|
|
Suid-Afrikaanse groep dink harderJacques CoetzeeTAFL: Teaching Afrikaans as a Foreign Language Nou die aand was ek verbaas om op RSG se program Botha Blues skielik die Velvet Underground se “Heroin” te hoor. Net vir ‘n oomblik het ek onthou hoe opwindend radio kan wees, hoe dit ‘n mens kan voorstel aan nuwe klanke, hoe ver hulle ook al vandaan kom. Net ‘n paar dae tevore het ek ‘n soortgelyke “ondergrondse” ervaring gehad, hierdie keer toe ek ons eie Buckfever Underground ontdek het. Die ooreenkoms tussen die twee groepe hou ook nie by hulle name op nie. Soos met hulle Amerikaanse eweknieë uit die jare sestig is TBU se musiek moeilik om te klassifiseer, met invloede wat ‘n enorme spektrum dek. Self het hulle hulle buitengewone klank al in ‘n onderhoud toegeskryf aan ‘n kombinasie van toeval, gebrekkige hulpmiddels en bier. Aan die een kant is dit eksperimenteel – TBU se jongste album, TAFL – Teaching Afrikaans as a Foreign Language, bestaan meestal uit impressionistiese skeppinge wat half gesing, half voorgedra word deur Toast Coetzer. Daar is ‘n paar sekondes van oproerige geraas en ‘n insetsel wat waarskynlik met ‘n gewone bandmasjien opgeneem is. Aan die ander kant is die liedjies goed versorg, al sê die groep se lede ook in onderhoude dat hulle gigs eintlik “jam sessions” is en dat hulle mekaar skaars op die verhoog kan hoor. Daar is ‘n afwesigheid van die soort afwysende solo’s wat mens dikwels by amateurmusikante teekom: onder die chaotiese oppervlak is daar vakmanskap te bespeur. Elke lied het iets van die trefkrag en energie van ‘n punknommer. “It’s sort of like punk jazz,” het John Savage, die groep se pianis, onlangs in ‘n onderhoud gesê in ‘n poging om die kombinasie tussen chaos en improvisasie vas te vang. ‘n Beter beskrywing sal mens nie sommer kry nie. Wat jou dan ook dadelik van TAFL opval, is dat dit nie in een enkele styl inpas nie. Die eerste snit, “Who Cares? (not us)”, bevat frenetiese klavierspel wat weer eens nogal aan die Velvet Underground herinner (of is dit my verbeelding?), maar ook kwaai satiriese lirieke wat nie ontuis sou gewees het in ‘n punklied nie. Wanneer Toast Coetzer kreun: “Who cares? – not us”, is hy besig om ons tot ‘n besef te dwing van ons apatie in die wêreld, of ten minste om ons uit te daag om te sê: “Ek is apaties, en ek is nie skaam daaroor nie.” Coetzer se lirieke is dikwels uitdagend op hierdie manier. Hulle daag ons uit om ongemaklik te voel oor waar ons is en tog nie op te hou luister nie. In die lied “Die Bure” word ons doodluiters gevra: “Hoe lyk dinge vanuit jou vierdeur-kou?” Dis dan nie verbasend dat mens dikwels lees oor die “alternatiewe” aard van TBU se musiek nie – wat dit ook al mag beteken. Dit het iets met die groep se ondergrondse naam te doen, maar veral met hierdie uitdaging in die lirieke self. Maar wat op die ou end sjarmant en indrukwekkend is, is die groep se humor. Ten spyte van klagtes oor korrupsie ens. In liedjies soos “Blood-red Land” het ons duidelik met ‘n groep te doen wat hulleself nie heeltemal ernstig opneem nie – en dit op sigself is baie verfrissend in ons musiekklimaat. The Buckfever Underground hou vol dat hulle doen wat hulle doen omdat dit pret is, en dat hulle en hulle musiek bymekaar bly, maak nie saak hoe hard hulle probeer om te disintegreer nie. Die verwysing na die Velvet Underground in die groep se naam is voor die hand liggend, maar self vertel hulle van hulle begin as ‘n “cover band” met ‘n klank tussen dié van Fred Astair en dié van Nirvana. I ask you. Een van die groep se lede het onlangs in reaksie op die vraag of hulle nuwe CD-titel werklik afgelei is van die akroniem “Teaching Afrikaans as a Foreign Language” gesê dat dit eintlik afgelei is van “Tafel-bier”, waaraan die groep glo baie geheg is. Die lirieke is dikwels op hulle sterkste wanneer hulle spelerig is, wanneer hulle die moontlikhede van ‘n ander karakter se stem ontgin, soos in “Die Bure”, ‘n uitstekende studie van paranoia, waarin die ontstellende, ongeroetineerde gedrag van die bure gekontrasteer word met die gemoedelike man wat by die insleepdiens werk, sy stem “vol missed calls, middernag-padstories”. In dié liedjie sê die lirieke eintlik die teenoorgestelde van wat hulle voorgee: dis die irrasionele bure wat, soos die bloeddorstige Oom Willem in “Oom Willem Strikes Back”, ‘n mens bybly. Genoemde Oom Willem is nog ‘n paranoïese held wat dit ernstig verloor. Die “forces of evil” verwys na enigiemand wat sy voordeurklokkie lui. Miskien is dit hierdie wrang humor, en die “deadpan” manier waarop die lirieke half gesing, half voorgedra word, wat ‘n mens die meeste bybly, alhoewel John Savage se klavierspel jou kan verbaas en kan laat voel dat daar iets wild en onvoorspelbaar is net onder die oppervlak van dinge. Hierdie soort tegniek werk veral goed in liedjies soos “Who Cares? (not us)” en “Die Bure”, waar die luisteraar geforseer word om self die prentjie te help invul. Wanneer die sosiale kommentaar meer direk is, is die effek minder bevredigend. ‘n Hoogtepunt op die CD is die intieme “Love in a Time of Visas”, waar twee minnaars probeer (nie sonder ironie nie) om die afstand tussen hulle te oorbrug. As ‘n mens die groep se amusante kommentaar op hulleself kan glo, is die opnames waarna ons op TAFL kan luister, eintlik “on the spot”-fantasievlugte. Maar hier gaan baie agter die skerms aan. Ons het hier te doen met ‘n uitdagende stem wat waarskynlik sterker en duideliker sal word in die toekoms.
Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |