Erotiek / EroticismArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Dye wat soos tonge soen

Carel Alberts

Elke dag raak my vrou swangerder. Ons vrug swel in haar ronderwordende buik, en haar wange vlam en haar oë dink inwaarts, diep en helder, wanneer sy op die rusbank sit in die oggendson met haar hande onder haar nawel. Haar borste hang swaar soos ryp vrugte, en haar tepels dy uit onder die drukking van die melk wat sy maak. Ryp, sagte, wollose perskes, haar borste, deurskynend wit met ’n warreling are langs die sagte nuwe skyn van haar tepels.

My swanger vrou se dye gedy onder haar melkerige boude, en die poel op haar sagte onderrug bo haar boudspleet is dieper. Die palm van my regterhand suig vas in die duik bo haar boude en kom los met ’n intieme klank wanneer sy van posisie verander in haar oggendslaap, haar wange brandend en haar asem soos melk.

Terwyl my vrou ronder word, vaar iets my binne. My oë rus op haar agterkop wanneer sy ontbyt voorberei, op haar nek bo die purper onderrok wat soos water om haar wit dye klou en los, op haar klein wit vuisie om die hef van die broodmes. In gedagte versonke, kom sy dit skaars agter, maar neem my soms vir ’n oomblik onder oë; woordeloos en stil.

In die weke waartydens haar maag na vore en onder vervorm, dan na bo, haar heupe en boude nog dié van ’n meisie in rugaansig waar sy voor die kinder- en klassieke kasette kniel, begin ek aan my eie bou werk. In die aande wanneer sy slaap, haar kleur hoog teen die kussing en haar voorkop rond en fier, onseker kantelend tussen nuwe drome, doen ek algaande meer opstote. Daar verskyn kepe agter op my bo-arms, ek hou op rook en die gesplete aar op my voorarm kronkel stuipend en pers. In stede daarvan dat die rookstaking my laat uitsit, beitel my maag op in kwartiere en span oor my heupe by my broeklyn.

Met my nuwe lyf loop ek in ’n dun slaapbroek voor my vrou rond voor werk. Van onthouding koester ek ’n vae honger en diamanthelder sintuie. My asem snak in die oggendlug, en daar is dierereuke in die lug van die hasiepark langsaan. Wanneer my vrou, op vroeë kraamverlof, om sewe-uur voor die stoof staan, loop ek by die trappe op en af, om te pie of vir water, my nuwe kuitspiere knopend en skuiwend. My penis hang teen my been af en die kop skuur teen my kortbroek soos ’n klokklepel. Dit bewe met die lui vibrato van ’n lugkolom in ’n bamboesfluit.

Wie weet wat my vrou alles raaksien. “Hy’s groot vanoggend,” sê sy, en kyk oor haar skouer na my slaapgekneusde broek waar sy voor die pan staan, ’n hand agter haar nek. My voël hang soos ’n hefboom langs my regterbeen af. Daar is vyftien minute oor voor spitsverkeer. Maar sy skakel die stoof af en met die reuk van roereiers om ons en futiliteit reik ek om haar en sit ’n hand op haar maag, op die sagte, gladde nagonderrok. Soos fyn skuurwol steek ’n haar deur die sy teen my vinger. Ek probeer my vrou bo die ontbyt ruik, haar vel sag en bitter in die oggend soos amandels.

“Ek voel vet,” sê sy. Maar ek wil hê my vrou moet so vet as moontlik word, dat geen ander man na haar kyk nie. Ek weet geen vrou sal so iets verstaan nie, en verswyg my perversie vir haar.

My vrou dink my groeiende belangstelling in haar is oordrewe. My dronk begeerte verbyster haar. Sy beskik oor ’n hele arsenaal afweermetodes, en sy vertrou op haar bondgenote.

Op hierdie oomblik is die tyd aan haar kant. Daar bly veertien minute oor voor ek in die motor klim, sewe daarvan om ontbyt te eet, twee om tande te borsel, ek laat drie minute toe vir onvoorsiene omstandighede (soos vermiste sleutels), een om haar totsiens te soen en een op hierdie oomblik, om haar vas te hou en in te asem. Een misstap en daar is meer tyd vir al die ander items op my vroegoggend-agenda.

Ek durf my hand nie buite die onmiddellike radius van haar stralende vet maag laat dwaal nie, of die klein wit vuisie klem daarom en skuif dit terug. Teoreties gesproke is ek haar een stap vooruit — albei haar hande is op die oomblik besig. En tog, om my oorhand nie te oorspeel nie, bly my hand op haar uitstulpende maag en weier om, soos die duiwel in my wil hê dit moet, haar regterbors onder die rok te knie sodat dit uittuit en sy kreun onder my hand. My ander hand verseg om om haar binneboud te klem en ’n natgelekte vinger tussen haar definitief-bedoude lippe in te glip en haar klitoris algaande te voel swel. My hande doen nie een van hierdie dinge nie, want my vrou sal my met die omdraai waterpas in die oë kyk, en dan na die horlosie teen die muur.

Maar my vrou weet sy kan en wil nie vir ewig hardloop nie. Sy kreun in die nag wanneer haar blommebroekie afskuif oor haar boep en halfwas tot rus kom oor haar agtersloot. Haar bobene skuif oormekaar soos tonge wat soen en die kurf van haar koekspleet staan in reliëf tussendeur haar beenmik teen die sagte broekie. Sy gee toe haar hormone kolk en haar vulva swel soos ’n dorsende mond, en haar sye ril en dein onder my hande. Soms bewe haar mond onder myne.

Maar ten spyte van haar versugting gee sy nie bes nie. My vrou slaan die jaglig in my oë met wantroue en iets soos simpatie gade, en ontbied haar vroulike bondgenote met die virtuositeit van ’n generaal.

Soms is sy snaaks. Soms is humor die medestryder wat my swaard verstomp, en merk sy op dat ek geen genot in my liefde belê nie. My vrou neem nie gevangenes nie, en sy eet die gewondes. Ek het ’n beter strategie nodig.

In die nag keer ek terug en vind haar in die kamer waar sy op die bed sit. Dis tienuur. Te laat. Haar blik val voorlopig op die wyserklok. Maar my drang is redeloos. Met een hand verwyder ek die bababoeke, die selfoon, selfs die leë teekoppie van die duvet. Die versameling items wat my vrou se dag definieer, tuimel onsimfonies op die mat.

Sy lig ’n wenkbrou, maar ek glimlag, emosioneel voorbereid op die humor, die tydverwysing, die onnodige nugterheid. Ek hou bloot my vrou se hand vas, soen haar lank en ondubbelsinnig liefdevol en kyk haar aan. Sy is onversteurbaar. Sy praat oor die dag se pyne en geluk, haar vertelling ryk aan besonderhede en eindeloos. Ek onthou ’n vorige keer toe ek haar onderbreek het, en bly stil. Ek verneem gereeld ek is te doelgerig.

My vrou is 29, voor ons troue twee jaar gelede nog styfgekokon in ’n skuldige selfbeeld en skaam vir haar eie kwistige lyf, maar oorerflik aangetrokke tot wildheid. Ek het haar oorwin met vrye onbesonnenheid, roekelose spel op onwaarskynlike plekke en onverwagte tye.

Maar sy het eers myne geword nadat sy haarself verwesenlik het. ’n Verontrustende tydperk van selfvervulling een jaar gelede, wat eksperimentele, semi-openbare naaktheid aan haar kant behels het, ’n tydperk waartydens haar seksuele ontwaking gedreig het om haar haar verlosser te laat oorwin, het ten einde laas tot ’n soort onafhanklike selfoorgawe gelei. Sy was myne, solank ek haar aanbid. Die smeuling in haar blou oë was die vlam in haar wakkergemaak deur die verslindende wete van haar mag oor my, deur my in haar wakkergemaak. In die lug van haar vrugtige swangerskap vind ek haar skielike ontwykendheid vreemd.

Nou glimlag sy. “Dis jou penis,” sê sy, bejammering in haar oë.

“Wat?” Ek is geskok. Met ons eerste seks het sy, klein en feërig, haar hand daarom geklem met dapper onsekerheid, en daarop geklim met die durf van ’n cowgirl, en dit goed bevind. Niks kon intussen verander het nie?

“Dit word groter,” sê sy.

“Ek verstaan nie.”

“Moenie verkeerd verstaan nie, dis nie uitermate groot nie,” sê my vrou. “Dis net nogal … groot. Vir my. Jy weet?”

“Maar dit was altyd so.”

“Wel, die feit is my vagina swel heelwat op die oomblik, en ook my … lippe, buite, e … ek kan nie eens my eie G-kol kry nie!” Hierdie laaste sin het die finaliteit van ’n begrafnisklok. Maar sy is nog nie klaar nie.

“Ook, jou penis is soms net hard, en soms is dit té hard, dan is dit dikker, sê sy. Ek sê niks hierop nie.

“Dis waar! Ek dink jy is lus, meer lus vir … seks deesdae,” sê sy, skaam soos net my vrou kan skaam lyk.

“Dit was nooit voorheen te groot nie. Ek kan nagte onthou toe ons dit drie maal gedoen het, en dit later kliphard was, pynlik amper, en dit was nie ’n probleem nie,” sê ek.

“Dit is nou.” Ons sit vir ’n oomblik, haar hand op ’n bors; ek weet nie of sy daarvan bewus is nie.

“Wat van ’n ander posisie?” vra sy. Die hand op haar bors is nie toeval nie. “Ek mis jou,” en sy glimlag skaam.

“Trek uit jou klere.” Ek visualiseer haar mond om die stam van my glimmende  …, haar mond, my … My oë gaan toe en my beelderyk doof uit onder die aanslag van die bloed in my ore. Haar nat mond op myne laat my sig terugkeer.

My vrou se nuwe borste hang effens ondertoe soos halfvol ballonne met sagte, vol punte, elke tiet groter as een en ’n halwe handevol met die swaar melk wat sy vir die baba hou. Terwyl sy met haar broekie oor haar enkels sukkel, druk ek my neus en mond teen haar keel vas en knyp ’n handvol tiet vas. Haar asem kom dieper terwyl my ander arm laag om haar heup kronkel en hardhandig oor haar sagte poesie bak. Haar boude druk teen my aan.

“Ek het vandag aan jou gedink,” sê ek. “In die vergadering, toe die ligte afgaan vir die aanbieding, wou ek by jou wees om vir jou te sê ek wil my hand in jou broek afdruk en so om jou vou en jou vashou, terwyl ons tonge mekaar naai.”

“Mm,” sê my vrou. “Nnn.” ’n Vinger glip in haar in om nat te word, en ek smeer stadig en sagweg aan haar klitoris. Ek strek my arm om beter by te kom en haar bene sprei wyer.

Vir lang oomblikke bly ons so, my vinger in sagte en lui reëlmaat op en neer teen haar swellende knoop, my ander arm slangend oor haar maag en bene. Ons oë is toe en ons asems verenig met my mond oop teen haar wang en die kant van haar neus.

“Ek raak mal met jou hande oral oor my lyf,” sê my vrou. Sy het haar stem teruggekry. “Ek het ook aan jou gedink, gehoop jy kom terug en fluister iets … lelik in my oor terwyl jy my so soen.” My hand sprei oor haar rug en masseer die poel op haar kruis.

Daar is ’n paar posisies wat ons kan probeer terwyl haar boep in die pad is en die drukking van my lyf die baba ongemak kan verskaf. Eerstens, ’n tantriese soort verrukking, waar ons sittend inmekaar inwieg met ons bene om mekaar gevou, of die een waar elkeen se bene uitmekaar knipmes en oor en onder mekaar s’n inskuif, bolywe uitmekaar. Altwee kan werk, want nie een laat te veel penetrasie toe nie. Maar my vrou draai na my toe en soen my tot my kop draai.

“Nee,” sê sy. “Dis jou beurt. Kom saam.” Haar onderlyflippe kneus dringend teen my hand aan, maar dan neem sy my hand. Ek sit regop. Sy haal ’n slaapmasker van êrens vorendag. Dit gly oor my oë en stiksienig voel ek kaler as voorheen. Sy hou my hand in hare en ons loop in die gang af, haar arms van agter om my, ’n hand strelend oor my maag en seks.

“Waar gaan ons?”

Ek hoor die water in die bad inloop terwyl ek in die deur staan. Sy lei my aan my roede die badkamer binne, waar ek op die rand van die bad sitgemaak word. Die badrand voel fyn en kil teen my vel.

Ek weet my vrou bestudeer haar nuwe lyf terwyl sy die badwater intap. Haar vet-uitlating was ’n rookskerm. Sy hou van haar vrugtige liggaam. Ek vermoed sy betrag haar maag in profielaansig en druk haar sappige heupe toetsend. Haar blou oë raak rokerig en haar onderlip glip onder haar tande in van afgetrokkenheid.

Ek staan op en vind haar waar ek my haar voorgestel het. Sigloos vryf ek oor haar beeldhourug en aan die dimpel bo haar boude. Terwyl ek my verbeel sy sluit haar oë en verlaat haar liggaam van meesleuring, hou ek haar vas en klem ’n bors wanhopig in een hand. Dis asof sy droom. Ek voel ’n hand rys, maar sy verwyder myne nie.

Een hand vou oor myne, ’n ander druk ’n eie tepel tentatief tussen duim en voorvinger vas. Ek sit my ander hand op hare neer en my kop swem as ek haar hand voel kramp om haar bors.

’n Drukking teen my bekken verraai my steenhard geswollenheid. My voëlkop druk dom en onredelik soos ’n dronk bedelaar vlak in haar boudsloot in, waar dit bly. Wanneer sy my voël insinuerend teen haar voel aandruk, verhard haar rosige tepels, en, weet ek, verdiep hulle in kleur. Ek voel ’n deurskynende wit voet op myne om my lyf teen hare vas te hou.

Dan draai sy om en my penis gly dwars oor haar maag, ’n smering van my voor-kom daaroor, voel ek uit die natheid en skielike koue gevoel op my punt. “Sit eers,” sê sy, en ek word weer sitgemaak en omgedraai op die badrand, my enkels nou in die water.

Meteens voel ek haar hande op my bene en haar mond op my maag. Water plas en kom warm op my bekken te lande. Sy trek my voorvel terug en was hom met wat moontlik ’n vinger kan wees. ’n Sagte, nat en warm vinger. ’n Rilling trek deur my lyf.

Dan word ek orent getrek aan my hande, en kom ek boude eerste in die bad te lande. Ligte flits veelkleurig teen my retinas wanneer die water in my boude en balwerk klots en my vrou se hande oor my lyf beweeg om my te was en af te spoel. Dan klim sy saam met my in die bad en iets sluit soos ’n warm hand of mond oor my, terwyl ’n duisend kleure in my kop aangaan. Haar arms vou om my lyf en my gloeiende stam versink in warmte.

My swymeling kom tot ’n einde wanneer sy weer praat, my penis reeds kloppend van geswollenheid. “Kom ons gaan kamer toe,” sê sy, en lek my outomatiese tong met ’n krulsmeeraksie van haar eie. Sy lei my aan die hand en my gedagtes wemel van wellus vir my vrou, wie se boude, dink ek, plooi en span soos sy dogtertjierig-verheug voor my uithuppel.

“Ons kan iets nuuts probeer, sê sy. “Ek voel jou al klaar binne in my.” My skrotum krimp met die nuus.

Ek word plat op die bed uitgestrek, en wat voel soos vele hande talm oor my lyf. My innersig verlaat my wanneer sy oor my afsak en my punt insluk soos ’n warm jellie. Mond? Vagina? Dan verplaas sy haar gewig tot op my heupe, en ek strek my hande na haar bene uit. Maar haar bobene wys in die verkeerde rigting, en ek weet sy kyk weg van my. Die onbeteuelde dierlikheid van hondestyl spoel soos ’n dwelmstuwing in my bloed. Ek reik uit om haar rug te gryp soos die drenkeling wat ek vir my vrou is, maar dis nie daar nie. Sy buig vooroor, haar borste nou plat teen my kniëe, haar heerlike hol, weet ek, voluit na my toe gedraai en gapend bo my boorpunt wat haar put uitdolwe.

Ek steek ’n vriendelike vinger na haar ronde, ronde boude uit, en vryf daaroor. My vrou kreun van die ongewone drukking van my penis teen haar agterwand. Sy is week teenoor my onwelvoeglike vinger. Ek druk ’n vingertop teen haar pruim. Dit bly styf toegetrek, maar my vrou uiter nie ’n woord nie. Wanneer ek harder druk, glip dit verby die onmiddellike rand, ’n halwe sentimeter in die wonderlike gladheid van haar lus vir my vinger. Haar koninklike heuglikheid om my ros te kan tem maak dit maklik om in haar anus te priem, my vinger so ruiend soos ’n beer se tong in ’n heuningpot.

“O my, o fok, ek — jammer,” sê sy. “Aaaaaaaa. Shit.” My vrou kom onbeheers en probeer haar los mond stilhou, sonder sukses. Dan soen sy my lank en smeltend, glip van my af en neem my in haar klein wit vuisie. Die skielike drukking van haar hand, verbasend sterk, en die pynlike gloed van my boomstam, laat my kom en kom, onsigbaar en mateloos.

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.