Koos se Spens - rubriek deur Koos KombuisArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die gastehuis in die hel

Koos A Kombuis


Toe ek die oranje-blanje-blou kantgordyntjies in die kakhuis sien, moes ek geweet het.

Ek moes geweet het, maar ek het nie geregistreer nie. Nie eers die name van die kamers — Bet-El, Sparrow, Olive, ensovoorts — het vir my enige leidraad ingehou nie. Geen gevoel van onheil het hom van my meester gemaak nie.

Ek is ’n van nature vertrouende persoon. Ek het nog baie selde in my lewe slegte ervarings gehad in gastehuise. Goed, daar was die gastehuis in Potchefstroom wat veroorsaak het dat my vrou tot vandag nie haar voet by die Aardklopfees wil sit nie. En daar was die keer toe ons uitgegooi is by ’n B+B in Cambridge, Engeland, maar dit was ons eie skuld.

Hierdie saak staan anders. Ons is hier ingeboek in The Resting Place in Scholtzstraat, Bloemfontein — ’n gastehuis wat vir ons aanbeveel is deur die Bloemfonteinse feeskomitee self — maar dit lyk glad nie soos die prentjie op die Internet wat ons bestudeer het nie. In plaas van groen grasperke is hier net stof, grond en gruisklippertjies. In die gelamineerde verwelkomingstraktaatjie lees ons “Skakel Ontvangs as daar enige probleme is” — maar daar is geen telefone in enige van die twee kamers wat ek en my gesin bespreek het nie.

Die eerste aand, nadat ons uitgepak het, stuur my vrou my al na Reception toe, ’n honderd meter of wat weg in ’n naburige gebou. “Gaan sê vir hulle hier’s nie M-Net nie, en Egoli begin oor ’n halfuur,” beveel sy. Ek het ’n agenda van my eie: ons het vroeër die middag etlike bottels goeie landgoedwyn gekoop by die Spar oorkant die straat, maar hoewel dit veronderstel is om ’n “self-catering” gastehuis te wees, kon ek tot dusver geen bottel-oopmaker opspoor in die hoekie wat blykbaar die kombuis-area is nie.

Aangekom by Reception begin ek vir die eerste keer onraad merk toe ek ’n dokument opmerk met my foto op. Dis dieselfde foto wat gebruik is voor die Voorwoord van my omstrede Engelse roman The Secret Diary of God. Die opgeskote seun agter die toonbank steek haastig die vel papier weg toe ek naderstap, en voor ek my klagtes aan hom kan bekend maak, lig hy my in dat ons hom nog sewehonderd rand skuld (naas die vyfhonderd wat ons reeds elektronies inbetaal het).

Hulle wil die balans al die eerste aand hê? Waarom? wonder ek.

Helaas: die volle waarheid van ons dilemma sou mettertyd aan my openbaar word.

’n Halfuur later het my vrou darem M-Net, maar ons het nog geen telefoon nie. Ons skakel Reception van die selfoon af. Dit duur ’n uur en ’n half voordat hulle vir my iets bring wat soos ’n bottel-oopmaker lyk, maar wat, by nadere ondersoek, ’n blikoopsnyer blyk te wees. Eindelik raak die wynlus so erg dat ek self Spar toe stap en vir my ’n bottel-oopmaker koop teen vyftig rand.

Eers later die aand, toe dinge rustiger word, kry ek kans om die gastehuis se gelamineerde verwelkomingspamflette te lees. Die pamflette bestaan meesal uit teksversies en ingewikkelde uitlegte van kodes in die Bybel. Ek lees, tot my verbasing, dat Psalm 118 vers 4 die middelste versie in die Bybel is. Met nog groter verbasing lees ek dat mens hulle die vorige aand al moet inlig as jy die volgende oggend ontbyt wil hê.

“Nou hoe moet ek nou al weet hoe honger ek môre-oggend gaan wees?” wonder ek hardop.

“Solank hulle ons nie probeer bekeer nie,” sê Kannetjie terwyl sy vir klein Marleen ’n doek aansit na haar bad.

“Hulle sal darem seker nie so ver gaan nie — dit is immers ’n gastehuis,” voorspel ek, vol geloofsvertroue.

Die hoop beskaam egter.

Die volgende dag konfronteer die eienaar van The Resting Place my in die hoek van die tuin, tussen ’n klomp verskrompelde droë plante en ’n stowwerige rommelhoop vol ou karsitplekke en junk.

“Is jy die berugte Koos?” vra hy en skud my hand heftig. “Ons gaan mekaar hierdie naweek nog baie goed leer ken. Ek wil alles weet van waar jou probleme met die kerk begin het.”

Vol verbasing gaap ek die man aan. Ek probeer hom opsom. Hy is korterig, en sy ogies sit bra naby aan mekaar. (Ongelukkig kan ek nie sy aura sien nie, ek is nie goed met auras nie.) “Dis ’n gastehuis hierdie,” is al wat ek kan antwoord. “Is dit nie?”

Hy vang glad nie die skimp nie, en gaan roekeloos voort: “Ek hou nie van mense wat die woord ‘fok’ gebruik nie,” sê hy. “Daar is selfs mense wat dit skryf ...”

Vir tien minute lank keer hy my vas terwyl ek hiernatoe mik, daarnatoe mik om net van die indringerige ventjie weg te kom. Maar hy gee my nie ’n kans nie. Elke keer as ek ’n tree sywaarts of agteruit gee, volg hy my. Hy is een van daardie soort mense wat glo daaraan om baie naby aan jou te staan wanneer hy ’n gesprek voer. Hy praat baie hard, en is absoluut seker van sy saak. Ergste van alles: hy weet van die boek wat ek geskryf het, en ag dit sy goddelike roeping om my, binne een week, tot nuwe insigte te bring. Hy wil ook baie graag hê dat ek na sy kerk toe moet kom en al die mense in sy jeuggroep moet ontmoet; ek lei af dat hy die predikant, of pastoor, of priester van die bedenklike organisasie is.

Eindelik word ons onderbreek deur ’n groep konferensiegangers, en ek slaag daarin om weg te kom.

“Ek is pas geproseliteer deur ’n hoofman oor honderd,” vertel ek my vrou. Sy glo my nie. “Dit is Bloemfontein,” sê sy. “Nie Potchefstroom nie. Kalmeer.”

“Ek kan nie,” antwoord ek. “Ek is getraumatiseerd.”

Vergeefs probeer ek haar oorreed om te fokkof na ’n ander gastehuis.

Toe, gelukkig, gryp ’n Hoër Hand in.

Die aand, toe ons die kinders wil bad, ontdek ons dat ons geen warm water het nie.

Dank die Vader ek het nog my nuwe bottel-oopmaker en ’n paar bottels landgoedwyn. Ek bel weer Reception op my selfoon, koeldrankglas wyn in die hand (daar is geen wynglase in die kamer nie), en meld die probleem aan.

’n Uur later stuur die gastehuis iemand na ons toe. Hy lyk soos Brad van The Rocky Horror Picture Show en dra ’n Christelike lapelwapentjie. “Daar is fout met julle geiser,” kondig hy vreugdevol aan — hierdie kêrel, sou ek later agterkom, loop letterlik oor van vreugde — “julle kan julle kinders kom bad in die Jacuzzi in die honeymoon suite.”

Die honeymoon suite is, genadiglik, sowat twintig meter van ons af weg. Dit bevat inderdaad ’n Jacuzzi wat werk, al is die teëls bokant die bad beplak met vergeelde prentjies van blomme en Christelike aanhalings. Terwyl my vrou ons seun Simon in die water onderdompel, vra sy: “Wie op dees aarde sal besluit om sy wittebrood hier te kom spandeer?”

Intussen het Brad, al jubelend, vir klein Marleen opgetel en stap met haar rond oor die gruisklippies van die jaart. Al jubelend bring hy haar kort daarna terug. Die vreeslikste reuk styg op uit haar doek. “Ek is so lief vir kinders,” sê die man terwyl hy haar by ons neersit en homself uit die voete maak. “Ek moet loop,” voeg hy haastig by, “iemand anders het die honeymoon suite bespreek.”

“Die bedlampies werk nie!” roep my vrou agterna, maar hy is reeds weg.

By haarself mompel sy: “Ten minste het die honeymoon suite bedlampies.”

“En ’n Jacuzzi,” voeg ek by.

“Waarvan al die warm water nou opgebruik is,” sê sy.

“Wat van die gaste wat op pad is?”

Sy skud haar kop.

“Dis ’n saak wat net die Here kan oplos,” beaam ek.

Ons geiser, vind ek die volgende oggend uit, is inderdaad ’n saak vir die Here uitsluitlik. Nie vir ’n loodgieter nie. Maar ’n besonder ernstige saak is dit gewis, vind ek seweuur die oggend al uit, toe albei my babas wakker geraas word deur luide samesang afkomstig uit die gebedskamer langsaan. Die konferensiegangers het duidelik ons stukkende geiser ’n saak van gebed gemaak.

Deur die slaap strompel ek na die krane; nog niks. So begin die dag van die gesin Kombuis. Ons is ingeboek in ’n stel kamers, maar van nou af is ons nie meer en suite nie.

Teen elfuur deel Reception ons per selfoon — my selfoon — mee dat ons weer die honeymoon suite kan gebruik as ons wil stort.

Tot my opperste verligting en dankbaarheid en innige ootmoed merk ek op dat Kannetjie die Geel Blaaie begin bestudeer het. Binne tien minute reël sy vir ons ’n ander gastehuis, by ’n gawe Engelssprekende tannie aan die beskaafde kant van Bloemfontein (skuins bo, regs, op die kaart). Hulle belowe daar is warm water.

Toe hulle hoor waar ons ingeboek is, sê hulle: “Yes, we know about that place. Terrible, isn’t it?”

Terwyl ons inpak, wonder ek by myselwers: Waarom het die feeskomitee hierdie plek aanbeveel? Doks, o Doks, ek vergewe jou, want jy’t nie geweet wat jy doen nie!

In ’n oomblik van rare naasteliefde besluit die Hoër Hiërargie van The Resting Place, nadat ons hulle (soos gewoonlik, per selfoon) verwittig het van ons veranderde reisplanne, dat ons hulle after all nie die sewehonderd ekstra rande skuld waarop hulle die eerste aand al aangedring het nie.

En in ’n oomblik van swakheid oorweeg ek dit om die oranje-blanje-blou gordyntjies van die kakghuis-vensters af te ruk en saam te vat as ’n memento. Gelukkig wen die goeie, en besluit ek daarteen. Gee aan die Duiwel wat die Duiwel toekom, dink ek. Wat wil ons anyway met oranje-blanje-blou gordyntjies maak? Ons kakhuis by die huis het reeds gordyne wat heel okei lyk!

Met ’n lied in die hart verlaat ons The Resting Place sak en pak ’n uur of twee later. Ons het alles ingepak: ons oorblywende landgoedwyn plus ons nuwe bottel-oopmaker, die nuwe Harry Potter wat Kannetjie besig is om te lees, ons vuil klere, die skeermeslemmetjies wat ek nie kon gebruik nie, ons twee kindertjies, en ons sieleheil.

Wat het Etienne van Heerden altyd destyds gesê toe ek hom, in my prille jeug (waarvan ek genadiglik min kan onthou), probeer oorreed het om aan te sluit by die Jesus People-kultus waaraan ek in die seventies behoort het?

“To each his own.”

Daardie aanhaling is van toepassing hier. Julle ouens van The Resting Place kan na hartelus voortgaan met julle vreemde, esoteriese godsdiens; maar ek en my gesin, ons sal die Here dien op ons manier. Dankie.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.