KlankKas - Musiek en meer!Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.



Afrikaanse rootsmusiek

Roof Bezuidenhout

Soms soek jy melkkos soos net jou ouma dit kan maak ...

In ‘n wêreld met soveel slegte namaaksels (soos byvoorbeeld die klatertoskaanse sekuriteitskastele op die Hoëveld) is daar gelukkig nou weer ‘n soeke na die outentieke. (Daar is natuurlik goeie namaaksels ook, maar meestal is dit sleg, omdat daar min oorspronklikheid en vernuwing by betrokke is.) Op die oomblik kom vernuwing uit ‘n herontdekking van die oue – van roots. ‘n Mens kan seker ‘n hele paar voorbeelde uit Americana – ‘n terugkeer na folk, country en bluegrass – gaan haal, maar ek wil eerder vir Nick Cave, een van my gunstelingmusikante, gebruik om die punt te illustreer.

Cave het een van die beste produksies die afgelope paar jaar op die rakke gesit. Ek verwys hier na sy dubbeldoor-CD, The Lyre of Orpheus. Oor die lirieke wil ek nie nou veel praat nie, omdat ek by drie baie goeie Afrikaanse CD’s wil uitkom. Musikaal gesproke is Abattoir Blues/The Lyre of Orpheus egter ongelooflik omdat dit terugkeer na rockmusiek se vroeë roots toe – country en gospel. Gaan luister maar na Cave se robuuste verwerkings – orals hoor jy die country twang in die instrumente, en jy voel die kore van ‘n Southern kerkkoor in jou onderbroek tril.

Ongelukkig is baie Suid-Afrikaanse musiek slegte namaaksels van wat elders gebeur. Ek het nie juis ‘n probleem hiermee nie; daar’s vir elkeen ‘n plek in die son. Daar word baie van verkoop, maar daarna verdwyn dit soos mis voor die son. Niemand kan onthou waaroor dit werklik gegaan het nie, want dit sê presies dieselfde as al die ander kitsresepte. Dis die fast food van musiek. Maar soms soek jy melkkos soos net jou ouma dit kan maak, of ‘n roti soos net die antie op die hoek dit kan saamflans.

Dis wat so lekker is van rootsmusiek. Jy kan dit net uit jou eie bodem haal. Ek probeer nie sê dat ‘n mens na ‘n musikale laer toe moet terugkeer nie. Dit gaan oor die kruisbestuiwing van verskillende style, maar met ‘n eerlikheid oor die herkoms daarvan – die wortels in eie bodem.

Ek wil hier oor drie nuwe CD’s praat wat beslis nie soos mis voor die son gaan verdwyn nie. Elkeen het elemente van rootsmusiek – hulle kyk op ’n nuwe manier na waar ons vandaan kom – na ons musikale geskiedenis. Hulle verbreed ook daardie geskiedenis deur water te trek deur die vele wortels van die boom met die baie vertakkings van Afrikaanse musiek.

Anton Goosen: Groen Blomme-projek
Klik op CD en koop dit nou!

Die eerste is Anton Goosen se Groen blomme-projek. Anton Goosen is iemand wat nog altyd besig was met rootsmusiek. Vir hom is dit nie iets nuuts nie. Hy het reg van sy eerste plaat af verskillende style uit die beddings van Suid-Afrikaanse musiek geneem en dit oorgeplant om nuwe musikale rangskikkings te maak. Sommige mense verwys na “cross-over”. ‘n Mens kon nog altyd hoor Anton Goosen kom van Suid-Afrika. Jy hoor dit aan die tipe Afrikaans wat hy gebruik en jy hoor dit aan die instrumente. Die gebruik van die konsertina saam met rockmusiek is iets wat integraal deel is van sy styl. Vir hom is die nuwe tendens om terug te keer roots toe niks nuuts nie. Dis waar hy nog altyd was.

Op die Groen blomme-projek hoor ‘n mens steeds sy Bushrock Band, maar hy span ‘n hele paar nuwe stemme in Afrikaans in om ‘n wilde mengelmoes van klanke en instrumente aan ons op te dis. Lienka van Ddisselblom sing saam met hom op “Groen blomme”, die titelsnit. ‘n Mens kan Dozi in Zoeloe hoor sing, asook Jan Blohm en Gian Groen wat met hulle rasperstemme ‘n duet van Blohm se treffer “Breyten se brief” aanpak. Gian is ‘n paar keer op sy eie te hoor en Jan Blohm doen ‘n donker weergawe van Anton se “Josie-Josie”. Dan is daar Klopjag, wat hulle “24 uur” sing, en Lise Swart met ‘n weergawe van “Die mense wat ek liefhet” wat ‘n mens ontstem.

Benewens die groen blomme spring ‘n paar ou hande in om uit te help met ‘n aangrypende weergawe van Bob Dylan se “Forever young”. Daar’s André Swiegers, Richard van der Westhuizen en Piet Botha. Hoor hoe Stean van der Walt die hoë note op die refrein gooi. En Denzil Keenan van Rooibaardt looi die viool.

Vir hierdie knik in Bob Dylan – nog ‘n pionier-rootsmusikant – se rigting kan ‘n mens net dankbaar wees. Daar kom baie goeie dinge ook uit Amerika. Op hierdie CD hoor jy nie fake nie. Dis regte tromme, kitare en die klassieke instrumente van rockmusiek in Suid-Afrika – Ollie Viljoen speel die trekklavier en die traporrel, en Andrew Roos die Hammond-orrel.

Taliep Petersen: Deur dik en dun
Klik op CD en koop dit nou!

Dan is daar Taliep Petersen se Deur dik en dun. Taliep is waarskynlik aan die Standaardafrikaanse gehore – by gebrek aan ‘n beter woord – vir sy werk saam met David Kramer bekend. Musikaal werk hy met die ghoema- en jazz-tradisies van die Kaap, asook mainstream jazz, rock en soul. Van die land se beste jazz-musikante het aan hierdie CD gewerk, onder andere Errol Dyers op kitaar en Robbie Jansen op saksofoon. Met hierdie musiek kan jy met die radio op en die vensters af, soos David Kramer dit sou sê, ry.

Mense wat nog die destydse Voëlvry-plaat van Shifty Records onthou, sal bekend wees met Mr Mac and the Genuines. Dis jammer dat hulle bydrae tot die sogenaamde “alternatiewe” beweging so misken word. Op ‘n manier het hulle die songs wat polities die hardste gepraat het, bygedra. Onthou iemand nog “groovy, groovy, laat die man maar lê”? Deur dik en dun is egter baie meer gepolish en meer hoofstroom, met ‘n paar hartseer ballades tussen ‘n verstommende 19 songs. Op ‘n manier kry jy hier “two for the price of one”!

Benewens die musiek moet ‘n mens nogal fyn na die lirieke luister. Daar word oor perlemoen gesing. Ook oor mense wat geld met Lotto verloor – “Hy bly verloor, maar speel aaneen”. Dan is daar die een van mense wat op die straat ‘n lewe moet maak – “Ek is ‘n millionaire, maar net in disguise ...”. Daar is ‘n rocksong wat praat oor die goeie dae, al “was daar injustice”, toe kinders nog in die straat gespeel het. Daar word ook kwaai oor misdaad uitgevaar in “Crime busters”. Maar tussen al die teëspoed gaan die CD eerder oor mense wat saamstaan deur dik en dun, en oor ware liefde.

Rian Malan: Alien/Inboorling
Klik op CD en koop dit nou! Rian Malan, met sy Alien/Inboorling is ‘n musikale newcomer, maar almal ken hom al vir My traitor’s heart en vir sy kontroversiële artikel oor MIV/Vigs. Wat lirieke betref, het hierdie CD geweldig baie om by te dra. Malan ondersoek weer van die temas waarmee hy in My traitor’s heart worstel. Die titel kom van die idee van bloekombome – uitheemse bome wat mense wil uitkap. Malan identifiseer egter met hierdie bome, wat nou al so lank hier in Afrika staan. Hy speel met die idee van Afrikaners as beide inheems en uitheems. Hy het egter ‘n meer positiewe siening van die toekoms as in My traitor’s heart.

Sommige mense sal Malan se Engelse aksent steurend vind, maar ek geniet dit nogal – veral omdat hy heel onkonvensioneel in Afrikaans skryf en veral rym. Op een van die songs hoor jy James Phillips se stem in die agtergrond. Miskien is Malan ‘n bietjie soos Bernoldus Niemand (Phillips se Afrikaanse verhoognaam) – ‘n buitestaander en ‘n inboorling. Dis hierdie kruisbestuiwing wat die taal so ryk maak. ‘n Emigrant in Kanada skryf ‘n brief aan Marie, sy studenteliefde:

Liewe Marie, winter al weer
en die wind, o jene!
Ek lewe al vir weke betrap hier binne.
Die temas op Alien/Inboorling stamp kop met die politiek en spot met ‘n siniese kug. Dit gaan oor oud word en oor mense wat wroeg oor persoonlike terugslae. Dit gaan ook oor Oubaas Malan wat werkloos is en vir ‘n bruin Suid-Afrikaner moet gaan werk. Hy vind nuwe betekenis in die klanke van ‘n “Slamse koor”. Daar word ook gekyk na Coenraad de Buys, die oorspronklike Voortrekker wat met sy swart vroue die binneland ingetrek het op vlug van die koloniale regering in die Kaap. As ‘n mens verby die musikale ooreenkomste met “Ghost riders in the sky” luister, is dit ‘n aangrypende bydrae tot die rol van historiese karakters wat op Afrikaanse populêre kultuur se verhoog kom speel.

Hierdie is drie CD’s wat wys dat Afrikaanse musiek baie kante het – dat dit aanhou om ons roots op nuwe maniere te ontgin. Dit is waar die vernuwing op die oomblik plaasvind.

Net terloops: Rian Malan tree op by Dorpstraat Teater tydens die Woordfees in Stellenbosch. Die vertoning is op 10 Maart en begin om 20:30.


LitNet: 7 Maart 2006

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.