Koos se Spens - rubriek deur Koos KombuisArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

die plumbers

Koos A Kombuis

’n eksperimentele kortverhaal uit die dieptes van suburbia


dit het begin met ’n ligte ongemak in my lendene. niks ernstig nie, dit was skaars merkbaar, en tog was ek daarvan bewus op ’n subliminale vlak. ek moes toe geweet het daar kom kak. die nagmerries het eers later gekom, toe dit al te laat was, toe ons al gesukkel het om die toilet te laat flush. eers net die een toilet, later albei, en op die ou end het die bediende ook begin moan oor haar buite-toilet. die probleem was esoteries dog eenvoudig: elke keer as mens die handvatsel afdruk, dan vloei die water tot heel bo en bly ’n hele ruk daar. soms net minute lank, soms ure. as daar drolle of dergelike onsedelike voorwerpe in die water was, het dit natuurlik heel bo rondgedobber vir almal om te sien. ons sosiale lewe het daaronder gely.

waar was ek? o ja. die nagmerries. ek het gedroom van plumbers. duisende miljoene van hulle, in alle shapes en sizes. kort plumbers, lang plumbers, dik plumbers, maer plumbers, arm plumbers en ryk plumbers, plumbers wat betyds opdaag (dis hoe ek geweet het dis ’n droom) en plumbers wat nooit opdaag nie. plumbers in stasiewaens vol tools. plumbers met swart arbeiders byderhand om tools aan te gee. plumbers wat slof-slof loop deur my huis met hulle drade en pype en vuil skoene, hulleself tuis maak in my lounge, ogies maak vir my vrou, al my koffie opdrink terwyl hulle ingewikkelde kaarte bestudeer van die oorspronklike huisplanne. uiteindelik het ek besluit om my vrees te probeer oorwin en die saak met my vrou bespreek.

sal ons maar ’n plumber kry om te kom kyk na die toilette wat nie wil flush nie? het ek haar gevra, een aand oor aandete net na ’n heruitsending van friends. plumbers is duur, het sy gesê. ons is ryk, het ek gesê. sy het haar kop reghoekig agteroor geruk en gegmf: lyk my ek is toe glad nie met ’n handyman getroud nie, nè, gmf. een nul vir die plumber, het ek gedink, en ek het hom nog nie eers gebel nie.

die volgende oggend het ek wakker geword in ’n koue sweet, en met bewende hande die geel bladsye bestudeer oor my oggendkoffie. daar was verskeie plumbers gelys in ons distrik. hulle het almal selnommers gehad. almal het 24-uur-diens belowe. so this is how the other half lives, het ek gedink, en heeltemal arbitrêr een van die nommers geskakel.

dit was op die ou end ’n lang storie. ek sal julle nie verveel met al die byklanke en misplaaste afsprake, al die babas wat ek in die agtergrond hoor huil het, die beloftes en trane en die lang periodes van weersin en verset terwyl sy selfoon heeltemal afgeskakel was nie (24-uur-diens? se moer!), maar een goeie dag, toe ek al vergeet het dat daar dalk iets verkeerd is met my toilet, hoor ek die voordeurklokkie lui en hier staan hy voor my deur. my plumber. dit het gelyk asof hy gekom het om te bly, want agter hom in my driveway was ’n hele pickup truck vol van sy goed. ek het hom nie koffie aangebied nie, al was hy blank, want ek wou nie op ’n te familiêre noot wegspring nie. ek het hom deur die huis geneem, hom al my toilette gewys behalwe die bediende s’n, want dit was aan die buitekant en wie’s nou lus om al die pad soontoe te stap in die reën?

dis waarskynlik niks ernstig nie, het ek hom op die ou end gekwoteer, seker ’n job van so ’n paar uur, so skuins onder die driehonderd rand. seker, seker, het hy entoesiasties geknik, en my gevra om my mond wyd oop te maak en my tong uit te steek, wat ek toe ook gedoen het. hy het my tong bestudeer en dadelik na sy werksklong agter in die pickup truck geroep: jafta, bring daai maatband! hoe lank het jy al die simptome? het hy my gevra, terwyl sy selfoon lui en hy dit verskonend antwoord JA? LEK DIE DING NOG STEEDS? EK IS NET GOU OP ’n JOB HIER IN MORNINGSIDE!! JA, OP DIE LAASTE VYFUUR, EK SAL VIR MY MANNE Sê!!! terwyl ek verleë eenkant rondstaan en met my tong oor my tande voel. het hy agtergekom ek het nie vanoggend my tande geborsel nie? verstaan hy iets van die stel ensiklopedieë in my boekrak? het hy al ooit, ooit sy eie laptop besit? hoeveel geld maak plumbers werklik per uur as jy die petrol en selfoon-onkostes aftrek? ek sal môre weer ’n draai kom maak, het hy beweer. neem ’n aspirien elke vier ure en wikkel die lever so ’n bietjie as dit vassit.

die volgende dag was daar geen teken van hom nie, ook nie die dag daarna nie, en voor ek my kon kry, was dit naweek en daar pak al die toilette in die huis toe heeltemal op, dis net drolle wat ronddryf in elke spoelbak, later het hulle selfs in die kombuiswasbak hul verskyning gemaak as mens probeer skottelgoed was; is al die pype in ’n huis dan interconnected? my vrou was ietwat histeries, ek het vir haar probeer paai en sê dis net ’n kleinigheidjie, maar julle weet mos hoe’s vroumense, hulle wil nie daaraan herinner word dat suburbia aanvanklik ’n oerwoud was nie, die chaos mag nêrens intrude nie, ek mag byvoorbeeld nooit my stunning leerbaadjie met die blink goetertjies op dra wat ek in die east end gekoop het nie en paisley-pyjamas is verpligtend te alle tye. teen die sondagaand het ek die plumber se emergency-nommer gebel en ’n baie sinistere stem het geantwoord THE SUBSCRIBER YOU HAVE DIALLED et cetera. ons was letterlik met ons hande in die hare. geloofsekerheid was nie meer ’n opsie nie. as die buurt se vlieë eers hiervan hoor, het ek besef, is ons in ons moer.

toe, wonder bo wonder, lui die voordeurklokkie sewe-uur maandagoggend, en al swetsend storm ek soontoe en hier staan die plumber, MY EIE plumber, die een met wie ek al weke lank ’n soort virtuele verhouding het (amper soos internet-seks), in my driveway, sigaret in die mond, en hy sê: die probleem is ernstiger as wat ek gedink het. ONS SAL MOET OPEREER.

OPEREER? vra ek, bloed-histeries, OPEREER? jy kan ’n tweede opinie kry as jy wil, sê hy nonchalant en wys my sy beste profiel, maar OPEREER? vra ek. kyk, ons is al van vyfuur af hier, jou syhekkie was oop, toe kom ons maar in, OPEREER??? en hy wys my die gat in die grond waar die drein was waar vier baie vuil swart personeel sit met hulle hande kniediep in sulke verskriklike gaggarige water met drolle wat orals ronddryf, ons eie persoonlike drolle van voorverlede week ek sal hulle enige plek herken, OPEREER o ja ek sien ek verstaan maar sal dit baie kos? mmmmmm so ’n duisend rand sê hy, tensy dit kwaadaardig is. ditsem sê ek dapper, gaan maar voort, grawe die hele agterplaas oop as julle dan moet, what must be done must be done.

dit was die begin van ’n vreeslike gedoente. dit spyt my om hier te berig dat ons amper ’n soort van nuwe mode in ons buurt begin het. plumbers van heinde en verre het gehoor dat daar iewers onder my huis (en dalk ook onder die bure se huise) kwaadaardige pype rondlê ses of meer meter onder die grond waar die drolle sukkel om deur te kom. stukkend of platgedruk of wat ook al. planne is tot laat in die nag bestudeer, pickup trucks was die wêreld vol, ’n tentedorp het verrys, en die slote het deur almal se jaarts geloop, reg onderdeur my buurman agter onse olimpiese swembad (gelukkig was dit nie somer nie) en onderdeur die tannie oorkant die straat se patio. dit was ’n gegrawe en ’n gerondstaan van werkmense en elke paar minute het werklose swartes aan my deur kom klop om te hoor of ons painters of iets nodig het, my vrou is in die tuisland en busgeld soontoe is presies vier rand, verskeie sulke scenario’s wat ek graag na biskop tutu sou verwys het maar ongelukkig het hy prostaatprobleme.

soggens as ek werk toe gery het, het die stoom opgeslaan uit al die slote, en het ek traffic cops in rubber-oorpakke gesien traffic redirect, verskeie ompaaie moes geprakseer word in samewerking met die stadsraad, vir die eerste keer het die inwoners van morningside besef hoe voel dit om in ’n rampgeteisterde gebied te lewe soos die slagoffers op CNN. rampgeteisterd, inderdaad! aan die oorkant van die oop stuk grond waar kinders altyd smiddags krieket gespeel het, het twee huise een nag heeltemal in ’n sinkgat ingestort, inwoners en al, om nooit weer gesien te word nie. al die mense vermoedelik dood en permanent vermis, asook hulle honde en katte en alle ander lewende hawe in hulle besit.

benewens lewensverlies het die aktiwiteite van die plumbers darem ook geestelike verdieping gebring. as gevolg van die voortdurende getimmer en gegrawe en geklingel van pype en stellasies tot laat in die nag, het eggenotes minder met mekaar gesels (tv-kyk was natuurlik ook buite die kwessie) en so het hulle geleidelik hulle inner selves ontdek. hoewel my eie toilette beter begin spoel het en die drolvlak binnenshuis aansienlik gedaal het, was daar elke keer as ek die ketting getrek het ’n diep roggelende eggo wat my tot nadenke gestem het. met die geroggel van my eie toilet in my ore asook die eggo’s van soortgelyke roggelinge van duisende huise om my het ek snags op my grasperk gaan staan (die bietjie grasperk wat daar nog oor was) en opgekyk na die sterre, en ek het vir die eerste keer aan goeters gedink soos: IS DAAR PLUMBERS OP ANDER PLANETE? IS DIE SOGENAAMDE “KANALE” OP DIE OPPERVLAK VAN MARS NIE DALK DIE BEWYS VAN ’n ANTIEKE BESKAWING WAT TEEN HULLE SIN OMGEDOLWE IS DEUR PLUMBERS NIE? WAAR GAAN PLUMBERS HEEN AS HULLE STERF, DWS HET HULLE SIELE? in my wrewel — want ek kan nie ontken dat ek ietwat gebelgd gevoel het nie (my rekening was toe al ’n vyfsyfer-getal, volgens my eie plumber, en dit was sonder tax of man-ure ingereken, bloot die materiaal, plofstof en missiele en ondergrondse kameras en dies meer) het ek ook ’n paar lekker plumber-grappies uitgedink. soos byvoorbeeld: ’n BOER MAAK ’n PLAN, MAAR ’n PLUMBER MAAK ’n PYP. hahaha! ek kon nie wag om daai een vir my buurman oorkant die straat te gaan vertel nie. toe stap ek dus dadelik oor (moeilik om te balanseer op die scaffolding) en tref my buurman in sy motorhuis aan in ’n soortgelyke peinsende stemming as ek. hy staan by sy werkstafel, en voor hom is verskeie drolle (gedroog) van verskillende lengtes en vorme gerangskik. hy betrag hulle en meet hulle telkens met ’n maatband. hierdie drolle, deel hy my mee, is deur my en my gesin gelanseer in die ondergrondse tonnel-netwerk op verskillende datums. die eerste een (beduie hy) dateer uit die jaar 1945 (kort na ons wittebrood). kyk hoe ferm en stewig is hy vandag nog! ’n mens kan sien ek was toe nog ’n optimistiese jong man, jags en vol hoop vir die toekoms. hy kyk met waterige ogies na my. hierdie een, daarenteen, het ek tien jaar later uitgeskyt. let op die jaarringe, hoe naby hulle aan mekaar is. dit was ’n maer jaar. geleidelik ontwikkel daar dan ’n tendens, regdeur die vyftiger- en sestigerjare (wag, laat ek jou wys, ek het nog uitstallings in die scullery langsaan). wel, om ’n kort storie lank te maak (sê hy later die nag vir my, in sy sitkamer elkeen met ’n glasie brandewyn, die kinders slaap al en die getimmer van die nagskof is nie so erg soos die dagskof nie), dit laat my WONDER oor die SIN van my LEWE, jy weet, drolle kan nie lieg nie, en hier is die bewys nou, uitgegrawe en ontbloot en duidelik vir almal om te sien, EK IS ’n MISLUKKING, EK HET MY VIRILITEIT VERLOOR, EK KAK AF, en ek gaan HIERDIE FOKKIN PLUMBERS HOF TOE VAT AS HULLE NIE GOU KLAAR KRY NIE by the way werk jou kakhuise al? ja, maar hulle roggel, sê ek. dis die winde van verandering, sê my buurman dramaties, broer, dis die winde van verandering en niks sal ooit weer dieselfde wees nie.

’n paar dae later vertel my plumber my triomfantlik dat hy die probleem gekry het. dit was toe eintlik heel eenvoudig, sê hy (en sy oë glinster van passie vir sy werk). op ’n diepte van sowat vyfhonderd meter is daar ’n sekere laag in die aardkors waar daar met verloop van tyd ’n lugleegte ontstaan. hierdie lugleegte staan bekend as (hier het hy ’n latynse naam gebruik wat ek intussen vergeet het). ewenwel, hierdie (latynse) lugleegte is baie belangrik vir die ekologie, maar dit veroorsaak ook heelwat probleme vir ons moderne suburbs. dis byvoorbeeld die plek waar presies die helfte van alle onpaar sokkies heen verdwyn. die hele lugleegte is inderdaad vol vermiste voorwerpe: babas se dummies, honde se gunstelingbene, tweedehandse volkswagens, walkmans waarvan net die een draadjie werk, ossewaens wat dateer uit die groot trek, vermufte ou hooimiedens, gebruikte tandestokkies, en allerhande shit. gelukkig vir my kon hy al die vermiste voorwerpe wat hy in die area direk onder my huis uitgegrawe het, teen ’n geweldige wins verkoop aan ’n museum (want daar was verskeie waardevolle ou inka-artefakte ook by, onder andere ’n hele verlore stad, ’n bevrore dinosourus en die gebalsemde liggaam van christus) en die wins wat hy op hierdie goed gemaak het het hy afgetrek van sy rekening sodat ek hom op die ou end slegs vir die arbeid skuld. triomfantlik trek hy ’n lang stuk papier uit sy laptop se ingeboude printer uit, die stuk papier is regtig baie lank, seker so drie meter, vol items wat geweldig klein gedruk is daarop wat ek nie kan lees sonder my bril nie (in elk geval beantwoord dit my vraag of plumbers laptops het): PRESIES DRIE MILJOEN, en as jy kontant betaal gee ek jou een en ’n half persent afslag. probleem is, ek het hom betaal en alles (ek moes al my lewensversekeringspolisse aflos en ook geld leen by my skoonpa en al my verafgeleë familie, maar dis ’n hele lang storie wat ek anderdag sal vertel), en min of meer dieselfde ding het gelyktydig met my bure oraloor die buurt gebeur, toe ons weer sien is die plumbers een oggend almal weg, hulle het net ’n paar skopgrawe en leë whiskey-bottels en sigaretstompies en jogurt-houertjies en tyre-spore agtergelaat (behalwe natuurlik vir die stank, wat nooit sal weggaan nie). ewenwel, wat ek wou sê, ek het nog steeds die effense probleem met my toilet wat tot heel bo vol loop as ek hom flush en dan so bly vir ’n paar minute of ure. maar ek het besluit om liefs nie ’n tweede opinie te kry nie.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.