Koos se Spens - rubriek deur Koos KombuisArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Newwermaaind Generasie Z, hier kom die ware enfant terribles!

Koos A Kombuis

Opgedra aan Jaco en Nicci Scholtz


Met die bydrae wat Johan Rossouw pas na LitNet gestuur het, is die generasiedebat alweer wyd oopgegooi. Om nie te praat van die minisensasie wat veroorsaak is deur Karen Zoid se enigmatiese optrede tydens ’n Vigs-liefdadigheidskonsert op Potchefstroom nie. Mens moet hierdie dinge seker maar in konteks sien.

Van konteks gepraat: die afgelope ruk hou ek my juis druk besig met die doen en late van die opkomende geslag. Nou wel nie die doen en late van Generasie Z nie, maar die generasie wat ná Generasie Z kom (wat sal hulle genoem word? Generasie Z-plus?). Ek deel graag ’n paar van my noue ontkominge met hierdie splinternuwe generasie met julle!

Mense wat in hierdie tyd en dae kans sien om babatjies te kry en groot te maak, verdien applous (al moet ek dit self sê)! Maar tog is dit — en hier is die downside — asof ouerskap andersins normale mense in volslae idiote verander. Dit het met ons ouers gebeur, en met hulle ouers voor hulle, en die kanse is goed dat dit met my geslag ook sal gebeur, of reeds gebeur het.

Daar is byvoorbeeld min dinge so irriterend in die lewe soos mense wat dink hulle eie kinders is wonderlik. Wanneer sulke mense kuiergaste kry, word daar met groot trots vertel hoe tweejarige Jannie nou al “Aai, aai, die witborskraai” kan sing. En dan moet Jannie dit sing, of hy nou lus is of nie. Vir alle ander mense klink Jannie se interpretasie van “Aai aai die witborskraai” soos ’n sinnelose gebrabbel — op daardie rare geleenthede wanneer hy eindelik oorreed kan word om ten minste die eerste twee lettergrepe te uiter, gewoonlik sonder enige wysie. Hoekom gaan kuier mens nog vir sulke mense? Dis minder moeite om tuis te bly.

Ek is gelukkig nog nie daardie soort ouer nie (of so glo ek graag). Dis wel so dat klein Simon ’n heel skaflike weergawe van “Aai, aai, die witborskraai” doen, op die ouderdom van twee reeds die meeste letters van die alfabet ken, asook kan tel vanaf “an” tot “taalf”, maar (om nou heeltemal eerlik te wees) die meeste van die tyd, moet ek erken, is kinders grootmaak maar net wat dit is: ’n un-glamorous, sinlose, uitputtende en dikwels hoogs repeterende werk. Kinders, so het ek nou geleer, is nie altyd die klein wonderwerkies wat ons graag wil glo hulle is nie. Hulle is eintlik klein psigopaatjies. Dalk was die Calviniste reg toe hulle beweer het ons word almal in sonde ontvang en gebore? My drie maande oue dogtertjie kan wel by geleentheid vorendag kom met ’n pragtige glimlaggie, maar ten spyte van haar oënskynlike vriendelikheid toon sy beslis sadistiese en destruktiewe eienskappe!

Die verskriklike waarheid is dit: dat my vrou in 1999 laas ’n rustige bord kos geëet het. Net soos ek in 1999 laas die koerant op die toilet kon sit en lees sonder om onderbreek te word deur ’n bloedstollende gil, of die klank van iets wat breek in die kombuis, of — nog baie erger — daardie onheilspellende stilte waartydens jy intuïtief besef, waartydens jy net weet, dat iets vreesliks besig is om te gebeur waar jy onmiddellik moet gaan ingryp. ’n Onheilspellende stilte, so kan enige ouer jou vertel, is veel erger as ’n bloedstollende gil of die klank van iets wat breek. ’n Onheilspellende stilte beteken dat iemand die tuinhekkie oop vergeet het en dat klein Simon juis nou met dapper en stapper op pad is highway toe, waarskynlik met my beursie vol kredietkaarte in die een hand en my bos huissleutels in die ander, om te gaan kyk hoe die verbygaande vragmotors se wieletjies draai. ’n Onheilspellende stilte beteken enigiets van kotsterfte tot ’n daad van naamlose, alles oortreffende anargie.

Nietemin bring ouerskap wonderbaarlike insigte. (Ek haat dit om so ’n sin kwyt te raak — Audrey Blignaut sou trots wees op my, ek weet dit tot my eie skande — maar mens leer werklik baie by jou eie kinders.)

Les nommer een: mens kry perspektief op jou eie kinderjare. Al is dit ten koste van jouself.

As my eie tweejarige seun se “Aai, aai, die witborskraai”-singery soms selfs vir my te veel word, hoeveel te meer moes ek as kind my stomme ma en pa gedaan gemaak het? Ek het dag in, dag uit sit en liedjies komponeer op my kitaar. Ek was tone-deaf, soos ek nou nog is, en ek het nie ’n tuner besit nie, en my eerste liedjies was nou nie juis meesterstukke nie, nè. Vandag laat ek my kop in skaamte sak. Vandag besef ek dat ek my ouers se lewens geruïneer het, my pa in alle waarskynlikheid na ’n vroeë graf toe gestuur het, en my gryse moeder tot op die rolbalveld verdryf het, waar sy, tot vandag toe, elke moontlike minuut vrye tyd spandeer, te bang om huis toe te gaan, al is ek lankal nie meer daar nie. Op die ouderdom van diep in die veertig het ek vir die heel eerste keer iets besef wat Chris Louw in al sy wysheid nog nie eers weet nie: dat ons ons ouers hulle eie menslike foute moet vergewe. Nie net omdat hulle nie geweet het wat hulle doen nie, maar omdat ons ook nie besef het wat ons doen nie.

Les nommer twee: ouerskap is hoegenaamd nie uncool nie; inteendeel, dis ’n heroïese betrekking.

Om ’n ouer te wees is moeiliker, gevaarliker, en meer life-threatening as om deel te neem aan “The Fear Factor”, of om te begin bungie-jump op vyftig, of om te valskermspring, of om ’n vegvlieënier te word en bomme oor Bagdad te gaan strooi. Dit verg ongelooflike improvisasie. Dit vereis lewe-en-dood-keuses wat jy in ’n oogwink moet maak. Daar is geen formele opleiding beskikbaar vir mense wat toevallig babatjies die wêreld in bring nie! Ouers, en nie oorlogsveterane nie, moet plase present kry. Ouers moet deur die Lotto betaal word vir hulle bydra tot die gemeenskap. Ouers verdien, voor die voet, die Honoris Crux, die Nobel-prys, en sommer ’n Oscar of twee ook. Want ouerskap — dit verstaan ek nou — is die moeilikste rol waarvoor jy ooit gekies sal word as mens. Inderdaad is daar twee soorte mense in die wêreld: die wat al kinders groot gemaak het en die wat dit nog nie gedoen het nie. Hier drop die valbyl. Hier word die manne van die muise geskei. Hier wag die oomblik van waarheid vir jou, o sorgvrye jongeling. Kyk met nuwe oë na jou eie ouers; for they have been to hell and back. Hulle siele is gelouter deur die vagevuur van voortplanting. Hulle harte woon in die huis van sorge, vir altyd en altyd en altyd ... ter wille van jou, jongeling.

Oordryf ek? Nee! Hoewel, bygesê, daar is darem “perks” ook. Ek leef deesdae vir hierdie onverwagte byvoordele, hierdie suiwer momente van patriargale blydskap. Dit gee my gehawende hart moed elke keer wanneer ek letterlik moet afbuk om my pantoffels op te tel wat onverklaarbaar in die tumbledraaier beland het, of wanneer ek suur kots probeer afwas van ons beste stoele se bekleedsel, of in die middel van die nag kaalvoet deur die tuin stap om ’n stink weggooidoek in die buite-asdrom te gaan begrawe.

En dit bring my by les nommer drie: die hoogs onverwagte nuwe intellektuele en tegniese vaardighede wat mens se kinders vir jou besorg.

As iemand my skielik sou vra om ’n kritiese essay te skryf oor kindervideo’s, is ek as ‘t ware oorgekwalifiseerd! Toe, vra my, vra my! Ek weet alles van die liriese meriete van “Die Eensame Krokodil” en “Die Lappop”. Ek kan julle geweldig baie vertel van die politieke ongelykheid tussen Blommeland en Gifappeltjieland, hoekom Liewe Heksie so ’n wonderlike feminis is en Koning Rosekrans so ’n opperste doos. Ek het interessante insigte, insigte waarvan die wêreld moet kennis neem, oor die veelbesproke verhouding tussen Noddy en Big Ears. Ek kan Barney die pers dinosourussie aan flarde skeur as ek moet; daar sal minder van hom oorbly as van André P Brink na ’n Dan Roodt-resensie. O, en ek weet nou alles van kinderliteratuur ook! Ek weet wie het op die molletjie se koppie gedinges. Ek is vertroud met die komplekse kreatiewe spanning tussen ’n sekere hondjie genaamd Otto en die groen krokodilletjie en blou seekoeitjie in sy vriendekring.

Maar dis nie net my feitelike kennis wat verbreed het nie. As gevolg van die ure en ure wat ek moet deurbring in die geselskap van hierdie klein mensies, kyk ek met nuwe oë na die optrede van grootmense. En weet julle wat is die wonderlikste van alles (beskou dit as les nommer vier)?

Dis ’n sin vir perspektief op wêreldpolitiek.

Ek weet dat niemand, nie eers die president van die Verenigde State, werklik ’n grootmens is nie. Ek kan die president van die Verenigde State sien, deur die oë van ’n kind, vir dit wat hy werklik is: ’n reuse-kleuterskoolboelie wat missiele rondgooi soos handevol sand. ’n Woedende tweejarige in die lyf van ’n politikus.

Om die waarheid te sê (les vier en ’n half), ek het ook die woedende tweejarige in myself begin herontdek, en dis nie noodwendig so sleg nie! Daar is baie om te sê vir hierdie soort instinktiewe, gut-level-reaksie op alles in die lewe! Ek is deesdae bang vir niemand nie, ek vat nie meer kak van kabouters nie. As iemand my op die wang bliksem, draai ek nie meer die ander wang nie. Ek bliksem terug. Omdat ek kan. Omdat dit lekker was om soms iemand sleg te sê (ek gooi darem nie missiele nie). Net so lekker soos dit vir Karen Zoid moes gevoel het om op stage te kan sê, “Fok Potchefstroom, ek gaan nou waai.” Ek praat deesdae soms voor ek gedink het wat ek wil sê, en ek weet dit is dalk skadelik vir my loopbaan, maar, die Here weet, dis so lekker. Veral omdat ek by my eie huis so min kans kry om terug te praat ...

Julle dink miskien Generasie Z bring ’n vars briesie vernuwing en anargie in ons kultuur. Maar wag ’n bietjie tot my kinders eendag groot is ... o bliksem, hier kom ’n ding! Hier kom ’n ding!

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.