Koos se Spens - rubriek deur Koos KombuisArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Koos A Kombuis verander so ’n bietjie aan Wimpie de Klerk se filosofie …

Kom ons noem dit eerder “kroes, kras en KATOOLS”

Dit het my meer as ’n jaar gevat om deur hierdie drietal boeke te worstel. Die kroes boek, die kras boek, en die kordaat boek.

Met die kordaat boek is ek nie klaar nie. Al hou ek van die inhoud, sit Wimpie de Klerk se styl my af. “Kordaat” is soos ’n bliksoldaatjie. “Kordaat” is ’n stemmetjie wat sê: “Ja, Baas.” Of: “Ja, Pa.” Kordaat is Boetman wat gatkruip by die skoolhoof.

Die kras boek het ek, anders as die ander, in een nag deurgelees. Die filosofie agter die boek was nie altyd so lekker nie — Chris Louw wroeg darem net te veel! — maar die styl het my vasgegryp. Ten spyte van ons verskille, was ek ná die lees van Boetman en die Swanesang van die Verligtes lus om vir Chris ’n moerse lang brief by die lig van ’n paraffienlamp te skryf asof ek iewers in die Bosveld in ’n tentjie sit. Omdat ons tydgenote is en dieselfde taal praat, kon ek hom verstaan, en saam met hom voel. Scary!

Dan: die kroes boek. Die beste boek van die drie. Die boek wat elke Suid-Afrikaner moet lees, al is dit kroes. Die boek wat ’n jaar lank langs my toiletspoelbak gelê het. Die boek wat my vir die eerste keer in jare weer laat huil het. Die boek wat my full circle gebring het: Antjie Krog se Country of my Skull.

Lanklaas het drie boeke my so gegryp soos hierdie drietal boeke (al het ek net twee heeltemal deurgelees). Veral Antjie Krog s’n.

My gevoelens oor Antjie Krog is ambivalent. Sy maak my jare lank al spils. Nie spesifiek sy nie, maar haar werk. Ja, ten spyte van die feit dat ons ’n klapsoen gedeel het agter die Kombi tydens ’n sekere konsert van die Voëlvry-Toer, was dit nog altyd Antjie se gedigte, veral haar jeugwerk, wat die horing in my siel wakker gemaak het. Laat my probeer onthou … dit was ongeveer dieselfde tyd as die fotoverhale van Zelna Dia, die movies van Zoli Marki (of so iets) en die luislang-manewales van Bettie Kemp — sorry, Glenda Kemp (as gevolg van te veel wettige en onwettige middels is my geheue nie meer so goed nie).

Maar ek onthou vir Antjie.

Dit was Antjie wat daardie misterieuse term “donker driehoek” in Afrikaans neergepen het en sodoende poësie en erotiek, twee dinge wat tot op datum streng geskei was, vir altyd ineengevleg het tot genot en voordeel van alle opkomende geslagte. Ek kan nie eers die konteks van die “donker driehoek” onthou nie; ek onthou net my eerste reaksie toe ek dit lees: Fokkit. Hierdie girl dig oor haar eie doos.

Tog was daardie eerste werke van Antjie nie so kroes soos Country of my Skull nie. Hoekom, as Country of my Skull dan so ’n briljante boek is, definieer ek dit as “kroes”?

Wel, in plaas van om te dig oor doos, het Country of my Skull my soms soos ’n doos laat voel. Omdat ek Afrikaans is. En dis streng gesproke presies wat ons mos deesdae probeer vermy onder die Nuwe Grondwet! Nog erger: ek, ek wat al gedink het ek is oor die hele proses van skuldgevoelens, klaar met jammer sê.

Inderdaad het ek die boek gelees op ’n stadium toe my eie pyn al afgehandel was. Juis daarom het die boek my oë opnuut laat oopgaan vir die pyn van ander. En juis daarom is dit ’n goeie boek, ’n broodnodige boek, die doos-faktor ten spyt.

Sover ek dit vir myself kon uitfigure, en met behulp van ’n baie oppervlakkige kennis van sielkunde, is daar drie hooffases in die oorkoming van trauma. Die eerste fase is juis die kroes fase, die bewuswording van die innerlike pyn, die ongemak, die neurose. Soos ’n klippie in die skoen. Soos ’n onvermoë om oop te maak teenoor ander. Mense wat swaar gekry het as kinders, tel dikwels persoonlikheidsprobleme op in hul latere lewe. Die Afrikaner, kollektief gesien, het so ’n probleem, afgesien van die feit of hy Apartheid verwerp of steun. Party van ons ervaar nou eers, soms eerstehands aan eie lyf (as gevolg van stygende misdaad), die soort rampe en ellendes wat swartmense al dekades lank teister. Natuurlik lei dit tot disfunksie. Dit verkroes ’n mens.

Die tweede fase is woede. Mens moet jou pyn in die oë kyk, verwoord en afhandel. Dit is feitlik onmoontlik sonder om op die een of ander manier die mens wat die pyn veroorsaak het, aan te vat. Wanneer daai mens nie na wense reageer nie, lei dit tot woede.

Woede is ’n natuurlike en gesonde reaksie: al kan dit skade doen, is geuiterde woede meer aanvaarbaar as onderdrukte woede. Onderdrukte woede bly altyd kroes. Woede wat tot uitbarsting kom, word kras. Die klippie is nie meer in die skoen nie; hy is nou ’n baksteen wat gewerp word na die aggressor. Boetman kruip nie meer gat nie, hy is nou die bliksem in.

Woede mag darem nie vir altyd duur nie. Woede is ’n pyl op soek na ’n bull’s eye. Daar is ’n doelwit agter ’n woede, ’n singulariteit wat opgespoor moet word. Woede soek katarsis. Katarsis kan die vorm van onvoorwaardelike vergifnis aanneem, of bloot aanvaarding en berusting. Dis nie ’n proses wat oornag gebeur nie. Maar dit moet gebeur, anders sweer die woede en word dit ’n blywende psigose. As die klippie nie uit die skoen gehaal kan word nie, belemmer dit die bloedsomloop en die postuur van die hele lyf. Om een van Wimpie de Klerk se gunsteling-terme te gebruik: so iemand word “skeefgetrek”. Kortweg: Boetman word mal.

Slegs as die woede opgelos word, kan die derde fase inskop. Dis die fase wat De Klerk “kordaat” noem. Dis die fase van geestesgesondheid, van heling, van self-kennende optrede, van uitreik na ander, van verantwoordelikheid, van lewenslus. Iemand wat sy trauma deurgewerk het en hierdie plato bereik het, kan weer iets beteken vir die samelewing. Kyk hoe merkwaardig vinnig het Nelson Mandela hierdie fase bereik!

Iemand wat fase drie binnegaan, is gewoonlik ook — soos Nelson — gereed om met nuwe oë na sy eie liefdeslewe te kyk. Geen wonder hy’t vir Winnie gelos en met Graca getrou nie (is dieselfde argument dan op FW van toepassing? Dis ’n baie moeilike vraag) — daar is deesdae selfs gerugte, maar ek glo dit vir geen oomblik nie, dat hy in Amanda Strydom belangstel!. Ek dink ek moet dalk die term kordaat vervang met katools. Wie van julle onthou nog die woordjie katools? So ’n mooi woord. So ’n regte standerd-drie-woord. Ek is seker Chris Louw onthou dit. Ek is seker Chris Louw sal ook graag wil ophou kwaad wees en weer behoorlik katools raak.

Hier is die amptelike definisie van katools (let wel, Helena Liebenberg, dis wragtig opgeneem in die HAT): “Uitgelate vryerig; speels, hittig, bronstig, jags …”

(Gepraat van “bronstig”: dis self ’n bleddie mooi woord. En suiwer Afrikaans en alles. Ek was tot nou toe onder die indruk Francois Toerien van KykNet het dit uitgedink, maar blykbaar bestaan dit al ’n hele ruk. Newwermaaind, daar was ’n tyd toe ek gedink het Francois het die woord impresario ook uitgedink. Maar al hierdie woorde is ouer as die berge. Which just goes to show, of ons nou ons taal suiwer gooi of nie, Afrikaners is eintlik van nature plesierig.)

Katools gaan vir my om meer as bloot spilsgeit, of dan die normale gevoel van aangetrokkenheid tot die teenoorgestelde geslag. Katools gaan om doodgewone vrolikheid; mens kan selfs ernstiger raak en sê dit gaan om ’n algemene gevoel van gesentreerdheid, selfbewussyn (in teenstelling met selfbewustheid), en die gepaardgaande intuïtiewe instink vir ander mense se ware behoeftes. Iemand wat katools is, sal nie ’n pes van homself maak nie. Hy sal homself nie skuldig maak aan verkragting en sulke nonsens nie. Want katools is vriendelik. Katools is alles wat Paulus van die liefde sê in I Korinthiërs 13, met ’n klein bietjie Hooglied bygegooi.

Die meeste van ons is nog nie by hierdie globale katoolsgeit nie. Vir baie Suid-Afrikaners is hulle seksuele en ander interpersoonlike emosies nog deurtrek met spanning, aggressie en skuld. Ons het nog almal klippies in die skoen. Ons ly feitlik almal aan road rage (dié wat gelukkig genoeg is om karre te besit, natuurlik), toustaan-rage, trollie-rage (in supermarkte), en allerhande soorte rage. Baie min van ons is sorgvry en uitbundig. Selfs (en veral) wanneer ons ’n paar kappe in het, raak ons moerig, dan soek ons kak met ons girlfriends, dan wil ons mekaar tik. Die katoolse energie is daar, maar dit kom skeef uit. Die bal gaan telkens verlore voor die doellyn, dan beland ons in ’n losgemaal en niemand score nie want die hupstootjie kom kort. Ons is soos die Stormers op ’n af dag. Ons is ons eie grootste vyande.

Ek het te lanklaas sielkunde deur Unisa geswot om nou te onthou wat Maslow alles gesê het, maar my common sense sê vir my dat daar sekere areas van ’n mens se lewe is wat bo verdenking moet wees voordat jy ’n waarlik produktiewe of katoolse lewe kan ly. ’n Mens moet selfrespek hê, ’n mens moet connected voel aan jou land of omgewing, aan jou familie en vriende, en jy moet die bevrediging van werk en speel in ’n relatief veilige milieu kan ervaar. Hoewel daar graadverskille was, het beide wit en swart in die vorige bedeling, en tot ’n groot mate vandag nog, ’n belemmering van een of meer van hierdie areas ervaar. Of jy nou ’n swartman was wat deur Vlakplaas se boytjies gebliksem is en of jy as gegoede jong witmens in die sewentigs oorsee gereis het net om tot jou verbasing uit te vind die nice mense in Holland dink jy is ’n kont omdat die oubasies se politiek by die huis nie kosher is nie, die feit is dat almal van ons onder Apartheid en Post-Apartheid verlies ervaar het, ongemak moes verduur, of ’n gevoel van fisiese en/of emosionele vervreemding moes meemaak. Hierdie siektes wissel in skakering en intensiteit: wat by oom PW dalk net ’n ligte aanval van sooibrand of iesegrimmigheid is, is by Chris Louw ’n desperate woede en by slagoffers van fisiese geweld ’n oorweldigende hulpeloosheid en angs. Dis natuurlik ’n moerse mite, en ’n onwaar een daarby, dat witmense en swartmense pyn verskillend ervaar. Kulturele verskille mag daar wel wees, maar glo my vry, almal ervaar byvoorbeeld geweld op dieselfde manier. Die slagoffers van plaasmoorde en hulle gesinne is net so getraumatiseerd as wat Steve Biko en sy kamerade destyds was. Antjie Krog sê die volgende oor die ouers van die vermoorde kinders in die Heidelberg-skietery:

    “The severest loss is that sense of invulnerability that allows you to lead a normal life — to go out, to drive a car, to let your children visit others — this is totally destroyed. The unnatural death of a child brings an existential despair — you feel scared, alone and incapacitated … the grief about a child killed in violence is a grief unlike any other,” the psychologist says.

Selfs meer grafies is hierdie paragraaf wat ek per e-pos ontvang het van ’n vriendin van my, Liela Groenewald, wat jare lank self by die Waarheidskommissie werksaam was:

    “Vir jare en jare en jare het dit net nie opgehou nie, squash hulle in, dosyne in elke gehuggie, en elke dag ry hulle hulle groot pantsergoeters in die township in en skiet mense at random dood, en elke nag ry hulle met half vermomde karre weer terug in die townships in en haal enige iemand wat hardop kla oor die dag se gebeure uit, of as hulle nie die geraasmakers kan kry nie, dan sommer enige iemand. Elke dag, elke nag. En as hulle die ou nie sommer daar uithaal nie, dan vat hulle hom na ’n koue, vaal kantoor iewers in ’n polisiestasie se agterste gange en begin allerhande speletjies. Hoe lank kan ons die ou se kop onder die water druk voordat sy oë begin omdop? Hoe lank kan ons spelde in die girl se nipples druk voordat sy flouword van die pyn? Hoeveel dae in ’n ry kan ons dit doen voordat sy daai kommunistiese slimkoppie van haar bietjie begin verloor? Dit hou net nie op nie.”

Hierdie soort dinge het gebeur. En dit gebeur vandag nog, al is ons nou nader aan ’n “normale samelewing” as toe.

Hoe definieer jy ’n “normale samelewing”? hoor ek iemand vra.

Hierdie saak is vir my heel eenvoudig. ’n Normale samelewing is nie ’n Utopia nie. ’n Normale samelewing is ’n samelewing waar mense mekaar kan hoor en waarin sekere basiese vryhede uitgeoefen kan word. ’n Normale samelewing is nie ’n totaal korrupsie-vrye plek nie, dis ook nie ’n plek waar niks ooit verkeerd loop nie, maar dis ’n plek waarin mense ’n genoegsame mate van identiteit voel en die selfvertroue het om voortdurend dialoog te voer. Die feit dat Steve Tshwete deur die Parlement en die media onder kruisverhoor geneem is ná sy onlangse misplaaste uitlatings, is ’n teken dat ons in ’n normale samelewing leef. Maar die feit dat Steve Tshwete nog steeds sy job het, laat my weer wonder hoe normaal ons werklik is. Die feit dat ons die ruimte kon skep vir ’n waarheidskommissie, laat my glo ons is ’n normale samelewing. Die feit dat die Lotto-geld (en baie ander geld) op so ’n klaarblyklik ondeursigtige manier bestuur word, laat my weer wanhoop. Mbeki het gesê ons is nog “twee nasies”. Dit is die enigste Mbeki-uitspraak waarmee ek tot ’n mate kan saamstem. Ons is nog steeds verdeeld, miskien nie meer sodanig as wit en swart nie, maar wel in ons eie koppe. Die eenheid is nog nie bewerkstellig nie. Nasiebou is nog nie voltooi nie. En geen twee mense verstaan presies dieselfde ding onder “African Renaissance” nie.

Op hierdie stadium is die enigste eenheid wat ons as Suid-Afrikaners ervaar, die feit dat die meeste van ons in pyn verkeer. En die feit dat feitlik al hierdie pyn se oorsprong, direk of indirek, by die vergrype van die Ou Suid-Afrika lê.

Soos Chris Louw se boek ons inderdaad bewus gemaak het, is die misverstand nie slegs tussen wit en swart nie, maar ook tussen generasies van dieselfde ras. Selfs nadat ek en my ma mekaar weer gevind het, nadat sy my outobiografie gelees en waardeer het, het dit vir my gevoel asof sekere dinge nog ongesê is tussen ons. Elke keer wanneer ek haar gebel het, was daar ’n subteks in die lug. Daar was dinge wat ek haar wou vra, maar te bang was om te vra. Die grootste vraag wat ek haar wou vra, was: Hoekom het julle my destyds nie ondersteun toe ek in opstand gekom het teen die Nasionale Party nie? Dit was die eerste verantwoordelike ding wat ek nog ooit in my lewe gedoen het. Dit was julle wat my geleer het om die regte ding te doen — maar toe ek dit doen, het julle my uitgekryt vir ’n dwaas! Ná etlike gesprekke tussen my en my ma het ek die indruk gekry dat daar egter van haar kant af ook ’n subteks was, ’n vraag wat sy bang is om vir my te vra. En eindelik, een aand oor ’n landlyn, het sy uitgekom met dit wat haar pla: “André,” het sy gevra, “het julle toe ooit julle seun laat doop?”

Gelukkig kon ek “Ja” sê en haar gerusstel (ons seun is inderwaarheid gedoop, deur ’n regte dominee, hoewel nie in ’n kerk nie). Maar geen ander gesprek het vir my soveel duidelikheid gegee oor die verskillende wêrelde waarin ek en my ouers leef nie.

Anyway, ek het toe nooit my eie vraag aan my ma gestel nie. Hierdie kloof is ’n kloof wat net deur liefde oorbrug kan word, nie met die intellek nie.

Die grootste ironie is dit: my ouers was nooit rassiste nie. En tog het hulle die NP vertrou.

En wat die doop betref: ek en my vrou is nie lidmate van enige kerk nie, ons glo nie die doop van ’n kind dra enigiets by tot die stand van die sogenaamde siel nie, en tog het ons so ’n seremonie gereël juis omdat ons op een of ander manier dankbaarheid wou betoon aan ’n Hoër Gesag.

Is daar dan werklik ’n kloof? Is die probleem nie bloot dialekties nie?

En: is mense soos my ouers wel benadeel deur Apartheid?

Ek dink hulle is bevoordeel en benadeel. Hulle het veilig gevoel, maar die prys vir hierdie veiligheid was ’n verskriklike illusie. Onskuldige mense is vermink — en nie slegs onskuldige swartmense nie. My neef het sy been in Angola verloor. Sulke nadele, voel ’n mens nou, weeg veral in retrospek veel swaarder as die kastige voordele.

Dit wat vir my na ’n illusie by die vorige geslag lyk, is wel nie so deur hulle ervaar nie. My eie kinders gaan dichotomieë by my raaksien waarvan ek nou skaars bewus is. Ek kan my voorberei op die volgende soort vrae (oor minder as twee dekades van nou af): “Julle het kastig baklei teen Apartheid, maar daar is soveel belangriker dinge in die wêreld!” Of: “Pa sê Pa ondersteun die vryemarkstelsel, maar wat van die osoonlaag? Wat van die mal koeie?” Sulke dinge is ons geslag se voorland. Die generasiegaping sal altyd met ons wees, vrees ek!

(Gepraat van koeie: Engeland is ’n normale samelewing met vryheid van spraak en vryheid om te betoog en al daai goed, maar bewaar jou siel as jy ’n bees of ’n skaap is! Dit net terloops.)

’n Mens verwonder jou aan die wonderwerk van hierdie boek, Country of my Skull. ’n Mens verwonder jou aan die ongelooflike veelsydigheid van hierdie skryfster, wie skynbaar ewe tuis met die Afrikaanse digkuns is as met Engelse new journalism.

Sedert Antjie Krog haar meesterstuk in Engels geskryf het, het sy darem ook nie stilgestaan nie. In ’n onlangse digbundel, Kleur Kom Nooit Alleen nie, dig sy: “die pad na my man se hart loop deur sy piel”. Sy is nog net onnutsig soos toe sy destyds oor die “donker driehoek” gedig het. Sy is nog steeds katools. Sy sien dinge alweer (of nog steeds) op ’n vars, speelse, aardse manier, newwermaaind watter taal sy gebruik. This writer has come full circle.

As daar een ding is wat al drie hierdie boeke my geleer het, is dit dat al drie die fases — kroes, kras, sowel as kordaat of katools — nodig is. Dit is almal stadiums in ons genesing. Ons hoef dit nie te ontken nie. Ons sal wel hopelik die eerste twee fases, soos Antjie reggekry het, later ontgroei.

Ek wil nie die res van my lewe soos ’n doos voel nie. Boetman wil leer smaail. Boetman wil gaan opsit by sy nooi in die vlei.

So waar as wat parra fokken manel dra …

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.