KlankKas - Musiek en meer!Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.



Monoloog in stereo is 'n rustiger trip, maar steeds die trip werd

Erns Grundling

Wat het Fokofpolisiekar en 'n moerse groot haai gemeen? Albei kry seker nou en dan slegte publisiteit.

Vir die doemprofete, worry-potte en stigtelike sedebewakers het ek darem goeie nuus: beide Fokofpolisiekar en die V&A Waterfront Akwarium se haaie het hulle goed gedra tydens verlede week se eksklusiewe bekendstelling van die groep se nuwe EP, Monoloog in stereo.

Wie ook al aan die idee gedink het om dié groep met die imponerende haaitenk as agtergrond te laat optree, verdien inside info op minstens vyf korrekte Lotto-nommers. Dit het uitstekend gewerk. Ek wens eintlik die gig kon lewend op televisie uitgesaai geword het. Daar was wel 'n handvol kameramanne wat met die fotograwe gewedywer het om spasie, so dalk kan meer mense een of ander tyd sien waaroor ek so opgewonde was.

Die logo boaan die haaitenk verklaar onomwonde: I&J Predator Exhibit. Nie Deep Water Hake nie, pappie, ons praat hier van Predators. Saam met elf, dageraad, geelbek, geelstert en 'n vissoort genaamd Scotsman het die haaie onverpoos al in die rondte gesirkel, min gepla deur die skitterende musiek en jillende skare wat voor hulle afgespeel het.

Die vertoning het my herinner aan Nirvana se destydse MTV Unplugged in New York-konsert. Die haaitenk se dekor was net soveel meer opwindend. Fokof-stagedives, ter wille van die visse. Francois van Coke en sy trawante was netjies uitgedos en het vir 'n slag rustig agteroor (nogal met twee akoestiese kitare!) gesit en sing. Lekker intiem.

Die vertoning was foutloos en uiters vermaaklik, afgesien van 'n kragonderbreking wat halfpad deur ingesluip het. Van die ouer treffers soos "Tevrede", "Hemel op die platteland" en "Maak of braak" het ook deur die akwarium weergalm.

Fokofpolisiekar het kragte saamgespan met Levi's, wat met hul ruim ondersteuning besig is om plaaslike oorspronklike musiek tot nuwe hoogtes te voer. Ons het juis 'n voorsmakie van Fokofpolisiekar se "rustiger" aanslag gekry op die uitstekende akoestiese weergawe van "Hemel op die platteland" op die onlangse Levi's-album, CD4.

Ek bespreek kortliks die ses snitte op Monoloog in stereo:

1. Oop vir misinterpretasie

net die skoon word vermoor
net die sag kry seer
net die jonk glo
soos wat net die jonk van hart kan glo

Die eerste snit wemel van gedagtes waaraan mens nog lank kan herkou. Dis immers oop vir misinterpretasie. Wat die musiek betref, is dit steeds ongetwyfeld Fokofpolisiekar, maar ek moet saamstem met die persverklaring: die kitaarspel is meer gedefinieerd en die riffs uiters verslawend. Soos tik.

Die lirieke is weer eens vlymskerp, hedendaags en vra vir niks om verskoning nie:

my skoene is deur vroue slawe in die verre-ooste gemaak
dis nie my skuld nie
my korttermyn geheue verval
tersiêre opvoeding nietig verklaar
dis nie my skuld nie.

Die fokus is ook selfs nader aan die huis en is selfs meer sosiaal bewus as op hulle vorige twee cd's:

my vriende se bediendes het hulle met liefde groot gemaak
dis nie my skuld nie
ek herinner myself aan my pa
hulle moes grens toe gaan
dis nie my skuld nie.

Nice.

2. Ek dink aan jou (as dit reën)

Francois het by die haaitenk aangekondig dat dit hul eerste love song is. Ek moet bieg, hierdie song doen dit nie heeltemal vir my nie. Dalk omdat ek baie meer van die vyf ander snitte hou, of dalk irriteer die koortjie se herhaling ("Ek dink aan jou as dit reën") my. Ek is onseker. Die tune is wel catchy en sal sekerlik binnekort hardop deur die venues eggo. Die volgende twee strofes bied wel stof tot nadenke:

kwaad raak ons net vir mekaar
mans bly seuns
seuns wil mans wees

deesdae vat dit langer
om mense te leer ken
is dit regtig nodig
om mense te leer ken.

3. Die illusie van veiligheid

'n Skitterende tune. As Francois begin sing, is die gevoel amper unplugged, en tel dan lekker op. Die vibe (ek sien daar word deesdae van "waaib" gepraat) is country-agtig, met flink kitaarspel en 'n dromritme wat alles netjies verpak. Musikaal is dit vir my die hoogtepunt van die album.

Die lirieke is heerlik oneerbiedig:

als wat jy kry moet jy
by die venster uitsmyt
ons sal rond sit en raas
dieselfde wyshede herhaal
in 'n vuil sitkamer sukkel jy om te leef
sonder rigting is dit moeilik om jouself te wees

wat doen ons nou?
ons los ons ruite oop
en ons het nie diefwering nie.

4. Wintersdag by die see

skepe van eensaamheid sink
verdrink die dae van die week
die warm smart wat somer bring
sing
kriewelend, spasties, kruipend

ek is honger en my klere stink.

Een van die cd se donkerder snitte. Jy wil nie sandkastele bou as "die rooi branders breek/ oor 'n swart strand van seer" nie. Die unplugged-gevoel en onheilspellende klank-effekte, veral tydens die song se laaste koortjie, werk soos 'n bom.

5. Monoloog in stereo

Hierdie song, wat ook die cd se titelsnit is, het dit teen die middelmatige en dit wat algemeen is. Hoe kan die individu sy stempel afdruk met só 'n droewige gegewe?

'n baie algemene mens
met baie algemene woorde
in 'n algemene huis
kweek algemene drome
'n dosis pynverdowers
op die ou einde van die dag
is dit seker maar
al wat jou gelukkig maak

6. Die seksuele revolusie

Die cd sluit af met 'n tune wat dalk 'n voorsmakie bied van hul volgende vollengte-album. Dis meer loud as die voorafgaande snitte en herinner aan die klank van Lugsteuring. Die lirieke is weer eens kookwater:

onskuld is 'n vrug
'n droë metafoor wat ouer word
ek stap versigtig met 'n blinddoek op

dis baie mooi as twee jong mense soen
begeerte is 'n spieëlbeeld
omstandigheid 'n luuksheid van
gesonde verstand
dis dalk onplesierig
maar die roltrap moet jy trap.

Fokofpolisiekar is reeds goed gevestig op die plaaslike musiekfront en het al selfs gehore in Europa beïndruk. Monoloog in stereo is 'n waardige toevoeging tot hulle reeds bestaande werk en behoort geensins hul kanniedood punk-fans te ontmoedig nie. Die "nuwe" aanslag op sommige van die snitte is 'n bewys van hul musikale veelsydigheid, iets waarby baie ander jong én gevestigde groepe gerus kan leer.

Liewe ouers, verras julle spruite gerus met hierdie cd neffens die verjaarsdagkoek. En vergewe maar die stagedive-bloukolle na 'n nag se manewales by die Mercury. Ja, hul lirieke is angry en plek-plek blatant uitsigloos, maar dit kan nie juis meer skade doen as Noot vir Noot nie, kan dit?


As jy nog nie die foto's gesien het nie, klik hier!




LitNet: 05 Julie 2005

Wil jy reageer op hierdie resensie? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

 

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.