Koos se Spens - rubriek deur Koos KombuisArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

You will always find me in the kitchen at parties

Koos Kombuis praat oor sy bedanking as "Afrikaner"

Die afgelope week of twee is ek oorval deur eposse van gelukwensing en aanmoediging. Van oor die hele wêreld het Afrikaanse mense gehoor van my "bedanking uit Afrikanerdom". Baie, baie dankie vir julle gedagtes en gedeelde ondervindinge.

Daar was ook stemme teen my besluit. Vir sommige was die blote idee van "Afrikaner-versus-Afrikaanse" bloot window-dressing, en triviaal. Ander ouens het my bedanking bitterlik ernstig opgeneem, asof dit 'n persoonlike aanval op hulle is. Ek moes letterlik koes, want hierdie ouens het hard probeer om my vuil te smeer met hulle uitskeidings en vooroordele. Vir hulle is ek die verpersoonliking van alles wat verkeerd is met die wêreld buite hul eie longdrop.

Hierdie is die soort ouens teen wie ek en my vriende al jare lank baklei. Daar was 'n tyd, tot onlangs, dat ek onder die wanindruk verkeer het dat hulle uitgesterf het; dat hulle, saam met hul eksentrieke ideologie, intussen tot ander insigte gekom het of die land verlaat het saam met die bruin-drein (kan 'n mens dit in hierdie geval 'n BREIN-drein noem?).

Sedert demokrasie was daar brawe pogings om die Afrikaner as volk te demitologiseer, om hom te help om van sy bagasie ontslae te raak, om 'n broodnodige skeiding daar te stel tussen taal, ras en kultuur.

Nou krabbel die gemiddelde Afrikaner weer terug na sy vorige posisie. Die meeste mense bo veertig is presies terug in die ou "comfort zone" van hul ouers en voorvaders. Selfs enkeles van die jonges verkeer onder die illusie dat hulle hul "volk" dien deur mense van ander kulture fisies te vertrap en seer te maak.

Wat het geword van ons humorsin? Ons gevoel vir perspektief? Ons menslikheid?

Waarom is ek in elk geval besig om myself te verdedig teen sulke idiote? Waarom is ek nie besig om 'n akademiese rubriek oor 'n intelligente onderwerp te skryf nie?

Omdat hierdie een van die dringendste vraagstukke van ons tyd is. Die terugkrabbel van die Afrikanervolk na sy laer toe is ten minste so 'n ernstige krisis as die miskenning van die MI-virus deur Thabo Mbeki, die gebrek aan behuising, of die werkloosheidsyfer. Dit beteken dat alles waarvoor ons gewerk het, waarna ons gestreef het, en wat ons probeer bereik het die afgelope dekade of twee, vergeefs is. Dit beteken ons kan net so wel vir PW Botha gaan haal daar op sy verbitterde plaas, die Nasionale Party laat opstaan uit die dood en weer begin veg vir … wat?

Baie van ons wat teen die vorige regering geveg het, is ook vandag van die grootste kritici van die Mbeki-regering. Dit is te verstane, want die nuwe regering maak amper net soveel foute soos die oue. Daar is verskriklike dinge verkeerd in 'n land waar die onafhanklikheid van die regbank, die outonomie van sportliggame en die objektiwiteit van die uitsaaikorporasie geleidelik weggekalwe word.

Maar met alles wat verkeerd loop in die land en op regeringsvlak, is dit maklik om te vergeet dat die nuwe geslag regeerders ook heelwat dinge reg gedoen het. Hul prestasielys is, glo dit as julle wil, langer as hul lys flaters en sondes.

Dink maar aan klein dingetjies soos die gedwonge skeiding in restaurante tussen rokers en nierokers. Dink aan die gedagte dat Afrikaanse kinders ook nou Xhosa moet leer. Dink aan die groter persvryheid, die lekker nuwe TV-programme. Dink aan die sekularisering van godsdiensonderrig op skool. Vir elke misdaad teen kinders of plaasmoord wat onopgelos bly, word daar 'n verkragter of hijacker gevang. Mbeki het 'n dringende veldtog teen korrupsie geloods. Zuma is afgedank. Sou hierdie dinge in enige ander Afrika-staat gebeur het? Sou dit in die Ou Suid-Afrika gebeur het?

Nogtans is dit vir my moeilik om deesdae deur die land te reis en met Afrikaanse mense te praat sonder om weer en weer te besef: die ouens wil terug. Mense is meer rassisties, openlik rassisties, as ooit tevore. Daar is groot drukgroepe wat taal, kerk en ras onder dieselfde motgevrete sambreel wil terugforseer.

Dis onder hierdie omstandighede dat ek voorverlede week besluit het om te "bedank" uit die Afrikanerdom. Soos Sakkie Spangenberg en die NG Kerk, het ek tot die besef gekom dat ek nie langer kan voorgee om die struktuur van binne af te verander nie. Daar is fout met die struktuur self.

Maar, hier is die grap: die struktuur is, per se, 'n lugkasteel. Deur "Afrikanerdom" vir myself te dekonstrueer, is ek nie in werklikheid besig om enigiets af te breek nie. Die seuntjie wat uitgeroep het: "Haai, die keiser is kaal!" was nie die een wat skuldig was aan die keiser se naaktheid nie. Hy het bloot dit verwoord wat al die ander te bang was om hardop te sê.

Die konsep Afrikanerdom is 'n illusie, 'n lugballon, en dit het geen werklike betekenis nie. Dis nie eens iets wat van altyd af saam met ons gegroei het nie. Die leiers van die Groot Trek en die generaals van die Boere-oorloë was te besig met hul dagtaak om nog tyd te maak om abstrakte konstruksies te skep. "Afrikanerdom" as religie, of as bevrydingsteologie, is eers werklik uitgedink deur die burokrate en ontwerpers van Apartheid, die Malans en die Strydoms; vals leiers met melkerige oë en slap handjies wat ons mense uitgelei het uit die Beloofde Land terug Egipte toe. In die vroeë twintigste eeu, en tot en met kort na die helfte van die eeu, was Afrikaanse mense bekend en berug daarvoor dat hulle, veel beter nog as vandag se swartes, hulleself kon ophef en kon woeker en werk en bou. As gevolg van hulle entrepreneurskap het Suid-Afrika vandag 'n gesonde infrastruktuur met goeie paaie en spoorweë, effektiewe myne, en knap universiteite en sterk sake-organisasies. Wyle Anton Rupert was een van die laaste groot reuse van daardie geslag, van die kerngroepie ware leiers wat met die beste bedoelings ter wêreld destyds die Broederbond begin het sodat ons mense mekaar kan help om hulleself te help.

Hierdie mense het met praktiese en konkrete werklikhede gewerk. Die oorkoepelende ideologie, die "Grand Design", die afgod, is egter deur die politici uitgedink, en het geleidelik gegroei en vermeerder in al sy omvang tot 'n reusagtige gewas, met al sy tentakels soos ons dit vandag ken. Binne enkele dekades het "Afrikanerskap" sy potensiële positiewe konnotasies verloor en het dit 'n siekte geword. En met die kieme van hierdie siekte is elke jong skool- en kerkgaande blanke Afrikaanse kind ingespuit. Teen die einde van die Botha-regime was ons 'n nasie van invalides, van swakkerds, van lui staatsamptenare, korrupte predikante, onetiese polisiehoofde en oorgewig politici. Ons was, om nou eerlik te wees, presies dit wat die ANC besig is om te word as hulle nie vinnig wakker geskud gaan word deur 'n kragtige opposisie nie.

Om Afrikaans te wees, voor die Nasionale Party, was nie dieselfde as wat dit deesdae is nie. Ons was eintlik nog nie werklik 'n "volk" nie. Ons was 'n groep individue. Daar was eksentrieke korrelkoppe onder ons, mal kunstenaars, en daar was manne van durf en daad wat nie kon wag om die landskap agter die voorste einder te gaan verken nie. Die son was op hulle gesigte en die horison in hulle oë.

Die eerste keer toe dit nodig was om saam laer te trek, die eerste keer toe omstandighede so 'n wedstrydplan genoodsaak het, het hulle dit teen hul sin gedoen. Dit het geweldige oorreding gekos om die klomp losloop-trekkers in Natal te oorreed om terug te keer kamp toe en hulle ossewaens in 'n kring te trek. Tog het hulle met geloof en durf oorwin. Op daardie dag het die eerste en laaste ware Totale Aanslag teen ons geëindig. Die wedstrydplan was suksesvol. Want dit was daardie soort oorlog. Dit was die een game wat ons slegs met 'n skoppende losskakel en 'n negatiewe, behoudende spelpatroon kon wen.

Hoekom steek ons die afgelope veertig jaar weer van voor af vas in daardie negatiewe spelpatroon?

Hoewel vandag se omstandighede 'n groter en meer omvattende taktiek vereis, hoewel die veld nou weer gelyk is vir goeie hardlooprugby en pragtige agterlynbewegings, val ons telkens terug op die taktiek van Bloedrivier. Die laer het ons mandala geword, ons tronk, ons huis sonder vensters, ons paranoia, ons enigste denkbare oorlewingsmeganisme, ons verwronge en krampagtige godsdiens.

Eenvoudig omdat die Nasionale regeerders besluit het om hierdie enkele simbool - die laer - vir alle tyd en ewigheid in te ets in ons en ons kinders se bewussyne, is ons musclebound en dom, en het ons geen idee hoe om te reageer op veranderende omstandighede nie. Ons bekak onsself as ons 'n enkele Afrikaanse woord verloor ten gunste van 'n tydelik meer bruikbare Engelse leenwoord, asof ons hele taal enige oomblik in die badgaatjie gaan verdwyn. Ons is lui om die mense wat saam met ons die land deel, te leer ken, wat nog te sê hulle help met dit wat hulle probeer doen sonder enige vorige ondervinding of kennis: 'n moderne Eerste Wêreld-moondheid soos die Nuwe Suid-Afrika regeer.

Wanneer 'n rugby- of krieketspan wanpresteer omdat hulle vassteek by een wedstrydplan, fire ons die kaptein of die afrigter. Ons is baie haastig om vingers te wys na Nick Mallett, Harry Viljoen en Graeme Smith. Nou waarom, o waarom, het ons so lank vasgeklou aan die Bothas en die Verwoerds? En waarom wil die mense aanhoudend terugfoeter in daardie donker verlede in?

Hierdie politici was vals profete wat ons vir veertig jaar lank in die woestyn laat verdwaal het. As dit nie vir hulle was nie, het die Nuwe Suid-Afrika dalk al in die vroeë neëntien-vyftigs begin en was dit nooit nodig vir Nelson Mandela om tronk toe te gaan of vir Biko om doodgemartel te word nie. Dit sou natuurlik ook nie nodig gewees het vir my en Ralph en Dirk-hulle om so vreeslik te vloek en te suip op die Voëlvry-toer nie. Maar nou ja, dis Tassies onder die brug.

Wat op die ou end sin maak, vir my en baie ander wat soos ek voel, is om eerder ons bande met hierdie nuttelose en onpraktiese, hierdie sinteties-vervaardigde volksidentiteit te verbreek. Ons wil ons huise liewer op rots bou as in die wolke. Ons wil onsself uitplant uit die potplantjies wat al so lank in die volk se voorkamer uitgestal staan - die spesies met die naam Africanus Alternativus - en ons hervestig buite in die tuin. Ons wil uitstap uit die stroewe en korrekte sitkamer en eerder 'n bier gaan oopknak op die agterstoep of in die kombuis.

Die een wonderlike voordeel wat hierdie denksprong vir mense soos ek inhou, is, paradoksaal genoeg, dat ons van nou af minder luidrugtig uitgesproke en krities kan wees teenoor ou Afrikaners. Wat hulle dink en doen, gaan ons nie meer so erg aan nie, want in die kombuis lawaai dit so dat mens nie mooi kan hoor wat alles in die sitkamer bespreek word nie. En wat maak dit saak? Ons hoef ook nie 'n veldtog van stapel te stuur om die ouens in die sitkamer te probeer oorreed om ons partytjie te join nie. Hulle kan bly waar hulle is. Dis immers hoe demokrasie werk. You will always find me in the kitchen at parties.

In 'n sin was ek en baie van my vriende in elk geval nog altyd 'n groep mense wat moeilik inpas by enige idee van "tribe". Ons is nie sommer maklike team players nie. Ek lees met 'n knop in my keel in Nelson Mandela se outobiografie Long Walk to Freedom hoe hy as jong Xhosa geïnisieer is in sy stam met besnydenis en gedwonge afsondering. Vir hom was dit 'n ryk ervaring wat die grens gespan het tussen kind wees en man word. Maar terwyl ek lees, weet ek voor my siel dat ek so 'n ervaring sou gehaat het. Om 'n week of langer rond te loop in die bosse met 'n klomp taai wit verf oor jou hele lyf! Nee, sies. Op daai ouderdom sou ek eerder by die huis wou bly en popmusiek oor die radio luister.

Deur dit te sê wil ek nie voorgee ek dink die Xhosa-inisiasie-seremonie is waardeloos nie. Sommige mense het rituele nodig. Maar waar daar hoegenaamd 'n keuse moontlik is, sal ek amper altyd kies vir die spontaneïteit van selfekspressie eerder as die dwingelandy van rituele. Dis my geaardheid. Dis wat die lewe my gemaak het. Mense soos ek is post-tribal. Ons is die uitgespoeldes. Ons is, aan die een kant, hipermodern - demokrasie sukkel in elk geval om te floreer in lande waar daar te min gedetribaliseerde stemgeregtigdes is - maar aan die ander kant is ons (en hier is die grootste paradoks van almal) nader aan ons oervoorvaders van die Groot Trek en die Boere-oorlog as wat ons ooit sal wees aan ons politieke en kulturele voogde van die afgelope veertig jaar.

So wat is ons dan, as ons nie meer "Afrikaners" wil wees nie? Bloot "Afrikaanses"? Boere? Ja, maar ons het nie meer plase nie. Net mense? Dit maak seker nie saak nie. Enige ander term sal help, solank ons onsself kan vestig op 'n respekvolle afstand van die tradisionaliste en behoudendes, solank ons 'n plot kan kry waar die jêmwa nie meer snags stop nie, iewers met 'n up-to-date-rioolstelsel, 'n plek waar daai ouens nie meer voel hulle moet op ons koppe kak nie. 'n Ruimte anderkant, pleks van onderkant, die spreekwoordelike longdrop.

Ons is nie meer 'n volk nie.

Ons is 'n nasie van enkelinge en alleenlopers.

Ons is nie meer Afrikaners nie.

Ons is Piet, Jannie, Koos, Gert, Klaas, Colin, Themba, John, Arrie, Joshua, Helen, Fatima, Basie, Klasie, Veronica, Miriam, Moses en Sipho.

Ons is die mense in die kombuis.

(Artikel effe verkort)




LitNet: 24 Januarie 2006

Wil jy reageer op hierdie opiniestuk? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.