|
|
Chanette Paul: Die cantadora en die helende werking van storiesChanette PaulBekentenis van n hygromanskrywer In haar boek Women who Run with the Wolves, sê ClarisÑa Pinkola Estés die volgende:
Dis dan ook vir my altyd n heerlikheid en n voorreg om my te bevind in die geselskap van die makers en liefhebbers van stories, mense met n passie vir stories en mense wat die storie agter passie verstaan. En tog, wanneer ek my in sulke uitgelese geselskap bevind, voel ek my dikwels aan die periferie van die bedrywighede. Hoekom? Ek is n skrywer van liefdesverhale onder andere in elk geval. Wanneer dit rugbaar word binne die uitgelese geselskap van gesofistikeerde skrywers en lesers dat ek liefdesverhale skryf en dit gebeur dikwels met geamuseerde fanfare word daar onmiddellik n ander bril opgesit om na my te kyk, ge-nudge-nudge en ge-wink-wink. En oor die algemeen het ek nie n probleem daarmee nie. Ek doen mee wanneer daar gelag en gespot word, grinnik oor wysneusighede en laat toe dat die satiriese kruike leegloop. Maar êrens is daar tog n opstand. Êrens is daar iets binne-in my wat sê, dis mos die gruwelikste diskriminasie denkbaar dat daar met soveel snobisme, neerbuiging en minagting na een soort genre gekyk word. Behoort dit immers nie te gaan om n goeie verhaal binne n sekere genre, eerder as n goeie en slegte genre nie? Vergelyk mens immers War and Peace met Garfield? Is daar fout met Garfield? Oor die cantadora, oftewel die storieverteller, die keeper of old stories, sê ClarisÑa Estés:
Although some (of us) use stories as entertainment alone, tales are, in their oldest sense, a healing art. Some are called to this healing art, and best ... are those who have lain with the story and found all its matching parts inside themselves and at depth. In the best tellers I know, the stories grow out of their lives like roots grow a tree. The stories have grown them, grown them into who they are. We can tell the difference. We know when someone has grown a story and when the story has grown them. (These are the) stories that will accept (the teller), that will shine through them, (and) not just lay on the surface of their being like dime store jewelry. Die taak van die storieverteller is dus om stories te kweek in die tuin van haar eie talente. En as hierdie tuin n romantiese een is en plesier verskaf aan n menigte besoekers, waar lê die fout? Die cantadoras van die romantiese liefde het n baie belangrike taak om te vervul in die gemeenskap. n Taak wat van die oudste tye daargestel is, n legitieme taak, n taak met baie besondere waarde ten spyte daarvan dat daar n weerstand by n belangrike deel van die gemeenskap is om hierdie taak as legitiem te sien. Mense vra my dikwels waarom ek liefdesverhale skryf. Hulle vra my waarom ek, met my (inderdaad beskeie) letterkundige agtergrond, my tyd mors met die skryf van liefdesverhale. En dan vra hulle my wanneer ek gaan begin om régte boeke te skryf. Nou vra ek myself af of hierdie mense ook na hulle algemene praktisyns gaan en vra: Wanneer gaan jy ophou om verkoues en griep, masels en waterpokkies te dokter? Wanneer gaan jy régte siektes begin behandel? In dié verband is my ondervinding dat ek baie meer miserabel voel wanneer ek griep het as by die besef dat my hoë cholesterol uiteindelik my dood kan veroorsaak. Of vra die kritici, as ons n stappie verder wil gaan, aan n sielkundige: Wanneer gaan jy ophou om depressiewe pasiënte te behandel en eerder begin om die psigopate en reeksmoordenaars op die regte pad te kry? Hoeveel van die hardebaard-kritici sal hul hande opsteek as ek vra wie van hulle al met n pakkie Prozac op die rak van hulle medisynekas betrap is? Dis vir my dus duister waarom een soort boek, een genre, as minderwaardig geag word as dit in die behoeftes van soveel mense voldoen, vir hulle iets beteken en hulle help om beter te voel oor hulself en hul lewe. Maar dit is so dat skrywers verskonend raak wanneer hulle erken dat hulle net liefdesverhale skryf. En dit is so dat mense wat liefdesverhale lees, dikwels verleë is oor die feit, net soos mense verleë is oor die feit dat hulle sepies kyk. Dit is so dat daar neergesien word op sowel die liefdesverhaal as die sepie. Liefdesverhale word uitgemaak as geelpers-publikasies, as voorspelbaar, vervelig, onrealisties, minderwaardig en stroperig. En tog het selfs van die intelligentste, intellektueel bedrywigste mense n behoefte aan die ontvlugting wat die liefdesverhaal en die sepie hulle bied. Oor sepies kan ek my nie uitlaat nie omdat ek hulle nie kyk nie. Regtig nie. Maar ek pleit in dié verband eerder n gebrek aan tyd as n gebrek aan belangstelling. Oor liefdesverhale laat ek my egter graag en met passie uit. Liefdesverhale is in my vesel. Vandat ek kon, lees ek liefdesverhale, droom ek liefdesverhale en skryf ek liefdesverhale, al was dit, wat die laasgenoemde aanbetref, vir baie jare net in my gedagtes. Ek erken ruiterlik dat Ena Murray, Wille Martin, Susanna M Lingua en hul tydgenote die cantadoras was saam met wie ek die weë van die romantiese liefde geloop het. Op n stadium toe ek skaam, jonk en eensaam was, het hulle my laat droom van die skynbaar onmoontlike wat moontlik gemaak word. Op hulle verhale kon ek terugval wanneer ek terneergedruk was en ek gevoel het dat die lewe my stief behandel. Maar dit was nie net as kind en as tiener dat liefdesverhale vir my ontvlugting gebied het nie. Terwyl ek besig was met my skripsie vir my meestersgraad in letterkunde, en ek daagliks moes stoei met begrippe soos die funksie van die fisiese ruimte in n verhaal en agter die kap van die byl moes kom ten opsigte van konsepte soos die dekonstruksie teorie in die letterkunde, het ek dikwels n liefdesverhaal nader gesleep. Met n liefdesverhaal in die hand kon ek tydelik uit my intellektuele paniek verlos word, kon ek deel word van die fantasie wat die werklikheid onderlê. En nadat ek die boek toegeklap het, kon ek terugsit met daardie wonderbaarlike ligte gevoel wat oor mens kom as die heldin uiteindelik utopie in die arms van haar held gevind het; dan het ek weer moed gehad om Cirlot se Dictionary of Symbols, Rimmon-Kenan se Narrative Fiction: Contemporary Poetics of Venter se verhandeling Ruimte as epiese kategorie nader te sleep en te probeer verstaan wat agter die struktuur lê van boeke soos Toorberg, Een vir Azazel en dies meer. In die aanhaling van Estés praat sy van stories wat net vermaak ten doel het en van stories wat uit die hart, die wese van n skrywer groei soos n boom vanuit sy wortels. Lesers wil inderdaad vermaak word met stories, en dit is seker een van die belangrike doeleindes van enige storie en veral van die liefdesverhaal. Die geheim van die lekkerste boeke, die boek wat die leser laat sug van welbehae, lê egter nie net op die vlak van vermaak nie. Die geheim lê daarin dat hulle stukkende plekke kan heelmaak. En wat doen die lekkerste liefdesverhaal anders? Die lekkerste liefdesverhale laat die leser goed voel. Die lekkerste liefdesverhale help die leser om te hoop op en te glo in dit wat goed en mooi en romanties is. Die lekkerste liefdesverhale gee die leser weer moed. En as daar een ding is wat genesend op die mens inwerk, dan is dit die goeie en die mooie ... hoop en moed. Die liefdesverhaal besit dan by uitstek die potensiaal om te voldoen aan die vereiste wat Estés stel, naamlik dat n storie moet kan heelmaak. En dit, glo ek, is die taak van die cantadoras van die liefde: om heelmaakstories te skryf. Heelmaakstories wat groei uit die lewe en die hart van die skrywer. Heelmaakstories wat nie van buite af aangeplak en gestoffeer word nie. Heelmaakstories is nie eksterne entiteite wat geforseer kan word nie. Heelmaakstories is nie prekerig, pedanties of voorskrywend nie. Stories wat op hul eie die skrywer kies, uit haar groei, uit haar diepste vesel kom, dit is die stories waarin daar by uitstek helende krag lê. Om Estés weer aan te haal:
En as dit dan n liefdesverhaal is waarin die skrywer haar alles sit, waarom diskwalifiseer dit haar as legitieme skrywer? Of haar storie as legitieme storie? Die genre as legitieme genre? Die lekkerste deel van die skryf van die liefdesverhaal lê vir my in die heerlike gevoel van opwinding wat ek ervaar terwyl ek skryf. Net soos die leser die helende inwerking van n lekker storie kan voel, kan hierdie stories die skrywers ook goed laat voel en heelmaak. Miskien kan dit juis dáárom helend op die leser inwerk. En in daardie sin is die proses van skryf dan selfs belangriker as die teks, want die teks wat uit so n proses voortvloei, dra vanself in hom die heling wat hierdie proses vir die skrywer meegebring het. As die liefdescantadora stories skryf wat helend inwerk op die leser, die leser nie onderskat nie, maar respekteer, en die leser of haarself nie verneuk uit die helingsproses nie, dan glo ek kan ons die kritici in die oë kyk en sonder verleentheid sê: Ek skryf liefdesverhale, want my stories beteken iets vir ander. Ek skryf liefdesverhale, want dit maak heel waar die lewe stukkend maak. Ek skryf liefdesverhale, want soos Luther kan ek nie anders nie. As die cantadora van die liefde n leser kan laat terugsit met daardie salige gevoel, haar weer moed kan gee om aan te gaan, haar vir n wyle kan wegvoer uit n bestaan waar sy snags moontlik wakker lê oor n siek kind, n brutale man of n onaangename werksituasie, of bloot net haar dag opgekikker het of oor iets laat nadink het, dan slaag ons in ons doel. As ons haar weer moed, hoop, geloof kan gee, dan het ons nie minderwaardige klinkende simbale geword nie, maar op ons beskeie manier die weg van romantiek voorgehou en daardeur helend ingewerk op iemand van wie se lewe ons niks weet nie. En as ons só skryf, wie durf dan op ons neersien en vra wanneer ons eendag régte boeke gaan skryf? Estés het vir my, iemand van wie se bestaan sy nie weet nie, deur middel van haar boek toegewens:
En dis presies wat ek probeer doen, wil volhou om te probeer doen. Of ek n ernstiger werk aanpak, of n liefdesverhaal, dit bly harde werk, maar indien dit heling kan bewerkstellig, sowel vir my as skrywer as vir my lesers, dan het ek in my doel geslaag. En biedêm met die snobs en die sinici. |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |