Koos se Spens - rubriek deur Koos KombuisArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Hoekom blaf daai honne voor die hekke van paradise?

Koos A Kombuis

Reg geraai! Bostaande aanhaling is nie my eie nie, dit kom uit ’n song van David Kramer. Ek kan die song se naam nie onthou nie, maar ek weet dit was ’n tweetalige song, en ek dink dit kom van die plaat Delicious Monster.

Anyway, daai song draai nou al geruime tyd deur my kop. Om die waarheid te sê, daai song versinnebeeld vir my baie van die dinge wat tans verkeerd loop in ons land (en sommer op die hele fokken aarde).

Tereg sê Ferdi nou die aand in daai lekker program “Ferdi Gee Gas” dat ons in Suid-Afrika as ‘t ware “die hele wëreld in een land” het. Dis waar! Ons het ’n gevarieerde klimaat. Ons het woestyne en savannes, reënwoude en plato’s, reusagtige stede en pikante dorpies. Ons het mensekrag (ek verkies die woord mensekrag bo mannekrag), en tog is ons nie oorbevolk soos soveel ander plekke nie. Ons het nie regtig ’n geldige verskoning om so misrabel te wees nie. Ons het die natuurlike hulpbronne en die skoonheid om vir die res van die planeet ’n wonderlike inspirasie te wees — en so nou en dan lewer ons enkelinge soos Madiba, David Kramer of Mark Shuttleworth wat dit vir ’n wyle regkry — maar oor die algemeen gaan dit hier maar net so beroerd soos in party van die ergste hole oorsee.

Ons woon in ’n paradys, maar daar is oral honde wat blaf, en byt, en knor, en honger ronddwaal deur die stegies van ons stede en townships.

Ons wat hier is omdat ons geveg het vir ’n Nuwe Suid-Afrika — ons ly aan ’n soort bipolariteit. Die een oomblik wen die Bokke, en dan voel ons meer positief. Die volgende oomblik word ons kar gehijack, of iemand wat ons ken word aangerand op ’n plaas, en dan tref die wanhoop mens weer tussen die oë.

Hoeveel keer, vra ek myself af, moet ’n ou tussen die oë getref word voordat jy vuisvoos is en moed opgee? Hoe lank gaan die blerrie honde nog bly blaf by die hekke van Paradise?

Overgezet synde: hoe lank moet ons nog ons dues betaal voordat ons kan ingaan deur die tolhek van die Lank Beloofde Land?

G’n wonder party ouens wat gekant was teen die NP is deesdae so anti-swart-bemagtiging dat hulle klink of hulle voor sing in die koor van neorassisme nie.

Vir die neorassiste — en party van hulle gaan so ver as om te erken dat hulle neorassiste is — het ek empatie. Dinge is in hierdie tyd en dae nie meer so simplisties verduidelikbaar dat jy sulke ouens kan weglag nie. Dit het my lank geneem, en ek verskil nog steeds heftig van hom, maar deesdae spits ek my ore as Dan Roodt ’n statement maak. Waar hy nou is, is die res van blanke Suid-Afrika dalk môre. Nie ’n lekker gedagte nie, en dalk ’n resep vir die grootste katastrofe wat ons subkontinent nog sou getref het, maar ek moet dit sê, ek kan dit nie help nie: ek deel liewer ’n “Big Brother”-huis met Dan Roodt as met Robert Mugabe. Eersgenoemde is ’n opponent, en vir opponente kan mens respek hê. Laasgenoemde is ’n Doos deur en deur. Met Mugabe kan jy nie ’n argument voer nie. As jy probeer, sal jy so nooit as te nimmer wen nie.

Ek is moeg vir Dose, van watter kleur ook al. Ek is moeg vir mense wat babas verkrag. Ek is moeg vir minibus-bestuurders wat ander se lewens in hul eie hande neem. Ek is moeg vir verraaiers en oorlopers en geweldenaars en mense wat drugs aan kinders verkoop en almal wat besig is om hierdie land tot in die afgrond af te trek. En, gepraat van hulle, ja, ek is moeg van Big Brother II ook, nie soseer op morele gronde nie, maar omdat dit die boringste TV show is wat ek nog in my hele lewe gesien het, en dit mors triljoene man-ure — sorry, mens-ure — elke week. Dit klink dalk vreemd, coming from me, maar hierdie kak strike die fan nou juis op presies dieselfde oomblik dat ons ’n bietjie kan doen met ’n inspuiting van die goeie ou Protestantse werk-etiek. Ek bedoel, Here mense, die soccer world cup is mos nou verby, en dit was wragtig interessanter as Mandy of wat is haar naam ook al se slap tiete. Wat sê Mark Shuttleworth juis nou die dag? “Afrika het nie ’n tekort aan geld nie, Afrika het ’n tekort aan energie.” En minder tiete en Dose, as jy my vra.

En waar is Thabo? O, sure, miskien moet ek my siening van Thabo so ’n bietjie wysig. ’n Ruk gelede het ek beweer hy is net soos die ou Nattes, ’n anagram vir Botha. Dis dalk tyd om ’n meer akkurate waarde-oordeel te vel. Die ou het immers vrede help bewerkstellig in die Kongo en sure, hy praat baie mooi Engels, al snuif hy net so aanhoudend soos Guns ’n Roses tydens hulle laaste interview en al verstaan mens dikwels nie ’n woord wat hy sê nie, al praat hy ook Engels. Dalk was ek nietemin verkeerd om Thabo met PW Botha te vergelyk. After all, PW Botha was ’n diktator, en Thabo is net ’n staatsman van ongelyke kwaliteit. Boonop is Thabo ’n groter idealis as wat PW ooit was. Miskien moet ek arme Thabo eerder vergelyk met Jan Smuts.

Dit kan Thabo se uiteinde wees, glo my, en ek sien nie uit na die dag dat dit gebeur nie. Want ons eie liewe Jan Smuts was, net soos Thabo, ’n wonderlike denker en filosoof. Hy het net sulke grand visions gehad soos Thabo met sy African Renaissance. Hy het boeke geskryf oor holisme terwyl hy rondgerits het oorsee en heeltemal vergeet het van sy eie mense hier ter plaatse. Totdat hy uitgestem is deur ’n klomp takhare by name die Nasionale Party. Dieselfde kan hier gebeur. En die takhare gaan nie Tony Leon en sy polaait Engelse Demokrate wees nie. Die takhare gaan die SAKP en Cosatu wees ...

En die dag as dit gebeur, gaan die honde ophou blaf en begin byt. Die dag as dit gebeur, kan ons maar die drome van ’n lekker jolige Nuwe Suid-Afrika op ons mae skryf.

Ek word wakker snags, en ek slaan uit in ’n koue sweet, want ek sien visioene van ’n verkiesingsoorwinning deur hierdie klomp nuttelose dromers. Ek sien ’n Suid-Afrika waar die vryemarkstelsel nie meer bestaan nie, ’n land waar jy nie op die foon kan spring en OUTsurance kan bel as Santam jou afpis nie. Ek sien vergesigte van Nelson Mandela wat sterf en ons agterlaat sonder drome om in te glo, sonder die ideaal van versoening en samewerking. Ek sien ’n wilde, leë Suid-Afrika waar die dwingelandy van geveinsde antirassisme van die neo-Thabo’s die plek ingeneem het van die gewone nierassisme van Madiba. Ek word wakker snags en ek hoor die honde huil in die squatterskampe enkele kilometers van my suburb-huis af, daar waar die ANC tot nou toe nog nie huise vir sy mense gebou het nie, al belowe hulle dit al so lank, en dan wonder ek of ons moet moed opgee en alles weggooi wat ons tot dusver reggekry het, al die prestasies, al die goue medaljes, al die klein deurbrake en heldedade, al die wonderlike nuwe volksfeeste, die KKNK’s en die Aardkloppe en die nice nuwe musiek en die brawe rymelary van die Brasse van die Kaap en die lekker local klanke van tientalle kunstenaars en duisende mense wat net ’n goeie tyd wil hê ...

Thabo mag ’n probleem wees vir baie mense. Maar hy is pure roomys teenoor die gemors wat op ons wag as die verkeerde mense hom uitstem. Hy is ons troetel-foksterriër, ons mik ’n skop na hom elke keer as die rand ’n entjie sak of as nog ’n AIDS-aktivis die emmer skop. Hy is ’n handige scapegoat om te hê. Maar hy bly ’n foksterriër. Hy kan maar net blaf en raas. Iewers, agter die draad, hoor ek die geknor van Dobermanns. En ek bekak my. Want ek is lief vir hierdie land en al sy mense, en ek wil nie hê die honde moet oorneem nie. Ek wil nie hê dat die donker ons moet inhaal soos wat reeds in soveel ander Afrika-lande gebeur het nie.

Hoekom blaf daai honne? En wie se donderse honne is dit anyway?

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.