|
|
"Adapt or Braai!"'n Moontlike oplossing vir die Marmite-probleemKoos KombuisEk lees per abuis 'n interessante stelling raak in Die Burger van 14 Maart. Dit lui: "In 'n etniese samelewing stem ek nie vir 'n grondwetlike demokrasie nie, want dit lei tot biologiese oorheersing." Die aanhaling is van Dan Roodt. Aangesien dit blykbaar onmoontlik is om Roodt dood te swyg of te ignoreer - hy is om die een of ander rede in die Nuwe Suid-Afrika so aanvaarbaar soos Marmite (om Marlene van Niekerk aan te haal) - word dit al hoe meer nodig om sy leuens, halwe waarhede en naïewe veralgemenings te expose vir wat dit is. Hierdie spesifieke aanhaling is nie 'n volstrekte leuen nie. Dis 'n halwe waarheid. Dit smokkel met 'n mens se kop, en dwing jou tot nadenke. Die wêreld van die een-en-twintigste eeu is getroud, onherroeplik getroud, met die beginsel van een man een stem. Dit klink na die regte ding. Dit lyk goed op papier. Mens wil dit nie laat wegdoen nie, want wie wil nou teruggaan na Die Heilige Reg Van Konings, of na 'n diktatorskap (of gedeeltelike diktatorskap waar net sommige mense kan stem, soos die Ou Suid-Afrika)? In die praktyk skep dit egter vrae. Wat as - en dis presies wat nie net Roodt nie, maar heelwat ander denkers, onder andere ook FW de Klerk, bevraagteken het - die stemmery in 'n land op etniese grondslag gepleeg word eerder as op grond van ideologie? In Suid-Afrika stem die Zoeloes vir die IFP, die Engelse vir die DA, die Xhosas vir die ANC, en blykbaar is slegs die Afrikanerstem verdeel tussen meer as een opsie. Dis natuurlik nie so eenvoudig nie, en daar is uitsonderings op die reël, maar ek weet nie van 'n enkele groot party (behalwe die ANC tydelik onder Mandela, en die ou NP onder De Klerk) wat nog daarin kon slaag om vanuit sy eie etniese roots deur te breek na 'n ander, meer verteenwoordigende groep nie. Roodt sou waarskynlik aanvoer dat dit 'n tipiese Afrika-probleem is, en dit is wel waar in die meeste Afrika-lande, maar dis nie uitsluitlik 'n Afrika-probleem nie. Dieselfde probleem bestaan in sulke uiteenlopende lande soos Irak, Ierland, en Indië. Hierdie lande het wel min of meer homogene blanke bevolkings, maar die geloofsverskille is selfs groter, indien moontlik, as etniese verskille in Afrika-lande (die verskille tussen Protestante en Katolieke word in Ierland klaarblyklik so ernstig opgeneem word soos die stamverskille tussen Hutu's en Tutsi's). Volgens sommige politieke skrywers werk een man een stem slegs in homogene samelewings. Amerika en Engeland word dan as voorbeelde genoem. Maar Amerika is nie homogeen nie, en Engeland ook al minder. Die verskil tussen 'n land soos Engeland en 'n land soos Irak is eerder die feit dat stem-volgens-idee eerder as stem-volgens-ras (of dan stem-volgens-geloof) al baie lank daar gevestig is. Die feit dat die twee heersende partye in beide Engeland en die VSA se ondersteunersgetalle so naby aan mekaar is dat die wenparty dikwels wipplank ry, help natuurlik ook. Tony Blair se Labour-party weet hulle moet presteer of die Tories haal hulle in. En kyk hoe close was die uitslag die eerste keer toe Bush in die VSA "gewen" het! Waarom is daar soveel lande in die wêreld waar die demokrasie ondermyn word deur 'n etniese of teometriese stempatroon? Is multikulturalisme dan werklik 'n onbereikbare ideaal? Dit is een van die warmste besprekingspunte op ons planeet op die oomblik. Hoor wat sê die regse Vlaamse politikus Filip Dewinter in TIME magazine van 28 Februarie: "Multiculturalism is an illusion. Most immigrants are not integrating. They are sticking together in ghettos around the smell of their own food and their own way of life … They have to behave like we do. There has to be separation of church and state. Rivers of blood have been spilled in Europe to ensure that." Wat Dewinter natuurlik besef - en in hierdie opsig kan mens hom 'n soort realis noem - is dat, as hierdie neiging voortduur, die einde van die tradisionele Vlaamse lewenswyse sou aanbreek die oomblik wanneer die sogenaamde uitlanders se stemgeregtigde getalle dié van die oorspronklike inwoners van die land verbysteek. So much vir die feit dat hulle jare lank aan ons voorgeskryf het dat ons een man een stem moet toepas in Suid-Afrika. So much vir toleransie. En dis nie asof die Vlaminge nou al sit met 'n meerderheid wat toyi-toyi of halssnoermoorde pleeg nie. Hulle beleef sover bloot die marginale ongemak van skouers skuur met mense van 'n kultuur wat hulle nie verstaan nie. Miskien sal hulle met verloop van tyd begin begryp hoeveel moed die sprong van die Ou Suid-Afrika na die Nuwe Suid-Afrika gekos het! Hierdie nuwe etniese paranoia is juis nou baie sterk in Europa. So erg is dit dat Moslem-kinders in Frankryk gedwing word om hulle serpe af te haal wanneer hul skool toe gaan. Is dit nie juis die vaal eenvormigheid waarteen die rockgroep Pink Floyd gewaarsku het met hulle rolprent The Wall nie? Wie sou ooit kon dink dat sulke fascisme amptelike beleid kon word in die land van wyn en liefde? Wie sou ooit kon dink dat hulle hul bitter Marmite-idees na ons toe sou uitvoer in die vorm van Roodt en kie? Ek weet nie of ek moet lekkerkry of nie, maar feit bly staan, baie van die moondhede van die Weste wat so hard gepreek het teen Apartheid, sit nou met presies dieselfde politieke indigestie as wat ons al ervaar en deurgewerk het, nie net met die eerste vrye verkiesing van 1994 nie, maar alreeds met die stryd tussen Paul Kruger en die huurarbeiders in die ou ZAR! Dit was maklik, o so maklik, om die vingers te wys na ons vanuit die knusse gemak van die bordele en bistro's van Amsterdam en Parys. Now the chickens have come to roost. Die vraag wat ek wel myself al dikwels afgevra het, ten spyte van die feit dat ek, soos die res van die wêreld, ten minste teoreties glo in demokrasie, is dit: Is die meerderheid noodwendig altyd reg? Sê nou maar die mensdom moet, as geheel, 'n reeks keuses maak ter wille van hul eie oorlewing, ter wille van die voortbestaan van die osoonlaag, en ter wille van stygende voedseltekorte, en sê nou maar een van hierdie keuses is die keuse tussen vleis eet en vegetaries word (aangesien beeste duur is om aan te hou en boonop vreeslik poep). Selfs al is vegetaries die regte keuse, wie sal daarvoor stem? Nie ekke nie. Op 'n nog meer banale vlak, hoe kan 'n mens glo in die wysheid van die meerderheid as dit die meerderheid is wat jaar na jaar sorg dat die swakste musiek die beste doen op ons nasionale treffersparades? As ons ons eie gesonde smaak tersyde moet stel en bloot deur die meerderheid aan die neus gelei word, sou almal na die Campbells luister en niemand na Jan Blohm nie. Neem dit 'n stappie verder, en gee die meerderheid musiekluisteraars die reg om te kies wat op die radio gespeel word, en al wat jy ooit sal hoor is Kurt Darren. Nooit meer iets van Piet Botha of Kristoe Strauss of Lize Beekman of eers Lucas Maree nie. Ons sal basies terug wees by 'n situasie soortgelyk aan dié in die Ou Suid-Afrika, waar nasionale airplay bepaal is deur die laagste gemene deler van die blanke Afrikaanse dikkoppe. Kan demokrasie, in die mees gevaarlike scenario denkbaar, lei na "mob rule", soos wat iemand soos Charles Dickens al in 'n vorige eeu in sy romans gesuggereer het? Dis 'n groot versoeking om dinge so te vereenvoudig. En ons mense, veral dié van ons wat lui is om te dink, swig so maklik voor simplistiese oplossings. Dit verklaar dalk die skrikwekkende steun wat ouens soos Roodt het. Die halfhartige poging tot hervorming onder PW Botha ("adapt or die") het plek gemaak vir (om die vleis-eet-versus-vegetariër-stryd verder te vat) 'n nog meer halfhartige "adapt or braai". Of, nog erger: "If you can't force them to join you, fight them." Gaan die algemeen-aanvaarde beginsels van verkiesings, stemreg, vrye keuse, individuele besluite, die reg op privaatheid, kollektiewe moraliteit, ensovoorts, in die toekomstige geslagte betekenisloos word? Sou dit gebeur, en sou ons as spesie oor die afgrond van selfsug en anargie stort, sou dit dan die fout van die sisteem wees of die fout van die mens? Die rede waarom soveel maatskappye kapitalisme misbruik om die armes te onderdruk, is myns insiens nie kapitalisme se skuld nie. Die rede waarom globalisasie kleiner kulture insluk ten koste van groteres, in stede daarvan om wêreldwye kommunikasie tussen verskillende kulture te verbeter, lê by die keuses wat mense maak. As demokrasie nie meer werk nie, is dit omdat ons nie meer wil hê dit moet werk nie. As mense stem op etniese grondslag eerder as vir idees, is dit omdat hulle klein nasionalisme en fragmentasie belangriker ag as vooruitgang en vrede. Deur een sisteem (demokrasie) te vervang met 'n ander, verander jy nie die denkfout nie. Roodt, met al sy blanke meerderwaardigheid en intellektuele rasionalisering, doen absoluut niks om die probleem op te los nie. Hy is net so kontraproduktief soos Thabo Mbeki, wat praat oor 'n Afrika-Renaissance maar eintlik dink in terme van swart nasionalisme in Afrika. Ek wil vir 'n oomblik stilstaan by die konsep van 'n Afrika-Renaissance, want hieroor het ek heelwat teenkanting gekry nadat ek onlangs in 'n Rapport-rubriek geskryf het dat 'n Afrika-Renaissance belangriker is as Die Groot Trek. Een van die interessantste besware wat geopper is, is die argument wat min of meer so lui (dit is by herhaling aan my genoem, in eposse, op die Internet en in private gesprekke): "As 'Renaissance' dui op 'herlewing', watter era in Afrika wil Mbeki laat herleef? Was daar ooit 'n oplewing van kultuur in Afrika voor die koms van die witman, of was daar net barbarisme en chaos?" Dis 'n moeilike vraag wat ek nie met outoriteit kan beantwoord nie, want al daardie dinge was voor my tyd. Jeanette Ferreira, weet ek, doen tans navorsing oor koninkryke wat in Suider-Afrika bestaan het in die dertiende eeu. Ek haal ook graag vir Christi van der Westhuizen aan in The Sunday Independent van 8 Januarie 2004, waar sy vertel oor die gedagtes vervat in die Keniaanse skrywer Ngugi wa Thiong: "Black consciousness is aimed at drawing an image of a possible world that transcends the world of the west. The goal is for black people to assert their humanity …" Sy skryf ook in dieselfde artikel: "The colonial presence wanted to induce a historical amnesia on the colonised by mutilating the memory of the colonised and where that failed, it dismembered it, and then tried to re-member (sic) it to the coloniser's memory: his way of defining the world, including his take on the nature of relations between the coloniser and the colonised." Ek kan nie voorgee dat ek een honderd persent met wa Thiong saamstem, of dat ek ten volle verstaan wat hy probeer sê nie. Maar omdat die verlede van Afrika vir my grotendeels 'n geslote boek is, sou dit aanmatigend wees om te beweer daar was nooit ooit in die verre verlede tye van voorspoed, vrede en groei in hierdie kontinent voor die koms van die witman nie. Aan die ander kant dink ek dit is net so aanmatigend van swart regerings om witmense se wetenskaplike kennis oor iets soos Vigs of witmense se aangeleerde toleransie teenoor gayregte voor die voet te verwerp. Die een Westerse idee wat egter eindelik byna oral in Afrika byval gevind het, is wel die idee van demokratiese verkiesings. Maar steeds word dit op etniese grondslag bedryf. Die ware gees van demokrasie is verkeerd verstaan deur die eerste-generasie-puppets van die Weste (wie onthou nog Muzerewa? Ek kan nie eers meer sy naam spel nie); dit leef nog nie in die harte van die tweede-generasie-diktators nie, maar daar is aanduidings dat 'n derde generasie besig is om na vore te kom. Ek hoop dat hierdie derde generasie nie net die kollektiewe glorie van Afrika nie, maar ook die ideale van die Freedom Charter, wat blykbaar deur Mbeki vergeet is, sal onthou. Dit lyk asof die nuwe leierskap in Namibië deel van hierdie derde generasie is. Interessant is ook hoeveel steun daar vir die MDC in Zimbabwe kom nie van stamgebonde swartmense nie, maar van swart studente en ander ingeligte individualiste. Hopelik sal hierdie derde generasie besef dat die begrippe Renaissance en nasionalisme nie gemaklik langs dieselfde vuur sit nie. Nooit mag die regte van die individu en die ideale van vrye assosiasie, kreatiewe ekspressie en vrywillige groepering vertrap word deur die dwingelandy van partypolitiek en korttermyn-magsug nie. Waarom beswadder die ANC vir Tutu? Juis omdat hy vir hierdie soort vrye assosiasie staan. Waarom probeer die ANC mag verkry oor die media en die regbank (om nie van die universiteite te praat nie)? Heel moontlik om dieselfde redes. Dit is nie noodwendig dat die ANC sal regeer "tot die wederkoms van Jesus" (soos Tim du Plessis onlangs in Rapport vir Jacob Zuma aangehaal het) nie. Daar is geen rede om te glo dat Suid-Afrikaners vir alle tyd en ewigheid volgens ras en God sal stem vir hulle verkose partye nie. Alreeds begin die nuwe idees ingang vind. Alreeds is daar teenstand teen die ou manier van doen ten gunste van die nuwe manier. Die kwasi-oplossing van Roodt is presies wat ek sê dit is: 'n kwasi-oplossing. Dit is hopelik slegs 'n klomp woorde wat niks beteken nie. Sou mense dit probeer toepas in die praktyk, sou dit lei tot die bitterste ras-oorlog ooit in die geskiedenis van die kontinent. Daar mag gebreke wees in die demokrasie, maar dit is myns insiens nie die demokrasie se skuld nie. Dit is omdat die kultuur van individuele denke nog nie tot op datum sterk genoeg posgevat het in baie lande nie. Dit is omdat daar te min politici is wat die verbeelding van mense kan aangryp regoor kulturele skeidslyne. Wanneer die mensdom hierdie beginsel onder die knie kry, kan globalisasie verander vanaf 'n vloek tot 'n positiewe groeiproses. Ons het nie werklik 'n ander opsie nie. Om biskop Tutu aan te haal: "We want our society to be characterised by vigorous debate and dissent, where to disagree is part and parcel of a vibrant community, that we should play the ball, not the person, and not think that those who disagree, who express dissent, are disloyal or unpatriotic." Hierdie gedagte, meer as enigiets anders, vat vir my die essensie vas van wat die Afrika-Renaissance kan en moet word. Dit is ook ons beste verweer teen Dan Roodt se naïewe politiekery (om nie van sy onsmaaklike persoonlike aanvalle te praat nie).
Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |