|
|
Speel hom, oom Neels, speel hom weer!Erns GrundlingEk het vir Neels Mattheus die eerste keer op die telefoon ontmoet. Daar in die hoekie van Die Burger Oos-Kaap se redaksiekantoor in Port Elizabeth, waar my deurmekaar lessenaarhokkie probeer sin maak het uit hordes fakse, papierwerk en e-posse oor kuns en vermaak. Oom Neels, soos hy onder sy vriende en duisende aanhangers bekend gestaan het, was natuurlik geen onbekende nie. Vir dekades was hy reeds die onbetwiste konsertinakoning, wat nuwe energie in boeremusiek geblaas het en veral n groeiende belangstelling vir musiek onder jongmense gekweek het. Ons het gesels oor n komende boeremusiekbyeenkoms wat ek vir die koerant sou dek, en ek onthou nog sy grappies en stuitighede van daardie eerste gesprek. Dit was dus ironies dat Pieter van Zyl, wat deesdae die kuns en vermaak vir Die Burger Oos-Kaap behartig, my n paar dae gelede bel en vertel dat oom Neels (67) in sy slaap oorlede is ... die eerste en laaste woorde met en oor oom Neels het dus telefonies geskied. Dit het my egter laat terugdink aan die rukkie wat ons saamgewerk het, en hoe n blywende indruk dié man met die sagte oë en die magic hande op my gemaak het. Die vooruitsig van n boeremusiekaand op n Woensdag by die Park Rugbyklub in Port Elizabeth is sekerlik nie baie hoog op die meeste 21-jariges se sosiale kalender nie. Woensdag is immers dié aand met happy hour-kroegpryse en oorvol dansklubs met spesiale afslag vir studente ens. Hoewel ek aanvanklik ook n bietjie skeptisisme in my voel opwel het, het ek en n vriendin besluit om hierdie boeremusiek-scene te gaan ondersoek. Wat n openbaring was dit nie! Hier was geen sprake van verstokte bejaardes wat die ritme so al met die een voet saamtik nie ... nee, hier was meer gees en uitbundigheid as by baie van die studente se (soms pretensieuse) klubs, en hierdie mense het nie eens drugs nodig om n party lewe te gee nie! Oom Neels het ook dieselfde aand sy konsertina laat práát, en omdat my ma self kan toor met n trekklavier, was dit heerlik om al dansende aan soortgelyke klanke uit my jeug herinner te word. Oom Neels het my later gereeld gebel by die koerant, en hy het altyd n grappie of twee gehad om te vertel. Ek onthou hoe dikwels daar n haastige boodskap van die sekretaresse was, n kort nota wat gevra het dat ek vir oom Neels moes terugbel. Hy het altyd nuwe idees gehad vir konserte en maniere om die jeug te betrek, en wou graag vir jong groepe (van alle musiekgenres) help om op die map te kom. Maar my gunsteling-herinnering van oom Neels was die een Sondagaand, toe ek myself in die Westering-woonbuurt bevind en n plakkaat gewaar van n Jurie Els-konsert in die Sonheuwel NG Kerk. Ek was op daardie stadium hard op soek na maniere om Sondag-blues (of Frankl se "existential void") hok te slaan, en besluit toe om sommer na die konsert te gaan kyk; dit kan net interessant wees. (Wat dit toe wel was, kompleet met oorvol moederskamers en n U2 War-vlag wat ook sy verskyning gemaak het, maar dis n storie vir n ander geleentheid!) Na die tyd het oom Neels my nader gepluk en gesê ons moet Jurie Els se blad gaan skud. Toe ons by Jurie kom, het oom Neels n vonkel in die oog gekry en vir Jurie doodernstig gevra of hy asseblief my T-hemp sal teken. (Dit was enkele weke na die Huisgenoot-storie waar Jurie vertel het hy wou nie hemde teken nie.) Jurie was nogal gerattle, want hy het nie verwag oom Neels is so n platjie nie, maar vir n buitestaander was hul onderskeie lyftaal en reaksies skreeusnaaks. Toe ek laas vir Jurie Els gesien het, was hy heel ironies besig om Anton Goosen se classic "Silver de Lange" in een van die Aardklop-kunstefees se gratis tente te sing. "Die konsertina kerm verlange / in die hande van Silver, Silver de Lange ..." Ek het juis toe aan oom Neels in die Baai gedink, en gewonder watter joke hy dáár sou gecrack het. Met alle respek aan Anton se "Silver de Lange", het die volgende frase by my opgekom toe ek van oom Neels se dood gehoor het: "Speel hom, oom Neels, speel hom weer ..." Oom Neels Mattheus se legende sal ongetwyfeld bly voortleef; hy het immers in 1980 die eerste boeremusiekkompetisie op televisie gewen, n ervaring wat vir hom gevoel het soos om vir die Springbokspan gekies te word. Sy musiekwinkel in Kaapweg was ook een van die bekende bakens in Port Elizabeth, met wonderlike ou plate, fotos en memorabilia uit toeka se dae. Ek is regtig spyt dat ons nooit by die beloofde dop in die kuierplek langsaan kon uitkom nie ... Sy twee seuns, Kevin en Deon, is albei uitstekende musikante en die talent loop selfs nóg verder deur die familie. Valiant Swart sing mos in sy song "Banneling": "Die konsertinas weergalm oor die water vanaand ..." Sal nogal nice wees om eendag oom Neels se konsertina oor die Styx se waters te hoor weergalm ... |
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |