|
|
Noordsee Jazzfees 2003Waldo Müllern Ooggetuieverslag met lof en kritiek Dit is kort na eenuur in die oggend in Rosies, die kleinste en mees intieme van die vier konsertruimtes waarin optredes plaasvind gedurende die twee dae lange Noordsee Jazzfees (NSJF) by die Goeie Hoop Sentrum in Kaapstad. Die saaltjie is stampvol en die atmosfeer is geesdriftig, al is baie van die aanwesiges reeds ure lank by die fees en teen hierdie tyd bietjie voos. Aan weerskante van die rye sitplekke staan n groot klomp mense wat nie sitplek kon kry nie. Almal wag opgewonde dat die verhoog bestyg moet word deur die legendariese Philip Tabane en sy groep Malombo, een van 32 plaaslike en internasionale musiekname wat optree by die NSJF 2003. Sedert hy n eredoktorsgraad ontvang het vir sy bydrae tot Suid-Afrikaanse en wêreldmusiek, staan hy bekend as Dr Philip Tabane, of bloot the doctor. Dit is nie aldag dat n mens die kans kry om hom te sien optree nie. Vir meer as veertig jaar al maak Tabane n onmiskenbare, idiosinkratiese jazzmusiek met wortels diep in Afrika-kultuur en -spiritualiteit. Hy is die skepper en alleen-instandhouer van n hele genre van Suid-Afrikaanse jazz: malombomusiek. In Venda beteken malombo geeste, spesifiek voorvadergeeste. Die doktor se unieke kitaarspel en woordelose sang is gewis n geestelike ervaring. Niemand anders klink soos Tabane nie. Hy is laat vir sy NSJF-vertoning, maar die meeste aanwesiges gee nie om nie - ons is maar te bly om Tabane se musiekgawes lewend te kan ervaar. Eers vyftien minute ná die konsert se amptelike aanvangstyd word die malombotromme op die verhoog gedra en staan gemaak deur n groepie klanktegnici. Wanneer die gehoor die tamaai tradisionele tromme van ruwe hout en diervel sien, bars n gejuig spontaan los. Die grootste deel van die gehoor in Rosies is swart, hoewel talle nie Suid-Afrikaners is nie. Daar is onder meer heelwat Afro-Amerikaners by die fees. Die mense by Tabane se optrede is n interessante spul, meer Boheems en minder konvensioneel in voorkoms as die deursnit-feesganger. As die tromme opgestel is, verskyn n ouerige man in n tradisionele uitrusting op die verhoog. Hy is Malombo se senior perkussiespeler en dra n Afrika-strooimatjie by hom wat hy ooprol op die plek waar hy gedurende die vertoning gaan staan. Dan volg n druk bespreking tussen hom en die tegnici. En daarna word alles weer verskuif - al die mikrofone en tromme word n paar meter na links heropgestel. Wanneer die Tabane-vertoning twintig minute ná die amptelike aanvangstyd nog nie begin het nie, ontstig dit iemand n ry of twee agter my: This is the worst show Ive ever been to, sê n vrou en mompel iets omtrent n Third World country. As alles uiteindelik gereed is, groet die senior perkussiespeler die gehoor op plegtige wyse. Hy gee n kort uiteensetting van wat malombomusiek is en stel die gehoor voor aan Tabane se seun, Thabang - die groep se ander, jonger perkussiespeler. Behalwe vir die klomp veelkleurige plastiekkrale wat die mooie Thabang om sy nek dra, is die twee perkussiespelers se uitrustings byna identies: elk se kop is kaal geskeer met n dierstert rondom dit gebind; albei dra lang, rooi Venda-mansrokke en wit frokkies; en albei se middellywe is omgord met n soort agterstevoor voorskoot van springbokvel wat oor hul agterstewes hang. Onder hul rokke, gebind om hul bene, is stringe en stringe perkussieballetjies, vermoedelik gedroogde peule van plante. Voor Tabane uiteindelik self op die verhoog verskyn, verklaar die senior perkussiespeler: The doctor is not feeling so well, but he is going to play for you anyway. En dan is hy daar - in n bont broek en n hemp met n kleurvolle vlammotief. Die bejaarde Tabane se stappie het iets afgemat omtrent dit, maar sy teenwoordigheid word nietemin begroet met n vlaag luide toejuiging. En dan begin die musiek. Dit is so briljant en so bekoorlik. Ons waardeer dit nog meer juis omdat ons so lank daarvoor moes wag. Die trio se samespel is asemrowend presies. Die ouer perkussieman speel gelyktydig twee tamboeryne, een op elke heup. Daar is n oerritme in die bewegings van sy deurwinterde lyf wanneer die dubbele tamboerynritme vlam vat. Die lenige Thabang bespeel die malombotromme met n katagtige kombinasie van grasie en spoed, terwyl sy blik telepaties gerig bly op sy pa - sy pa wie se sielvolle, sjamanistiese kitaarspel die gehoor heeltemal begogel. Dit duur nie lank vir die skare se waarderende energie om die doktor aan te steek nie. Hy word weldra meer lewendig, opgewek en geanimeerd. Elke nou en dan roep iemand spontaan uit: Afrika! - net dié een woord, want in hierdie byna magiese, nanagtelike oomblikke is die uitroep van ons kontinent se naam genoeg om die kultuurtrots te verwoord waarin almal hier deel en saamgebind word. Vir ons wat tot in die vroeë oggendure by die jazzfees gebly het om Tabane te sien optree, was dit n belewenis van onverdunde musikale euforie, die soort ervaring wat jou herhaaldelik na die NSJF sal laat terugkeer. Dit is n jammerte dat Tabane steeds nie voldoende respek en erkenning kry nie. Selfs nie van die NSJF-organiseerders, esp Afrika en Mojo Concerts, nie. Op die NSJF-webblad is skakels na biografiese inligting oor al 32 groepe en/of solokunstenaars op die feesprogram. As n mens egter op die Philip Tabane-skakel tik, kry jy niks nie. Dieselfde gebeur as jy op die NSJF CD-Rom se Tabane-skakel tik. Iemand het nagelaat om n Tabane-biografie op die webblad en CD-Rom te plaas, hoewel albei skakels bevat wat veronderstel is om te lei na inligting oor Tabane. Dit is absoluut onverskoonbaar, des te meer omdat die webblad en CD-Rom wel biografieë bied van al die ander kunstenaars wat opgetree het - almal behalwe Ezra Ngcukana en Mpho & Uvimba, wat aan dieselfde lot as Tabane oorgelaat is: n dooie skakel. Niemand wat dus die NSJF se webtuiste besoek het en/of die NSJF CD-Rom gebruik het om meer inligting oor Tabane te probeer bekom, sou enigiets oor hom kon uitvind nie. Weens bogenoemde stand van sake het ek met die beplanning van hierdie skrywe besluit dit sal goed wees om baie ruimte af te staan aan Tabane en Malombo, wat vir my een van die hoogtepunte was van die NSJF. Tabane se stem en kitaar is onlangs op verrassende wyse gekombineer met n elektroniese house-ritme deur die groep Revolution. Die snit was n groot sukses op die land se trefferparades. Busi Mhlongo is nog n musiekpersoonlikheid wie se gewoonlik akoestiese musiek al suksesvol met house gekombineer is. Sy was ook by die Noordsee Jazzfees - met n tradisionele Zoeloe-klank en -voorkoms. Mhlongo se optrede op die NSJF se buitelugverhoog (bekend as Manenbergs) voor duisende mense het bevestig dat sy een van Suid-Afrika se grootste sangeresse is, met n stem wat berge kan versit. Dit was wonderlik om haar onder n sterrehemel te sien sing terwyl talle vroue in die gehoor op die maat van haar musiek ululeer met hipnotiserende tussenposes. Naby my het n jong Euro-Afrikaan gestaan en n komplekse handeklapritme volgehou. Hy was sowat twintig. Sy kop was kaal geskeer en hy was geklee in n nogal uitspattige Wes-Afrika-mansrok vol goue borduurwerk. Hy was gewis nie jou deursnit jong blanke nie, wel n steeds te rare fenomeen: die ligvellige jeugdige wat n geïntegreerde toekoms in Afrika beliggaam. Strate was afgesper rondom die Goeie Hoop Sentrum en die aangrensende opelugverhoog waar Mhlongo, Andreas Vollenweider, Pops Mohamed en talle ander kunstenaars opgetree het. Die Goeie Hoop Sentrum se gronde het soos n reuse basaar gelyk met n magdom stalletjies en duisende malende feesgangers - van alle rasse, maar veral swart en bruin - en meestal relatief welaf: die soort mense wat kan bekostig om R235 vir n aand of R360 vir twee aande se vermaak te betaal. Sodra jy die feesgronde betree het, was daar nog meer om geld op te bestee: T-hemde, pette, sakke en koffiebekers met die NSJF-logo op, asook n T-hemp waarop n kitsfoto van jou en jou metgesel gedruk kon word - geneem by die NSJF en voorsien van n NSJF-raampie. Feesinkopies kon ook gedoen word by n Musica CD-stalletjie of by stalletjies met Afrika-krale en -kunsvlyt, insluitende ornamentjies uit herwonne blik. En dan was daar die kosdorpie (food village) - n lang ry stalletjies met elke denkbare wegneemete: van Spur-gemorskos tot Indiese kos, Chinese kos, pizza en tradisionele Kaapse disse. Selfs Plumstead Fish het n stalletjie gehad. Laastens, en beslis die minste wat vlakke van opwinding betref, was daar ook n korporatiewe dorpie (corporate village) met tente, plastiekmeubels en streng toegangbeheer - slegs vir BBPs, hooggeplaaste verteenwoordigers van die fees se korporatiewe borge. Die NSJF het dosyne borge gehad, maar Coca Cola, MTN, SABC, South African Airways en Standard Bank is uitgesonder vir goue borgstatus (en baie groter sigbaarheid). n Mens wonder hoe kwalifiseer n borg vir goue status. Wanneer dit n goudmyn word vir feesorganiseerders? Binnenshuis was die omvangryke organisasie van die fees indrukwekkend sigbaar in die grootste konsertruimte, Kippies, waar reuse videoskerms aan weerskante van die verhoog opgerig is en waar kameras aan die punte van lang, seekatagtige metaaltentakels oor die skare bly swiep het vir die verfilming van regstreeks uitgesaaide beeldmateriaal. Dit is hier waar India Arie, Bayete, Deodato en Jonas Gwangwa opgetree het. Baie van die NSJF se aantrekkingskrag lê in die massiewe skaal en internasionale geur daarvan. Benewens plaaslike jazztalent kan n mens ook huidige internasionale sterre soos India Arie in aksie sien. Sy was onopgesmuk beeldskoon in haar wit gewaad met n pankop en min grimering. Met n kitaar oor haar skouer en n outydse Hammond-orrel as deel van haar orkes verteenwoordig sy n terugkeer na natuurlikheid, aardsheid en outentisiteit in R&B en kontemporêre soul. Sy het n skare van sowat tien duisend betower met treffers soos Brown skin, asook onverwagse weergawes van ander kunstenaars se liedjies - Sweetest Taboo deur Sade, True Colours deur Cyndi Lauper en Bob Marley se Redemption Song. Nog n internasionale kunstenaar by die fees was Herbert. Sy optrede in die Basement (die ondergrondse deel van die Goeie Hoop Sentrum) het op uitsonderlike wyse begin: Hy staan voor n mikrofoon en klap homself hard deur die gesig; neem die klank op en voer dit outomaties in n sampler in, waarvandaan die gesigklapklank oorgeskakel word in n rekenaargedrewe perkussieritme wat weldra vervorm word tot die kragtige doef-doef-doef van hedendaagse dansmusiek. Herbert se musiek het wonderlike sang (deur Dani Siciliano) bevat, vervleg met n fassinerende, gedekonstrueerde brousel van jazz, house, rekenaarklanke en konvensionele koperblasers. Die Kaapse hip-hop-trio Godessa het ook vir groot opwinding gesorg in die Basement. Dit was fantasties om hierdie vroulike rymkletsers met n regte orkes te sien optree; hip-hop gebruik mos gewoonlik geblikte instrumentasies. Godessa behou (beklemtoon selfs) hul Kaapse Vlakte Engelse aksent wanneer hulle met die gehoor praat. As die groep na Afrikaans oorskakel om n volledige Afrikaanse snit by hul Engelse vertoning in te sluit, stuur dit n trilling van genot deur die skare. Agterna verklaar Godessa onomwonde: Ons is nie skaam vir onse roots nie. Party mense is mos … Die drie vlymskerp vroue staan ook tyd af om kapsie te maak teen die skiet van kinders op die Kaapse Vlakte. Hulle kritiseer politici se onvermoë om vorendag te kom met n plan van aksie teen bendegeweld. Met hul radikale houding, intelligensie en eg Suid-Afrikaanse hip-hop-klanke is Godessa een van die opwindendste dinge wat in n lang tyd gebeur het op die plaaslike musiektoneel. In die week van die jazzfees is daagliks lesings/werksessies by Kunstekaap gehou onder die vaandel van die NSJF. Die organisasie hiervan was by tye beroerd. Daar is drasties van die program afgewyk. n Lesing waarvoor ek opgedaag het - een deur die Amerikaner Archie Shepp - het n dag vroeër plaasgevind as wat die program aangedui het. Die organiseerders het ook nagelaat om uit die staanspoor te beklemtoon dat die lesings/werksessies gratis is; gevolglik was die bywoning nie so goed as wat dit kon gewees het nie. Dit is baie jammer dat so min musiekgeesdriftiges van die gratis lesings/werksessies geweet het. Dit het lede van die publiek die kans gebied om vrae te vra aan top-musiekmense. Aan die einde van n lesing deur John Scofield (wat drie jaar saam met Miles Davis gespeel het) wou iemand byvoorbeeld die volgende weet: Is dit moontlik om n goeie jazzmusikant te word sonder n geskiedenis van dwelmgebruik? Scofield se antwoord: Ek het dikwels hoog geraak toe ek jonger was en noudat ek dit nie meer doen nie, speel ek baie beter. Verskeie groot jazzgeeste, onder meer Keith Jarret, het nooit dwelms gebruik nie. En Jarret is iemand wie se musiek gewis nie bestempel kan word as styf of konserwatief nie. Prof Hotep Galeta het ook n antwoord gehad: As jy die geskiedenis van hierdie musiek verstaan, die onderdrukkende toestande waaronder dit ontstaan het, kan jy daaraan dink as iets wat kom uit n sosiopolitieke oorlogsone. Jazzlegendes wat aan dwelms verslaaf was, was ongevalle van hierdie oorlog; hulle het nie die geestelike krag gehad om bo hul omstandighede uit te styg nie. Baie het egter tog later die krag gevind om misbruik die rug te keer. Ek self het as jong man dagga gerook, maar vandag sal ek dit nie goedpraat nie. Abdullah Ebrahim was n dronkaard in die tagtigs. Kippie Moeketsi het n drankprobleem gehad. Baie kunstenaars kon nie die pyn van apartheid hanteer nie. Hulle wou die pyn van hul tyd se sosiopolitieke omstandighede verdoof. Moenie vergeet hoe erg dit was nie - daar was wette wat verbied het dat wit en swart musikante saam op n verhoog verskyn, groot talente soos Winston Mankunku moes agter n gordyn staan en saksofoon speel omdat sy velkleur dit onwettig gemaak het om saam met n blanke orkes in die openbaar op te tree. Jonas Gwangwa het in sy NSJF-lesing n geskiedenis geskets wat aansluit by die voorgaande aanhaling. Hy het vertel dat die regering gedurende die apartheidsera swart musikante as leeglêers beskou het. Omdat n blanke werkgewer elke maand jou pasboek moes teken, kon jy nie in die stad vir jouself werk (dus vryskut) as musikant nie. Daarom het baie musikante hulself geregistreer as smouse, omdat dit een beroep was wat swartes toegelaat is om te beoefen sonder om n wit baas te hê. Skaars twintig mense het kom luister na Gwangwa - die eerste musikant uit Afrika wat benoem is vir n Oscar (vir sy werk op die Cry Freedom-klankbaan) en iemand wat geskiedenis help maak het toe hy in die jare vyftig gespeel het op die eerste Suid-Afrikaanse jazzlangspeler, Verse 1 deur The Jazz Epistles (saam met n bloedjong Hugh Masekela en Abdullah Ebrahim). In hierdie stadium wil ek n paar paragrawe afstaan aan wat ek noem pseudojazzliefhebbers - waarvan daar baie was by die NSJF. Hulle is dikwels afkomstig uit Suid-Afrika se postrevolusionêre elite of semi-elite, klasbewuste mense vir wie musiek minder belangrik is as die handelsmerke van jou klere en die soort motor wat jy ry. Hierdie soort feesgangers daag (in groot hoeveelhede) eers tussen 21h00 en 22h00 op by n jazzfees wat elke dag al om 18h00 begin. Die gelatenheid waarmee hulle die eerste drie of vier ure se optredes misloop, wys dat hulle belangstelling in jazz nie baie diep lê nie en nie baie eg is nie. Op die internasionale toneel het Kenny G n stereotipe geword van toeganklike, serebraal nie-uitdagende jazz. Sy popperige, maklik verteerbare instrumentele musiek is gewild onder mense wat nie na veel ander jazz luister nie. In Suid-Afrika werk kitaarman Jimmy Dludlu in dieselfde modus. Hy is kommersieel en veilig, n seepgladde en oorgestileerde, Afrosentriese inkarnasie van die George Benson-kitaarcliché. Dludlu se musiek kan gehoor word in n bekende brandewyn-advertensie op TV en ook as temamusiek van die sepie Backstage. Hy is n crossover-musikant wat jazz en pop op resepmatige, formulevaste wyse kombineer - en sodoende kommersiële sukses behaal. Sy musiek is heel skaflik en luisterbaar, maar selde opwindend of uitdagend of vernuwend. Vir baie mense begin en eindig jazz by musikante soos Dludlu of Kenny G. En sulke pseudojazzaanhangers is geneig om te stroom na geleenthede soos die NSJF, wat hulle dan dikwels bederf vir opregte jazzliefhebbers - deur lomp, respekloos en oningelig met die musiek om te gaan. Hulle woon jazzfeeste by om sosiaal te verkeer in n glansryke, gesofistikeerde atmosfeer - sonder dat die musiek hul eerste oorweging is; dit is eerder n bysaak, n toevallige klankbaan. Postapartheid Suid-Afrika se nuwe elite, die nuwe ekonomies bevoordeelde klas, is mal oor jazzfeeste, maar nie noodwendig oor die musiek self nie. Wat hulle bekoor, is die jazzmilieu se byderwetse, vrygeestige gekultiveerdheid - iets waarmee baie van hulle geassosieer wil wees sonder om te intens te moet konsentreer op die musiek self. En so kom dit dat talle musikaal ondervoedes opeindig in die Rosies-konsertruimte net voor die bejaarde, Islamitiese Afro-Amerikaner Yusef Lateef optree. Terwyl die verhoog reggekry word, vra hulle skaamteloos vir almal rondom hulle: Wanneer speel Jimmy? of Waar speel Jimmy? of Is dit hier waar Jimmy gaan speel?. Hulle het geen benul wie Yusef Lateef is of hoe die jazzfees se program lyk nie. Wanneer Lateef se abstrakte, melancholiese musiekuitvoering begin, is daar baie hartsnare wat glad nie geroer word nie. Mense babbel voort en lag hard op die mees ongeleë oomblikke gedurende Lateef se stadig ontknopende musiekstukke. Dit is mense wat duur klere dra en gloei van die geld. Hulle is hier om partytjie te hou saam met die ander nuut-rykes; hulle is hier om hul materieel en sosiaal opwaartse gang te paradeer; om gesofistikeerd te lyk met jazz as agtergrondmusiek, nie as hoofsaak nie. Lede van hierdie spesie, die pseudojazzliefhebbers, steur hulle nie aan versoeke dat selfone afgeskakel moet wees gedurende vertonings nie; hulle bly ongestoord en luidkeels gesels in brose, gekoesterde oomblikke van musiekuitvoerings, oomblikke waarin die musiek sagter word, subtieler - en fyner konsentrasie van al die aanwesiges vereis. Dit is in die haak met hulle as ander mense (fynproewers in die gehoor en musikante op die verhoog) se feeservaring bederf word wanneer selfone op musikaal tere oomblikke lui, solank hul pelle hulle in die hande kan kry om te sê dat hul mekaar by die Spur se burgerstalletjie moet ontmoet. Baie feesgangers het werklik geen benul gehad wat waar gebeur en wie wanneer speel nie. Dit is omdat die meeste nie programme gehad het nie. Die programme het R50 elk gekos. Wie gaan soveel geld aan n program bestee as jou toegangskaartjie reeds n paar honderd rand gekos het en jy R8 per bier moet opdok? Ja, daar was glo n R10-weergawe van die program ook, maar dié was natuurlik so skaars soos hoendertande. Pla dit nie die organiseerders dat baie mense nie weet wie op die verhoog voor hulle is nie? Of voel hulle vere vir die musikale opvoeding van die massas by die NSJF? Is hulle tevrede solank daar skares by die venue opdaag en hulle kaartjies betaal is? Die R50-program ruik vir my na blote gierigheid. Die organiseerders kon eerder geborgde eenbladsy-pamflette gedruk het en dit gratis uitgedeel het; dit kon die borge se handelsmerke en die program vir die vier verhoë bevat het. En so sou almal geweet het wat aangaan; mense sou nie opgeëindig het in vertonings waar hulle nie werklik wou wees nie, en oningeligte lede van die publiek sou kon begin leer wie is wie op die plaaslike en internasionale jazztoneel. |
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |