Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Kompetisies /
Competitions
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Kos en Wyn /
Food and Wine
Nuus /
News
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Zen en Junkfood

Kobus du Toit

DEEL 1: Die Russian roll en chips

Moenie goedsmoeds storm na die naaste vis-en-chips-winkel om jou Russian roll en chips te loop koop nie — wag vir die regte geleentheid. As daar genoeg kos by die huis is, vergeet dit. Of as jy nie te honger is nie.

Die grondwerk
’n Ideale geleentheid vir die russian roll-en-chips-ondervinding moet minstens ’n meerderheid van die volgende elemente bevat:

  1. Jy moet honger wees, maar nie noodwendig rasend nie.
  2. Jy moet min genoeg geld in jou beursie hê — so tussen tien en vyftig rand.
  3. Jy moet dinge hê om te doen, verkieslik goed wat belangrik, maar nie noodwendig dringend is nie, soos om die gras te sny of jou posbus te verf.
  4. Die bogenoemde dinge moet uiteraard ’n fisiese komponent hê — rekenaarwerk is nie ideaal nie.
  5. Jou tog na die vis-en-chips-winkel geskied nadat jy net meer as die helfte van jou werk (punt 3) gedoen het, met ander woorde, wanneer jy lekker aan die gang is, maar ook sowat vyf minute voordat jy begin gatvol raak daarvoor.
  6. Baie belangrik: jy moet nie vóórdat jy die werk in punt 3 aanpak, van voornemens wees dat jy ’n russian roll en chips gaan koop nie; dit moet grotendeels ’n impulsiewe besluit wees.

Die setting
Kies jou vis-en-chips-winkel sorgvuldig. Hierdie punt kan nie genoeg beaam word nie. Dit deug byvoorbeeld glad nie om dit by ’n winkel te koop waar die atmosfeer te klinies is nie. Die teendeel is ook waar — jy wil nie tydens die ervaring bly spekuleer oor moontlike maagwerkings nie. Tref ’n balans tussen die reuk van asyn, olie en disinfectant. As enige van die bogenoemde die ander oorweldig, gaan soek ’n ander winkel. My gunstelingwinkel is wit geteël en daar is prentjies van visse teen die mure. Dis noodsaaklik dat daar iewers in die winkel ’n Coke- almanak aangebring is, hoewel dit ook laasjaar s’n mag wees. Des de beter as daar telefoonnommers op geskribbel is. Maak verder seker dat die eienaar nie Afrikaans is nie (al kan hy Afrikaans praat). ’n Tweede- of derdegeslag-persoon van Mediterreense afkoms sal jou nie in die steek laat nie. O ja, die yskas — dit is verkieslik dat die yskas met die koeldranke ook sommige van die rou takeaway-materiaal bevat, byvoorbeeld russians, margarien, of selfs bloot pietersielie. Dit doen wondere om vir die tyd van een sigaret (ongeveer sewe minute vir nierokers) buite die winkel te vertoef en in die stemming te kom. Die reuke van die winkel en die kom en gaan van mense doen wondere vir die ambience.

Die bestelling
Vra vir ’n russian roll en chips. Gewoonlik behoort die persoon wat jou help, seker te maak dat jy ’n russian roll en chips en nie ’n russian en chip roll wil hê nie. Ek is altyd ’n bietjie skepties wanneer hulle vir my te veel options gee, soos met of sonder botter. Dit wys dat die helper ietwat onervare of onseker is. Die professionals weet. Die sout en asyn option is anders. Dit dui op deeglikheid. Enige ou wat sy sout werd is, sal vir jou die option gee en dan summier jou reaksie ignoreer. Dis uit die mag van die gewoonte van iemand wat weet wat hy/sy doen. Hulle behoort immers in elk geval sout en asyn by te sit. Verkieslik sal jy ’n wyle moet wag vir die bestelling. Enige iets tussen twee en twaalf minute, of die maaltyd reeds voorberei is of nie. Hierdie deel is van uiterste belang.

Die voorkoms
Soos by enige goeie vis-en-chips-takeaway word die russian roll en chips tradisioneel in papier toegedraai. Meesters maak gebruik van koerantpapier, hoewel ander papier ook goed is.

  1. Chips moet in pakkies wees voor dit toegedraai word. Vermy winkels wat dit in kartonhouers bedien. Net in papier toegedraai is ook goed. Die konsistensie van die chip is maklik die belangrikste deel van die algehele ondervinding: anders as in kettingroepe (wat meestal reeds voorbereide chips aankoop), moet die chips slap wees. En ietwat olierig, maar sonder om te drup. ’n Asynvlek hier en daar spreek van meesterlike voorbereiding.
  2. Die roll kan ieder van die hamburger- of die hotdog-tipe wees. Hoewel betreklik vars, moet dit definitief nie nog warm wees nie. Stukkies kors moet plek-plek afskilfer. Botter of margarien is opsioneel, hoewel die ongebotterde weergawe sy plek in die geskiedenisboeke sonder gelyke volstaan.
  3. Die voorkoms van die russian is amper so belangrik soos die konsistensie van die chips. Die skil moet bros en bruin wees en die binnekant sag. Russians wat voor die tyd plek-plek gesny was, is die beste. Die stukkies vet binne moet getuig van ’n goeie vermaling en vermenging van bestanddele — nie te ver van mekaar nie en ook nie te chunky nie. Dit moet verkieslik meer deursigtig as wit wees.

Die aansit
Die russian roll en chips word meestal in die buitelug genuttig. En nie te ver van die winkel nie. ’n Parkie is goed, maar privaatheid is van kardinale belang. Soek ’n plekkie met beide son en skaduwee. Sit rustig, maar wees bewus van jou liggaam. Voel hoe die aarde jou liggaam ondersteun. Wees bewus van jou asemhaling. Stadiger. In en uit. Wees bewus van jou honger. Voel jou maag. Maak jou oë stadig toe. Sien jou verhemelte, jou tong, jou tastebuds, jou keel, jou maag. Sien jouself in die parkie. Van bo. In die stad. Op die kontinent. Seevaarders van ouds. Ruik die lug. Hoor die voëls, die motors, die straatverkopers. Stadig asemhaal. In en uit. Stadig oë oop. In en uit. Sien die son en die blare. Hoor die kinders. Diep in en uit. Maak die pakkie stadig oop. Diep in. Voel hoe die warm asynreuk jou asem wegslaan. Stadig uit. Die reuk van russian kielie die hare in jou neus. Talm ’n oomblik langer as wat jy sou. Oë toe. Diep en stadig in. Oë stadig oop. Asem uit. Wees bewus van die volle ervaring. Van die gras en die posbus. Van die russian roll en die chips. Van jou en die parkie en die stad en die motors en die kinders. Wees bewus. En waardeer.

Die voltrekking
As jy klaar het, sit vir ’n oomblik rustig terug. Asem stadig in. Stadig uit. Oë stadig toe. Sien hoe jou liggaam die maal ontvang. Sien hoe die kontinent jou steun. Hoor die blare, ruik die klanke van die kinders. Poos vir die tyd van een sigaret. Oë stadig oop. Stadig in en uit. Sug. Vou die papier toe. Terug in die sakkie. Jy is gereed vir die res van jou lewe.



LitNet: 23 Maart 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.