KlankKas - Musiek en meer!Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.



Tassenberg All Stars CD

Johann Kotze

Verskeie kunstenaars
Opgeneem by die Tassenberg-Stalteater tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in April in Oudtshoorn
Vervaardig en versprei deur Rhythm Records en Trippy Grape

Hou hierdie CD in jou hand vas en jy kry dieselfde lekker gevoel as wanneer jy ’n bottel Tas in die hand het. Jy weet dis nou nie die heel beste wyn in die land nie, maar jy gaan verseker ’n lekker tydjie met die inhoud daarvan deurbring.

Veel fout is daar nie met die idee en samestelling van die CD nie, en die omslag het so ’n lekker warm, rooi sepia-aura. Soos die omslagnotas lees: “Die atmosfeer het wye draaie met ons gehardloop. Rock-’n-roll, blues, Tassies, kabaret, jazz en reggae het mekaar vinniger afgewissel as wat jy kan sê ‘wat gebeur met Suid-Afrikaanse musiek?’ Dit skop gat, dankie ...” En dit is ook hoe die album klink. Koos Kombuis, Valiant Swart, Akkedis en die ander kunstenaars, almal sterre van die plaaslike musiekbedryf, wissel mekaar blitsvinnig af in ’n samestelling wat beskou kan word as ’n soort keurspel van musiekstyle. Atmosfeer is daar beslis, die inhoud is heel skaflik sonder om meesleurend te wees. En soos gewoonlik wonder ’n mens maar oor die toestand van die plaaslike musiekbedryf.

Hierdie samestelling is van die bestes in sy genre, dis vir almal om te ondersoek, te kritiseer en hopelik ook te geniet. Nóg die klankgehalte nóg die uitvoerings is op ’n hoë peil — die opnames is almal gemaak tydens die konserte (sewe vertonings per dag, sewe dae lank). Die klank is geneem direk uit die klankbord en met beperkte toerusting, arbeidskragte en bykans geen voorbereiding.

Die CD klink dus effentjies soos ’n “bootleg” (onwettige opname) en die kunstenaars by tye na musikante wat beslis ’n lekker tyd geniet agter die mikrofone sonder om te bekommerd te wees oor presies hoe hierdie “lekker tyd” sal klink sonder die hulp van die rooies die oggend na die vertoning. Ook tot ’n mate goed so — gemeet aan die multimiljoen-industrie en standaard van moderne internasionale popmusiek is dit eintlik wonderlik om te weet daar is nog mense wat bereid is om voor ’n klein gehoor musiek te maak totdat die rou oomblikke van menswees deurskyn.

En dit is ook maar presies die stand van plaaslike musiek: groot geeste soos Piet Botha speel jaar na jaar vir ’n paar volgelinge sonder om ooit ’n afstand tussen die luisteraar en kunstenaar te vestig. In hierdie lig gesien, word die heserige en oneweredige Delta Blue uitvoering van “Oreo Cookie Blues” ’n bewys dat die bands wat hier opgeneem is, nie perfek hoef te klink om lekker “af te gaan nie”. Kombuis se twee bydraes (sy “reggae”-weergawe van “Onder in my Whiskeyglas” veral, waar hy met moord wegkom) staaf hierdie aanname. Die oorgawe en onbetwisbare energie van die optredes is hoorbaar op al die opnames, en herinner aan die ou dae van konsertplate toe mense soos Jim Morrison van die Doors nog hul kele stukkend gesing het in die naam van rock.

Hoede af in alle geval vir Dirk Uys en Albert du Plessis vir die uitvoering van hierdie stukkie moderne Africana. Duidelik was daar nie te veel van ’n aanvanklike begroting beskikbaar nie.

Terug by die musiek: veral Theuns Jordaan se bydrae in die vorm van een van sy min eie liedjies is ’n kragtoer van hierdie alleenkunstenaar: stem, ’n paar snare en ’n paar luisteraars op strooibale is al wat nodig is om indruk te maak.

Ook Laurinda Hofmeyer se vertoning met “Moment” word gekenmerk deur ’n klank wat slegs voor ’n gehoor verkry kan word. Daar is iets warms en kwesbaars, intiem dog met ’n sterkte aan haar stem wat nie op haar uitmuntende studio-album gehoor word nie. Dieselfde kan ongelukkig nie van Gert Vlok Nel se “Rivier” gesê word nie. Of van Jonathan Martin se Nick Drake liedjie nie. Sonder om vrot te wees, staan hulle net nie so sterk langs Valiant Swart se klassieke “Mystic Boer” en die Akkedis se ewe klassieke “Jannie Cocaine” nie. Valiant wys hy is koning met sy eindsnit op die CD en die Akkedis broers wys hulle is ten minste prinse van Afrikaanse rock. Die twee Engelsmanne van Mikanic (van Sons of Trout) verleen ook ’n lekker en welkome klap van oorspronklike nie-Afrikaansheid aan hierdie versameling.

Met hul “Kaapse Observatory” klankmengsel bring hulle sommer ook ’n lekker vars bries van wêreldmusiek aan ’n andersins eensydige tradisionele plaaslike folk- / rock-versameling. Hulle wys sommer ook dat Afrikaanse / Engelse liedjies en gehore heel tuis is langs mekaar en dat daar inderdaad meer hiervan moet gebeur.

Iewers tussen al die wonder en skryf deur het die CD lankal reeds deurgespeel, maar die omslag lê nog so voor my. Ek kyk na die foto’s en lees weer die aantekeninge deur.

Ek spring dan so vinnig deur die snitte, en die konserte by die Stalteater neem weer duidelik vorm aan in my geheue: die CD klink miskien nie deurentyd so goed nie, maar dit lyk alles baie lekker, was alles baie lekker.

Met Piet, Valiant en Koos so mities afgebeeld op die voorblad maak die selektiewe herinneringsproses reeds sy keuses.

Maak seker jy stuur ’n kopie van die Tassenberg All Stars CD aan al jou vriende wat die land verlaat het en steek vir hulle tong uit oor die lekker goed wat hulle misloop aan hierdie kant van die bottel.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.