|
|
Hoekom Afrikaner-eenheid onmoontlik is(of: Die vrede en versoening van kersfees is verby, nou kan ons mekaar weer begin bestook met leë brandewynbottels!) Koos KombuisGebaseer op ‘n idee van Kristoe Strauss As ek so blaai deur die geskrifte, debatte en eposse wat ek in die loop van 2005 ontvang en weggestuur het, is daar ‘n beklemmende gevoel om my hart. Wat was verlede jaar belangrik? Die taaldebat. Evolusie versus skepping. Brad Pitt se liefdeslewe. Die moord op Brett Kebble. Plagiaat onder digters. Ensovoorts. Ensovoorts. Party issues sleep ongelukkig nog voort. Vir baie mense is die taaldebat nog onvoltooid. Die natuurrampe van 2005 kan ons nog nie vergeet nie, want as gevolg van die verswakkende ekologie van ons planeet is daar ‘n goeie kans dat ons in 2006 nog verder verras kan word deur Moeder Natuur se slegte buie. Ewenwel, dis ‘n nuwe jaar, en slegs ‘n gek pak ‘n nuwe jaar aan met dieselfde energie, dieselfde werkswyse as die vorige jaar. Dis mos juis hoekom ons almal vakansie gaan hou het oor Desember (behalwe polisiemanne, prostitute en ander noodsaaklike nooddienste): om ons koppe skoon te maak. Om te vergeet. Om ou vetes en vrese af te spoel in die soutwater van die see. Die Kersboodskap van vergewe en versoen mag kitsch wees, maar in die harte van die meeste mense vind daar tog ‘n proses van vertedering plaas, ‘n perspektief word verkry, ‘n afstand en ‘n kalmte. Selfs die aaklige gesinstragedies van Desember – die padongelukke en die tragiese dood van kinders – help om mense terug te ruk na die werklikheid van wie hulle regtig is en waarin hulle regtig glo. Nou is dit vroeg Januarie, en die meeste van ons sit weer agter ons lessenaars. Hoewel ons dit nie aan ons kollegas sal erken nie, is ons heimlik bly die vakansie is verby. Ons is lus om weer te werk. Ons is gatvol vir sonbrandolie aansmeer en niksdoen. Die skoon- en vuil-familie is eindelik huis toe. Die kinders veilig terug in die skool. Vir party van ons, veral die sogenaamde “house executives” (dis ‘n nuwe buzz-woord, ek het dit gisteraand op Noot vir Noot gehoor), begin die rus eintlik eers nou. Waar ek hier in my studeerkamer sit en wonder in watter rigting ek my energie vanjaar moet kanaliseer, dink ek onwillekeurig aan ‘n frase wat ek die laaste ruk dikwels gehoor het. Nee, nie op Noot vir Noot nie, maar nogal op KykNET (en dis ironies, want een van my vetes van 2005 was juis met KykNET). Ewenwel, die program se naam is Tweestryd, en dit word aangebied deur ‘n vrolike jong Afrikaanse Colin Moss-lookalike. Die frase is so laasjaar. “Hoe goed ken jy die persoon daar langs jou op die rusbank?” vra hierdie mannetjie elke week. “Druk nou die knoppie, en neem deel aan ons kompetisie. Dis so laasjaar.” Terwyl ek deur my hardeskyf scroll met my muis, hoor ek daardie kykNET-aanbieder se stem die heeltyd in my kop: “So laasjaar. So laasjaar. So laasjaar …” En uit my hart groei daar ‘n versugting soos ‘n gebed: “Ag Here, gee ons nuwe gedagtes, nuwe strydpunte, nuwe maniere van kyk na ou probleme. Help ons, voor ons verswelg word deur alles wat oud, verlep en passé is. Maak alles nuut, o Heer! Doen dit, en doen dit NOU!” Dit is aaklig om in die verlede te leef. Ek het een of twee kennisse wat nou nog wroeg oor die Voëlvry-toer. Hel, dis nie eers laas-JAAR nie, dis laas-EEU! En dan is daar die Afrikaner-versus-Afrikaner-moddergooiery-sindroom. Ek was self soms al skuldig hieraan, maar ten spyte daarvan, of dalk juis daarom, pla dit my geweldig: hierdie aaklige gewoonte wat Afrikaanse mense het om so histeries op loop te gaan met elke nuwe nuwe besprekingspunt. Dit is moeilik om op ‘n nugtere manier oor dinge te gesels as jy ‘n lid van ons ou volkie is. Faksies word gevorm, uitdagings gerig, en alte gou is elke issue persoonlik, elke debatspunt ‘n stomp assegaai waarmee daar gesteek word na, en gekalwe word aan, mekaar se geloofwaardigheid en status in die gemeenskap. Dit gaan al geslagte lank so aan! Onthou julle nog die jare lange literêre gekef tussen Cloete en Kannemeyer van dekades gelede? Niemand onthou vandag waaroor hierdie twee ou omies vasgesit het nie. En die gefight oor backtracks tussen Anton Goosen en Steve Hofmeyr? Ag, jene. Julle outjies wat deesdae in julle twenty- en thirty-somethings is, sal nie daarvan weet nie, maar destyds, toe TV vir die eerste keer in Suid-Afrika uitgekom het, was daar ‘n moerse lang en ernstige gebitch oor of hierdie nuwe tegnologie ‘n euwel is al dan nie. Party mense het gesê dis die dun end van die wig, en die oomblik wanneer ons TV in ons sitkamers toelaat, gaan die Antichris en die Duiwel ons oorneem. As dit nie vir Haas Das was nie, het die meeste Afrikaners tot nou nog nie TV aanvaar nie. Die onenigheid strek natuurlik selfs verder terug. Noudat ek daaraan dink, moet ek dit erken: ons baklei al onder mekaar sedert die Groot Trek, toe die een lot Noord wou fokkof om hulle vee te gaan terugsteel by die plaaslike bevolking en die ander lot in die Kaap wou agterbly om die Prag-en-Praal-wette te oortree. Wat is die oplossing vir hierdie sindroom? Dat ons die onmoontlike ideaal van “Afrikaner-eenheid” nastreef? Ha ha. Ons het al almal daai een gehoor. Die meeste mense wat hulle beywer vir “Afrikaner-eenheid”, huldig standpunte wat onaanvaarbaar is vir enigiemand wat na 1970 gebore is of al ooit een aand lank na MK89 gekyk het. Nee, dit sal nie gebeur nie. Nie vandag nie, nie môre nie, nie volgende jaar nie, en ook nie op enige stadium voor die Wederkoms nie. Die ideaal van Afrikaner-eenheid is so onhaalbaar soos ‘n bemande ruimtereis na die oppervlak van die son. ‘n Gesonde en lewendige debatskultuur, die gee en neem van opinies is belangrik, want dit hou ons taal aan die gang, dit help ons om mekaar te leer ken en van mekaar notisie te neem. In hierdie opsig doen LitNet meer as wat al die Afrikaanse publikasies ooit voorheen gedoen het. Dit vat die gesprek weg van die braai-area en in die kuberruimte in. In plaas van mekaar oor die kop slaan met ‘n stuk steak of te gooi met ‘n leë brandewynbottel, peper ons mekaar met parmantige eposse vanuit die veiligheid van ons eie studeerkamers. Maar ag ja, die vlak van debat is nog nie werklik meer gesofistikeerd as dié van ‘n dronk geredekawel om die kole nie. Al gee ons onsself snaakse skuilname. Selfs onder die virtuele T-hemde steek die bierpense uit. I speak for myself. Dit was ek wat kak probeer stir het verlede jaar onder die skuilnaam “Jurie Learns to Rock”. So laasjaar. Dit was ek wat die wêreld probeer verander het met swakgetekende spotprente. So laasjaar. (Ek doen nog steeds spotprente, maar slegs op my persoonlike blog-site op M-Web, waar dit hopelik niemand sal pla nie.) So een keer in ‘n skrikkeljaar gebeur daar iets op die debatsfront wat soos ‘n helder lig in ‘n donker tonnel ontplof, soos ‘n aankomende moltrein (pun not intended) almal skok en wakker maak. Chris Louw se Boetman-brief was so ‘n skok. Dit was ‘n gesonde skok, al was daar ook in daardie brief ‘n paar onnodig bitsig-persoonlike elemente. Maar selfs dié van ons wat nie met die brief saamgestem het nie, kon die opwinding aanvoel, die nuwe insigte wat daardie debat aanvanklik gebring het, verwelkom. Daar was ‘n mate van bevryding in daardie rebellie. Ek hoop en glo vandag nog dat die Voëlvry-ding ook in die begin so gewerk het, maar nou ja, daardie issues is ook al verby. (Laat dié wat ore het om te hoor, luister.) Ek hoop dat my gebed om vernuwing in die nuwe jaar beantwoord sal word. Ek bid dat, as mense mekaar in 2006 sou aanvat, hulle dit op ‘n opwindende, oorspronklike en ingeligte manier sal doen. En liefs kort en bondig. Hierdie artikel is reeds heeltemal te lank. (O sjit.) Koebaai!
www.kooskombuis.co.za
Wil jy reageer op hierdie onderhoud? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |