Koos se Spens - rubriek deur Koos KombuisArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

In die voetspore van Langenhoven

Koos A Kombuis

Waar lê ons roots as Afrikaanse mense werklik?

Dis ’n gedagte wat by my gespook het met die herlees van Kleinboer se allamintige sterk debuutroman, Kontrei. (Ek het die boek vantevore al gelees in manuskripvorm, maar dit was lank gelede, en ek wou die ervaring kry van ’n gebinde boek, ek wou die bladsye ruik, die netjies gedrukte en gebinde stuk prosa oopvou soos ’n pita of ’n poes.)

Goeie hel. Ek het laas so lekker gelees aan ’n boek toe ek nog op laerskool was en gesmul het aan jeugromans soos Trompie en Die Uile. Dit was boeke soos Trompie en Die Uile wat my my eerste liefde vir die taal besorg het. Dit was Kleinboer se Kontrei wat my herinner het daaraan hoe dit voel om lief te wees – verlief te wees – op ons taal, op hierdie flenter-kaalvoet-meidjie wat ons saam met die Hugenote en die matrose en die plaaslike koffiekleurige bevolking aan die suidpunt van Afrika verwek het.

Tereg skryf Kleinboer op bladsy 218, in ’n terloopse weggooisinnetjie (hy het die manier om die grootste wyshede kwyt te raak deur middel van terloopse weggooisinnetjies): “Afrikaans se hart is bruin.”

Die ironieë lê hier natuurlik so dik gesmeer soos die grondboontjiebotter en goue stroop wat ek op my brood geëet het toe ek tien jaar oud was.

In die eerste plek is dit byna heiligskennis dat ’n boek wat basies net oor hoereerdery handel, my aan jeughelde soos Trompie moet herinner. Daar is immers niks in die gegewe van Kontrei wat enige mens aan Trompie behoort te herinner nie. En tog. Dalk is hier iewers ’n moraliteitsles? Soos Topsy Smith se hoofkarakter is Kleinboer, die sagmoedige meidnaaier, “stout, maar nooit lelik stout nie”. Te midde van die vreeslikste vergrype behou hy sy weerloosheid. Soos ’n skoolseun in ’n verknorsing (onthou julle nog daai woord, verknorsing?) staar hy, figuurlik gesproke, na sy “ingeduikte skoenpunt”, pleeg hy selfondersoek, wonder hy oor sy eie magteloosheid in ’n gebroke wêreld.

Tweedens is daar die ironie van die uitgewer, Praag. Ek hou nie van Praag nie, en ek stem baie selde met Dan Roodt saam oor enigiets. En tog het hy hierdie manuskrip raakgesien en dit op vernuftige wyse gepubliseer en bemark. Iewers moet daar tog raakpunte wees as ons van dieselfde letterkunde hou. Ek verstaan dit nie, maar ek aanvaar dit soos ek die feit moet aanvaar dat verskillende Afrikaanse mense verskillende woorde het vir presies dieselfde ding: wat vir my “koffie” is, is vir iemand anders “boeretroos”.

Feit is, dit het gebeur. Kleinboer se Kontrei het eindelik verskyn in boekvorm, en die Afrikaanse kulturele werf sal nooit weer dieselfde kan wees nie. Die ou meetsnoere het op nuwe plekke geval, die grensdrade van die vaders is verskuif. Hierdie 237 bladsye, met die roomwit omslag en die netjiese Times New Roman-lettertipe, het die literêre bewussyn van ons volkie onherroeplik verander.

So radikaal is die breuk met die verlede dat niemand eens sover kon asemskep om te dink aan ’n naam vir die nuwe beweging nie. Ek loop net die heel tyd rond en probeer ’n titel uitpluis vir die eerste vertaling (want dat die boek op die ou end ook in Engels, Frans, en ander tale uitgereik sal moet word, is ’n uitgemaakte saak). (Die enigste Engelse titel wat nog by my opgekom het, was Naai, the Beloved Country.)

Dan is daar die derde ironie, die diepste ironie van almal, en een wat tot dusver slegs deur André Brink raakgesien is in sy INSIG-resensie.

    Dit is die ironie van Kleinboer se behoudendheid (weer eens ’n geval van “stout, maar nooit lelik stout nie”). Hoe weird en hoe aweregs hierdie skrywer se bordeelbestaan ook al mag lyk met die eerste oogopslag, sit Kleinboer, die karakter in sy eie fiksie (ek noem dit “fiksie” in die sin van vervreemding, nie van onwaarheid nie), eindelik met presies dieselfde stel paradokse en hang-ups van alle gelukkig- (of ongelukkig-) getroude mans van Brakpan tot in Bellville: hy moet geld uithaal om skoolklere vir sy kind te koop, hy moet sy tuin en erf netjies hou, hy moet ’n balans kry in sy verhouding met sy vrou, hy moet die donker en ongekarteerde landskap van middeljarigheid leer verstaan, verken, en eindelik oorwin, of as dit nie oorwin kan word nie, dit aanvaar. Dis ’n lot wat niemand gespaar word nie, selfs nie die mees alternatiewes onder ons nie! Op hierdie vermoeiende pad kan die terapie van woorde ’n ware lewensredder word, vir sowel skrywer as leser.

Die ironieë eers ter syde gestel, wat het ons aan Kontrei? Wat leer ons vandag uit hierdie vertelling? Waarom het dit die verbeelding van die volk so aangegryp? Wanneer laas is ’n nuwe Afrikaanse boek selfs op Voorblad bespreek of bekendgestel in ’n koerant soos Son? Hoe het dit gebeur dat ’n stuk prosa wat vroeër summier verbied sou geword het, ’n werk wat inderdaad reeds deur al die belanghebbende uitgewers in Afrikaans afgekeur is voor dit deur Praag aanvaar is, die fondament, die baken, die nuwe maatstaf geword het van alles wat nog sal volg?

As Triomf deur Marlene van Niekerk en Eilande deur Dan Sleigh die Groot Afrikaanse Romans van (en oor) die verlede was, is Kontrei sekerlik die Klein Afrikaanse Roman van die hede en die toekoms. (En dalk, as ons Kleinboer se subtiele gespog oor die afmetings van sy eie orgaan moet glo, dalk nie so klein nie.)

Een ding staan wel soos ’n paal bo water: hierdie 237 bladsye het die Afrikaanse volk wakker geklap uit sy lang winterslaap. Hierdie boek het selfs ons akademici daaraan herinner dat literêre waarde nie net afhang van struktuur en kruisverwysings en slimmighede nie, maar dat ’n werklik goeie boek eerstens ’n ontginning van die skrywer en leser se gedeelde omgewing moet wees.

Kontrei is, bo alles, herkenning. Skielik, vir die eerste keer in dekades, is landskapbeskrywings weer belangrik!

In daardie opsig volg hierdie skrywer in die voetspore, indien nie van die veelgeroemde Dertigers, Sestigers of selfs Tagtigers nie, maar van al die groot volksrealiste van die verre verlede, soos PJ Schoeman, Mikro, Sangiro, FA Venter en CJ Langenhoven.

LitNet: 23 Februarie 2004

E-pos: kombuis@new.co.za

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.