KlankKas - Musiek en meer!Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.



Unisa/Vodacom Vyfde Internasionale Sangkompetisie

Luisterryke jurie vir 35 sangers uit 16 lande

Ina van Rooyen

‘n Sterbesaaide internasionale/Suid-Afrikaanse jurie gaan van 23 Januarie tot 4 Julie in Pretoria beslis watter sanger(s) as wenner(s) uit die Vyfde Internasionale Sangkompetisie gaan tree, soos die afgelope jare ruim deur Vodacom geborg. Vanjaar se beursgeld bedra R700 000.

Die finale rondes, wat gewoonlik baie spannend is, word op 3 en 4 Februarie in Unisa se ZK Matthews-ouditorium op die hoofkampus in Muckleneuk, Pretoria gehou. Die Kamerorkes van Suid-Afrika (COSA), wat reeds byna ses jaar lank selfstandig in Pretoria bestaan, tree soos dikwels die afgelope tyd saam met een van hul gunstelinge, die hoogaangeskrewe Nederlandse dirigent, Arjan Tien, op.

Die orkes het ontstaan nadat sowat tienstuks dapper strykers van die ontbinde Napop-orkes van die Staatsteater hul eerste konserte dirigentloos en sonder vergoeding begin aanbied het. Hulle het van krag tot krag gegroei en speel reeds die afgelope jare vir alle belangrike konserte in Pretoria en soms in Johannesburg.

Een van die beoordelaars van die huidige jurie, die uiters veelsydige mezzosopraan Sibongile Khumalo, het juis verlede jaar haar eerste “klassieke” CD uitgereik wat met COSA en Arjan Tien op die podium opgeneem is. Sy het onder meer die opspraakwekkende en nou reeds geliefde Princess Magogo-siklus van Zoeloe-liedere op dié album naas Brahms se treffende Alt-Rapsodie, uitgevoer. Die UP-Konsertkoor onder leiding van Johann van der Sandt staan hulle by.

As die Eerste Nasionale Unisa/Vodacom-Sangkompetisie verlede April ‘n barometer is van die standaard sang en kunstenaars uit eie bodem, kan hoë verwagtinge van die streng-gekeurde 35 sangers uit 16 lande gekoester word. ‘n Geesdriftige skare sal hul gunstelinge in die internasionale span soos in ‘n volbloed-perdewedren uit die staanspoor kies en enduit steun – as dié gunstelinge die takserende wedloop kan voleindig! Vyf Suid-Afrikaners, in Unisa-taal as “ons jong Springbokkies” bekend, word gewoonlik met daardie noodwendige tikkie ekstra (luidrugtige) geesdrif aangemoedig.

Plaaslike komponiste word bevorder met Samro-opdragwerke wat tydens kompetisies en spesiale geleenthede uitgevoer word. Elke sanger moet in die beginrondes ‘n sangstuk deur ‘n Suid-Afrikaanse komponis uitvoer.

John Roos van Pretoria, sedert 1988 artistieke direkteur aan Unisa, reël gereeld nasionale (in die jongste jare) en internasionale kompetisies vir sangers, pianiste en strykers met die steun van Willie Steyn. Die plaaslike wenners en naaswenners kwalifiseer outomaties vir die daaropvolgende jaar se gesogte internasionale kompetisies. Voornemendes word op grond van inskrywings op band of CD gekeur, en die toegelate kandidate ding dan volgens streng internasionale reëls in vier rondes mee.

Vandeesmaand word vyf uitstaande jong plaaslike sangers tydens die Vyfde Unisa Internasionale Sangkompetisie in dié drukgang van mededinging met 30 oorsese sangers van verskillende genres geplaas.

John Roos het verduidelik: “Die musiekkompetisies is ‘n geleentheid vir ons jongmense om as kunstenaars te ontwikkel. Só word hulle meesal vir die eerste keer in die internasionale maalstroom gegooi – dit bring noodwendig spanning en teleurstelling mee.

“Goethe het gesê: ‘Talent word in stilte gevorm; karakter word in die maalstroom van die werklike lewe gekweek.’ Alle ware kunstenaars ervaar een of ander tyd mislukking. Hoe die teleurstelling innerlik met nabetragting verwerk word, skep karaktergroei en skoei talent. Te midde van frustrasie en lyding moet die brandende liefde vir musiek die musici dra om teleurstelling te bowe te kom. Dis ‘n daaglikse groeiproses, soos geloof.

“Dis my ideaal om eendag die eerste prys tydens ‘n internasionale kompetisie aan ‘n plaaslike musikus toe te ken,” het John erken. Moontlik is vanjaar dié jaar!”

Enkele jong Suid-Afrikaanse musici wat internasionaal presteer het nadat hulle Unisa- en Samro-pryse gewen het, was pianiste wyle Marc Raubenheimer, wyle Steven de Groote, en Anton Nel (VSA), en sangers André Howard (SA), Sally du Randt (Duitsland), Julianne Young (Londen) en Michelle Breedt (Wenen).

Mimi Coertse (veteraan-koloratuursopraan), Wicus Slabbert (bariton) en Johan Botha (tenoor) is in Wenen met die eretitels Kammersänger(in) vereer, en Emma Renzi is met ‘n dergelike Italiaanse titel bekroon. Wyle Marita Napier (sopraan), wyle Deon van der Walt (tenoor) en Johan Botha het die sogenaamde Grand Slam behaal deur in die vier grootste operahuise ter wêreld te sing. Gróót talent, waarvan te veel in die fleur van hul lewens tragies oorlede is.

Die algehele wenner van die sangkompetisie kry aanstaande jaar (soos in alle internasionale gevalle) as deel van sy/haar prysgeld ‘n gewaarborgde landwye konsertreis deur Suid-Afrika. Gewoonlik word konsertreise ook vir die naaswenner gereël.

Die standhoudende hoë standaard van Unisa se tweejaarlikse internasionale musiekkompetisies word weer eens weerspieël deur die uitgelese jurielede wat uitnodigings aanvaar het om die beoordeling te kom doen. Hulle is die Amerikaner Grace Bumbry, een van die wêreld se suksesvolste dramatiese soprane, wat deur drie ander vroue – Sibongile Khumalo (SA), Tomoko Nakamura (Japan) en Barbara Hill-Moore (VSA) bygestaan word. Suid-Afrika word ook die eerste keer in donkiejare vereer met die teenwoordigheid van die Suid-Afrikaanse sanger Wicus Slabbert van Wenen. Die ewe bekende Joseph Protchka van Duitsland en Yuriy Gregoriev van Rusland is die manlike buitelandse verteenwoordigers. Angelo Gobbato (bariton) en John Roos rond die plaaslike jurielede af.

Suid-Afrika se kontingent sangers is sterk verteenwoordig, met onder meer die soprane Bronwyn Forbay en Erica Eloff wat verlede jaar as wenners uit die nasionale stryd getree het. Forbay was die bekroonde sanger in die opera-afdeling en Eloff is vir haar uitvoering van kunsliedere en antieke liedere as wenner beloon, terwyl sy as naaswenner in die opera-afdeling uitgetree het. Sy het die haas onmoontlike vermag om vir albei afdelings in te skryf en boonop uitstekend te vaar.

Die bloedjong tenoor van Potchefstroom, Jacques le Roux, student van die meesterlike sangonderwyser Werner Nel – self ‘n befaamde bariton – is ‘n verdere lid van die groep van vyf Suid-Afrikaners wat vir die internasionale stryd gekeur is. Jacques was ‘n semifinalis en is vir sy besondere vertolking van Schubert se maraton-Liedersiklus Dichterliebe bekroon.

Die flambojante Kaapse sopraan, Zanne Stapelberg (‘n student van komponis Hendrik Hofmeyr), wat derde uit die stryd getree het en ook gekeur is om mee te ding, het verkies om in dié tyd aan ‘n kompetisie in Duitsland deel te neem.

Bronwyn Forbay van Durban is met doktorale studies in Cincinatti in Amerika besig, waar sy al groot sukses behaal het. Sy het haar meestersgraad reeds in 2002 verwerf.

Erica Eloff van Potchefstroom, voormalige student van Werner Nel, studeer nou in Londen by Lilian Watson nadat sy meesterklasse by die Nederlandse sopraan Elly Ameling en die Duitse sangmeester Helmuth Deutsch ontvang het. Albei het al wyd in ons land opgetree.

Interessant genoeg kom die sterkste span van sewe sangers uit Suid-Korea. Kanada en die VSA het elk vier sangers, terwyl Duitsland, Armenië en Roemenië net deur twee sangers elk verteenwoordig word. Een sanger uit elk van die volgende lande is gekeur: Argentinië, Bulgarye, Georgië, Japan, Kirgistan, China, Rusland, Nederland en Turkmenistan.

Die deelnemers sal van die veeleisendste operarolle en kunsliedere in die sangrepertorium, sowel as operette-arias vertolk. Soos in verlede jaar se nasionale kompetisie word daar in twee kategorieë meegeding: opera en konsert- (kunslied-) afdelings.

Soprane maak die sterkste groep uit, met 19 deelnemers. Sewe is mezzosoprane, drie tenore, en die orige ses is basbaritons.

Mthobi Tyamzashe, uitvoerende direkteur van Korporatiewe Sake van Vodacom SA, sê: “Met so ‘n groep sangers van oor die hele wêreld kan ons ‘n kompetisie van uitsonderlik hoë standaard verwag, soos ons al geleer het om met Unisa-Musiekkompetisies te assosieer.

“Dis ‘n voorreg om so ‘n uitgelese jurie te verwelkom. Dat stemkunstenaars van so ‘n kaliber die uitnodiging aanvaar het om lede van die jurie te wees, is ‘n aanduiding van hoe hoog Unisa se kompetisies internasionaal aangeslaan word.”


Beknopte CV’s van die jurielede is soos volg:

· Grace Bumbry, een van die wêreld se mees gevierde dramatiese soprane, word deur aanhangers en kritici as “opspraakwekkend”, “skitterend”, “ongelooflik” en “geestelik” bestempel. Sy was die eerste sanger van kleur om ooit vir ‘n groot rol in die merkwaardige Bayreuth Festspielhaus in Duitsland gekeur te word. Dié rol het haar paadjie na roem geplavei. Sy het saam met die wêreld se bekendste dirigente opgetree en is ‘n gevierde eksponent van kunsliedere.

· Tomoko Nakamura het by die beroemde sopraan Elizabeth Schwarzkopf in Zürich gestudeer en eerste prys in die gesogte Münchense Internasionale Sangkompetisie gewen. Sy het groot rolle in die operahuise in Stuttgart, Keulen, Dresden, Essen en Bordeaux vertolk. Sy is tans professor in sang aan die Okinawa-universiteit vir Skone Kunste en Musiek in Japan.

· Barbara Hill-Moore het met groot byval en erkenning optredes dwarsdeur die Verenigde State en Europa gehad. Sy is professor in sang aan die Southern Methodist-universiteit in Dallas, Texas. Prof Moore bestuur ‘n fonds van jaarlikse beurstoekennings aan sangstudente, insluitende jong sangers van Suid-Afrika, Korea en China.

· Sibongile Khumalo word as een van Suid-Afrika se veelsydigste sangers beskou. Sy is tuis in oratoria, kunsliedere en opera, sowel as in jazz en tradisionele musiekgenres. Hoogtepunte van haar loopbaan sluit in ‘n uitvoering met die Londense Filharmoniese Orkes (LPO) as solis in Händel se Messias met lord Yehudi Menuhin as dirigent, asook met die Londense Bach-koor gedirigeer deur David Willcocks, en die Europese wêreldpremière van Mzilikazo Khumalo se epiese UShaka in 2004 (beskryf as “an African epic in music and praise poetry, sung and spoken in Zulu, for large orchestra, choir and soli”). Die uitvoerings onder die stok van Robert Maxim met ‘n geheel Suid-Afrikaanse rolbesetting is in talle van die grootste Europese operahuise opgevoer. Dit is deur Robert Brooks, stigter en musiekdirekteur van die destydse International Classical Music Festival (ICMF), nou getitel die Miagi (Music is a great investment) Festival, georganiseer. Sibongile Khumalo het haar heel eerste operarol in 1998 in Roelof Temmingh se wêreldpremière van Buchuland tydens die ISME-konferensie (23rd International Society for Music Education World Conference) in Pretoria vertolk. Daarna het sy rolle in die operas Carmen, Aida, Un Ballo e Mascera en die première van die opera Princess Magogo van Khumalo/Michael Hankinson onder die stok van David Tidboald in Durban vertolk. (Die afsonderlike Magogo-liedsiklus van Mzilikazi Khumalo is deur Peter Klatzow vir klavier getranskribeer en daarna georkestreer.)

· Josef Protchka is ‘n veelgeroemde Lieder- en oratoria-sanger en ‘n huishoudelike naam in die meeste Europese en Amerikaanse operahuise. Talle van sy meer as 50 opnames is internasionaal hoog aangeskrewe. Hy is in 2002 as hoof van die Hochschule für Musik in Keulen aangestel.

· Yuriy Gregoriev word as een van Rusland se mees gevierde baritons beskou en het die eretitel People’s Artist of Russia ontvang. Hy was meer as 22 jaar ‘n solis aan die Bolshoi-operahuis, waar hy ‘n geweldige repertoire van baritonrolle vertolk het. Gregoriev is nou hoogleraar in sang aan die Moskouse Konservatorium.

· Angelo Gobbato het verskeie toekennings en eerbewyse vir sy bydrae tot opera in Suid-Afrika, veral in Kaapstad, verwerf. Nadat hy sewe jaar lank direkteur van die Operaskool by die Suid-Afrikaanse Musiekkollege was, is Gobbato as direkteur van die destydse Kruik-Opera aangestel – nou die onafhanklike Kaapstadse Opera.

· Wicus Slabbert se operasuksesse het hom na die Weense Staatsopera gelei, waar hy die eretitel Kammersänger ontvang het. Dié titel word aan sangers vir hul uitsonderlike bydraes tot opera toegeken.

· John Roos is die artistieke direkteur van die Unisa-Musiekstigting en dien gereeld as jurielid tydens die toonaangewende nasionale en internasionale musiekkompetisies.

Vir meer inligting oor dié sangkompetisie kan met die Unisa-Musiekstigting by telefoonnommers (012) 429-3344/429-3336 of per e-pos by musicomp@unisa.ac.za in verbinding getree word. Konsertgangers wat die finale rondes wil bywoon, moet vroegtydig by Computicket bespreek.




LitNet: 26 Januarie 2006

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

 

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.