Koos se Spens - rubriek deur Koos KombuisArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Nuwe Struggle

Koos A Kombuis

Ek skryf hierdie rubriek soos ’n skeepsman wat sy bootjie moet stuur deur woeste stroomversnellings deur; met vrees in my hart, en met die gesuis van wind en storms om my kop.

Nie alleen is die Skiereiland in die middel van ’n formidabele frontale stelsel nie; die hele land is gewikkel in ’n nuwe woordestryd, ’n vlaag van protes en onmin soos wat ons laas geken het tydens die swanesang van die diktator PW Botha.

Dit was asof die moord op klein Kayla in Pretoria die vonk was wat die kruitvat aan die brand gesteek het. Haar dood het die keerpunt geword, die simbool van ’n nuwe vasberadenheid onder gewone mense om hulle stem te laat hoor.

Op hierdie stadium van Suid-Afrika se geskiedenis staan ons voor ’n lewensbelangrike kruispad. Albei die paaie wat voor ons vurk, lei na ’n struggle. Tog is daar ’n groot verskil tussen die twee paaie, want die uiteinde van die een pad is verwoesting en chaos. Die ander pad, hoop ek, of glo ek soms nog, kan moontlik tog nog lei na vrede en stabiliteit.

Wat die keuse vandag so bitter moeilik maak, is die feit dat die twee paaie voor ons naamloos is. Daar is geen etikette nie, geen bordjies wat die roetes verduidelik nie. Mens kan nie eens meer praat van “links” en “regs” nie — daardie netjiese indelings bestaan nie meer nie. Al die padtekens en riglyne en goeie raad en vrome voornemens lê op ’n ashoop iewers agter ons, saam met die SLEGS BLANKES-kennisgewings en die Casspirs en Campari’s en die Nusas-manifeste van ’n vorige, meer idealistiese (en ongelooflik naïewe) dispensasie.

Die enigste ding waarvan ek seker is, is dat die een pad reg is (hoewel nie regs) nie, en die ander pad verkeerd. Dit is wel ’n morele keuse. ’n Komplekse morele keuse, maar nogtans ’n morele keuse.

En dis besonder maklik om verkeerd te kies. Ek het self ’n paar treë geneem op die verkeerde roete. Ek is nie vandag trots op die rubriek wat ek gepubliseer het in Rapport van 10 Augustus nie. Dit is so maklik om te gryp na die strooihalms van simplistiese antwoorde! “Kayla is deur swartmense vermoor, dus moet swartmense hulleself regruk.” Of, nog erger: “As julle nie wil hê dat ons julle ‘kaffers’ moet noem nie, moet julle ophou om julleself soos ‘kaffers’ te gedra.”

Hierdie soort stellings mag logies klink vir baie mense, en in my uur van woede en wanhoop na die moord op Kayla kon ek dit regverdig. Op ’n manier was dit selfs bevrydend om dinge te sê wat voorheen sosiaal taboe was.

Die rede hoekom ek my voete teruggetrek het van daardie pad en na ’n ander weg begin soek het, was nie weens enige leftie-skuldkomplekse of omdat ek nie meer kwaad is vir misdadigers of omdat ek nou skielik bang is vir die ANC nie.

Dit was ’n rubriek deur Dan Roodt wat my laat wakkerskrik het en besef het wat die logiese uiteinde sou wees van die denkpatroon wat ek toegelaat het om wortel te skiet in myself.

Ek praat natuurlik van die rubriek wat Dan geskryf het vir Rapport en waarvoor hy sy job verloor het.

Die rubriek waarin hy, onder andere, die volgende statements maak:

“’n Pil vir jong swart mans sou dalk wondere verrig om te sorg dat hierdie land nie in ’n rasseoorlog verval soos wat Afrikanerfrustrasie — wit Engelse dink soms swart geweld is, soos rapmusiek, cool — met misdaad uitbars in teengeweld nie. Óf dit óf ons sal moet terugkeer na die een of ander vorm van segregasie of neo-apartheid waar swart mans verbied word om sekere woongebiede te betree.”

Hierdie rubriek, wat — hoewel dit geweier is deur Rapport — nou wyd gelees word, veral op die Internet, is baie beslis nie net die einde van sy loopbaan as rubriekskrywer nie, dit is ook die laagtepunt.

Kom ons draai geen doekies om nie: Dan Roodt het homself nou gerelegeer tot die klein groepie fanatiese randfigure, soos die ou AWB, wat vinnig besig is om te verdwyn van die speelveld. Praag het sy paar oomblikke van glorie gehad, maar is nou ewe skielik so passé soos die Ossewa-Brandwag en die Dogter van Sion. En eintlik is dit nogal jammer — dit was juis Dan Roodt wat my tot ’n groot mate gehelp het om my outydse liberale “bleeding-heart”-sentimente te ontmasker vir die kitsch wat dit was. Dit was ook Roodt wat my laat verstaan het dat ek nie hoef skaam te wees vir my eie kultuur, of vir die feit dat ek blank is nie.

Hierdie soort neo-Hitleriaanse denke is egter “the parting of the ways” vir ons. Die gemiddelde intelligente Afrikaner — en ek glo dis min of meer die groep wat ek in hierdie artikel verteenwoordig — sal nooit weer enigiets kan ernstig opneem wat hy kwytraak nie. Ek is redelik seker daarvan dat hy nou Steve Hofmeyr se volgehoue steun ook sal verloor, en daarmee saam die meeste van die aanhang wat hy geniet het onder die gewone mense, om nie te praat van die respek wat hy onlangs begin afdwing het onder intellektuele en selfs in internasionale publikasies soos The Spectator nie.

Watter onsin! Hierdie rubriek van Dan Roodt was waarlik ’n geval van virtuele selfmoord.

Terug na die era van Verwoerd kan en wil ons tog nie gaan nie. Al dra die tsotsi’s van ons stede by tot rassestereotipering en -persepsies by witmense, kan ’n “across the board”-tipering van ALLE swartmense net eenvoudig nie werk nie. Mens kan hulle tog nie almal in ’n boks sit en die deksel opsit nie! Verbeel jou, Madiba terug agter tralies! Verbeel jou, Vusi Mahlasela terug in die lokasie! Sou so ’n belaglike stelsel wêreldwyd toegepas word (want volgens Roodt is die gemiddelde I.K. van alle swartmense wêreldwyd glo 15 punte laer as die van witmense!), sou ons stellig nooit weer vir Ainslee — Ainslee met die pastelhemde en die welluidende stem — op die Can’t Cook Won’t Cook-program sien nie! Selfs Colin Powell, die enigste intelligente lid van Bush se administrasie, sou voortaan net die kantore van die Wit Huis moet uitvee.

Die pad waarop Roodt ons wou lei, is die pad van etnogesentreerde opstand.

Die ander pad, die pad wat ek wil aanbeveel, is die pad van burgerlike betrokkenheid deur alle verantwoordelike Suid-Afrikaners. Dis dieselfde praktiese stappe wat Flip Buys aan die hand doen vir die Afrikanervolk, maar dit sal moet wyer uitkring as net die Afrikaner voor dit op groot skaal effektief kan word. Ek sou graag wou sê dit is die pad van Tony Leon, maar ek wil nie hier partypolitiek praat nie, en die Demokratiese Alliansie het nog nooit my hart gesteel met hulle retoriek nie. Dis wel die roete waarmee ’n niepolitiese organisasie soos die Treatment Action Campaign klinkende suksesse behaal het. Dis terselfdertyd die pad wat aangedui is deur Gerrit Brand toe hy onlangs gepraat het van netwerke en kontakte tussen diverse groepe.

Nooit weer mag ons ’n politieke magstryd in Suid-Afrika voer met die blatante ondertone van ras alleen, met die lompe slagspreuk “Us and Them” nie. Afrikanerregte is belangrik, ja, maar ons regte is van nou af onherroeplik verwikkeld met die regte van alle ander minderheidsgroepe in die land. Selfs die sogenaamde “taalstryd”, as daar een is, is ’n issue wat ons deel met die bruines, en hulle is meer talryk as ons; hulle is die ruggraat van ons volk, wat hulle hulself ook al noem.

Tot nou toe het enige Afrikaner wat sy mond durf oopmaak om die ANC te kritiseer, homself dadelik die onnodige bagasie van etnisiteit op die hals gehaal. (Noudat Praag verdwyn het, sal dit dalk begin ophou.) Skaars kon Steve Hofmeyr sy sê sê by oom Paul se standbeeld of hy word verswelg deur die manne in kakie met hulle vierkleurvlag. Sulke optredes skep ’n totale wanindruk. In plaas daarvan dat dit dialoog aanwakker, polariseer dit mense, en versterk dit Mbeki se hand; want weer eens word die rassekaart gespeel, presies soos wat hy wil hê. En dan is dit, by implikasie, so maklik om die vinger te wys na die stupid whiteys.

Ek wil verder gaan as die etniese probleem en byvoeg dat die nuwe Struggle voorlopig nie ’n gewelddadige of selfs aggressiewe Struggle hoef te wees nie, maar eerder ’n lojale verset soos destyds deur NP van Wyk Louw. Hoekom lojaal? Wel, as die referendum wat De Klerk destyds laat uitroep het, reg geïnterpreteer word, wou die meeste blankes mos ’n meerderheidsregering hê. Dit was nie slegs die ideaal van ’n klomp mal lefties en gerookte Voëlvry-musikante nie. Die ouens is nou aan bewind omdat ons hulle basies uitgenooi het om aan bewind te wees. Die meeste van ons is in breë trekke lojaal aan die oorspronklike strewe van die Freedom Charter, of ons nou self ANC stem of nie. Ons glo in ’n Suid-Afrika waar ras onbelangrik is. Ons glo aan gelyke voorregte en regte. Ons glo aan siviele verantwoordelikheid. Ons hou alles hoog wat die regering hoog hou, en gaan selfs ’n stap verder, want ons werk prakties in daardie rigting. Elke polisieman wat ’n misdadiger vastrek, elke onderwyser wat vraestelle nasien — om die waarheid te sê, elke werklose wat kies om op te staan en ’n besigheid te begin of ’n werk te soek pleks van in te breek en te steel of te moor, werk in daardie rigting.

En hier lê die grootste ironie: deur so betrokke te raak, op watter klein manier ook al, dra ons tog by tot die ideaal waarvoor Thabo Mbeki vir altyd onthou sal word: die “African Renaissance”.

Deur lojaal druk uit te oefen op die regering en lojaal op praktiese vlak ons burgerregte met albei hande vas te gryp, ons stemme te laat hoor, ons teenwoordigheid in die land te laat geld, neem ons die eerste treë op ’n grondpaadjie wat eindelik ’n teerpad en later selfs ’n hoofweg kan word.

Ek weet die odds is teen ons om ooit ’n vreedsame naasbestaan hier te bewerkstellig, maar ek weet van geen ander werksmetode wat hoegenaamd ’n kans het nie.

Die Renaissance begin by ons, die mense op straatvlak. Dit is ons nuwe Struggle.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.