KlankKas - Musiek en meer!Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.



Die universiteit: klassieke musiek op ’n eiland?

Naomi Maartens

Buite professor Hans Roosenschoon se deur in die Konservatorium op Stellenbosch hoor ’n mens in die gang die saamgestelde Spier-orkes oefen aan ’n bekende stuk musiek. Is dit Bizet se Carmen?

Maar dan maak hy sy deur oop en ek gaan die kantoor van die dosent, musikus en komponis binne.

Klemverskuiwings in skole en in loopbane

As ek hom vra oor die rol en posisie van die musiekdepartement by ’n universiteit in hedendaagse Suid-Afrka, voel hy dat daar die behoefte is aan ’n tersiêre opleiding om musici voor te berei — en in die besonder dan wel vir ’n loopbaan.

    Die probleem is miskien dat ons nie geweldig ingestel is op al die verskillende loopbaanmoontlikhede wat daar is en die klemverskuiwing wat oor die laaste aantal jare plaasgevind het nie. Ek dink hier byvoorbeeld aan die musiekonderrig by skole wat al hoe meer afgeskaal is en al hoe meer die verantwoordelikheid geword het van — en ek is baie bly hieroor! — beheerliggame wat dan die hand in eie boesem steek en besef dat ouers vir musiekonderrig behoort te betaal. Maar die universiteit is tersiêr en ’n opleidingsplek vir uitvoerende kunstenaars, komponiste en teoretici en ook onderwysers. Laasgenoemde is eintlik baie belangrik, want alle mense moet toegang hê tot musiek, en die liefde van musiek moet gekweek word.

Die lewenstaak om die vreugde en misterie van musiek tuis te bring

Hy gaan voort:

    Ek dink dis wêreldwyd ’n behoefte van mense om op een of ander wyse betrokke te wees by musiek, en in daardie geval moet opvoedkundiges — nie net soseer opvoedkundiges by skole of in enige formele hoedanigheid nie — maar die feit dat jy dit ’n lewenstaak maak om die vreugde en die misterie van musiek aan ander tuis te bring.

’n Geïntegreerde benadering

Die professor verklaar sy posisie as dosent allereers deur te verduidelik watter vakke hy gee. Hy doseer op die oomblik musiekteorie — ’n sameflansing van vakke soos harmonie, kontrapunt en vormleer.

    Ons benadering hier op Stellenbosch is — ja, daar is eintlik maar verskillende terme hiervoor — om geïntegreerd te werk te gaan of te werk deur middel van vormvakkoördinering. En dit beteken dat ons met studente, wanneer ons die geskiedenis van die Barok-periode behandel, ook terselfdertyd die teorie behandel. Ook in die vak Gehoor sal ons dan oefeninge doen wat met die musiek uit die Barok-era verband hou en op daardie manier kry die student ’n baie beter idee waaroor barok gaan. Dis beter as wanneer hy in sy eerste jaar van Barok leer, maar eers in sy derde jaar van die kontrapunt daarvan leer.

    Die musiekteorie wat ek gee, is van dié van die moderne tyd. Ons praat hier van die twintigste eeu, wat nou reeds verby is. Dis ’n enorme hoeveelheid musiek en musiekstrominge wat sedert die begin van die vorige eeu ontwikkel het. As ’n mens dink aan Strawinsky en Schönberg wat komponiste was wat vroeg in die vorige eeu musiek gekomponeer het en analities kyk na hulle musiek — wat nog bietjie vreemd val op die meeste mense se ore — vra ons onsself af hoe het dit gebeur dat mense hoegenaamd daardie weg bewandel het? Hoekom het hulle musiek gekomponeer wat klink soos wat dit klink?

    Dan doen ek ook orkestrasie. Orkesinstrumente word individueel behandel en dan in konteks van kleiner werke en groter werke. Orkestrasie is ’n derdejaarsvak waar ’n mens leer om vir ’n orkes — vir ’n klein blaas- of strykorkes en ook vir ’n volle simfonieorkes — musiek te verwerk.

Hy gesels oor sy rol as komponis:

    ’n Mens verander. As ek nou na myself kyk as komponis, het ek baie belanggestel in die musiek van Russiese komponiste soos Prokovief en Strawinsky en toe is my aandag daarop gevestig dat dit baie oudmodies is en ek het blootstelling gekry aan Schönberg. Ek het deur fases gegaan waarvan ek nie gehou het nie en geëindig by avante garde.

Watter musiek wil ’n mens weergee in Suid-Afrika met sy diverse kulture?

    Ek het myself begin vra wat laat ’n mens belangstel in sekere musiek en wat probeer jy weergee vir mense? Veral in ’n land soos Suid-Afrika, waar ’n mens so ’n diversiteit van kulture het. Ek het myself in 1978 gevra of ’n mens nie juis bietjie na die inheemse musiek moet kyk en iets daaruit moet haal nie en dit integreer by hoe jy op daardie stadium ontwikkel het nie.

    Ek het toe heelwat musiek met Afrika-elemente gekomponeer in die jare 1980 tot 1990. Hierdeur probeer ek nog tot dusver my rol verklaar. Op sekere stadiums bereik ’n mens ’n versadigingspunt, ja, en dan sê jy vir jouself: Nou maar goed, wat is aan die gebeur in ander wêrelddele? Is daar ’n terugkeer na melodie of harmonieë van ’n vroeëre tyd? Dan kyk ’n mens na komponiste soos Arvo Pärt wat teruggryp na die Renaissance en na Gregoriaanse melodieë en dan dink jy nou maar dat ek my hand ook daaraan probeer.

    So het daar (lewens)stylsveranderinge plaasgevind. Ek was baie gelukkig deurdat ek baie opdragwerk ontvang het, en ’n geleentheidstuk beïnvloed natuurlik die aard van die musiek wat gekomponeer word.

Oor plafonne

    Ek dink dit sou baie jammer wees as ’n mens ’n plafon bereik. Daar is momente wanneer dit ’n bietjie stiller gaan as ander tye, maar ek dink dis belangrik dat ’n mens konstant werk en dat ’n mens konstant besig is om skeppende werk te doen. Daar is maar baie min komponiste wat dit ’n voltydse loopbaan kan maak en ekself het al lankal daarmee vrede gemaak dat dit vir my ’n stokperdjie is, maar ’n baie belangrike stokperdjie. Ek hou my konstant besig. Ek het al heelwat orkeswerk geskryf, al is die posisie in ons land op die oomblik wel so dat daar minder geleentheid is vir orkeste om werke uit te voer. Dit mag alles deel van die transformasieproses wees; dit kan dalk langer duur. Maar hopelik beweeg die situasie daarheen dat inheemse kunstenaars gebruik word en dan kan van die werke wat ek reeds geskryf het, weer gebruik word. Op die oomblik skryf ek dus bitter min orkeswerk en meer kleiner werk vir kore.

Wat is inspirasie?

Ek wil by hom weet hoe mens inspirasie kan definieer …

    Ek het myself nog altyd afgevra: Nou maar wat is inspirasie? Kom dit van buite, kom dit van binne? Ek het byvoorbeeld ’n stuk musiek vir jong musici in ’n orkes geskryf:Does the noise in my head bother you? Daardie werk vra eintlik die vraag oor waar kom die inspirasie vir die skryf van musiek vandaan. Ook die liedjieWhen music is — ’n popliedjie — is vol diepsinnige vrae, dink ek, rondom die wese van musiek. Waar kom dit vandaan?

    Daar is nie een antwoord op hierdie vraag nie. Daar gaan ’n klomp verskillende antwoorde wees wat jy van verskillende komponiste gaan kry. Dit kan baie uiteenlopend wees. ’n Mens kan inspirasie kry uit ’n teks, uit ’n kunswerk, uit ’n koorwerk, uit ’n baie bepaalde opdrag en uit ander se musiek.

Hoekom moes ’n buitelander daaraan dink om ’n Eurosentriese orkes en Afrika-koor te kombineer?

Hy illustreer die uiteenlopende bronne van inspirasie verder deur na ’n insident in 1980 te verwys wat by hom ’n paar belangrike vrae laat ontstaan het.

    My gedagtes gaan terug na 1980 Ali Rahbari, ’n buitelandse komponis en dirigent, hier was wat met kore van Soweto en die Suid-Afrikaanse Nasionale Jeugorkes ’n werk met die naam vanHalf Moon gedoen het. En dit was van die eerste kere dat ’n swart koor en ’n sogenaamde Eurosentriese orkes — ’n blanke orkes — ’n werk gekombineer het.

    En onmiddellik het dit by my ’n paar vrae laat ontstaan: Hoekom is dit ’n buitelander wat hierheen moet kom en vir ons daardie idee moet ontsluit? Hoekom kon ons dit nie self uitdink nie? Tweedens: Hoe sou dit wees as ’n mens dit met instrumente van Afrika kon doen? Dit gaan waarskynlik bietjie moeiliker wees, want daardie instrumente het ’n vaste stem. Dit kan nie soos die menslike stem aanpas nie. So het dit gebeur dat ekTimbila vir ’n Mosambiekse xilofoon-ensemble en ’n simfonie-orkes ’n stuk musiek geskryf het wat by die Grahamstad-fees van 1985 opgevoer is. En dis waar dié inspirasie vandaan gekom het.

The Magic Marimba

    ’n Ander werk van my,The Magic Marimba, het verskeie inspirasies. Die een was Barbara Masekela, wat ’n baie belangrike toespraak by die Grahamstadse Kunstefees gemaak het, juis tydens die groot omwentelinge in die land, in terme van die ANC … rondom 1990 of 1991. Die toespraak is in ’n Oos-Kaapse koerant aangehaal met ’n titel wat my soos ’n donderslag getref het: “ Marimbas move in on Mozart.” Ek het gedink dis ’n interessante tema om musikaal te gebruik en uiteindelik het ek my musiek gekomponeer gebaseer op die operaDie Towerfluit. Met ’n groot fokus op slagwerk en twee marimbas — aan weerskante van die verhoog om die orkes — het ek saam met die klavier (vier hande), orrel en ’n groot orkes het ek die werk op die been gebring.

    Inspirasie kom uit verskillende plekke.

Worstel met idees; spring aan die werk, tot jy ’n slaaf word daarvan

    Die belangrike ding om hier te onthou, is dat ’n mens baie moet worstel met idees en dan moet ’n mens ook aan die werk spring.

    Toe ek student was in Pretoria, het die direkteur van die Konservatorium, meneer Willem Mathlener, op my eerstejaarsrapport geskryf dat dit 99% perspirasie en 1% inspirasie behels. En dit is so waar. Wanneer ’n mens aan die werk spring en jy maak ’n geweldige arbeid en bemoeienis hiervan, dan raak jy betrokke en dan begin die ding vanself momentum kry. Dan bereik jy eventueel ’n moment in werke wat werklik geïnspireer is dat dit jóú meesleur en jy word amper ’n slaaf van die ding.

    Maar daar is ander komponiste wat ’n heeltemal ander roetine het. Hulle gaan sit elke oggend vir twee of drie ure en hulle skryf musiek. En hulle weet nie eens altyd of dit ’n klavierkonsert word, of wat dit word nie, maar so hanteer hulle dit nou.

Hoe “ toeganklik” moet ’n wysie wees?

Of hy voel ’n komposisie behoort ’n toeganklike wysie te hê? Hy knik.

    Ek kan hierdie verwagting van mense baie goed verstaan. Maar as dit die enigste manier is waarop werke staan en val, dan gaan daar eintlik baie min werke oorbly. En ek sê dit, want vat jy ’n werk van Mozart wat baie toeganklik is soosEine kleine Nachtmusik, dan hoor jy ook instrumentale kleur en verskillende teksture; dán gebruik hy een instrument, dán gebruik hy drie. Dan gebruik hy ’n tipe kontrapunt, dan gebruik hy hulle in blokke saam — en dit is wat die musiek baie interessanter maak — al is jy nie bewus daarvan nie, want jy hoor mos nou die melodie.

    Die voordeel van ’n melodie is dat dit ’n lineêre ding is. Dit neem jou van punt A na B of van B na C en so ontvou die stuk musiek nou in tyd. Musiek kan alleen begryp word as jy dit hoor en jy het tyd om daarna te luister. Jy weet, jy kan deurEine kleine Nachtmusik se partituur gaan en deur die blaaie blaai, maar dan het jy dit nie ervaar soos wanneer dit gespeel word nie. Die interpretasie van musiek is derhalwe baie belangrik.

    Maar wat het ons gesien, wat het musiek opgelewer deur ’n sekere epog in die geskiedenis?

    Dit het nog altyd tye van kompleksiteit gehad. Neem Bach byvoorbeeld. Dit was baie meer kompleks as dié van sy voorgangers. Daar is die kontrapunt van die Laat-Renaissance, wat ook baie meer kompleks is as net daarna. En dan kry jy die musiek van die vroeë Klassisiste, soos Haydn en Mozart en so aan wat meer eenvoudig is. Dan kom Beethoven wat meer emosioneel is en dan raak dit meer kompleks en dan kom Mahler en Wagner totdat daar weer ’n verset kom teen hierdie komplekse musiek. Dan kom die vroeë moderne tyd en daar is ’n reaksie teen hierdie musiek en dan word dit gereduseer tot iets meer eenvoudig. So in die loop van musiekgeskiedenis, is daar altyd tye dat musiek meer kompleks is as ander tye.

Alle vorme van kuns beweeg deur tye van kompleksiteit en tye van verset

    Jy vind dit in die skilderkuns en in ander kunste ook. Vat nou maar die skilderye van iemand soos Heronimus Bosch, wat in die vyftiende eeu rond geleef het. Dis allerhande goed: figuurtjies en detail, en ’n hele klompie tonele gelyktydig. Geweldig kompleks.

    So musiek is nie net melodie nie. Daar is musiekwerke geskryf … as ’n mens dink aan die musiek wat in die fliek2001: A Space Odyssey gebruik is — nou nie die Johan Strauss walse wat daarin gebruik is nie! — maar die ander musiek … dis van ’n Hongaarse komponis met die naam van Györgi Ligeti, en dit is net kleur en net tekstuur. Die persoon wat ’n wysie daar soek, sal baie teleurgesteld wees. Maar die persoon wat eenvoudig ’n ruimtelike assosiasie met die musiek opbou en eenvoudig jou oë toemaak en in die donker daarna luister, gaan ’n gewaarwording hê deur daardie musiek wat ’n misterie is.

    Dis wat ek eintlik wil sê hierdeur: Musiek lok altyd reaksies uit.

Hoe alle vorme van musiek mekaar beïnvloed

    Die twintigste eeu het sy tegnologie gebring: ’n mens kan opnames maak op band of op plaat, later as CD en nou selfs as klanklêers op die rekenaar en dit het meegebring dat musiek wat normaalweg nie genoteer sou word nie, soos volksmusiek, gedokumenteer sou word. Dit kan ook agterna gebestudeer word. So het ons talle mense gevind wat wel opnames gaan maak het, of dit nou in Afrika of Suider-Afrika is, of dit in Indië is of in Suid-Amerika,of dit Ierse volksmusiek is … ’n komponis soos Bartók is bekend daarvoor dat hy duisende stukke Hongaarse volksmusiek opgeteken en gebruik het.

    Wat ’n mens dan ook vind in ons eeu is dat baie van hierdie dokumente dan by radiostasies — veral in hulle argiewe — tereggekom het en dit is dan ook uitgesaai en met daardie musiek is daar iets van musiek gedeel. Kortom, dink ek, is daar ’n groter bewuswording van volksmusiek in die hele wêreld. En dat daar orals pogings bestaan om hierdie bewuswording in kursusse in te werk. En die normale plek waar ’n mens sou verwag om hierdie bewuswording te sien, is in vakrigtings soos Antropologie, en dis waar ’n mens dit ook vind by baie universiteite in ander wêrelddele. Dit is ook waar dit sy plek gevind het in Suid-Afrika. Maar die hele navorsing van volksmusiek het eintlik ’n vakgebied op sy eie geword en by die meeste universiteite is dit nou ’n vak, Etnomusikologie, wat studente kan neem. Suid-Afrika het ook sy spesialiste in die vakgebied, soos Andrew Tracey wat by Grahamstad baanbrekerswerk gedoen het en iemand soos Deidre Hansen wat by die Universiteit van Kaapstad in die gebied werk.

Musiek van Afrika het ’n belangrike rol te speel in Westerse musiek …

    Ek dink dit sal jammer wees as ’n mens in enige land Westerse musiek neem en jou heeltemal blind hou vir enige ander vorm van musiek. En daarom dink ek dit is belangrik, al hierdie verwikkelinge in musiek, ook wat op die gebied van popmusiek gebeur het — wat ook maar ’n twintigste-eeuse verskynsel is — dink ek dis ’n verskynsel waarvan kennis geneem behoort te word. Ek dink in Suid-Afrika, en ook hier in Stellenbosch, behoort kennis hiervan geneem te word. Dit wil nie noodwendig sê hier moet diepgaande studies van gemaak word nie, maar ek dink dis nodig dat ons bewus word van watse inheemse musiek het ons en daar is een tipe musiek wat ons eintlik baie afskeep. Ek dink hier byvoorbeeld aan die musiek van die Kaapse Maleier, waar daar bitter min navorsing oor gedoen is. Maar dan ook van die Xhosa en die Sotho en so meer.

… so ook Boeremusiek!

    Maar dan wil ek ook insluit iets soos Boeremusiek.

    Dan kan ons ook daarby insluit kontemporêre musiek, met ’n popmusiek-inslag. Ek dink nie ons gaan hiervoor tyd hê nie, want dis ’n enorme studie. Veral as ’n mens die media daarby inbring en die hele kwessie van hoe hierdie musiek gemaak word. ’n Groep soos Abba, byvoorbeeld, of die Rolling Stones of Queen — dit gaan nie noodwendig daaroor vir my om die musiek wat hulle geskryf het aan die groot klok op te hang nie — maar as jy ’n werk vat soosBicycle Race van Queen, wat ek vir my studente speel, sien jy dat daar interessante harmoniese wendings in daardie musiek is. En dit maak dit kontemporêr. ’n Mens sien ’n interaksie van die verskillende kunsvorms. Iemand soos David Bowie sal sê dat musiek van Philip Glass en Stockhausen het my beïnvloed. En David Bowie het weer, op ’n ander manier, vir klassieke mense beïnvloed.

Of die prof. voel mense sou apaties teenoor musiek kon raak as dit al minder in teaters uitgevoer word?

Hy voel beslis dis ’n vraag wat ’n mens nie kan ignoreer nie.

    Jy sien dat daar in Suid-Afrika ’n afplatting besig is om plaas te vind van Westerse kuns en dat daar weer ’n oplewing plaasvind van iets anders, naamlik inheemse kulture, en dat daar uit die Departement van Kuns en Kultuur baie meer geld beskikbaar is vir handwerk en ander vorme van kuns — wat dan ook musiek in hierdie gebied insluit. Vroeër jare was daar weer baie geld vir Westerse kuns beskikbaar en dan is daar groot argumente oor wat Westerse kuns presies is en of dit werklik ’n plek het. En ek dink ’n mens moet besorg wees daaroor en ’n mens kan dit nie net afmaak nie; daar sal aandag daaraan gegee moet word.

Tye van transformasie beïnvloed noodwendig die klem op ander tipes kuns as vroeër

    Maar dan aan die ander kant is die realiteit van die saak dat daardie vraag in die geskiedenis van verskillende kulture al baie kere ter sprake gekom het. En ek dink dis die tipe ding wat gebeur as daar transformasie plaasvind. Ek kan my voorstel as ’n mens iewers hier die begin van die Renaissance — nie die Afrika-Renaissance nie — jou kan indink, daar was ook mense wat benoud was oor die dinge wat om hulle gebeur het.

    En so lees ’n mens dan ook as jy lees van nuwe komposisies, dan kom jy af op die feit dat iemand soos Beethoven se werke aanvanklik nie goed ontvang is nie. Daar was ’n te groot verskil met dít wat voorafgegaan het. Kuns kom nie net van iewers af en dan vind dit sommer net plaas nie; dit is mense wat dit skep en dit maak. En ek dink as dit vir ons belangrik lyk — ook in ons opvoedingsprosesse, hetsy tuis of by die skool — dit is iets wat steeds baie aandag moet kry.

Kurrikulum 2005

    En daarom is die positiewe aspek van Kurrikulum 2005 — of watter nuwe onderwysmodel dan ook in werking gestel sal word — dat dit kuns op ’n baie breër wyse wil weergee. Dan is daar ook ’n tekortkoming, want gespesialiseerde instrumentonderrig kry eers ’n plek in die onderwysmodel in, ek praat onder korreksie, maar ek dink dis in graad nege rond. En dit is te laat. Ons weet reeds dat as jy werklik ’n goeie violis wil wees, moet jy heel vroeg begin.

Dink anders oor beroepsmoontlikhede as vroeër

Daar is ’n afname in studentegetalle, maar hy voel dat daar ’n deeglik nagevorste studie gedoen behoort te word oor waarom dit so is. Hy vermoed dat dit saamhang met die gedagte onder mense dat daar nie beroepsmoontlikhede in die musiekwêreld is nie. Maar watter beroepsmoontlikhede is in werklikheid vir musiekstudente beskikbaar?

    Ek sê altyd vir ouers wie se kinders musiek wil studeer dat hulle van nou af hulle motor op die sypaadjie sal moet parkeer en dat die kind van daar af uit die garage musiekklasse sal moet gee. Dis ’n baie letterlike antwoord, maar ek dink dit laat die mense besef hulle sal anders moet leer dink oor die geweldig belangrike opvoedingstaak wat musici het. Dis baie nodig om ’n liefde vir musiek te kweek en kinders uit alle gemeenskappe op te lei om musiek te beoefen. Ek dink dit maak mense baie moedeloos as hulle besef hoeveel werk daar voorlê, maar dit is so nodig in die land om nuwe musici te skep.

Oor die bywoning van konserte, voel hy dit het min of meer dieselfde gebly. Die Endlersaal trek groot gehore as kore en orkeste speel en kleiner gehore met Lieder of selfs solo-uitvoerings. Die bemarking daarvan het tot nou toe nog ’n geringe uitwerking gehad.

’n Lewende konsert is die werklikheid

    Ek is ’n groot voorstander van die tegnologie, maar ’n stuk musiek op ’n CD is nie die werklikheid nie. Dis musiek wat waarskynlik op verskillende tye opgeneem is, in ’n ideale ruimte met klankapparaat op die regte plekke opgestel. Die stuk is dan gedeeltelik opgeneem (en later weer) en eventueel is alles gelas. Daar is niks soos ’n lewende konsert nie, want dit is immers die waarheid.

Wat hom betrokke hou by die kunste in die land, is die geleenthede wat daar vir hom gebied was.

    Ek was bevoorreg in die verband dat daar vir my in die land geleenthede was om musiek te komponeer en dat ek poste by die universiteite gekry het. Dis die praktiese rede.

Maar oor sy liefde vir musiek gesels hy nog lank nadat die diktafoon afgeskakel is. Hy noem kore en orkeste onder beskerming van die Konservatorium. En as ek by sy deur uitstap, volg die naam van een van sy komposisies my in die gang, al hoor ek nie meer die orkes speel nie:When music is …

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.