Koos se Spens - rubriek deur Koos KombuisArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die reuk van vrot vis

artikel geskryf tydens ’n slapelose nag in Matjiesfontein se hotel

Koos A Kombuis

“I believe every man has the right to worship the God of his chosen religion and in all the religions there are true, devout worshippers who pray for the healing and upliftment of humankind. But there are also political thugs and hysterically ambitious men who use religion as a cloak for a catalogue of crimes that matches the worst excesses of any Colombian drug cartel, and they seem to be very busy right now.”

      — Barry Ronge (Sunday Times Magazine, 2 September 2001)

Iewers, iewers stink iets.

Iewers ruik ek vrot vis.

Ek wou tot nou toe niks hieroor sê nie, want vis is ’n heilige dier. Ja, selfs die vissies wat mense vroeër jare agter op hulle karre se bumpers geplak het, het my nooit so ontstel soos die oorweldigende reuk van dooie seediere wat die laaste ruk oor ons volkie hang nie.

Boereverneukery was daar nog altyd. Maar die afgelope klompie jare is ons toenemend geteister deur ’n nuwe soort boereverneukery. Christelike boereverneukery. Allan Boesak het dit begin (voordat hy deur die genade ’n nuwe nering as literêre figuur ontdek het). Nou is dit skielik hoog mode.

In die ou tyd het mense mekaar aangevat en bedonner en besteel en opstoppers gegee. Deesdae doen hulle dieselfde, maar hulle doen dit in die naam van die Here.

Dis so erg dat mens suspisieus begin voel oor almal wat die naam van die Here gebruik, vir watter doel ook al! En dis dalk nie fair nie. Maar die saadjie van wantroue is nou een maar gesaai, en dit is nou ongelukkig so dat ek feitlik almal wat die naam van die Here gebruik (met die uitsondering van Joost van der Westhuizen, Jannie de Beer en EKM Dido) met intense heidense agterdog bejeën.

Nou die dag lees ek byvoorbeeld in Rapport van ’n nuwe Afrikanerparty wat gestig gaan word. Vir die soveelste keer. Deur dieselfde ou moeë strydosse wat in die verlede nooit die wa deur die drif kon trek nie: Jan Hoon, Ferdie Hartzenberg, en kie.

Hierdie splinternuwe Party wil nie net Afrikanereenheid optower nie, hulle wil Christelike waardes terugbring in die politiek.

Boereverneukers is hierdie Nuwe Party miskien nie noodwendig nie, maar in hulle naïewe opregtheid oortree hulle een van die mees basiese taboes van die Westerse samelewing, ’n taboe wat ons deur dekades en eeue se bloed en sweet vir onsself uitgewerk het, en een van die min sekerhede wat soos ’n paal bo water staan en altyd sal bly staan solank die mensdom vergeefs streef na volmaaktheid: hulle meng godsdiens en politiek. Kerk en staat, so weet ons teen hierdie tyd, moet apart bly, ter wille van albei se heil. Kerk en staat mag mekaar nie besoedel nie; die twee konsepte is eindelik so onversoenbaar soos die ANC en Cosatu.

Nie dat die politieke Party van heilige ou strydosse ooit ’n kans staan om werklik te vorder van Party tot Staat nie. Hulle sal nooit genoeg stemme werf nie. Al stem alle Afrikaanse Christene vir hulle, sal hulle ’n splintergroep bly. Soos die ex-alternatiewes van Voëlvry (my alma mater!) wat nog steeds vandag in donker kamertjies in Stellenbosch en omstreke sit en hunker na ’n glorieryke (en boomryke) verlede, is hierdie gevalle helde gedoem tot die politieke en geestelike wildernis.

Dit ontstel my dat soveel Afrikanergroepies, ook dié wat hulleself as verlig beskou, nog steeds godsdiens en politiek (of godsdiens en kultuur) meng. Dit voel vir my asof hulle hul geloof vertroebel deur dit te doen.

Die ATKV, synde ’n privaat organisasie, het sekerlik die reg om hulle eie ledetal te beperk tot mense wat, soos hulle dit noem, “Christelike oortuigings” het. Maar deur dit te doen, kortwiek hulle hul eie effektiwiteit, en ontlok hulle alte dikwels skerp kritiek, geregverdigde kritiek.

Hulle naam is immers “Die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging”, nie die “Afrikaanse Christelike Taal- en Kultuurvereniging” nie.

As hulle dan, deur hulle eie definisie en titel, wil voorgee om namens die taal en kultuur van Afrikaanssprekendes te praat, waarom hulleself in dieselfde asem, beperk tot Afrikaanssprekendes wat uitgesproke Christene is? Wat van die Kaapse Klopse, die sogenaamde “ID du Plessis-blok”? (Hulle dra nie net funny hoedjies omdat hulle wil oulik lyk nie, hoor; daai mense is toevallig Moslems; ek weet dit vir ’n feit, want ek het self ’n paar maande in die Bo-Kaap gewoon). Wat van Breyten Breytenbach (toevallig ’n Boeddhis)? Wat van al die verloopte en twyfelende jongmense wat nog hulle voete moet vind en nog nie tot ’n besluit kon kom oor hulle eie geloofslewe nie? Wat van Casper de Vries (wie slegs in geelwortels glo, sover ek weet)? Wat van al die massas en massas Afrikaanssprekende mense wat nie meer aan ’n susterskerk behoort nie, wat Sondae-aande eerder na Carte Blanche of Big Brother wil kyk as eredienste bywoon, en wat jare gelede alreeds hulle sertifikate vol katkisasieseëls iewers in die motorhuis in ’n boks gebêre het en eerlikwaar nie meer daarna wil soek nie?

Dan is daar natuurlik ook die geweldig verwarrende besigheid met Ukkasie. Goed, ek ken die mense glad nie (al berig Jeanne Els in die September-uitgawe van Insig dat ons kop in een mus is). Ek het tannie Maryna (“Out of Africa”) Blomerus in my hele lewe nog nooit ontmoet nie. Ek hou wel van die musiek van Beeskraal, en ek is vriende met Lucas Maree, maar daar eindig die kameraadskap. Ek erken ook dat ’n geldige behoefte bestaan onder Afrikaanses in plekke soos Londen om Afrikaanse entertainers te sien in lewende lywe.

Maar wat, vra ek myself af in my heidense onskuld, het die Christelike geloof te doen met Afrikaanse kunstenaars wat in Londen wil gaan speel? Waarom het Jeanne Els my by hierdie halfgebakte kruistog probeer betrek?

Is Ukkasie ’n geloof-outreach, ’n partytjie, ’n volkspele-klub, of ’n kulturele brug? Hulle moet nou besluit, want, die fok weet, hulle kan nie alles gelyk wees nie. As hulle ’n Christelike outreach wil wees, good luck. Hulle sal dalk hulp uit allerhande onverwagte oorde kry sodra mense nie meer onseker is waarvoor hulle staan nie. Dalk leen sir Cliff Richard vir hulle sy agterplaas teen ’n beter prys as die Wembley-stadion! En as hulle ’n kulturele outreach wil wees (met of sonder volkspele!), wel, dan moet hulle ’n kans gegun word, want (soos Lucas tereg die ander dag vir my sê oor ’n koppie koffie in Bloemfontein) die Oudtshoorn-fees het ook maar baie blapse gemaak in die eerste paar jaar van hul bestaan, en kyk waar trek hulle nou!

Dalk groei Ukkasie nog in die toekoms tot ’n wonderlike jol, hetsy Christelik of sekulêr. Maar dit sal help as hulle sê wie en wat hulle is, eerder as om op twee stoele gelyk te probeer sit. Soos dinge tans is, is ek self onseker van waar ek met hulle staan. Hoe moet ek reageer as hulle my eendag nooi? Sê nou maar hulle pull ’n Sonja Herholdt op my? Ek is bang dat ek op die laaste oomblik geweeg en te lig (of te swaar!) bevind sal word.

Ek is, after all, nie ’n uitgesproke, kerkbywonende teksboek-Christen nie. Ek vloek soos ’n matroos.

Tog het selfs ek my sensitiewe kant, glo dit of te not!

Hoewel ek ietwat bevooroordeel is teen die woord Christen — soos sommige mense voel oor die woorde Afrikaner of hotnotsgot — en hoewel ek dalk nooit sal aansluit by Rhema nie — het ek waardering vir mense wat in opregtheid hulle geloof uitleef sonder om te dweep. Ek hou van die Bybel. Ek glo dat daar iets is soos ware bekering. En ek het al mense ontmoet wie se uitleef van hulle geloof bewonderenswaardig is. Daar is en moet altyd plek wees in die wêreld vir sulke mense. Ons het hulle nodig.

Maar daar is ’n soort Christen wat my pla, wat my irriteer. Ek moes dit sê, ek kon nie langer hieroor stilbly nie. Dis ’n sindroom waaraan ek self skuldig was toe ek jonger was, en ek haat dit om te sien hoe ander dieselfde fout maak.

Ek het wel (soos ek reeds gebieg het) waardering vir Springbokke soos Joost van der Westhuizen en Jannie de Beer, wie hulle geloof uitleef op die veld. Maar die dag as SARVU of wie ook al sou besluit dat toelating tot die Springbokspan beperk is tot slegs mense van die Christelike geloof (of Slamse, of Boeddhiste, of Sataniste, of wat ook al), daardie dag gaan ek ophou rugby kyk. Mens kan jouself beswaarlik die korrupsie en skynheiligheid voorstel wat sou volg op so ’n besluit!

Dalk is ek, as gevolg van ’n paar nare ondervindings wat ek gehad het met groepies mense wat hulleself “Christene” noem, oordrewe skepties teenoor georganiseerde geloofsgroepies. Dit is ook so dat, van al die mense wat my nog ooit te na gekom het of verneuk het, veral in besigheid, byna almal beweer het hulle doen wat hulle doen vir die een of ander “cause”. As gevolg hiervan is ek sinies oor “causes”. Ek is veral sinies oor Christene vir wie dit nie genoeg is dat hulle as privaat individue hulle geloof mag uitleef nie, maar wat alewig hulle geloof wil koppel aan ’n ander, skynbaar irrelevante bysaak. Christenwees is nooit vir sulke mense genoeg nie. Dit moet kwansuis Christenskap-plus-iets-anders wees. Soos Christenskap-plus-volk. Of Christenskap-plus-politiek. Of, soos in Ukkasie se geval, Afrikaanse-musiek-with-a-very-subtle-dash-of-Christenskap.

As ouens soos Jan Hoon dan so gretig is om ’n politieke of sosiale “cause” by hul geloof te voeg, waar was hulle toe biskop Tutu ’n beroep gedoen het om ter wille van versoening met die Waarheidskommissie saam te werk? Dit was tog ’n redelik eerbare cause (as far as causes go). Of: in plaas van soveel energie te spandeer aan die hou van vergaderings, waarom het hulle nie een keer die afgelope winter gaan toustaan met kos en komberse en Bybels en goed by die oorstroomde squatterskampe in die Wes-Kaap nie?

Ek is seker almal sal skielik met nuwe oë na hulle kyk as hulle sou waag om sulke oorspronklike goed te doen.

Geloof is belangrik. Dis waarskynlik die enkele belangrikste ding in elke mens se lewe. Dis die bepalende faktor, die rigting-gewer. Al die ander aktiwiteite waarmee ons as mense onsself besig hou, is tydelik, verganklik. Daar sal waarskynlik nie rugby in die hemel wees nie, en ek weet, dis bleddie jammer. (Daar’s ’n paar ander goed wat tien teen een ook nie in die hemel sal wees nie waaroor ek nog meer jammer is as rugby.)

Maar terwyl ons nou nog op aarde is, en terwyl hierdie dinge ’n konfidensiële saak tussen elkeen van ons en sy God is, is dit definitief okay om onsself te entertain met dinge soos kultuur en rugby. Dit maak sin in die konteks van die hier en nou.

En, om heeltemal eerlik te wees, wie van ons gee ’n hel om wat Bobby Skinstad se geloof is daardie oomblik wanneer hy oor die doellyn duik vir nog ’n wendrie?

Nee wat.

Seekos is ’n wonderlike gereg, maar daar is min dinge wat so aaklig is soos vrot vis.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.