KlankKas - Musiek en meer!Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.



Terug in skubbe is ‘n moerse album

Erns Grundling

Bestel nou by kalahari.net!

Resensie: Terug in skubbe, deur die Brixton Moord en Roof Orkes
Rhythm Records, 2005
(Klik op omslag om te bestel by kalahari.net!)

Dit voel al soos donkiejare dat Andries (Roof) Bezuidenhout die album Terug in skubbe in my hand gestop het. As ek reg onthou, was dit vroegherfs (darem die mees onlangse een), vlak voor die Woordfees, een aand by die Independent Armchair Theatre in Observatory. Tydens die Brixton Moord en Roof Orkes se kort Kaapse draai saam met daai ander lieflike belhamels, Trike.

Nou is dit reeds ‘n hele paar maande later. Die man met die besem het klaar die herfs opgevee (met erkenning aan Bacchus Nel). Dis winter, weet jy dit dan nie? Steeds huiwer ek telkens voor die keyboard. Typer’s block. Stel dit uit soos ‘n vigstoets.

Nie dat die album my nie rasend van opgewondenheid het nie. Inteendeel. Ek het dit al moertoe geluister en al die pad terug. Maar Terug in skubbe is vir my soos Mr Miyagi se bonsai: dit groei langsaam, stadig en zen-agtig op mens. Eers onder jou vel in. Dan volg die skubbe ...

DJ Opperman (die digter, nie die platejoggie nie) het destyds geskryf:

trap versigtig
o altyd so versigtig
vir die gly
vir die terugglip tot vis

1. Vis

Die albumtitel en skrikwekkende voorblad (gaan staan met jou neus teen een van die Two Oceans Aquarium se massiewe visbakke vir ‘n soortgelyke sensasie) toon reeds ‘n tipe minagting vir Opperman se waarskuwing.

Die terugglip tot vis het reeds geskied, ons is terug in skubbe. Dit sinspeel vir my op die primordiale onderstrominge wat orals aanwesig is in ons daaglikse handel en wandel.

Daarom gepas dat die album afskop met Moord Greeff se koelbloedige “Vis”. ‘n Dromstokkie tik-tik en word gevolg deur briesende kitare. Die tipe refrein waarteen Rodney Seale en sekere dominees ons in die 80’s gewaarsku het, saam met “Dungeons en Dragons”, Iron Maiden-plakkate en verbeeldingsvlugte in die algemeen.

Roof Bezuidenhout is aan die woord:

Sit my terug in skubbe
ek wil ‘n vis wees
laat my afstand doen van my gees
‘o a o a’ maak met my lippe

Lekker. Die perfekte manier om hierdie wilde road trip van ‘n album mee af te skop. Evolusie is onwelkom, ont-mensliking aan die orde van die dag. “Wie wil nou ‘n mens wees?” brul Roof. Beelde van strontsnuffende honde en voëls wat pik-pik aan hul eie sere word opgeroep. Tegelykertyd oers en apokalipties. In sappige Afrikaans en met ‘n gatskop beat. Vat so, Opperman.

2. Fortuinverteller

Hierdie snit het ek die eerste keer gehoor by verlede jaar se Woordfees, tydens die woordkunsprogram Laertrek op Pramberg in die Hidden Cellar. Andries het dit solo gesing, net met akoestiese kitaar. Moenie hierdie song onderskat nie. Dit roep beelde op van die argetipiese outsider-troebadoer wat ‘n fortuinverteller besoek. Kyk hoe skep hy die atmosfeer ...

Jy nooi my na binne
na jou donker karavaan
met die reuke van wierook
trek jy my aan

kan die rinkel van juwele
my vir ‘n oomblik laat rus
die swaai van jou heupe
my stadig, stadig sus.

Effortless. In my geestesoog sien ek ‘n gypsy soos Esmeralda in Disney se Hunchback of Notre Dame (behalwe dat sy nie animated is nie en effens gehawend lyk, minus ‘n paar vital tande ens) wat jou al klingende buite ‘n verweerde Jurgens-karavaan na binne nooi.

Dit is egter dié refrein wat my winduit geslaan het:

Jy sê jy ken die toekoms
jy kan dit duidelik lees
kaarte en kristalle
sê wat die uitkoms kan wees
ek gee jou my palm
jy lees my lewenslyn
maar weet jy my verlede
het lank reeds verdwyn

hierdie woorde en sinne
het ek iewers geërf
maar die taal wat ek praat
het lank reeds gesterf
ek het eendag vergeet
waar kom ek vandaan
waar my huis is my hart is
of die klank van my naam.

Moenie my vra waarom nie, maar as ek ooit sou moes kies watter song ek sal wil speel by Afrikaans se begrafnis, sal dit “Fortuinverteller” wees. Wanneer ons die moedertaal finaal in haar moer in bekommer het en sy ter helle neerdaal sonder enige beloftes van wederkomste en reïnkarnasies en ons dus sonder taal of tyding hurk, kniel en kruisbeen om die vars hopie grond ... dan sal ek vir Andries Bezuidenhout wil opkommandeer om hierdie song as swanesang (swanesong?) te sing. O ja, Liela Groenewald se sang in die koorgedeelte is puik.

3. Spoed (met verskoning aan Jan Rabie)

Koorsagtig. Dringend. ‘n Ultimate road trip song. Veral as dit net jy en die bike is. ‘n Song vol waarskuwings teen potholes, diere in die pad en die duiwel wat op jou spoor is en jou beslis gaan opfok as jy durf stilstaan. Stilstaan is nie ‘n opsie nie, nie in hierdie song nie, en ook nie in die lewe nie. Dis aanhou beweeg en geraas maak, soos Jan Rabie geskryf het.

Want as jy stil staan, is die hel los.

Ek stop net vir tolhek of vir padblokkade
Ultra City pitstop vir die petrolskade
Red Bull, burger en Bio Plus
hou my wakker op die bike deur die Katbergpas

Vertroetel jou insomnia met die laaste vers, verkieslik met CNN ge-mute op die TV:

Wat is die lewe, wat is die liefde?
Alles kom tot niks as jy stil gaan staan
Met jou vuis op die throttle en jou voet op die rat
kan die langpad jou vat waar hy jou heen moet vat
En as jy stilhou kom die duiwel jou haal
vir jou huisie in die suburbs met ‘n halsband aan.

Beware of the dog. Pasop vir die hond. Lumkela inja.

4. Paul van der Zandt

Dat Brixton Barnard nog nie ‘n GMT of soortgelyke toekenning ontvang het vir sy lirieke nie, is ‘n jammerte. Ek moet nog ‘n “swak” song deur Brixton opspoor of hoor.

Hy is myns insiens ‘n genie en een van ons mees onderskatte liriekskrywers. Luister gerus na die twee puik Trike-albums, saam met Esmé Evakwaad, vir nog skitterende lirieke uit sy pen.

Vir Terug in skubbe het Brixton meer as ‘n handvol songs geskryf, waarvan “Paul van der Zandt” die eerste is. Luister na die uitasem lighter (?) wat vlamvat in die begin. Melankolie en nostalgie lê lepel op hierdie snit, met Brixton se vertolking strak en deadpan. Die lirieke lees soos poetry, want dit ís:

Rudi se wit Ford, somer se lang quarts
Tony Wyomi nie Juffrou Ciccone, my vriend
ons het almal gedroom;
geslaan aan kitare, grunge en lang hare
die pyn van Cobain, die Cramps se drug train,
pay your dues, nog ‘n amp wat uitfuse,
nog ‘n band, nog ‘n drommer wat verlief raak op
‘n nommer
en sommer sy stokkies ophang vir die
babakakblues,
die babakakblues ...

5. Sussie se sweep

As jy die woord Sannieshof op ‘n padbord sien, ry verby. Asseblief. Dit wat onverkrygbaar is, weens omstandighede of (gebrek aan) keuse word in hierdie snit aangespreek. Sussie sit hande in die hare op ‘n godverlate plaas, tussen die mielies en hoenders. Haar man boer homself moertoe. Sussie is fokken jags. En onherstelbaar eensaam in haar boer se om-hel-sing ... bloots ry bly bloot ‘n fantasie.

Die vraag wat jy moet beantwoord, liewe leser:

Sussie se sweep, Sussie se sweet
Sussie se stockings, Sussie wil weet
of sy jou kan vasbind, of sy jou kan streep
of jy hard sal skree as sy jou bloots ry!

Ek gaan nie hierdie song spoil deur te veel hieruit aan te haal nie. Dit swymel van erotiese frustrasie.

So, skip Sannieshof, tensy jy Sussie uit haar verknorsing gaan help. En die hale op jou rug nie agterna hoef te verduidelik nie. Esmé Evakwaad sing saam op hierdie song. En sy mág maar. Sy is al in uitgesoekte kringe as die “Alpha Female” beskryf. Moenie stry nie; sommige feite is verhewe bo vraagtekens.

6. Salome se lot

Sy soek net ‘n plek vir haar en die laaitie
ver van O’Hagans en die dorp se geraas
Sy was eers beïndruk met al die blink liggies
maar die party is oor, net die hangover bly.

‘n Randfiguur se triestige lot word in hierdie song uitgelig. ‘n Wanhopige waitress “glimlag nog vriendelik vir al die vet beursies”. Maar haar siel soek rus. Joanne Jacques se stem rond die song goed af en Kapelaan Pat Plank looi die elektriese kitaar behoorlik teen die einde.

Die laaste vers is sekerlik die inversie/backmasking-weergawe van Cat Stevens se “Morning has broken”:

Saterdag en slaappilloos, laatnagradio
moedeloos,
wag sy vir die oggendson, wag sy vir die son ...

7. Kleurvolle tradisie

Brixton Barnard op sy beste. Niemand het nog ooit so in Afrikaans oor die binnekant van ‘n shopping mall geskryf nie. Dis heerlike satire! Hy deel met ‘n grynslag dwarsklappe uit na die geskiedenis, Piet Retief se swanesang, die Waarheidskommissie en Morkels se beroemde waarborg.

shopping centre word ‘n slagveld
en ek weet nou presies
hoe Piet Retief gevoel het
toe sewe duisend Zoeloes
op die maar van Ipi Tombi
by sy deur aangekom het.

Dit sit nie in enigiemand se broek om mixed metaphors met gemak af te pull nie.

Hierdie song is vir almal wat al hul toaster as ‘n lighter gebruik het. Meer gaan ek nie weggee nie. Ek weet daar is baie van julle daar buite ...

8. Goud in my Brandy en Coke

Moord Greeff is weer heerlik sinies en behoorlik op sy stukke:

Sewe maal sewe, voetpaadjies vol skewe stene,
‘n groot, barmhartige dors in my gene;
‘n potsierlike pouveer in my oupa se hoed,
die mooiste tieroog is steeds soek.

Nóg ‘n great song. ‘n Woordsmid aan die werk. Ek is mal oor hierdie onheilspellende strofe:

Sewe wewenaars swerf deur die woud
elke een op soek na die tieroog van goud
maar hoor hulle tussen die takke die mineur
waarop die spelonk in my bors resoneer.

9. Lisa Forward

‘n Huis, ‘n vrou, ‘n hond en internet. Iets is missing. Waar ‘n vrou in “Sussie se sweep” verstrengel en vasgevang sit op die plaas, is die manlike karakter in hierdie song uitgelewer aan die suburban leefstyl. Die kêrel sit in die “southern comfort” van sy Morkelsstel, teug aan ‘n quart en wens:

Ek wens ek was ‘n rock star
so I can meet some porn stars
Ek wens ek was ‘n pimp
en nie ‘n Absa-klerk nie.

Die fantasie-element in hierdie song is ‘n fiktiewe porno-ster op die web, Lisa Forward (ja, ek het haar gegoogle, sy bestaan nie regtig nie). Sy word die projeksie vir elke denkbare seksuele frustrasie wat die karakter ondervind:

Lisa Forward, ek surf al lank rond
op die web, hard-up en wellustig vir jou,
Lisa Forward, ek sit met die chordless,
ek bel die chatlines, maar dink net aan jou.

Ek het self op ‘n tyd suburbia geproe, so ‘n paar jaar terug in Dalsig (Dalksug?), Stellenbosch. Sprinklers, tarentale, halsband-honde en hoë heinings. Min (indien enige) kinders op straat. Niemand hang rond vir kwaadgeld of kleingeld nie. Een Saterdagoggend vroeg ry ek verby ‘n down-and-out kêrel wat langs die sypaadjie strompel. Sonder twyfel ‘n Dalsig-inwoner. Sy T-hemp het alles eensklaps opgesom: “I was teased at Teazers ...”

Ek dink aan hom wanneer ek na “Lisa Forward” luister.

10. Stil ou

Nóg ‘n histeriese song uit Brixton se pen. Oppas vir die stil ou. Al sê die dokters ook wat. Netnou blaas hy jou kop moertoe. Wees gewaarsku. Die chorus rock. Nie veel meer wat ek gaan sê oor hierdie snit nie.

11. Dagboek van ‘n swerwer

‘n Liriek deur Koos Doep maak ook ‘n welkome verskyning op hierdie album. Dié snit, getoonset deur Koos se dogter, Karla, skop onheilspellend af met ‘n pyporrel.

Ek kan verkeerd wees, maar die Falliese Mannekoor (wat Die Burger se taalversorgers laat deurgaan het as die “Walliese” Mannekoor!) maak hul indrukwekkende buiging op hierdie snit. En Roof se brullende vertolking maak mens onrustig. Op ‘n nice manier.

Koos Doep bly maar koning as dit kom by lirieke:

My dae is getyloos,
behalwe vir die weer
en Woensdag is maar Maandag
met net een letter meer

Die vreemdelinge lyk maar
soos elkeen wat ek ken
en elke nuwe vreugde
is dienskneg van die pen

Ek skryf van al my reise
se aanvang, slot en sin;
breedvoerig, in die diepte,
maar eintlik skryf ek min ...

12. Terapie

Die probleem/dilemma:

Kyk hoe ry hulle mooi in ‘n ry
tog so posh in hul karre verby
dis Vrydag en die naweek het gekom om te bly
vir net twee dae sodat die middelklas
in die tuin kan spit en hulle karre was
en op Sondag bid en ewe bedees
vra dat die rentekoerse stabiel sal wees
dat hulle goeie nuus in die koerant mag lees.

Die oplossing/verweer:

Maar ek sit al van twaalf-uur by die bar,
ek het gekom om my sielkundige raad te vra;
sy naam is Jack en sy van is Daniels
terapie is intensief tot jou kop weer reg is.

Amen.

13. Trane van ‘n terroris

‘n Pel van my kan nie eintlik Afrikaans praat nie. Maar hy ken Fokofpolisiekar se lirieke uit sy kop. En hy luister glo elke oggend na Brixton Barnard se “Trane van ‘n terroris”.

Hierdie song is epic.

Nou ja toe weer stukkend, sien die wêreld van ‘n
wolk daarbo
ek’s die laaste van die valke wat waghou oor die
Klein Karoo;
ek’s ‘n kinderkransdanser met lomp voete wat die beat verloor
‘n stemgebreekte sanger geskop uit die
Drakensbergse koor.

En dit raak net al hoe beter. Om nie eens van Pat Plank se toertjies op die elektriese kitaar te praat nie. Ek verstaan nie eintlik waaroor die song gaan nie, ek weet net instinktief dis befok. Soos melktert.

Ek hoop nie Brixton mind dat ek so voor die voet aanhaal nie, maar kyk hoe briljant vervleg hy nuuswaardighede en ikone uit die laaste klompie jare in ‘n enkele strofe:

Maar ek’s president, was ‘n cowboy-prent
Charles Jacobie heaven sent, meneer!
Was Joel Stransky se famous skop,
vir eenmaal kon ons hul opfok, regeer.
Was ‘n prinses in ‘n BMW
het die drome van die AWB beheer.
Kom stokstyf voor die tv sit,
my Engelse onderwyseres begeer.
Was ‘n baksteen in ‘n Duitse muur,
‘n Boswell Wilkie Sirkus-tier, ‘n tier
Was die konstabel wat jou aangluur,
Biko in sy laaste uur, sy uur.

Terug in skubbe is ‘n moerse album. Die rock ‘n roll melodieë mag dalk nie in almal se smaak val nie, maar die album is per slot van rekening nie vir die gesiglose "almal" geskryf nie. Dit gebeur egter min dat mens in een band met vier kêrels drie liriekskrywers het wat só vernuftig met taal kan toor. Mens durf ook nie vergeet van die geniale Paul Riekert se insette nie. Hy mág maar meng en master.

Hul vorige album, Spergebied, het ‘n paar skitterende tunes gehad, maar het na my mening beslis variasie gekort. Op Terug in skubbe is daar meer as genoeg variasies wat musiek, atmosfeer en temas betref.

As jy tot hier gelees het, geluk. Klik hier om aan die "Langasem-resensie Terug in skubbe-kompetisie" deel te neem. Jy mag dalk net ‘n tieroog in jou posbus kry.

Ek kan Terug in skubbe aanbeveel vir almal wat gek is oor die langpad se roadtrips, whiskey, vlymskerp lirieke en gatskop rock met ‘n paar rustige melodieë as afwisseling.

Beslis een van die afgelope paar jaar se beste Afrikaanse albums.

Koop en geniet. Wees ‘n skubbejak. En moenie worry oor “Morkels se gelofte” nie, jy sal dit nie nodig hê vir hierdie vangs nie.



LitNet: 28 Junie 2005

Wil jy reageer op hierdie resensie? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.