Erotiek / EroticismArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die bed van Paulus Stenekamp

Antjie Taterat

Paulus Stenekamp was nog altyd 'n beneukte man. 'n Ding was óf wit óf swart. Niks tussenin kleure vir 'n man soos hy nie. Sy vrou San en die twee seuns weet dit ook maar alte goed. As hy gepraat het, word daar geluister. Foute en verskonings is vir swakkelinge, en 'n Stenekamp is geen swakkeling nie.

So was dit nou ook tot in die bedeesde San se slaapkamer. Dinge is gedoen sonder allerhande soetsappigheidjies, waarvoor enige hardwerkende man in elk geval nie tyd of krag het nie. Dis nou waar die knoop toe nou begin lê het, sien. San is 'n fynbesnaarde mens, vol kunssinnigheid en fyn van gees, 'n warm mens. Sy verloor haar siel in 'n pragtige sonsondergang, raak in 'n beswyming oor 'n mooi stuk musiek oor die draadloos. Skelm leef sy haar in in die avonture van pragtige, gou-nat heldinne en aantreklike horny helde wat vuriglik en passievol die bladsye van 'n roman kan volstoom. Sý word die heldin wat deur die held opgeraap word en sy ry saam met hom op sy spierwitte perd terwyl hulle oor die vlaktes dreun, waarna hy haar na plekke neem en hoogtes laat bereik wat net in storieboeke bestaan.

Natuurlik laat blyk sy nie sulke swakheid en fantasieë voor haar man nie - hy sal dit tog nooit verstaan nie, en sy sien nie kans vir sy snedige aanmerkings oor die lawwe liefdesverhale nie. Sy staan vroeg op, sorg haar man en seuns, werk fluks in die huis sodat alles so gou moontlik kant en klaar kan kom, en dan …

Dit gebeur toe ook nou so dat dit een middag laterig is dat die nuwe kuns- en musiek-onderwyser van die laerskool op die dorp by die Stenekamps se beskeie huis stop. Blond en jonk en vol energie klop hy aan die voordeur, sy gedagtes by die taak voorhande. San verwag geen besoekers nie, en moet haarself eers 'n slag goed bymekaarmaak voor sy die deur kan gaan oopmaak. Haar siel sweef nog êrens saam met die held van die mooi boek wat sy skelm gesit en lees het.

Wie die meeste verbaas is, San of die nuwe onderwyser, sal geen mens weet nie, maar toe sy die deur oopmaak en in die mooie man se gesig opkyk, en hy sy asem intrek oor die prag van 'n mens voor hom, is dit kompleet asof daar iewers engelvlerke klap. Dis asof al San se geheime drome in een oomblik waar word, en toe sy hoor wie hy is en hom beskeie innooi, begin haar wange gloei van opwinding. Sy naam is Ernst, en hy verduidelik dat hy hier is om te kom praat oor haar jongste, Wilhelmpie, wat so 'n talentvolle klein pianis blyk te wees. San se gemoedelike warmte verdamp dadelik, en terughoudend probeer sy aan Ernst verduidelik dat Paulus Stenekamp se kinders nie tyd het vir sulke tydmorsdinge soos kuns en musiek nie. Maar die twee mense wat oorkant mekaar sit weet dadelik, sonder woorde, dat daar iets tussen hulle gebeur het, en sonder skroom erken Ernst dat hy haar graag weer wil sien. San begryp, die gevoel wederkerig, en saam beraam hulle 'n uitweg.

Dis reeds skemer toe Paulus terugkom van die fabriek af. Moeg en gedaan stap hy reguit deur badkamer toe voor hy kom aansit aan die gedekte tafel. Die twee seuns is stil, hulle weet dat daar nie lawwe grappies en gepratery aan tafel geduld word nie. Die ete verloop in stilte, met net die geluid van die eetgerei wat die stilte verbreek.

Ná ete is dit boekevat. Ernstig lees Paulus die gekose stuk en bid 'n gebed in 'n somber stem. As hy tog maar net een maal in sy vrou se gesig gekyk het, sou hy verbaas gewees het om te sien dat sy vanaand besonder blosend daar uitsien. Maar Paulus het nie tyd vir nonsens nie, en die gedagte kom nie eers by hom op nie.

Die twee seuns maak hulself vinnig skaars na die laaste Amen, terwyl San die tafel met bewende hande opruim en die skottelgoed was. Sy neem die gebruiklike koppie koffie vir Paulus waar hy op die groot leunstoel sit en koerant lees. Sy wag geduldig dat hy die koerant netjies opvou en sy koffie optel voor sy begin praat. Met neergeslane ooglede en wringende hande vertel sy van die onderwyser se besoek. Natuurlik vertel sy nie vir hom hoe jonk en aantreklik Ernst is nie, ook nie van die kind se musiektalent nie, maar net dat hy hier was om haar, as ouer van die twee seuns, te kom vra of sy sal kans sien om in die middae te kom hand bysit met die kinders se konsert-afrigting. Paulus frons donker, en wil dadelik nee sê, toe sy hom daaraan herinner dat dit einlik haar plig is. Háár bydrae tot die skool, wat natuurlik weer indirek 'n bydrae tot die kerk en die gemeenskap is. Hiermee kan Paulus nie fout vind nie, want elke burger het tog sy plig. Sonder verder uitvra gee hy diep ingedagte sy toestemming met 'n kortaf kopknik.

Vir San Stenekamp gaan 'n hele nuwe wêreld oop. Elke middag stap sy vol energie en nuwe lewenslus oor na die skoolgebou. Die meeste onderwysers en kinders is dan reeds weg, en die gebou is stil en verlate, behalwe in die skoolsaal waar Ernst op haar wag. Hy sit gewoonlik voor die klavier, en sy kan haar verlustig in sy pragtige, gevoelvolle spel. Hy sal aanhou speel tot sy voor hom staan en bewonderend na hom kyk. Sy bewonder sy sagte, vernuftige hande en haar dye word klam net aan die gedagte wat daardie hande alles met haar gaan doen. Dan sal hy haar glimlaggend vertel van Wilhelmpie se vordering, wat hulle eers vir Paulus 'n geheim hou. Laggend sal hulle twee dan in sy motor klim en iewers heen ry. Gewoonlik 'n hele ent buite die dorp, en selfs al so een of twee maal na sy woonstel toe. Ernst se hande is al onder San se rok in lank voordat sy motortjie by die skoolhek uit is. Wat dan op daardie motortjie se agtersitplek gebeur, of in die woonstel, kon die dorpsmense maar net raai. Saam met Ernst ry sy ongetemde wilde perde. Hy neem haar na diep plekke en gevoelige hoogtes waar sy nog nooit was nie. Sy ontdek plekke aan haar lyf wat sy gedink het lankal dood is. Sy ontdek plekke aan sý lyf wat elke storieboek na 'n Sondagskoolpreek laat lyk. En sy maak letterlik goeie werk van haar ontdekkingsreis. Ernst is elke keer 'n baie tevrede man wanneer hy die mooie mevrou Stenekamp aflaai. Dat San elke keer mooier en met meer energie as in jare uit Ernst se motortjie klim, sal geen mens kan ontken nie.

San sorg dat al haar pligte by die huis netjies afgehandel is, en Paulus het geen rede tot bekommernis of ontsteltenis nie. So gaan dit aan vir 'n hele paar maande. Dat San heel passief is in die slaapkamer, is vir Paulus se moeë liggaam eerder 'n verligtig as 'n rede tot kommer. Dis nou te sê as hy hoegenaamd agtergekom het daar gebeur niks anders as slaap nie. Wat hom wel ontstel, is dat San sowaar 'n hele klomp nuwe rokke en onderklere by die boetiek op die dorp gaan staan en koop het. (As hy die fyn kant-goedjies kon sien wat sy vrou vir 'n ander man aantrek, sou hy sekerlik van skok en ongeloof tien dode gesterf het!)

Hy kom eers die nuwe gedaanteverwisseling agter toe hy die rekeninge in die pos kry. Donker van woede wag hy tot ná aandkoffie voor hy vir die eerste keer regtig na San kyk. Verstom raak hy stil en sien vir die eerste keer dat sy vrou se hare gesny en in 'n netjiese kapsel geset is. Sy oë gaan oor die pragtige fleurige rok en netjiese sandale. Sy lyk jonger as haar jare. Maar rekeninge moet betaal word, en geld groei nie aan bome nie. Sy stem is dik toe hy haar berispe, maar San het haar storie mooi gereed. Sy kyk hom vierkantig in die oë toe sy hom duidelik laat verstaan dat dit eintlik haar plig is om beter te lyk - sy straal immers 'n beeld van sý huishouding uit. Bowendien werk sy nou mos by die skool, en daarom indirek vir die kerk en die gemeenskap. Sou hy eerder verkies dat sy afsteek by die ander dames by die skool en by die kerk? Hierop kan Paulus nie 'n teenargument aanvoer nie, en los die saak met 'n donker frons en 'n onwillige brom daar.

Soos dit dan ook met sulke skelm affairs gaan, lê die stories die hele dorp vol. Almal weet, en dié wat nie weet nie, raai. Almal, behalwe Paulus. Die vroue vertel met smaak en geur vir hulle mans, en dié is te bang om die nuusdraers van sulke slegte tyding te wees. Behoede die een wat sou nuus aandra, want Paulus sal so 'n onwaarheid nóóit van San glo nie.

Maar soos met alles op hierdie ou aarde, kom alle goeie (en minder goeie) dinge ook tot 'n einde. San se einde kom toe Ernst begin moeg raak vir die opwinding van die hele storie, en buitendien is die nuwe Afrikaanse onderwyseressie 'n alte fraaie meisietjie. San is gebroke. Paulus besef eers daar is fout toe hy die oggend opstaan en daar nie 'n enkele skoon oorpak vir hom is om aan te trek nie. Met 'n beswaarde frons steek hy vas en begin bietjie om hom rondkyk. Die huis is stowwerig en daar staan 'n bak vol vuil skottelgoed in die opwasbak. Hy loop terug kamer toe en sien San steeds opgekrul onder die komberse lê. Sou sy siek wees of wat?

"San!" roep hy ongeduldig. "Is jy siek? Wat is fout?" Maar daar is geen antwoord van San nie. Weer roep hy en ruk aan haar skouer. 'n Yskoue beklemming klim teen sy bene op en kom druk sy lugpype toe. Hy roep en skud weer aan San, maar haar liggaam is reeds koud en styf. Skok ruk hom van sy voete af en hy sak voor die bed neer op die mat. Hy kyk na haar asof hy haar vir die eerste keer regtig sien, en die beeld van haar pragtige gesig brand in sy geheue.

Dan sien hy vir die eerste keer die papier wat sy nog tussen haar vingers vasklem. Met bewende hande trek hy dit uit en vou dit oop. Sy geskokte oë gaan oor die reëls, maar dit wil nie vasskopplek in sy brein vind nie. Die brief gly grond toe en gaan lê as 'n stil getuie eenkant op die mat. Paulus bel 'n ambulans en die dokter voordat hy na die seuns se kamer toe stap.

Dis ek wat die briefie van die mat af optel nadat die dorpsdokter en ambulansmanne met San se oorskot by die kamer uit is. My oë gly vinnig, geskok, oor die reëls, net soos Paulus s'n vroeër. Skok slaan my asem weg, en net soos Paulus vroeër, sak ek op die mat voor die bed neer. Die koue, liefdelose bed wat Paulus en San gedeel het. Die warm, passievolle bed wat ek en Paulus gedeel het smiddae as San skool toe is om haar "plig" te gaan nakom …



LitNet: 07 Januarie 2004

Wil jy reageer op hierdie verhaal? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
Of stuur jou eie smaakvolle, smaaklike erotiese prosa en poësie na Jaco Botha by hygstories.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.