|
|
Die Bothas is terug!Koos A KombuisOnheilspellende parallelle tussen die leuens van Calvinisme en die onderliggende assumpsies van Thabo Mbeki se filosofie n Paar jaar gelede het n vriendin van my vir my vertel: Toe ek klein was, het ek gewonder waar is Afrika. Ek kan van n soortgelyke dilemma getuig. Hoewel ons as jong blankes in Afrika gebore is, was die woord Afrika vir ons n abstraksie. Geestelik en emosioneel was ons vanweë ons opvoeding nader aan Europa. Soveel so dat ek as kind gewonder het hoekom dit nooit sneeu oor Kersfees nie. Oor hierdie misverstande hoef ons allermins skuldig te voel. Met die volgende geslag kinders sal dit reeds iets van die verlede wees. Die afgelope paar maande probeer ek myself n swart taal aanleer, maar ek maak bykans geen vordering nie. My eie niggies, wat nog skaars tien jaar oud is en onderrig in Xhosa as vak op skool ontvang, kan hierdie taal al amper vlot gooi, terwyl ek nog sit met lyste woorde wat ek nie kan uitspreek nie, en wonder hoekom swartmense dieselfde woord gebruik vir blou en groen (is hulle dan kleurblind?). Afrika is tans groot nuus op die wêreldfront. Dit is een van die groot kopsere waarmee die wêreld wakker geword het hier vroeg in die een en twintigste eeu. Op die een of ander manier is Afrika, in die verwysingsveld van mense veral in die Eerste Wêreld, vaagweg gekoppel aan al die probleme wat hulle tans ondervind: probleme met kultuur- en etniese verskille regoor die planeet, ekonomiese probleme en die proses van globalisering, en selfs probleme met ekologie en die omgewing. Onderliggend aan al hierdie skynbaar onoplosbare kwessies ervaar die Westerse mens n vae onrus, n skuldgevoel waarop hy nie presies sy vinger kan lê nie. Asof daar iets smetliks kleef aan die blote idee dat hy n wit vel het. Op hierdie vae angs reageer witmense tot onlangs op twee verskillende ekstreme maniere. Hulle raak overt rassisties of hulle oorkompenseer in die rigting van linksgesinde politiek. Mense wat n middeweg probeer kies, is sover dikwels met suspisie bejeën. Tye verander egter. Veral in Suid-Afrika was Afrikaners tradisioneel óf ten gunste van groter integrasie óf heftig gekant daarteen. Tot nou toe was hierdie lyn in die sand maklik om te sien en dit was maklik om te sien wie is aan watter kant. Aan die een kant was die pienk liberaliste en aan die ander kant was die AWB. Deesdae is die issues deurmekaar gevleg en onontsyferbaar. Ons politieke landskap lyk soos n waterverfskildery waardeur n kleuter sy vingertjies gesleep het. Sedert die ANC aan bewind gekom het en sy spesifieke mengsel van ideologieë op ons begin afdwing het (om die waarheid te sê, al vandat die NP in die vroeë neëntigs van rigting verander het), het die eertydse linies en definisies begin verkrummel. Hierdie verkrummeling is n goeie ding, want daarmee saam het ons ontslae geraak van stereotipes. Deesdae word ons gedwing om hard en ernstig te dink oor waar ons staan. En is dit nie confusing nie! Wie is nou eintlik aan wie se kant? Is Breyten Breytenbach vir of teen die regering? Het hy dan nie tronk toe gegaan om hierdie ouens aan bewind te kry nie? Waarvoor staan Max du Preez? Wie is die leier van die regses, Ferdi Hartzenberg of Dan Roodt? By the way, waarvoor staan Dan Roodt? Is hy regs of ultralinks op n nuwe manier? Die man in die straat verstaan dikwels nie die fyner punte van hierdie debat nie. Maar hoewel die nuanses vandag meer subtiel is, dink ek dat dieselfde ou skuldgevoelens nog steeds onderliggend is aan heelwat van ons verwarring. Hoewel ek nie in dieselfde kamp sit as Dan Roodt nie, kon ek nou die aand met die KykNet-interview tussen hom en Max du Preez byna nie my lag hou nie. Roodt het die vloer gevee met Du Preez. Ek het daardie aand besef dat die soort skuldkompleks-liberalisme van Du Preez se dae getel is. Nie dat dit nie nog steeds bestaan nie; dit is net eenvoudig nie meer effektief nie. Die dae is verby dat ons kan dink ons kan swartmense beïndruk deur vir hulle te sê Askies, Klaas. Hierdie soort omgekeerde patronisering bereik niks en word deur niemand verstaan nie. Roodt, daarenteen, het sy standpunte uitgespreek sonder enige skuldgevoelens. Hier is n man wat werklik glo wat hy glo en wat elke millimeter van sy eie ideologie deurdink het. Ek het verstaan, vir die eerste keer, wat Annesu de Vos bedoel het toe sy lank gelede op LitNet geskryf het dat sy respek het vir Dan Roodt se eerlike rassisme. Hoewel ek nooit met Roodt sal saamstem nie (om die waarheid te sê, as Roodt ooit reg bewys word, sal ek al klaar met my tasse gepak staan, gereed om Afrika te verlaat!), kan ek nie anders as om ook n grudging respect vir hom te kry nie. Ek is egter meer geïnteresseerd in die oorsaak van ons eie skuldgevoelens as in Roodt. Die rede hoekom ek Roodt genoem het, was juis dat ek hom wou voorhou as iemand wat geen skuldgevoelens het inderdaad nie. In die ou tyd, toe die Waarheid- en Versoeningskommissie in volle swang was, was dit nie noodwendig n goeie ding om geen skuldgevoelens te hê nie. Vandag streef ek daarna. n Mens kry skuld en skuld. Die gebrek aan skuldgevoelens by die NP en ook die NNP grens aan patologies, want hierdie mense het werklik hul eie volk en ook die res van Suid-Afrika telkemale vertrap en verraai. Maar ek haat die soort vae skuldgevoelens wat mense soos Thabo Mbeki by my probeer wakkermaak. Dit is tweedehandse skuld. Dis nie ware berou nie, dit is n neurose. En Thabo, slinkse strateeg wat hy is, gebruik hierdie neurose op dieselfde manier as wat Botha in die ou tyd die kunsmatige skuld-neurose van Calvinisme gebruik het om ons te dwing om dinge te doen wat ons in ons harte nie wou doen nie: army toe gaan, ons bekke te hou teenoor gesag, ensovoorts. Ek het destyds deur daardie vals skuldgevoel gesien en dit het die Voëlvry-Toer afgegee. Ek is vas van plan om deur Thabo se oëverblindery ook te sien. Die President is besig om ons vir n moerse ride te vat, en, verskoon die Engels, maar ek like dit net mooi fokkol. Om hierdie vals skuldneurose werklik te woorwin moet ons dit verstaan. Om dit te verstaan, moet ons mooi kyk waarop dit gegrond is. Soos die Calvinisme gegrond was op sekere leuens, so is ook Thaboïsme gegrond op leuens. Die leuens van Calvinisme (of dan die NG Kerk se soort Calvinisme, wat tien teen een iets anders beteken as wat Calvyn oorspronklik bedoel het), was min of meer as volg: Een: Die mens is in sonde ontvang en gebore. Dus, jy is n etter vandat jy die eerste lig gesien het. Twee: Die vlees is sondig. Dus is alle plesier buite die kwessie. Drie: Jy kan niks daaraan doen nie. Dit is buite jou beheer of God jou uitverkies het of nie. Vanaf die grondlegging van die wêreld af is jou naam either in die boek van die lewe of hy is nie daar nie. Vier: Jy mag nie hieroor kla nie, want ons is nie bedoel om alles te verstaan nie, en anyway is God se weë hoër as die mens sn. Finish en klaar. Hou jou bek, troep. Klink dit belaglik? Ja, maar niks meer belaglik as die leuens waaraan Thabo ons onderwerp nie. (Eintlik gee ek Thabo te veel krediet. Die leuens waarop Thaboïsme teer, is deur ons eie wysgere uitgedink. Party, indien nie almal nie, is gewortel in Europese denke.) Maar kom ons kyk na n paar tipiese wanopvattings wat ons vandag nog aanhang, en waarvan die meeste van ons, as ons net gaan sit en mooi dink daaroor, dadelik die valsheid sal raaksien. Kom ons ontmasker n slag hierdie kak vir wat dit is. Dan kan ons dit weggooi. Dan sal dit nie meer stink nie. En dan sal president Mbeki en sy vriende ons nooit ooit weer kan intimideer nie. Een: Die mite van die edele barbaar. Hierdie gedagte het sy oorsprong by Jean Jacques Rousseau. Dit is die presiese teenpool van Calvinisme. Die mens is kwansuis nie sleg gebore nie, maar goed; die rede hoekom hy die kwade nastreef, is dat hy later gekorrupteer is deur die beskawing en tegnologiese vooruitgang. Dit is snert. Die mens is nóg sleg gebore, nóg goed. Elke mens se karakter word gevorm deur die bewuste keuses wat hy in die loop van sy lewe maak. Twee: Demokrasie in Afrika, verskil van demokrasie in Europa. Hier geld ander reëls, want óf (a) Afrikane verstaan nie demokrasie nie, óf (b) die Weste se idee van demokrasie is korrup. Ook hierdie gedagte is n pot snot. As Afrikane nie demokrasie verstaan nie, waarom was die stempersentasies (of persentasie van mense wat probeer stem het) in Zimbabwe onlangs so hoog? Waarvoor het daar soveel kilometers toue gevorm in ons eie eerste vrye verkiesing n paar jaar gelede? Daardie mense het nie gewag vir botteltjies Coke nie. Hulle wou hulle stuiwers in die armbeurs gooi. Dit is wel waar dat daar heelwat Afrika-regerings is wat skynbaar nie demokrasie verstaan of wil verstaan nie, maar dit is nie n eksklusief swart of Afrika-probleem nie. As ek reg onthou, het PW Botha ook nie demokrasie verstaan nie. En daar is talle voorbeelde van sogenaamd Westerse lande waar demokrasie deur hul eie regerings verkrag word. Nie eers die Verenigde State se onlangse presidentsverkiesing was bo verdenking nie (dalk moes hulle waarnemers uit Zimbabwe toegelaat het?). Drie: Kapitalisme is verantwoordelik vir al die wêreld se probleme. Afrikane (wat almal edele barbare is), wil nie kapitalisme hê nie. Dit is n wanopvatting wat versprei is deur die Marxiste in die seventies. Dis óók louter onsin. Die wêreld se probleme word nie veroorsaak deur kapitalisme nie, maar deur die misbruik van kapitalisme, deur selfsug, deur korrupte politici, en ook deur natuurlike prosesse waaroor ons sover baie min beheer het, soos oorbevolking, verkeerde boerderymetodes, aansteeklike siektes en die vernietiging van natuurlike hulpbronne. Hieraan is almal skuldig, Westerlinge sowel as Afrikane. Ek wil nog n oomblik by laasgenoemde punt stilstaan. Ek onthou nog hoe ons destyds in Nusas se pamflette gelees het van hoe idillies dinge hier in Afrika was voor die imperialiste opgedaag het. Dit was glo n regular Paradys. Beeste het geknibbel aan graspolletjies. Rookkolomme het opgestyg uit hutte waarop oulike patroontjies geverf was. Vroue het gewerk in die landerye terwyl hulle mans gesit en filosofeer het om die vure. Dit was n matriargale samelewing en eintlik was almal hippies. Bullshit met n Hoofletter B! Hulle was vleiseters, hulle het oorlog gemaak, en hulle het privaatbesit bedryf. Die ou met die meeste beeste was die rykste. Dit was n dog-eat-dog-wêreld, soos Afrika nog altyd was. Selfs vroue is opgeveil aan die ou met die meeste lobola. Ek sê nie dat die imperialiste niks verkeerd gedoen het of dat die oorspronklike Afrika-kulture sonder meriete was nie; ek wil net probeer bewys hoe relatief hierdie mites is wat aan ons opgedwing is (en wat op subtiele wyse deur die ANC gebruik word), beide deur mense aan die linker- as deur mense aan die regterkant van die politieke spektrum. Wat doen Thabo vandag met ons? Waarom smokkel hy so met ons koppe? Hoe durf hy beweer dat hy aan die voorpunt van die Afrika-Renaissance staan, so asof die dinge wat hy verkondig en die besluite wat hy neem, so danig nuut en oorspronklik en cutting edge is? Daar is niks nuuts aan president Mbeki se filosofie nie, net soos daar niks nuuts is aan Mugabe se regeringstyl nie. Dis dieselfde outydse despotisme wat ons al vanaf die grondlegging van die aarde aantref by regerings soos dié van die ou Romeine, die Britse Ryk van die voirge eeu, in fact, alle diktators van alle rasse en geure en kleure wat nog ooit hulle stemme dik gemaak het in die sogenaamde raadsale en skynparlemente van honderde banana republics. Dit is allermins iets uniek aan Afrika, en dis allermins iets waaroor ons moet skuldig voel. Die onus rus op ons, nie om skuldig te voel nie, maar om dit teen te staan met al die kulturele, intellektuele en geestelike wapens wat ons het binne die raamwerk van die pragtige Grondwet waaroor ons en Madiba eenstemmigheid bereik het n paar jaar gelede. Die soort Suid-Afrika wat president Mbeki probeer skep, is presies dieselfde soort Suid-Afrika wat die Bothas geskep het. Alreeds probeer hulle beheer kry oor die media en oor kultuursake twee gebiede waar geen regering durf mee inmeng nie. Alweer is die volk van Zimbabwe (destyds Rhodesië) in die greep van n regime wat nie deur die Statebond erken word nie. Soos die Bothas destyds vir Ian Smith voorsien het van brandstof, sal die Thabos vir Mugabe moet help met voedsel en basiese benodigdhede. En daar is nog nie eers sanksies teen hulle nie; hulle het hulle eie landerye verwoes. Mbeki is n man met visie, maar sy visie is nie die visie van n vrye en gelyke Suid-Afrika nie. Hy stel nie belang in die ideaal van n reënboognasie nie. Hy het geen empatie met die man in die straat, hetsy swart of wit nie. Hy gee nie n flenter om vir kinders wat sterf aan Vigs of families wat hongerly of boere wat vermoor word op plase nie. Die dilemmas van die gewone Suid-Afrikaners gaan hom nie aan nie. Sure, hy sal nou en dan iets moois sê om ons te paai. Sure, hy het saamgestem dat Zimbabwe uit die Statebond geskors word. Big deal! Dit het absoluut niks verander aan die situasie op grondvlak nie. Dit is alles abstraksies. Mbeki gee voor om wel om te gee vir abstraksies, maar selfs dit is oëverblindery. Die bottom line by hom, net soos die bottom line by Mugabe en alle soortgelyke regeerders, is om te klou aan die voordele van mag. Hy wil met sy jet orals deur die wêreld vlieg en hy wil konferensies bywoon in lekker plekke soos Sun City en Durban en hy smaak van die speelgoed van die rykes. Hy het n hoë vlak van opvoeding in Westerse waardes ontvang, sodat hy al die slegte gewoontes van korrupte witmense kon aanleer. Hiermee sien hy niks verkeerd nie. Eers was dit die Bothas se beurt, en nous dit sy beurt. What goes around comes around. Daar is n groep apologete (soos Max du Preez) wat nou dalk sal sê ons moes erger gatgekruip het by die ANC juis om te keer dat hierdie soort wraakregering nou sy kop uitsteek. Hierdie mense sê ons moes meer betrokke gewees het by goed soos die Waarheidskommissie. Ook dit is nou, after the fact, n futiele argument. Enigiemand wat Antjie Krog se boek Country of my Skull gelees het, sal onthou dat die ANC, en spesifiek Mbeki, ook die versoeningsproses probeer systap het. Op grassroots-vlak was die Kommissie n groot sukses, maar politici, beide swart en wit, het die ware issues ontduik. Mbeki sou steeds gedoen het wat hy vandag doen, al het ons almal elke enkele uitsending van die Kommissie gekyk, al was dit so populêr soos Big Brother, en al het ons krokodiltrane gestort van jammerte tot ons ogies seer gehuil was. Die trane en pleidooie van n Biko kon nie destyds die sekuriteitspolisie se harte versag nie, en die trane en pleidooie van witmense vandag sal niks aan Thabo se beleid verander nie. Dit sal hom hoogstens beweeg om nou en dan n paar kosmetiese besluite te neem of geluide te maak om sekere mense aan sy kant te hou wat vir hom van tydelike strategiese belang is. Welcome to the New Boss; hes exactly the same as the Old Boss. Ek moet sê, as hierdie gedagtes van my deur die verloop van tyd verkeerd bewys word, as ons eendag ontdek dat president Mbeki wel n hart het, of n Damaskus-ervaring sou ondergaan, of byvoorbeeld as toekomstige wetenskaplike navorsing bewys dat die ANC reg was oor nevirapien, sal ek my kritiek of dele van my kritiek geredelik terugtrek. En ek sal dit met groot vreugde doen. Ek hoop eintlik dat dit gebeur. Maar ek dink nie dit sal nie. Dus publiseer ek eerder hierdie waarskuwing aan die lesers van LitNet en aan alle Suid-Afrikaners wat Afrikaans kan lees.
Baie dankie aan JP Nel, bron van useless en useful information op die Internet; aan my vrou, wat altyd n sounding board is; aan Hein Willemse en James Myburgh vir hulle insiggewende artikels in Die Burger (nooit gedink ek sal met Die Burger saamstem nie!); en aan Jaco Botha, die eerste medeskrywer om te hoor wat ek probeer sê in my protesskrywes. |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |