waarna hy die projek verander het in 'n persoonlike opdrag van hom, en binne drie maande ook nog. En iemand is van buite af aangestel om die produksie te lei.

"Joan. Sy was die redakteur van 'n garden magazine. Nou noem sy haarself 'n joernalis. Kan jy dit glo? Maar ons weet almal hoekom. Sy is verskriklik mooi. En sexy. Sy gaan elke dag gym toe. Sy sê dis omdat sy altyd so baie kontakte daar optel."

"Kontakte vir wat?"

"Dis hoe sy die skrywer ontmoet het. Hy het gesit en kla oor niemand sy boek wil uitgee nie. Al het die polisie en die weermag hom self na Suid-Afrika genooi.

"En toe gaan sit hy en pomp sy spiere. Ek het nog altyd gedink dis 'n depressiewe ding om te doen.

"Die hele ding stink. Nou is hulle lovers. Sy is op die skrywer se aanbeveling aangestel. En die baas het hook, line en sinker geval toe hulle hom laat verstaan die polisie en die weermag sal 'n klomp eksemplare aankoop. Niks op papier nie, jy weet, maar hy is een van daai wat glo 'n knipoog is so goed soos 'n kontrak."

"En wat moet ek doen?"

Sy het opgestaan soos 'n direkteur by 'n direksievergadering, haar hande weer teen mekaar gedruk, berekend, slim. Haar rug was na my toe, bedek tot onder haar nek.

"Ons het al so 'n boek gehad, wat ons base in Engeland nie wou uitgee nie. Toe kry hulle 'n joernalis om 'n hatchet job te doen, om 'n verslag te skryf oor hoe erg dit is en heeltemal van die kol af. As hulle dit kon doen, kan ons dit ook doen."

"En?"

Sy het omgedraai.

"Jy kan dit doen. Jy sê mos jy het al 'n paar artikels by jou foto's geskryf. Ek gee die manuskrip vir jou, want jy moet kastig weet wat in die boek staan om te besluit watter foto's om te gebruik. En dan skryf jy 'n verslag asof die boek jou so afgesit het dat jy voel jy moet hulle darem net sê."

"En as dit 'n goeie boek is?"

"Dan ..." Sy het haar skouers opgetrek. "Maar dis nie 'n goeie boek nie, jy sal sien."

Sy het haar arms gevou, uitdagend. Ek ook. Ons het mekaar aangekyk. Toe het sy skielik, sonder rede, sonder enige verband met die voorafgaande, by die venster gaan staan en haar hare oor haar voorkop gevee, en dit in 'n bossie in haar nek gehou. Haar oksels was vol, en die spiere om haar boarms rond soos brood wat rys in 'n oond.

"Bring die manuskrip, laat ek maar kyk."

Die volgende oggend was sy weer daar, met haar sagte klop aan die deur. Ek was in die bad. Ek het die deur vir haar oopgelos. "Kom binne," het ek geroep, en sy het ingekom, tot in die badkamer.

Ek het teruggelê in die bad, en sy het sonder skroom na my gekyk, na my geslag wat rondgeklots het soos 'n skuit aan 'n kaai terwyl ek my kop onder die water laat sak het.

Ek het aan die vorige dag gedink, hoe sy by die venster staan, die rinkel van haar armbande. Ek het my geslag voel groei. Ek het regop gesit en gemaak of ek reik vir die seep. Maar hoe meer ek dit probeer wegsteek het, hoe stywer het my ereksie geklop.

So het ek gesit, vooroor. Naderhand het ek gesê, en my gesig voel rooi word: "Ek het 'n ereksie," sonder om na haar te kyk. "Dis seker jou goeie reg," het sy probeer skalks wees, maar daar was iets asemrig in haar stem. Ons het nie gelag nie. Sy het deurgestap na die slaapkamer.

Ek het uit die bad geklim en met die handdoek om my skouers en my penis wiegend in my hand na haar gestap. Sy het weer so gestaan soos die vorige dag, haar arms gelig, en by die venster uitgekyk. Ek het agter haar kom staan en my arms om haar borste gesit, en myself teen haar vasgedruk.

Sy het haar arms laat sak en my penis vasgegryp met albei hande, en my begin masseer, van bo tot onder, haar vingers gekrom sodat sy my testikels liggies kon krap. Ek het my hande oor haar maag gevryf, haar bloes uit haar romp getrek, en my hande ingesteek. Ek kon haar nie bykom nie, net die weelde van haar skaamhare en die eerste sagtheid daaronder.

Ek het haar romp agter opgelig en haar broekie afgetrek. Ek het my vinger in haar nat ingesteek, en toe nog een en die sagte binnewande in die rondte bevoel. Sy het nou op die vensterbank geleun en gekreun. Ek het my vingers uitgehaal en haar heupe vasgevat; ek wou myself in haar instamp.

Maar sy het skielik regop gekom en my sag weggestoot. "Nee," het sy gesê. Sy het my na die bed gestoot, haar ander hand het gevoel na my penis.

Ons het haar klere afgepluk en op die bed geval. Sy het haar bene oopgemaak en my hand na haar vagina gebring. "Moenie in my inkom nie, asseblief," het sy gesmeek. Sy moes die onthutsing op my gesig gesien het, want sy het haar hand oor my mond gesit. Hoekom nie, wou ek vra, maar ek het haar oor haar bene begin soen, my neus in haar skaamhare gedruk.

Ek het my bene oor haar bolyf geswaai en sy het my penis in haar mond geneem. Sy het my weer gemasseer en ek het oor haar bene gelê, haar nat vagina teen my bors, en toe langs haar en gekyk hoe sy wriemel en ruk terwyl my vingers in en uit haar gaan.

Dit het naderhand gevoel of my penis brand, en toe ek kom, was dit lank en het ek my op haar warm maag gedruk. My vingers het nog aangegaan, en sy het gekerm en haar gesig in die kussing gedruk. "Ek kom, ek kom, ek kom," het sy gehyg en geruk en toe met 'n diep sug stil gelê.

Haar gesig was nat van die trane. "Ek is jammer," het sy geprewel, "ek is jammer."

"Dis OK," het ek gesê. "Dis OK. Dis OK. Daar's baie maniere. Dit was baie nice."

Ek het my gesig in haar hare gedruk, en met my oë gesluit die trane van haar gesig afgevryf. Dis oor Mike, het ek gewonder, maar nie gedurf vra nie.

Ons het 'n ruk lank so gelê, sy het my vingers gesoen. "Sal jy my in jou laat kom as ek met jou trou?" het ek naderhand gevra en ek kon haar voel glimlag onder my vingers.

"Ek is ernstig," het ek gesê. "Ek wil met jou trou." Sy het niks gesê nie.

"Jy's die eerste meisie vir wie ek vra om te trou," het ek aangehou. Sy het steeds stilgebly en haar vinger oor my mond gesit om my stil te maak. Ons het lê en luister hoe die oggend vorder. So het ons aan die slaap geraak, warm teen mekaar.

Sy het nog geslaap toe ek wakker word. 'n Dik bruin legger het by haar handsak uitgesteek. Dit was die manuskrip, en ek het op die mat daarmee gaan sit.

Ek het gelees waar die legger oopgeval het:

Somewhere behind us the insignificant patch of low mopani bush was silent save for the sound of bloated flies around thickening gobblets of blood while columns of ants marched to and from unexpected feasts on things more solid. Crimson spray splashed over bright green leaves had turned black under the heat of the sun. The faces of those it had all belonged to were already fading from memories. The only reminders would be their Kalashnikovs, spoils of war, which had been thrown carelessly on the floor of one of the cars.

Grusaam. Ek het my gedagtes laat dwaal ... Hoekom het ek geweet hy skryf oor Swapo-dooies, en nie Suid-Afrikaners nie? As dit Suid-Afrikaanse bloed was, sou hy nie so liries geraak het nie. En hoekom sou hul gesigte vergete raak? Eerder die teenoorgestelde, tog, met Namibië nou so naby aan vryheid. Wie onthou die Suid-Afrikaanse polisiemanne? Waarvoor het hulle geveg? Spoils of war ... 'n geldmaak-boek met grusame purple passages, die pers van dooie bloed.

Ek blaai na agter.

Then the bombs were dropping right on top of us: whu-WHUMP! whu-WHUMP! so near and closely spaced there was nothing to do but move and flatten against the ground, head to the side … whu-WHUMP! UMP! whuWHUMP! close enough to feel the solid slap of shockwaves through the air, knowing to stand was to die … whuWHUMP! whuWHUMP! and in the moments between explosions hearing the crack! of bullets and whirr-whine of shrapnel overhead. WhuWHUMP! whuWHUMP! WHUMP! and screaming silently JESwhuWHUMP! IST! THEY'RE TRYING TO KILL US! WhuWHUMP! WHUMP! and not knowing if anyone was alive or dead around me and they kept coming whuWHUMP! and coming whuWHUMP! and then I hear WHUMP! whuWHUMP! WHUMP! ...

Tom se groot avontuur. Ek het nog verder geblaai. Sy was reg. Dit het gestink, reg van die begin af:

Having rarely come across anything resembling official co-operation in those African countries I had visited, I expected even less from the South Africans.

Waarom? Hy is duidelik die Soldier of Fortune-soort, die ex-CIA-agent wat aksie soek, liefhebber van regse regerings. Die wittes van Rhodesië en Suid-Afrika is in sy kringe iets soos 'n heilige oorlog. Hy lieg mos as hy sê hy het probleme verwag.

Ek het verder deur die manuskrip geflip. Oral was daar foute, en haar opmerkings in die kantlyn in potlood: ergerlik, 'n bietjie neerhalend, maar meestal korrek, sover ek kon uitmaak. As sy dit met 'n pen gedoen het, sou dit 'n rooi manuskrip gewees het.

Ek het weer langs haar gaan lê. Ek wou haar hê, ek het my teen haar aangedruk en sy het wakker geword en omgedraai en na my gekyk met afgetrokke oë. Ons het lank en stadig gesoen, ek het elke hoek en wand van haar mond met my tong deursoek.

Sy moes terug kantoor toe, en het gaan stort.

"Ek sal doen wat jy wil hê," het ek gesê terwyl sy haar hare gestaan en afdroog het. "Jy moet net sê presies hoe. Maar ek sal natuurlik eers die boek moet lees."

Sy het net haar kop geknik, en stil na my gekyk. Dit was tog nie nodig om dinge uit te spel nie, dat ons reeds begin het met die spel van geheimhouding en verskonings.

Die volgende paar dae het ek op lug geloop, soos hulle sê. Net 'n halwe gedagte aan haar was genoeg om my penis styf te laat staan. Dit was op sy ongemaklikste in die donkerkamer; ek het meer as een keer met die oogstukke van die vergroters gestaan en vroetel, of die papier in die droë rakke rondgeskuif en weer reggepak, alles om te kan buk en my ongemak weg te steek.

Vir Mike natuurlik. Ek het 'n heeltemal absurde vrees ontwikkel dat hy dit sou raaksien, en dat ek alles dan sou uitblaker. Ek het ons gewone, alledaagse sekspraatjies probeer vermy, omdat ek bang was hy sien ek staan en dink aan dieselfde ding as hy. En dit toe weer begin aanstook, uit vrees dat hy sou agterkom ek hou myself in.

Ek het sleg gevoel oor Mike, soos 'n hond eintlik. Maar ek het ook baie nader aan hom gevoel; daar was 'n ongesegde begrip tussen ons, al was dit inhoudloos. Soos broers, amper. Ook 'n meerderwaardigheid, moet ek erken, 'n vreesloosheid vir hom as mededinger, die gevoel dat hy nooit weer die inisiatief sou kon neem nie. Ek sou hom altyd een voor bly. Want ek het 'n geheim gehad wat hy nie eens geweet het bestaan nie.

En dit was alles soveel meer opwindend. Soms sou ek en sy regop in die bed sit soos ons begin wonder oor iets wat hy gesê of gedoen het, wat 'n teken kan wees dat hy iets weet, en dan weer teruggesak en ons gewetens gestil met lang soene.

Sy was vol dinge. Die tweede keer al het sy op die bed gaan lê, haar rok opgetrek en haar bene oopgemaak. Sy het nie 'n broekie aangehad nie, en ek het vol na haar oop vagina gekyk en haar gepenetreer met my broek nog skaars oor my knieë en dit was van die beste seks wat ek nog gehad het.

Maar ander kere wou sy nie dat ek inkom nie, en sy het my hand vasgeknyp tussen haar bene en haar knieë opgetrek. Soms het sy my in haar mond geneem, of met haar hand laat kom, waarna ons mekaar vasgehou en eenvoudig aan die slaap geraak het. Ek het my kop nie gebreek daaroor nie, ek was te verlief op haar, en ek het geglo sy voel iets vir my, genoeg om baie dinge te bowe te kom. Ons was soos reuse wat op die strand lastige rotsblokke wegrol waar ons wil speel, het ek geglo.

En ek het die manuskrip deurgewerk, bietjie vir bietjie, en dele verontwaardig hardop vir haar voorgelees, en aantekeninge gemaak. Ek het regtig nogal 'n klomp werk daarin gesit. Ek wou dit doen, vir haar natuurlik, maar dit het ook gevoel of ek besig is met iets heroïes, dat ek ook besig was om deel te neem aan die groot geveg teen ongeregtigheid, en dat selfs ons liefdemaak gehelp het om dinge te fokus, of ten minste die energie te verskaf daarvoor. Alles het mooi ineengeloop. My lewe het nog selde soveel sin gemaak.

Net soms het die gedagte by my opgekom, net vlugtig, dat ek anders moet begin dink oor iets soos trou, dat ek dalk regtig bedoel het wat ek daardie eerste keer aan haar gesê het. Maar omdat dit dinge skielik 'n katastrofale omvang sou gee, het ek sulke gedagtes verbied vir myself, laat wegskarrel na plekke waar hulle hul skade ten minste ongesiens kon doen.

Ek het haar instruksies noukeurig gevolg en my "memo aan die uitgewer" begin met die verduideliking dat ek as veteraan van die oorlog in Namibië nog altyd verwikkelinge daar dopgehou het en dat ek uit besorgdheid vir die waarheid (hier het sy gelag en my in my boarm geknyp), maar ook vir mense wie se gebrek aan inligting uitgebuit word, gevoel het ek moet hierdie memo opstel.

Ek het uitgewei oor die skrywer se vooroordeel, 'n opsomming gegee van gevalle waar Koevoet-lede skuldig bevind is aan 'n hele reeks misdade, en dat daar waarskynlik nou met onafhanklikheid voor die deur nog meer dinge gaan uitkom. Ek het geskryf oor die skrywer se duidelike onwilligheid om met die plaaslike mense self te gesels oor Koevoet, en hoe hy net belang gestel het in die aksie en nie regtig om 'n behoorlike boek te skryf nie.

Ek het my kommer uitgespreek oor die dele wat die skrywer doodgetrek het waarin hy aanrandings op gevangenes beskryf:

The two SWAPO insurgents, shirts tied over their heads to prevent their seeing the interior layout of the compound, were led in leg irons from their cells and shoved into a Casspir.

Deurgetrek:

Dried blood caked around the nostrils of one suggested heavy-handed treatment at the hands of the Ovambo interrogators.

En:

The prisoners led the group to a spot in the middle of the bush fifteen kilometres away. Yes, yes, they kept saying, we will show you our AK's. Their hands, which had been tied in front, were raised again and again to ward off threatened blows.

Deurgetrek:

The first few times they pointed to a spot and began digging, nothing appeared. Each failure earned them kicks and punches from the Ovambo policemen. One special constable stripped a thin branch from a tree and laid it across their backs, raising narrow welts.

Op wie se instruksies is hierdie dele deurgetrek? het ek pertinent in 'n afsonderlike paragraaf gevra.

Die skrywer verlustig hom in die vaardighede van die Koevoet-lede, het ek geskryf. Sy dekmantel is 'n skynsimpatie met die Swapo-slagoffers en daar is kort-kort 'n gehare-uittrek en 'n hand-in-as-geslanery oor al die onnodige offerandes van die Swapo-kanonvoer wat deur gewetenlose en lafhartige bevelvoerders op selfmoordmissies gestuur word.

Hoe vals dit is, blyk tog daaruit dat Swapo op die ou end die "oorwinnaars" was.

Die ergste, het ek geskryf, is dat hy oor die onregverdige aard van die oorlog niks geskryf het nie, van die jakkalsjag-situasie, waarin twee of drie guerrillas wat moet voetslaan, agtervolg word deur twee of drie Casspirs met tien manne in, helikopters met masjiengewere en spoorsnyers. Die rede waarom die weermag die eufemisme "kontak" gebruik, want 'n behoorlike skermutseling is dit nie.

Sy houding word opgesom in sy beskrywing van die voorval van twee Swapo-dooies wat oor 'n Casspir se noodwiel gegooi is. Hiervan is 'n foto geneem wat ek goed onthou, omdat dit 'n cause célèbre in fotografiekringe geword het:

The bodies were tied to the bumper and spare tyre of one of the cars with strips of bark. While we waited, Herman went into the Cuca shop and brought back a dozen beers for his first contact. The Russian-made compass Willem had taken from one of the dead insurgents was a rare find. Marius tried to bargain for it, but Willem only smiled and slipped the thin strap around his neck. The other Ovambo special warrant officers climbed in to join us and the beers went from mouth to mouth as the contact was relived.

I made my way through the tangle of black and white legs inside the car and climbed down to the ground. The Wolf Turbo with the three bodies tied to the outside was parked under a large tree next to the road. Ovambo civilians passed with hardly a glance at the grisly scene. Two women sat under the tree drinking Cokes. Not fifteen metres from them a steady drip of blood spattered the ground.

I looked up at one of them's handsome young face. What had his death done for the liberation of Namibia? Nothing. It was all such a waste. You poor, poor kid. Why did they have to send you down here?

At some point while we were parked there a passing Ovambo clergyman snapped a photo of the scene, showing two bodies lashed to the front bumper and another over the spare tyre. It was sent to South Africa where it would be angrily splashed across a number of newspapers. Scathing editorials attacked Koevoet for its lack of respect for the dead, for its callousness in exhibiting the bodies.

When the car from Zulu Three arrived, the bodies were transferred and the Casspir left for the trip back to Oshakati. Word came over the radio from headquarters that the three had brought the total of Swapo killed or captured by Koevoet to 400 for the year. A cheer went up among the black and white policemen. They shook hands and slapped each other on the backs as we rolled down the road.

Ons het besluit om dit net so in die besturende direkteur se skoot te gooi, sonder enige spesifieke aanbevelings.

Omtrent 'n week daarna het sy my gebel. Haar baas het 'n tantrum gegooi en gedreig om haar te fire. Joan Colliedog, soos die produksiehoof van die boek genoem is, oor sy so terterig soos Joan Collins is en oor sy die base so lek, was woedend en vreeslik seergemaak.

Maar hy sou haar nie fire nie, het hy gesê, want dan sal ek weer al my koerantkontakte gebruik om die uitgewery se naam deur die modder te sleep.

"Ek is nie daai soort nie," het ek gebelgd gesê, maar sy het bo-oor my gepraat. Alles loop volgens plan. Die besturende direkteur het erken dit was 'n knap stuk werk en hy sou my graag wou ontmoet om dit te bespreek.

Daarop was ek nie juis bedag nie. Ek was beslis nie die soort om met iemand te gaan staan en armdruk in sy luukse kantoor nie.

"Is jy nog daar?"

"Gaan julle nog voort met produksie?" het ek haastig gevra.

"O ja," het sy matter of fact gesê. "Dit gaan nog baie kos as ons die ding wil stopsit, of ten minste laat herskryf."

Ek het teleurgestel gevoel, want ek het nie gedink sulke oorwegings is eintlik 'n faktor nie. Ek het die onderwerp verander, begin praat oor ons volgende ontmoeting.

'n Paar dae later het ek by die uitgewery opgedaag. Ek het 'n baadjie en das aangehad, maar voor hul gebou die das weer afgehaal. Bo alles gaan ek myself wees. Ek het myself verwens dat ek so bewerig voel. Waarvoor?

Die baas se kantoor was wat jy kon verwag: diep swaaistoele van leer voor en agter die lessenaar, die baas s'n ekstra hoog sodat hy sy kop kon neerlê en peins terwyl hy na die kunswerke teen sy muur staar. Teen 'n ander muur was daar 'n aantal buiteblaaie van boeke gemonteer, en skuins onder: So-en-so uitgewery, agente vir: en dan 'n stuk of twintig name van oorsese uitgewers.

Ek het daarop gekonsentreer om nie te bewerig te lyk nie, en dit het gehelp dat die besturende direkteur my ook maar styf-styf gegroet het. Heel duidelik was hy nie onaangeraak deur die hele ding nie. Hy was 'n groot man, wat gewoond was daaraan om bevele te gee, maar ek kon sien hy gaan my darem 'n kans gee.

Hy was besig met 'n telefoonoproep van oorsee, toe die deur skielik oopswaai, wat my laat ruk het van die skrik. 'n Beeldskone vrou het ingekom, reguit van die voorblad van 'n vrouetydskrif af. Sy het 'n slanke, koel hand met 'n valletjiesmou uitgesteek en gefluister: "I'm Joan, pleased to meet you." En as 'n nagedagte: "We thought I should be here too. I hope you don't mind."

Ek moes my keel skoonmaak voor ek kon sê (wat anders?: "Not at all, not at all." Vir 'n oomblik het ek gedink ek moet opstaan, en apologeties verduidelik dat ek die kat heeltemal aan die stert beet het, dat ek net 'n dom fotograaf is wat te groot vir sy skoene is, dat ek maar net 'n affair het met een van jul redakteurs ...

Maar die besturende direkteur het die telefoon neergesit, sy arms joviaal oopgegooi en gesê: "Wel, waar was ons?" Ek het die een of ander triviale ding gesê, en Joan het haar been gespanne begin swaai. Dit het ook gehelp.

Die besturende direkteur was 'n diplomaat. Hy het my uitgevra oor my werk, versigtige opmerkings gemaak oor my diensplig en hoe dit 'n jammerte vir die ekonomie is, en toe koffie vir ons almal bestel. Ek het 'n bietjie meer ontspan.

Hy het 'n legger nader geskuif en my voorlegging uitgehaal en daaraan gestel en gedruk tot dit mooi vierkantig op die lessenaar gelê het: "Ek moet sê, dis 'n baie goeie stuk werk hierdie. Het jy al ooit daaraan gedink om boekeresensies te doen?"

Op die een of ander manier het dit geklink of hy 'n wortel voor my oë hou.

"Nee," het ek gesê, "fotograwe word nie eintlik as experts beskou nie, maar ek het al 'n paar features by my foto's geskryf wat goed afgegaan het."

"En ek sien jy was in Namibië."

"Ja."

"Skokkend, sommige van die goed wat daar gebeur het."

Ek het nie geantwoord nie.

"Laat my van die begin af sê: Ek is nie 'n bewonderaar van Koevoet nie, maar ek het die boek baie interessant gevind. Ek het baie dinge daarin opgetel wat ek nie voorheen geweet het nie. Het jy al hierdie goed geweet?"

Ek moes erken dat daar vir my ook baie nuwe dinge in die boek was. Niemand het ooit enige insig in hul doen en late gehad nie. Ons het hulle altyd op 'n afstand gesien en ek het nooit saam met hulle gewerk nie.

"Ek verstaan dan nie hoekom wil jy hê ons moet die boek nie uitgee nie."

Hy het my sommer van die begin af in 'n dubbele Nelson gehad. Ek het my lippe gelek. In die eerste plek, het ek hakkelend begin, het ek geen voorstel gemaak dat die boek onttrek word nie. In die tweede plek is daar soveel dinge wat nie genoem is in die boek nie, en is soveel dinge verdraai dat dit nie ooreenstem met die werklikheid nie.

"Can you give us a few examples?" het Joan kortaf van die kant af ingekom.

"Well," het ek sukkelend vervolg, "he tries his best to persuade the reader that Swapo enjoys very little support, and that they rely on terror to keep everybody in check."

"But that is the truth …"

"No, no, not at all. Just about everybody in Ovambo supports Swapo. We in the army knew that. That's why we went out of Namibia. That's why Namibia is going to become independent."

Die besturende direkteur het weer van sy kant af ingeklim:

"Maar in die boek haal hy 'n klomp offisiere aan dat dit valse steun is, en 'n klomp eks-Swapo's wat sê hulle is mislei deur Swapo."

Ek het my asem diep ingehaal en weer uitgeblaas.

"Dis juis die ding. Die offisiere glo wat hulle wil glo. Hulle wil oorlog maak. Dis die groot ding in hul lewens. Geen offisier wil eendag aftree sonder dat hy in minstens een oorlog betrokke was nie. Ons, die dienspligtiges, wil nie daar wees nie, ons sien dinge in 'n ander lig."

Die besturende direkteur het sy kop geskud en my in die rede geval: "Ek het nog nooit gesien dat dienspligtiges eintlik kla oor hul tyd in Namibië nie. Hoekom AWOL hulle dan nie?"

"Dis net nie waar nie. 'n Mens hoor nie daarvan nie, omdat DP's nie mag kla nie. Elke DP het 'n heilige vrees vir die DB, vir ekstra duties, vir strafparades … daar's soveel maniere wat die army gebruik om DP's te dwing om hulle oorlog vir hulle te veg. Dis die eintlike terreur, teen dienspligtiges."

Ek kon 'n trek van onsmaaklikheid op die besturende direkteur se gesig sien, en Joan het my met minagting aangekyk. So dis wat jy is, was die vibe wat ek gekry het: net nog 'n dienspligontduiker. Dit het my vies gemaak.

"Kyk, die punt is dit: Ons kon in die Wambo's se oë sien aan wie se kant hulle is. Jy kan dit die beste sien as jy foto's neem. Ek het foto's geneem, toe al, meestal snapshots. Jy vra een van hulle om voor die kamera te staan. Dan wag jy, jy neem nie die foto nie, jy wag tot sy defences begin sak, tot hy sy ware gevoelens begin wys. As jy dertig sekondes lank wag, begin hy soos 'n gewone man lyk, die vader van 'n gesin, iemand met trots en kommer tegelyk op sy gesig. Maar dan moet jy nog langer wag, 'n minuut, selfs twee minute lank. Dan raak hy ongeduldig, en dan verander hy nog verder, en jy sien tot in sy siel in. Na twee minute het die uitdrukking op sy gesig gegroei tot haat, dan kyk hy jou uitdagend en met woede aan, en dan sukkel jy maar om deur die lens te bly kyk. Ek weet, ek het dit 'n paar keer gedoen."

Hulle het in stilte na my gekyk. Iewers het ek 'n snaar aangeraak.

"But what about the documents in the back?" het Joan haastig vervolg. Sy het gevroetel tussen die stapel fotostate op haar skoot … "Where they talk about: to be cruel in the struggle is to be good for the future. And: We must not expose the atrocities committed by our own people, but side them to the enemy. Therefore atrocities should not be committed in front of masses ..."

"OK, OK, I read that," het ek haar in die rede geval. "But why are you omitting some of them?" Ek het oorgeleun en die fotostaat uit haar hande geneem: "'Murder should be limited only to suspected enemy agents and supporters.' Surely that means that they didn't intend to terrorise the people?"

"Murder is murder."

"True. But it is simply a question of calling a spade a spade. They haven't acquired the sophistication yet of giving it an acceptable name. In our army we call it hot pursuit, or interrogation, or counterespionage or discipline and we know how to use the law to do the same thing when we execute traitors or people who don't follow orders. All armies do that. We did that to the blacks in the Boer War."

"So why single out Koevoet?"

"I am not saying we should single out Koevoet. All murders and atrocities should be exposed. On both sides. But one should ask what is acceptable to the people. And let me tell you, most Vambos accept that this is the price they have to pay for freedom."

Op hierdie punt het die besturende direkteur tussenbeide getree:

"Kyk, ons kan so aangaan en argumenteer tot ons blou is. Wat ek wil weet is: hoe raak dit die boek?"

Ek het na Joan gekyk en sy het na my gekyk, vol agterdog en haat.

"Al wat ek sê is dat die man die saak van alle kante moes bekyk het. Hy moes met die plaaslike bevolking gepraat het, hy was tog daar. Alles wat hy skryf oor die plaaslike bevolking het hy van die army af gekry."

"But he did," het Joan gesê. "He wrote about how he sad he felt when he saw the dead Swapos, and there's that poem he included which one wrote to his girlfriend."

"But that's my point, why didn't he try to get hold of the girlfriend? To write more about the background of the soldier. I'll tell you why, because it is a propaganda job. Because what does he write about him? How the man did not know what he was doing, that he was sent by a merciless commander to his death, how he would not be remembered."

"Ja, jy het dit verduidelik in jou voorlegging," het die besturende direkteur gesê.

Ek het haastig aangesluit daarby: "Anders as wat die skrywer sê, is dit nie die Swapo's wat vergeet word nie, maar die Koevoet-lede. Daar was 'n berig in die pers dat Koevoet-lede ontevrede is omdat hul Suid-Afrikaanse base nie vir hulle wil sê wat met hulle gaan gebeur na onafhanklikheid nie. Hulle is te bang om agter te bly, te bang vir die wraak van die mense."

Met net 'n bietjie irritasie het die besturende direkteur herhaal: "Hoe dit ook al sy, ons kan daaroor stry tot môre-oggend. Ek dink wat jy nie besef nie, is dat boeke nie altyd objektief hoef te wees nie. As iemand sy memoirs publiseer, kan jy hom tog nie blameer as hy dinge net vanuit sy eie perspektief en in terme van sy eie belewenis sien nie."

"Ek gee dit toe," het ek geantwoord. "Daar is nie so iets soos honderd persent objektiwiteit nie. Maar as dinge verdraai word in diens van sekere mense, moet 'n uitgewer tog vra of hy instem daartoe, en waarom. Wat bereik hy daardeur."

"Wat ons daardeur bereik, is eenvoudig. Volgens ons berekeninge gaan ons R100 000 suiwer wins uit hierdie boek maak. Ons kan nie bekostig om nee te sê daarvoor nie."

"R100 000 uit beskrywings van bloed wat van 'n lyk afdrup terwyl vrouens sit en Coke drink. Bloedgeld. Dis my beswaar. Dis 'n houding wat hier bevorder word, 'n houding van bloedlus, barbarisme self. Wanneer die skrywer skryf oor daai foto, maak hy of hy die ware omstandighede skets, en hy maak of dit normaal is. Dis normaal om lyke aan wiele vas te bind, dis normaal om te baklei oor lyke se kompasse, dis normaal om te sit en spog by die lyke, dis normaal om te juig as die rekord vir die aantal dooies gebreek word. En julle maak of dit normaal is om geld te maak uit beskrywings daarvan.

"Kyk net na hierdie stuk," het ek gesê, "die finale bewys van sy bereidwilligheid om hul propagandis te wees." Ek het vorentoe geleun en lomp in my voorlegging geblaai tot by die regte addendum:

The faces of the trackers were sullen as they shoved the bound man out of the door. He sprawled face down in the sand and was immediately jerked roughly to his feet and knocked down again by the Ovambo policemen. They spat and screamed abuse at him, hatred etched across their faces.

The second prisoner, as alive and frightened as the first one, was shoved towards his comrade. The Ovambo special constables ripped the shirt from him before knocking him down to yank his trousers off.

A senior NCO, who had once had both shoulders broken when the car he was in struck a Swapo-laid landmine, threw the first prisoner to the ground. He motioned for me to take a photograph. As I raised a camera, he jammed the muzzle of his rifle behind the prisoner's head.

Oh, shit, I thought, lowering the camera, I really don't want to see this.

Tony bulled his way through the circle of trackers, shaking his head angrily. The NCO grinned and threw the bolt back on his R5 to show an empty chamber. I took his photo.

Ek het uitasem begin voel oor my voortvarendheid, maar tot my verbasing het die besturende direkteur net stil na my gekyk en toe wrang geglimlag. "Jy kan maar moreel raak hieroor soveel as wat jy wil. Maar ek reken as 'n skrywer skryf oor wat hy voor hom sien, al is hy hoe bevooroordeeld, moet dit gepubliseer word, mits dit goed is, of liewer, goed genoeg is. En hierdie boek is goed genoeg."

Hy het 'n pyp uit 'n laai uitgehaal en dit rustig opgesteek, 'n teken dat ons gesprek nou einde se kant toe begin staan. "As hy skryf wat hy voor hom sien, dan bly dit 'n nuttige boek. Hy het tog nie doekies omgedraai oor hoe hardhandig hulle werk met die Swapo's nie, hy het nie probeer wegsteek watse rowwe ouens hulle is nie. Wat was daai een episode, van die Koevoet wat sy eie bunker opgeblaas het?"

"Maar hy gaan dan juis al die voorvalle van aanranding uitlaat ..."

"Dié wat hy in het, die een wat jy gelees het, is erg genoeg."

"Maar die stuk wat ek gelees het, gaan nie verskyn nie. Ook nie al die ander beskrywings van aanrandings nie." Ek het onwillekeurig na Joan gekyk; sy het haar stoel ongemaklik gedraai en ernstig na die naellak op haar lang naels gesit en kyk.

Die besturende direkteur het fronsend om die beurt na my en Joan gekyk. Iets was nie pluis nie.

"Ek praat van die stukke wat doodgetrek is in die manuskrip. Ek het daaroor geskryf in my voorlegging."

Die besturende direkteur het na my voorlegging gegryp en daardeur begin blaai. Ek het opgestaan en die paragrawe vir hom gewys, net voor die einde. Ek het skielik besef: hy het die ding nie eens klaar gelees nie.

"Joan, what is this?" het die besturende direkteur skerp gevra.

Joan het 'n onskuldige trek op haar gesig gekry, en sy het skielik baie verleidelik begin gelyk, asof sy al haar aanvallighede aangeskakel het, die verdedigingsmeganisme van 'n eksotiese soort dier wanneer hy vasgekeer word. "I was going to talk to you about it. I didn't think it was important."

"But it's not in the manuscript that I saw, am I right?"

"No, it isn't. But that's because Tom only phoned me after I had given you your copy."

Ek kon nie help om van my kant af in te kom nie: "But did you ask him whether these were changes requested by the police?"

Joan het geaarsel, en haar woorde versigtig gekies: "I didn't ask him because he told me these were changes to make the reading of the book more fluent."

"More fluent. And if they were requested by the police, what would your reaction have been?" het ek volgehou. If looks could kill ...

"Well ... I don't know what to say. At the magazine we always submitted pieces on the army to them for final checking, so I assu... would assume that it would be OK in this case too."

Die besturende direkteur laat van hom hoor: "This is not a garden magazine, Joan. And it's not a magazine piece either. This is a full-length book."

Joan het die berisping soos 'n man gesit en vat. Die besturende direkteur het die betrokke dele in my voorlegging aandagtig deurgelees, en toe opgestaan, sy baadjie toegeknoop en om die lessenaar gestap om my ferm aan my elmboog by die deur uit te stuur.

"Wel," het hy formeel gesê. "Dankie vir jou hulp. Ek sal beslis op die saak ingaan."

Ek het 'n bietjie afgehaal gevoel. Dit was 'n skielike, stomp einde vir die konfrontasie. Ek het gereken dat ek seker as oorwinnaar uit die stryd getree het, maar ek het ook geweet niks gaan eintlik verander nie. R100 000 is 'n magiese bedrag. Wanneer 'n mens ydele drome droom, oor wat-jy-sou-doen-as, begin jy by so 'n bedrag … R100 000 uit net een boek …

Liefde en seks. Dit was op my brein vir die volgende week of wat. Ek het haar elke oggend gesien, en 'n aand of twee ook. Hoe sy dit reggekry het, weet nugter. Ek het dikwels werk in my donkerkamer by die huis gedoen, so Mike het glad nie agterdogtig geraak nie.

Eenmaal het ons gedink hy is op pad na my plek, hoewel hy altyd eers gebel het. Ons het in paniek rondgehardloop op soek na ons klere. Toe ons uiteindelik by die deur staan sonder om te weet wat ons wil doen, het ons besef hoe dom ons is. Ons het begin vryf en soen en skuur teen die gangmuur, maar die wind was uit ons seile.

Sy wou nie oor Mike praat nie. Soms wou sy weer nie dat ek in haar inkom nie. Ek het haar twee keer gevra om met my te trou, maar omdat ek geweet het sy sal nee sê, het ek dit altyd lighartig gedoen, en haar kans gegee om grappies te maak oor die idee.

Toe, een oggend, terwyl ons gelê en rook het in die bed, en geluister het na die skreeue en geredekawal van werkers wat besig was om iets te bou langsaan, het sy terloops gesê:

"O ja, ek moes jou nog sê. Joan is gefire."

"Gefire?"

"Ja. Nie oor die Koevoet-boek nie. Hoewel die baas haar blykbaar gekonfronteer het, en sy toe gebieg het oor haar affair met die skrywer, which is a very convenient cover if you are a spook like just about everybody believes. Maar dis nie daaroor nie. Oor iets anders. Maar wat, kan niemand uitvind nie."

"En die boek?" Sy het 'n lang trek gevat en dit diep ingetrek en die rook ingehou. Sy het die sigaret vasgehou soos 'n daggaroker.

"Die boek gaan voort."

"Maar wie het by haar oorgeneem?"

Weer 'n lang trek.

"Ek het."

Ek was oorbluf. Ek het regop gesit en na haar gedraai. Die duvet het van haar borste weggetrek, haar vol, groot, borste waarna ek so kon verlang sommige nagte. Sy het die duvet selfbewus weer opgetrek.

"Jy bedoel ... jy gaan tog nie die hele projek ... En wat van al ons besware?"

"Wát van ons besware?"

Ek wou haar aan haar skouers gryp. "Wat van ons besware? Hoe bedoel jy, wat van ons besware? Het julle die dele oor die aanrandings teruggesit?"

Sy het haar rug na my gedraai, haar arms gevou sodat die sigaret oor haar skouer gebrand het - en ek nie by haar kon gaan lê nie. Eers na 'n ruk, waarin ek in verbystering na haar gesit en staar het, het sy geantwoord.

"Die boek is nie so 'n slegte boek nie."

"Nie so 'n slegte boek nie. Wat bedoel jy? Wat van al die werk wat ons gedoen het. Toe het jy nie genoeg skelwoorde daarvoor gehad nie."

"Ek het 'n tweede opinie ook gekry."

"'n Tweede opinie?! Van wie nogal?"

"Van 'n politieke joernalis. Hy het gesê hy hou nie van die boek nie, maar hy dink dis tog nuttige insig in Koevoet."

"Hoekom het jy my nie gesê nie?"

"Ek wou nie jou gevoelens seermaak nie, dêmmit."

Ek het my hande in die lug gegooi, opgestaan en na die venster gestap. Onder in die straat was daar 'n verkeersknoop en motors het ongeduldig getoeter. Alles het skielik so vaal en banaal gelyk.

"Hoekom het jy my laat aangaan? Hoekom wou jy die boek so graag sink? Wou jy maar net vir Joan bykom? Het jy my eintlik maar net gebruik vir 'n bietjie kantoorpolitiek?"

Sy het steeds op haar sy gelê en staar na die mat, asof ek nie daar was nie. Daar was 'n naargeestige trek wat ek nooit voorheen op haar gesig gesien het nie.

"Wel, het jy my gebruik?"

"Ja, ja, ek het jou seker gebruik. Maar dit was nie om Joan by te kom nie. Daardie job moes myne gewees het, omdat ek weet wat om te doen. Ek sou geweet het om die manuskrip terug te stuur. En besides, miskien was sy nog 'n spook ook."

"En al ons ... liefde. Al hierdie … genaaiery, was dit alles net om jou loopbaan te bevorder? Het jy by die politieke joernalis ook geslaap?" Ek het skielik 'n knop in my keel gekry.

Sy het regop gesit in die bed.

"Moenie so wees nie. Jy weet tog ek gee om vir jou. Jy weet tog dit was nie alles verniet nie. Selfs jou voorlegging was nie verniet nie. Die baas weet nou hy moet versigtiger wees wie hy aanstel en wie se manuskripte hy aanvaar."

"Hoe weet ek dit? Hoe weet ek dis nie net nog valse troos nie? Hoe kan ek jou ooit weer vertrou?" Ek was ontsteld.

Sy het opgestaan. Ek het daardie sinkende gevoel gekry wat 'n mens al meer dikwels kry hoe ouer jy word, daardie koue kopklem wat jou skielik laat besef jou lewe is 'n katastrofe, en jy moet so vinnig as moontlik wegkom, maar jy kan nie.

Sy het skielik omgeswaai en haar sigaretstompie na my gegooi dat die vonke spat waar dit die lampskerm getref het. Sy het haar klere langs die bed opgetel en my bestook daarmee en een van haar skoene moes ek met my voorarm wegkeer.

"Wat weet jy van vertroue? Jy was tog net in die ding vir een ding, en dis seks. Jy was net agter my lyf aan, stry?" Sy was buite haarself van woede en "seks" gesê asof sy met 'n mes gaan steek. Sy het omgeswaai na die oop kas agter haar.

"Wat is dit hierdie, sê dit 'n bietjie vir my?" het sy gegil en Mike se foto's van haar na my uitgehou. Toe ek van onthutsing nie reageer nie, het sy dit op die bed neergegooi.

"Dis al waarin mans belangstel, seks en naai. Dit was alles jou plan hierdie, die foto's bewys dit. Dis jy wat my seduce het, nie ek vir jou nie. Kan jy nie sien nie? Almal gebruik almal. Die army gebruik Joan, Joan gebruik vir Tom, en Tom gebruik vir ons. Almal wil in mekaar se broeke klim. Almal by die werk wil net naai. Hoekom nie ek ook nie?"

Die regte ding sou gewees het om haar in my arms te neem, maar ek was kwaad: "En dan gaan krap jy in my goed ook nog. Net omdat ons naai, beteken dit nie jy kan my private besittings rondgooi soos jy wil nie!"

"Rondgooi? Rondgooi? Dis jy wat seker hierdie foto's vir almal wys. Ek sal nie verbaas wees as jy hulle nog verkoop ook nie? En weet Mike daarvan?"

Sy het geduik vir die foto's op die bed, maar ek het hulle voor haar opgeraap en aan stukke begin skeur: "Daar. Is jy nou tevrede? Fok die foto's, man. Hoekom moet ek omgee vir foto's as ek die regte ding het?"

Dit was presies die verkeerde ding om te sê. Ek het haar toe in my arms probeer neem, maar dit was te laat.

"Los my, los my," het sy geskree. "Moenie weer aan my raak nie. Ek is nie jou 'regte ding' nie. Moenie ooit weer aan my raak nie."

Ek het haar gelos en in my leunstoel gaan sit. Dit het totaal belaglik gevoel, so naak in 'n diep stoel, en ek het my onderbroek gaan aantrek. Sy het op die bed gesit en saggies gesnik. Ek het oorgeleun na die bedkassie om 'n sigaret op te steek. Mike. Sy het vir Mike in die bresse getree. My hare het regop gestaan. Sy het naderhand begin om aan te trek, haar gedagtes versonke in haar stadige bewegings.

Dit gebeur altyd so. Daar kom altyd 'n oomblik dat jy weet: hoe graag jy ook al wil hê 'n ding moet aangaan, en hoe groot albei se kapasiteit ook al is om dit nog lank te laat aangaan, dis verby, van daardie oomblik af. Dit het alles anders oorbodig gemaak: ons hoef nie meer kwaad te wees vir mekaar nie, ons hoef ongesegde dinge nie meer te ontken nie; selfs die fisiese dinge wat ons gedeel het, 'n pakkie sigarette hier, 'n verlore kledingstuk daar, het weer hulself geword, handelsware waaroor ons net hoef te onderhandel vir die teruggee, beskaafd en sonder selfs 'n tikkie nostalgie.

Ek het haar dopgehou terwyl sy haar hare borsel. Sy het skielik die wêreld se tyd gehad daarvoor, anders as gewoonlik. Dit was amper asof ons getroud was, asof ons op pad werk toe is, en 'n bediende het agter 'n deur met 'n stofsuier staan en wag om te kom skoonmaak vir die dag.

Toe sy naderstaan, het sy mooier gelyk as ooit, maar totaal afsydig. Ek het my hande op haar skouers gesit en na haar gekyk, en toe het sy my 'n sagte soen gegee en my haastig teen haar vasgedruk. Daarna is sy daar uit, en ek het gebuk en een van die flenters van die opgeskeurde foto's opgetel en dit in die rondte gedraai soos ek probeer uitwerk het of 'n mens dit in 'n collage kan gebruik.

Dit het maar 'n ruk gevat om oor haar te kom. Maar soos die geluk dit wou hê, het ek 'n opdrag uit die Kaap gekry en kon ek die tydjie daar rek met 'n bietjie spaargeld. Ek het dus nie nodig gehad om my sombere en brose buie aan Mike te verduidelik nie.

Ek het rolle en rolle films opgeneem, beide vir die opdrag en sommer van die eerste beste ding wat voor die kamera se lens kom staan het. Terug by die huis het ek ure met die kontakvelle deurgebring om 'n reeks te probeer saamstel waarin 'n mens 'n betekenis sou kon lees.

Dat ek nie kon slaag nie, het nie saak gemaak nie. Alles het verander van toe af, die hele wêreld. Namibië het onafhanklik geword sonder dat al die sombere voorspellings waar geword het. Die Berlynse Muur het geval.

Vir 'n ruk lank het dit gelyk of Koevoet in die steek gelaat gaan word deur die Suid-Afrikaners, maar uiteindelik is hulle teësinnig teruggebring na 'n kamp buite Middelburg. Agter hulle aan, soos 'n string blikke agter 'n pasgetroude paartjie se motor, het die verwagte klagtes en eufemistiese beskuldigings, soos "wangedrag", gevolg.

Ek was verras toe Mike my eendag vertel dat die uitgewery ondergegaan het en 'n ander saak tot hul redding moes kom. Die luukse kantoor en die besturende direkteur wat so suksesvol gelyk het, het my nie juis aan so 'n moontlikheid laat dink nie.

Sy was gelukkig goed genoeg om in die nuwe saak opgeneem te word.

Alles het verander, net my herinneringe nie. Sy het ook verander, hoewel ek nooit presies kon sê hoe nie. Soms, jare later, nadat ek saam met haar en Mike was, het ek my gedagtes laat gaan na haar boarms wat soos brode rys, die spiere in haar rug, haar bene wat oop lê en wag ... en dit was nie dieselfde vrou nie.

Soms dink ek aan haar oop en rimpelende vagina, en hoe ek haar penetreer, en sy sidder soos 'n walvis met 'n harpoen in haar hart; en al het die wêreld verander, weet ek dat wat tussen ons was, liefde was, en dat niemand dit van my kon wegneem nie, ook nie sy nie.



LitNet: 01 Julie 2004

Wil jy reageer op hierdie verhaal? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.