Koos se Spens - rubriek deur Koos KombuisArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Dis hemels in die platteland!

‘n Kort verslag van die naweek se fees op Clanwilliam

Koos Kombuis

Mense wat al daar gewoon het, vertel vir my soms dat “buite seisoen”, wanneer die jaarlikse kunstefees nie aan die gang is nie, die dorpie Clanwilliam, soos die meeste ander plattelandse dorpe, ook maar sy klein vetetjies, sy dosis snobisme en sy kwota verveling het.

Ek is bly oor hierdie korrektiewe gedagte, want vir my is die jaarlikse Clanwilliam-fees ‘n lafenis vir die siel; so ‘n heerlike ondervinding dat ek al begin dink het Clanwilliam is die hemel.

Mens kan maklik so ‘n fout maak. Sing Fokofpolisiekar nie tereg dat “die hemel iewers in die platteland” is nie? Maar helaas, as Clanwilliam die hemel was, sou oom Tolla nog daar gewoon het.

Nietemin is die Sederbergfees altyd – en was dit vanjaar, meer as ooit tevore – een van die hoogtepunte van my jaar.

Ag, mens sou seker kon kla as jy regtig wil kla. In die venue waar ek konsert gehou het, was die backstage-area veels te ver van die verhoog af. Ouens wat op die rock stage gespeel het, was ongelukkig omdat die monitors vol feedback was. Die enigste twee goeie eetplekke op die dorp is soms so vol dat mens nie sitplek kan kry nie. Maar wat de hel, kyk na die pluspunte! Ten minste is daar goeie eetplekke – ja, Reinholdts is sekerlik een van die beste restaurante in die hele land! En die goeie gees en oop harte van die mense maak meer as op vir die enkele tegniese en logistieke probleme.

Wonderlikste van alles, ja, selfs wonderliker as die puik musiek, die interessante boekbesprekings, die stalletjies, die donkiekar-ritte vir kinders, en die heerlike klimaat en outydse gasvryheid van die hotel, is die gesonde rasseverhoudinge op die dorp tussen wit en bruin.

Die bruin gemeenskap is waarlik deel van die fees, ten spyte van die feit dat die meeste van hulle nie werklik kan bekostig om kaartjies te koop vir die konserte wat ‘n toegangsfooi vereis nie. Sonder tierlantyntjies en vol bekkigheid vul hierdie deel van die Afrikaanse gemeenskap die hoofstraat, knoop gesprekke aan, neem deel aan alles en nog wat. My kinders speel met hulle kinders. Hier en daar is daar ‘n ou dronkie wat skeef-skeef rondval – soggens al onder die bruines, later die aand ook ‘n klompie wittes – en mens kan sien dat, indien hierdie fees ooit so groot sou groei soos die KKNK, dit ‘n irritasie en selfs ‘n besprekingspunt sou kon word – maar sover is dit nog op die vlak van comic relief.

‘n Naweek by Clanwilliam se fees het altyd dieselfde effek op my. Dit bring my, stadsmens, terug na my plattelandse roots. Dit bring my, kosmopolitiese siel, ook terug na daardie deel van my wat slegs Afrikaans is. Daardie deel wat ek nooit wil vergeet nie, al handhaaf ek in my normale bestaan baie vriendskappe en vriendelike werksverhoudings met anderstaliges. Wanneer ek in Clanwilliam is, vergeet ek vir twee dae lank van Darrel Bristow-Bovey (daar sal later weer tyd en geleentheid wees om sy werk te lees en te geniet). Wanneer ek in Clanwilliam is, vergeet ek die paranoia van CNN en die treurmares van ons rugbyspanne. Ek skud die stof van die wêreld (no pun intended, Maryna) van my af, en krul-krul weer my tone in die grond en die modder en die saagsels van my eie mense. En, hel, dis lekker.

Op pad terug, in die motor, ry ek op ‘n Sondag verby die sokkerveld van Kaya Mandi, waar skares swart mense hulle terdeë geniet, en ek kry weer hoop vir ons land en al sy mense, en ek onthou dat ek, ten spyte van al my en my vriende se skok-ervarings met misdaad en diefstal en korrupsie, dit steeds kan regkry om sonder vooroordeel na alle Suid-Afrikaners te kyk en altyd die beste van hulle te verwag.

Ek is weer reg vir alles wat op my wag in die stad, want ek was die naweek in Clanwilliam. Ek is weer gewortel in myself, my taal, my musiek, en my mens-wees. Ek kan, tussen al die uitlaatgasse, nog steeds die lemoenboorde ruik.

Dankie, julle, ek sien julle weer volgende jaar.



LitNet: 6 Mei 2005

Wil jy reageer op hierdie rubriek? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.