|
|
HerontdekkingDouwIewers eendag lank gelede het ek iets gelees wat altyd by my opkom as ek in n spieël kyk. Die soektog na my gesig is so geweldig dat ek alle ander gesigte haat wat reeds gevind is. Ek is daardeur. Dit is verby. Dit sal nooit weer so wees nie. Die hof het gesê ek sal in die hospitaal bly totdat ek genees is. Die psigiater met die borende swart oë het besluit ek is genees. Ek het voor die paneel verskyn, bedees, benoud, ootmoedig in my insig in my eie probleme en wat aanleiding daartoe gegee het. Die paneel het gesê ek is genees. Die vorms en aanbevelings is weggestuur na die betrokke minister. Hy het dit oordink. Hy het besluit om dit te aanvaar en hy het gesê ek is genees. Hoekom die hel twyfel ek dan! Hulle wat moet weet, sê dan ek is genees. Moenie dink mens pleeg moord, loop weg daarvan en dra geen gevoelens daaroor saam nie. Elke bitch wat ek vermoor het, was my ma. Ek het nagte daaroor wakker gelê, dae lank geworstel, gehuil oor my ma. Dan het ek vir haar gaan kuier, kwaad geword, mooi totsiens gesê en haar gaan vermoor op n ander plek ver van die wit huis teen Naval Hill. Ek weet nou dat ek die ander vrouens in Ma se plek gestel het en hulle die slagoffers was omdat ek te bang was vir Ma. Formidabele Ma. Fok, ek dink tot die psigiaters is bang vir Ma. Hoe is dít vir insig? Reg aan die begin van my verpligte hospitaalverblyf was ek nie so hot op insig nie. Eintlik is insig maar wat die terapeutiese span besluit die wortel van die kwaad is. Jy leer vroeg dat dit die goue sleutel is vir hierdie hok se baie hekke. Eggo jy dit agterna, word jy beloon met voorregte. Tydens jou dertig dae observasieperiode het jy geen voorregte nie. Jy mag niks van jou besittings by jou hê nie, slaap op n matras, mag nie rook nie, geen besoekers ontvang nie, eet met n lepel uit n blikbord en mag net sekere tye toilet toe gaan onder toesig. Jy sien ure lank dieselfde psigiater en dit is al afleiding, want jy kry soms by hom n sigaret as hy verleë is oor bonding met sy pasiënt. Net jy is nie regtig sy pasiënt nie, want hy mag jou nie behandel nie, nie eers n bleddie Grand-Pa as jy wil vrek van nikotienlus nie. Dan gaan jy terug hof toe en afhangende of jy mal genoeg was of nie, kom jy saal 6 toe by Oranje Hospitaal of gaan jy saal honderd en hoeveelste toe in die tronk. Saal 6 is bad, maar die tronk is worse. Ek was al daar. Ek was vroeër al in die bollie, maar met Ma se invloed en my ouderdom is ek daar uit met n waarskuwing en in Ma se custody. Ek het toe nie gesplit op haar nie. Shit! Ek het op so elf deel van haar fantasieë geword. My eie bleddie skuld. Was so stupid om geld uit haar kas te wou skaai vir zaans toe ek die spul leergoed sien. Ek het dit nog nie eers verwerk nie, toe hoor ek haar in die gang en ek spring in die stort in. Noodgedwonge was ek toe n peeping tom. Sy dress op in daardie leergoed dat my oë branderig raak, my asem jaag en ek tent opslaan vir n hele bataljon. Ek was so verdiep in my eie fantasieë dat ek my byna natmaak toe die deur van die slaapkamer oopgaan en Pa se broer, my goedige oompie Jan, sy verskyning maak. Hy het toe nog by ons loseer. Ek neuk van pure skok teen die deur vas, hulle hoor my, ruk my uit, neuk my amper dood en die res is geskiedenis. Dit het vir jare aangehou. Ek het nooit niks gesê nie. Op twintig is ek uit die huis uit. Eers was ek vreeslik bly ek is van hulle ontslae. Die eerste keer toe ek besef ek mis ons sessies saam, wou ek selfmoord pleeg. Ek is die universiteitskoshuis uit teen die eerstejaarsverbod in. Toeval het die prostituut oor my pad gestuur. Ek was goed getoet op Klippies, anders sou ek kon sien hoe muf sy is. Hel, was ek skaam daarna en toe ek later begin jeuk en uitslaan, goed de moer in. Ek het gou geleer dat jy nie prostitute bekuier sonder latex nie. Ek weet nie wat my laat trip het die eerste keer nie, maar toe ek my kom kry, kyk ek in Ma se gesig vas, maar potblou en leweloos. Ek huil soos n rabies-hond aan n ketting. Belowe Ma en die Here alles waaraan ek kan dink, maar Ma bly dood. Ek het weke gehuil. Nie een van die ander was makliker as die eerste een nie. Na daai high val jy platter as slap koeimis op warm grond. Dan treur ek vir n ruk, dan word ek kwaad en dan is die hel weer los van voor af. So karring ek aan tussen die prostitute en my gawe universiteitstudent wat later vir Huisgenoot en Voorblad in trane vertel van haar Affair met die Monster in n kerkpak. Dit is waar. Ek was daardie tyd koshuisdiaken, want hoe meer ek gewroeg het, hoe godsdienstiger het ek geword. Asof dit soort van sou counterbalance. Toe hulle my nou vang vir die grote, toe split ek vir Ma en oom Jan. Pa, wat onder normale omstandighede nie eers agterkom as Ma kaalgat buite rondloop nie, kry n hartaanval. Letterlik, want hy gaan dood daaraan. Die psigiater skryf sewentien blaaie vol oor my hele bleddie lewe tot nou toe en hulle pos my saal 6 toe. Met insig in hoe insig deure vir jou laat oopgaan, word ek n modelpasiënt. Ek weier om met enige lid van die media te praat. Weier selfs die film wat hulle met my hulp oor my wil maak. Ek wil net breek met die verlede en aangaan. Nou sit ek hier. Ek is maande gelede ontslaan. Ek kry geen werk nie. Wat de hel het jy gedink? Ek was in die malhuis, is manlik en baie wit. Aangaan? Hoe? Dit is soos ek hier op die stel van Voorblad geland het. Ek moes my storie verkoop en dalk is daar iemand to take pity on the poor soul. Dalk gee iemand wat ook graag op televisie voor n tranerige gehoor groots wil wees, vir my n job. Die fliek is lankal van die baan. Ek is eintlik ou nuus. Ek kyk in die spieël. Watter gesig is ek? Saam met my in die ontvangsportaal was een van my prostitute se prostituutvriendin. Hulle lyk eenders, hulle ruik eenders en ek weet nou, ek voel oor hulle almal eenders. Ek het vir die eerste keer sedert my laaste slagoffer n ereksie, die warm gloed van die jagtog brand op my wange soos bokkoors, my hande jeuk in my broek se sakke waar ek hulle in skok ingedruk het om die eie wil wat van hulle besit geneem het, te onderdruk. Ek draai weg van die spieël, ek het myself so pas herontdek. Dit is wie ek is. Daar is niks wat ek daaraan kan doen nie. Ek loop in slow march na die groot venster. Sewe verdiepings bo die grond staar ek na myself, soos ek is, in die weerkaatsing in die ruit. Dit reën teen my hande as ek die venster opskuif. Jare se onbruik laat dit skurend weerstand bied. Iemand verskyn agter my in die ruit. Sal ek kan spring voor sy my kan keer? My ereksie beur teen my denim. Ek druk my hande dieper na vore. Dit is die regisseuse. Jou beurt. Haar oë kreukel soos Ma sn op teen die hoekies. Sy draai om en wikkel voor my uit studio toe. Haar boudjies smal en styf in haar snyerspakkie. Ma hou vir my die deur oop. Sterkte. Daar is warm belofte in haar gesig. Ek sal net n uur op die stel wees. Voort met die spel. Ma wag …
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |