Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Kompetisies /
Competitions
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Kos en Wyn /
Food and Wine
Nuus /
News
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Rane Afrika rook en geniet

Erns Grundling

 Klik hier om jou gratis boek uit te druk

Rook en Geniet - daggaresepte vir ’n groen generasie

Klik op die boek om die webwerf te besoek en Rook en Geniet gratis uit te druk!

Uittreksels uit Rook en Geniet:

Kan jy jou sativa L, indica en ruderalis van mekaar onderskei? Ken jy die botaniese ubabamkhulu van die Cannabis-genus? En weet jy hoe om THC uit dagga te tower om disse vir fees-fek te ontwerp?

Welkom dan by Rook en Geniet: ’n parmantige eerste vir Afrika se groen generasie. ’n Resepteboek wat bestanddeel D weer volwaardige lid van spysenieringswêreld maak. Wat aan haar die respek betoon wat sy verdien.

Met iets vir almal, van vegetariese feta, pizza en mopanie wurms tot bobotie, nageregte en koffie. Intensief nagevors om in detail voornemende beginner-sjefs op die pad te lei. En dan vir die wolwe te voer.

Lees ook meer oor die kannabotter-rebelle, vind uit waarom oumagrootjie se daggatee ’n mite is en leer hoe om die gevurkte kruid op haar naam te noem in Mandaryns.

Ontdek boonop die “lang pad na daggakrasie” met sy legendariese Hokveld, die heilige graal van ons voorouer-geeste. En snap uiteindelik waarom CBD nie net vir Central Business District staan nie.

Rook en Geniet blaas die rook uit die leser se oë en vuur jou aan om agter die pot in te skuif. Dis nou of nooit.

Wat ander sê:

Fantasties, propvol praktiese raad vir groen sjefs. Dis hoog tyd!
- www.rokerkoker.com

Danksy haar holistiese benadering kan dié gids betekenis aan jou lewe bied. Iets gee om die aande mee om te kry en jou verhoudingslewe opkikker. En, belangrikste van als, jou innerlike krag na buite laat uitstraal. Zensasioneel!
- Poppie Verster in Die Ligkrans

Die majat van die boekwêreld. Loutere twak! Verbrand!
- Wouter Grootboom in Tuisgerook

If Rook en Geniet isn’t in your kitchen, your kitchen is naked. The best investment of 2005.
- eThekwini Poison in Business Jay

Ondanks die spel- en feitefoute, kan mens nie anders as om te bly glo in die goeie bedoelings van die samestellers nie. Leesstof van die eeu.
- Kanna Kannemeyer in Ontstig

This is the book the continent has been dreading. Let’s hope it gets banned again.
- Butterfingers in High Times

Waarskuwing: Publikasie bevat tong-in-die-kies-skrywery met tekens van ironie, sarkasme en gebrek aan talent. Enige ooreenkoms met enige persoon, dier of plant lewendig, dood, wettig of onwettig, is blote toeval. Die samesteller, uitgewer en ongemagtigde kopieerders (ons weet wie julle tsotsies is) neem geen verantwoordelikheid en ontken enige aanspreeklikheid vir enigiets wat mag voortspruit uit die lees van of vrees vir hierdie gids. Slegs vir volwassenes. Dis al. Genuine.

Alle regte voorbehou. Eerste uitgawe 2005. ISBN 7-13-12-14-23 Kopiereg berus by Rane Afrika, Veldsondergras. Kontak haar by raneafrika@yahoo.com vir lof, kritiek, nuwe resepte en algemene tandeknersery. ISO 23-97410 pRysloos.00 Hopelik op herwinde papier gedruk.

Erns Grundling gesels met Rane Afrika:

Erns: Verduidelik die konsep groen generasie.

Rane: Dis ons, 'n generasie wat ekologies-bewus is en die natuur respekteer; want as sy siek is, ly ons. Deel van hierdie bewussyn is 'n oop gemoed vir natuurlike medisyne en ontspanningsmiddels (soos dagga). Groen is ook die kleur van kalmte, soos deur die plant versinnebeeld.

Erns: Wat het jou laat besluit om hierdie projek (proe-jek?) aan te pak?

Rane: Nadat vriende, seën hulle, my laat hap het aan die verbode vrug (ok, dit was 'n daggakoekie) het ek besef dis baie gesonder om te eet as om te rook. Boonop is daar geen Suider-Afrikaanse dagga-kookgids nie. Volgens my geen in Afrika nie, hoewel mens 'n paar in Europa en Amerika kan optel. Daarom het ek 'n verskeidenheid disse versamel, want die meeste kokers brand vas by koekies en vergeet van die hele kulinêre reënboog.

Ek hoop ook dit sal bydra tot die afbreek van daggamites: dis nie uit die bose nie en dis ook nie 'n wondermiddel nie. Dis 'n natuurlike bestanddeel wat ons kan gebruik, met matigheid voor oë. En hoewel die gids vol bruikbare inligting is, moet lesers dit ook nie te ernstig opneem nie.

Erns: Het jy die oorspronklike Kook en Geniet geraadpleeg vir inspirasie?

Rane: Nee, die voorblad sit mens af.

Erns: Waarom gratis? Daar is soveel moeite ingesit in die boek. Waar kry jy die tyd, geld en geduld hiervoor?

Rane: Dis 'n geskenk en wie wil nou sukkel met sente tel. Tyd en geduld is die resultaat van verveling, dus het ek iets opbouend daarmee gedoen. En daar was vriende wat gehelp het.

Erns: Hoe lank het die navorsing geduur?

Rane: Dit het oor jare gestrek, maar die actual werk was 'n paar maande. Inspirasie kom en gaan, nuwe inligting verskyn, rekenaars vou en luiheid slaan toe - daarom dat dit nou eers kuber-klaar is.

Erns: Vertel ons van 'n resep wat geflop het. Iets wat mens dus nie moet probeer nie.

Rane: Eesh! 'n Vriendin het 'n bos vars kruie in die mikrogolf gedroog, maar in 'n oomblik van waansin vergeet om die tinfoelie waarin dit toegedraai was, af te haal. Boem! Daar's nou nog bloedspore en daggapitte op die kombuisplafon. Die resepte wat geflop het, is nie in die gids nie - die moeilikste ding is om die smaak te verbloem, dus probeer en probeer weer. O ja, klee die kruid in sagte papier as jy dit in 'n mikrogolf droog; sodoende word die vog opgesuig.

Erns: Daar was onlangs 'n hofsaak oor die wettiging van dagga wat selfs in die Konstitusionele Hof gaan draai het. Hoe voel jy daaroor?

Rane: Ek is gekant teen die wettiging van dagga, maar vuur en vlam vir die dekriminalisering daarvan. Waarom? Die wettiging gaan dit helaas makliker toeganklik maak vir kinders (dis reeds te maklik), en meer probleme as oplossings skep. Terselfdertyd is dit belaglik dat mense tronke vol sit weens die besit van die plant. Hou dit onwettig, maar straf dit soos ons verkeersoortredings straf. Byvoorbeeld: as jy met 10 g of minder (of 'n plant in jou tuin) betrap word, betaal jy boete van R400. Om die handel te beperk kan mens uiteraard reuseboetes hef vir mens wat met bakkiesvol aangekeer word. En soos met verkeersoortredings sal herhaalde, ernstige oortreders uiteindelik agter die tralies beland. Trek hul rooklisensies in! Maar dit sal 'n minderheid wees - alle volwassenes behoort die reg te hê om 'n plant te kweek en dit in hul etes of pype aan te wend. Sonder om dit te oordoen, uiteraard.

Erns: Wat van die mediese gevare wat sommige van die bestanddele in jou boek inhou?

Rane: Wat?! Die mopaniewurms? Nee wat, as mens ander kookboeke se bestanddele bekyk soos olie, asyn, botter, room, rissies, alkohol, kaffeïen, of sien wat hulle by die groot M en KFC doen, reken ek dis nie gevaarliker nie. Kyk net na die gemors wat ons in winkels koop; dis vol chemiese afkortings wat in laboratoriums saamgeslaan word. THC is ten minste so natuurlik soos gras. Weer eens, dis nie vir almal nie - elkeen het haar beperkings en smaakvoorkeure.

Erns: Noem drie bekendes wat jy graag sal wil trakteer met jou resepte, en verduidelik hoekom.

Rane: Nataniël, want ek is seker sy resepte kan werk met my bestanddele. En boonop sal dit tot 'n nag se gegiggel lei. George W Bush, want nie net sal hy ontspan nie, miskien sal sy sin vir humor ook na vore kom. En dan's als moontlik. Patricia de Lille of Cheryl Carolus, want hulle is my rolmodelle. Gegewe hul stresvolle lewens, sal ek hulle graag wil bederf met 'n rustige aand. En saamlag oor politieke skinderstories.

Erns: Noem drie mense wat eerder glad nie van hierdie boek se bestaan moet weet nie.

Rane: My ma, Knersus (hy's reeds erg onwel) en die narkotikaburo (hoewel die boek op sigself nie onwettig is nie).

Erns: Wat is die uitwerking van hierdie resepte op mens se seksdrang?

Rane: Saam met oesters, gemmer en ander ligte Oosterse happies is dit net die ding vir 'n na(ai)week se sekskapades, maar as jy 'n vraat was, is dit magies vol, ogies toe en passie geblus.

Erns: Vertel ons bietjie meer oor Rane Afrika.

Rane: Sy's gebore in Namibië, het grootgeword in Upington voordat die N7 haar na 'n groener Kaapstad en Stellenbosch gelei het. Intussen het sy die wêreld verken en besef die mooie Hoëveld het inderdaad velde vol dinge wat mens hoog maak. Sy glo sterk in "beproef alles en behou die goeie."

Erns: Beplan jy enige soortgelyke projekte in die toekoms?

Rane: Wie weet, ek wag op die nuwe resepte. In rookkringe word daar altyd gespog, maar die slapgatte doen nie moeite om hand aan die pen te lê nie. En so raak tradisionele resepte vir ewig verlore, want niemand dink mos aan die nageslag nie ...

Erns: Wat is jou resep vir geluk en sukses?

Rane: Rooibostee, kakpraat en deursettingsvermoë.

Erns: Beskryf die perfekte midnight snack.

Rane: Dis soos die Heilige Graal, ons gaan dit nooit vind nie.



LitNet: 15 Junie 2005

Wil jy reageer op hierdie onderhoud? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.