KlankKas - Musiek en meer!Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.



Hoop vir die toekoms van Suid-Afrikaanse klassieke musiek

Stephé Oosthuysen

Simfoniekonsert van 15 Mei 2004 in die Endlersaal, Stellenbosch
Megan-Geoffrey Prins (Pianis)
Xandi van Dijk (Dirigent) )
Universiteit van Stellenbosch Simfonie-orkes)
Program: About Nothing (Van Dijk), Klavierkonsert no. 1 (Prokofiev), Simfonie no. 5 (Beethoven)

Enige wanhopige vir die lot van klassieke musiek in die toekoms kan hulself gerusstel na hierdie konsert van jong musici. Die produk laat die luisteraar nie alleenlik met opgewondenheid en afwagting vir wat die toekoms van Suid-Afrikaanse klassieke musiek inhou nie, maar ook met verwondering oor die ver pad wat reeds gestap is sedert konsertsale hul deure gesluit het en die belangstelling van die nuwe generasie in Westerse kunsmusiek in twyfel getrek is.

Die kunstenaars se kleurryke resumés dien ter stawing van bostaande stelling. Die dertienjarige Megan-Geoffrey Prins het reeds nege keer as solis met onder meer die KwaZulu-Natalse Filharmoniese Orkes, die Staatsteater Simfonieorkes en die Kaapse Filharmoniese Orkes opgetree, en het al verskeie toekennings by kompetisies gewen, waaronder dié as algehele wenner van die Sanlam Nasionale Musiekkompetisie. Xandi van Dijk, dirigent en altviolis, se veelsydige loopbaan sluit optredes as solis en as kamermusikant in. Hy is die stigterslid van die Sontonga-kwartet. As dirigent, ontvang Van Dijk onderrig van onder meer Omri Hadari en Hendrik Hofmeyer, en hy is assistentdirigent van Bernhard Gueller. Konsertgangers van die Stellenbosch-omgewing sal hom ken as dirigent van die Suid-Afrikaanse opera Earthdiving se première by die Spier Summer Festival.

Die konsert het begin met 'n werk van Péter-Louis van Dijk, About Nothing, sy eerste nietematiese werk na jare van kommissiewerke met titels soos The Selfish Giant. Vandaar die weer eens beskrywende titel. Die werk is uitgevoer met swewende lyne, veral in die strykers, en sterk ondersteuning van die koperblasers, wat die orkes help om binne kort 'n tydsbestek uit te swel na 'n volronde forte klank. Alhoewel die kenner simpatiek is met die houtblasers se ongemaklik hoë register van orkestrasie, was dit 'n vingermerk op 'n andersyds kristalhelder uitvoering. Die ritmiese speling en ongewone klankeffekte het die luisteraar gebonde gehou aan die musiek en 'n groot impak bewerkstellig.

Die grootse opening van die Prokofiev Klavierkonsert no. 1 was treffend na die gedempte slotakkoorde van About Nothing. Prins vertolk die werk sensitief en musikaal, alhoewel die luisteraar soms volwassenheid en diepte van spel in sy interpretasie gemis het. Die klavierklanke het swak geprojekteer teen die vol orkestrasie van die orkes, met die gevolg dat die klavier se klank dikwels tydens klimakse verswelg is.

Beethoven se Vyfde Simfonie is seker die klassieke werk wat die wydste beluister word, met gehore wat wissel van kenners en fanatici tot musiekliefhebbers en -belangstellendes. Die uitvoering van hierdie werk het Van Dijk se dirigeerkuns uitstekend ten toon gestel: klein, presiese bewegings wat spreek van musikale doelgerigtheid en effektiwiteit. Die tempokeuse het die algehele vloei en spanning van die musiek geakkommodeer, sonder die verlies van musikale diepte en uitdrukking. Ten spyte van sommige ongelykhede in die orkes was die uitvoering selfversekerd en stewig gewortel vir 'n soliede klank.

Die lewenslustigheid, energie en entoesiasme van die jong musici het werklik die musiek laat leef, waaroor foute geen skadu kon werp nie. Die groot bekommernis in Suid-Afrika behoort nie te wees oor die talentontginning, opleiding en belangstelling van die jonger generasie in klassieke musiek nie, maar wel of die infrastrukture van ons land se kunste nog sal bestaan ter ondersteuning van die jong musici om hul kuns uit te leef.

Stephé Oosthuysen
studeer musiek aan die Universiteit van Stellenbosch

Lees ook Louis Heyneman, Uitvoerende Hoof van die Kaapse Filharmoniese orkes, se reaksie op hierdie artikel.

LitNet: 23 Junie 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.