|
|
Koos en Rocco span saam en deel 'n bar, klavier en kitaarHaydee Morgan
Die eerste maal toe ek geleentheid had om professioneel met Rocco te gesels, was hy reeds 'n gevestigde pianis (moet eerder lees "entertainer"). Hy en Zanta Hofmeyr was op pad na die Sterrewagteater in Bloemfontein met die produksie zantarocco en die onderhoud was vir radio. Ons was tydgenote op universiteit, maar Rocco het nooit daar gehoort nie - uitgestaan soos 'n paal bo hoogwater. Medestudente in sy klas het my attent gemaak op dié aweregse student met die buitengewone vermoë tot bladlees en improvisasie. Die boorling van Tweeling in die Vrystaat was as student al 'n fenomeen met 'n enigmatiese verhoogpersoonlikheid en een van die min wat groot getalle toeskouers (veral studente) kon lok na etensuurkonserte. Vandag is die naam sinoniem met maanligdrankies, manelpakke en Steinways, want Rocco is pianis en musiekdirekteur/-verwerker van sowat 55 verhoogproduksies, regisseur/verwerker van 21 cd-opnames, komponis van 9 TV/radio-reekse se klankbane (waaronder kykNET se logomusiek), en gasheer van die TV-reeks Kook en Klavier en Rocco. Musiekopdragwerk sluit in National Heritage Day South Africa (1999), Miss South Africa Beauty Pageant (1999), Big (1997) (vir klavier en orkes), A Parable by Clive van den Berg (1998) en die Suid-Afrikaanse komiese riller Lyk-Lollery. Dan praat ons nie van die groot gros instrumentale verhoogproduksies soos Tango! (2003), roctails (2001) en Rocco and Sergio (1998), en dié waarvan hy artistieke direkteur was (Klein Karoo Pops - '99/'00/'01/'02, die Sarie Inspirasie-konserte en die liedjies wat ons ken) nie. Laasgenoemde was 'n dokumentêre musiekreeks van 14 episodes vir kykNET, waarvan hy uitvoerende vervaardiger was. Roctails is in die Verenigde Koninkryk beskikbaar onder die titel roctails, cocktails en plaaslik by Struik, Exclusive Books en Kalahari. Deesdae het Rocco sy eie rubriek in die tydskrif VISI, waar hy die een en ander te sê het oor drinkplekke in Suid-Afrika; skryf en meng hy aan roctails se opvolg, momtails, 'n versameling nonalkoholiese drankies vir swanger vroue en eksalkoholiste. Tussendeur is rocco&nita productions besig met preproduksie vir die tweede reeks van "die liedjies wat ons ken", met interessante verhale oor die FAK Sangbundel en sy liedjies. Die cd van die eerste reeks is intussen beskikbaar (CDVM(WL)51). In samewerking met Lapa Uitgewers stel die produksiehuis 'n nuwe Afrikaanse sangbundel saam met liedjies tot so onlangs as 2002. Koos A Kombuis (gedoop André le Roux du Toit) het geen formele bekendstelling nodig nie. Sy lewe het te veel hoogtepunte vir uitsonderings - hier onder is enkeles: Boekhoogtepunte sluit in sy outobiografie met die titel Seks & Drugs & Boeremusiek (Human & Rousseau). Ook by Human & Rousseau verskyn Koos se Songs, My Mamma is 'n Taal, Hotel Atlantis en Afrikaans my Darling. Protea Boekhuis gee onder meer sy Suburbia (Afrikaanse gedigte, eerste uitgawe Perskor, 1982) en Die Geel Kafee uit, en by Zebra Press verskyn The secret diary of God. Albums sluit in Voëlvry die Toer, Niemandsland and Beyond (JNS Musiek), Elke Boemelaar se Droom (Gallo), Madiba Bay (Wildebeest Records), Blameer dit op Apartheid met die Warm Blankes (Wildebeest Records) en Blou Kombuis (JNS Musiek). Koos was deel van die kontroversiële Voëlvry Toer in die jare tagtigs, 'n musiekbeweging met die Gereformeerde Blues Band, Johannes Kerkorrel en Bernoldus Niemand - "… die oorspronklike alternatiewe Afrikaanse rock 'n roll opstokery", aldus Koos. Ook is hy 'n bekende liriek- en rubriekskrywer, suksesvolle musikant en tans getroud met Kannetjie. Binnekort tree Rocco en Koos Kombuis vir die eerste maal saam op in 'n produksie vir dié jaar se KKNK. Rocco doen klavierverwerkings van Koos se ou en nuwe liedjies en Kombuis steek aan by Rocco se energieke verhoogstyl en sing met nuwe entoesiasme. Finale voorbereidings in die vorm van 'n formele kleedrepetisie is van 9 to 12 Februarie in dieselfde intieme teater in Bloemfontein te sien waar hy en Hofmeyr gehore trakteer het op klavier en viool. Die media hou asem op vir dié optrede, net soos hulle asem opgehou het met Koos en Jurie Els s'n, want Rocco en Koos is nou maar eenmaal twee antiteses, teenpole, die een maksimaal, die ander minimaal. Koos het verlede jaar tydens die KKNK vol sale getrek met sy vertoning Koos!, maar geen resensies gekry nie. Volgens Rocco is hulle verwagtinge met dié optrede een van plesier en vermaak. "Verwag 'n kitaar, maar ook 'n vleuelklavier; stukkende jeans, maar ook 'n ontwerperspak; 'n bottel wyn, maar met 'n landgoedlabel; Koos, maar ook Rocco." In gesprek met Rocco de Villiers'n Teaterervaring met jou is baie sintuiglik. Die kombinasie tussen musiek en drank is so oud soos die berge self. Hiermee skep jy eintlik twee verhoë vir jou gehoor? Ek probeer juis om dit te integreer sodat die klem op vermaak in die geheel val. Ek het uitgevind dat daar in die 1920's reeds 'n pianis in Frankryk was wat 'n show met die naam pianoctails gedoen het. Jy gaan om met twee van die moeilikste wetenskappe: die verhouding tussen instrument/musikant en die verhouding of samestelling van verskillende tipes spiritualieë … Ja, as wetenskap is dit moeilik, maar as vermaaklikheid is dit soveel makliker, want met entertainment het jy 'n onmiddellike reaksie. Is daar bestanddele (soos pomelosap) wat jy nie in jou mengeldrankies sal gebruik nie? Hmm, ja, goed wat msg bevat. Sedert ons laaste gesels is jou eie wynetiket roccorocco bekendgestel. Hoe is die samestelling gekies en het jy enige insette gelewer? Ek en Beyers het op 'n Saterdagoggend in sy kelder ingegaan met 'n pipet en hy het vir my verskillende moontlikhede laat proe, party meer vrugterig en ander meer hout. Ek het my gunstelinge gekies en hy het met die wetenskaplike gedeelte voortgegaan. Die resultaat is 'n beperkte vrystelling van 'n cabernet sauvignon-versnit en twee merlots, vervaardig en verouder in Franse eikehout en gebottel deur Beyers Truter van Beyerskloof, Stellenbosch. Die titel van jou boek roctails bevat allerlei woordspelings en sinspeel op die goeie dinge in die lewe; tog is jou musiek nie oordadig nie … La Perla-onderklere en Gucci-pakke is ook nie oordadig nie en sinspeel ook op die goeie dinge in die lewe. Eenvoud word vir my al hoe belangriker, soos Bach en Mozart se stadige bewegings - dis waar jy getoets word met min note en jou ability om iets daarmee te maak. Die FAK wek assosiasies met volkspele, witblitsfeeste en skoolkonserte, maar die reeks die liedjies wat ons ken belig die heimwee en nostalgie in die liedjies … As enige kultuur-, taalgroep besef dis tyd om aan te beweeg, móét jy eers nostalgies (nie sentimenteel nie!) raak. Jy kan mos nie weet waarheen jy op pad is as jy nie weet waar jy vandaan kom nie. Jan Pohl het 'n hele argief komposisies, opnames (wat wag om digitaal omgesit te word), bladmusiek, ens nagelaat. Ek sit angstig en wag vir iemand om Jan Pohl te red van die mannetjie-etiket. [dalk: die mannetjie-etiket … ? Of die "mannetjie"-etiket? Wat is wat? - hoe sit dit aanmekaar?] "Mannetjie" het ek in die eerste Liedjiereeks gebruik. Ek dink daar behoort 'n verhoogproduksie geskep te word, soortgelyk aan wat ons onlangs met Gé Korsten gesien het. Jan Pohl was die eerste wat "Afrikaanse Jazz" geskep het, en het met beter woord-, klank- en akkoordkeuses omgegaan as baie van sy tydgenote. Vra sekere liedjies om sekere instrumente (soos die akkordeon)? Ek het vir lank so gedink, maar deesdae word die idee van antiteses (soos Oosterse musiek met goemaritmes) meer aantreklik. In 'n moderne samelewing kan ons met enige iets cope, dis net die conservatives onder George Bush wat nog glo as jy oor blou sing, moet die cd cover en die video blou wees. As jy een gunsteling FAK-liedjie moes kies, watter een sou dit wees? Sarie Marais, want dit spreek van verlange en skoonheid (in die melodie én teks). Uit wie bestaan die vennootskap rocco & nita, en wat is julle doelwitte? Die vennootskap bestaan uit my en Nita (dogter van oorlede Jan Cronjé van So maak mens-faam met Esmé Euvrard). Ons maak televisieprogramme en is tans besig met 'n special vir kykNET met die titel Paasfees: die Verhaal van HOOP. Waarom is Bloemfontein gekies vir jou en Koos se kleedrepetisie? In Amerika begin jy in Texas, dan off Broadway, gevolg deur Broadway en Hollywood. Hier is dit Bloemfontein en dan die ander sentra. Nie dat een noodwendig beter is as die ander nie. Hoe versoen jy en Koos die uiterstes in julle benadering en uitvoering van musiek? Dis eintlik so maklik: as twee artists baie dieselfde is, kan dit maklik boring wees; ons is anders, probeer niks aan mekaar verander nie - hopelik net leer. Noem dit 'n gemompel in falsetto, dalk soos Prince in Afrikaans! En Koos, gaan hy klavier speel? Ek sal dit nooit toelaat nie!! Daar is 'n kronologie in jou albums/vertonings te bespeur: Screentest (1998), Not a word (1999), Era (2000), Call Me Old-Fashioned (2002) en die onlangse vertoning La Scala. Is La Scala 'n droom? Ek hoop La Scala kan my gehoor laat droom; vir my was dit meer 'n "dream come true". * Hy is Suid-Afrika se bekendste boemelaar, meng taal, drank en rookgoed en praat die taal van "ons en hulle" op die mees besonderse manier denkbaar. Jy herken hom in alles (en almal) wat jy mee grootgeword het (in Afrika), want weens die ontstellende onopgesmuktheid en eerlikheid daarvan weet Koos se musiek hoe om te kyk en oor te vertel ("… Maak los daardie boordjie en haal af jou das/ want die's nie die blou trein nie, ons ry derdeklas …" uit "Travel in Staail" - album Elke Boemelaar se Droom, 1994; "… En jy kan nie op die water loop nie, jou rug het jy op als gedraai/ Jy kan nie op water loop nie, kyk onder jou/ as alles om jou wil vou dan't jy darem dertig silwer sikkels by jou/ 30 silwer sikkels by jou en 'n botteltjie blou …" uit "Dertig Silwer Sikkels" - album Elke Boemelaar se Droom, 1994). Sy liedjies en boeke is optekenings van 'n manier van leef (en glo) voor '94, met 'n Kytie in die kombuis, junkies in Hillbrow, 'n pas vir die aandklok wat soos 'n bomsirene klokslag ná nege saans skreeu. Koos se songs, die Nuwe, Bygewerkte Uitgawe Bundel Lirieke en Akkoorde is in boekvorm beskikbaar. Tussendeur die chaos (familieverpligtinge, rubriekskryf en repetisies) het ons hom laat halt roep, vir 'n rukkie altans. In gesprek met Koos Kombuis:Op die album Elke Boemelaar se Droom sê jy: "Bring hulle byeen, van alle kante. Sit hulle in een studio, van Dan Hill tot Joos Tonteldoos. Gee vir hulle goeie songs en 'n dop en dan maak dit op die ou end nie meer saak nie." Profetiese woorde in die lig van julle vertoning eersdaags? Ek kan nie onthou dat ek dit gesê het nie - staan dit iewers op die plaat se cover? - maar dit klink vir my reg. Konflik tussen ernstige en kommersiële kunstenaars, oftewel tussen musikante en entertainers, is 'n paradoks. Dis vir baie mense blykbaar verskriklik moeilik om te verteer dat ek vriende is met beide Jurie Els en Roof Bezuidenhout. Die feit is, Jurie Els weet hoe ek voel oor sy musiek en dit pla hom nie. Ek het Guilliome al in 'n koerant beledig oor sy liedjie "Da Idi" en na die tyd, toe ek hom ontmoet, het ons hand geskud en gelag daaroor. Natuurlik hou ek meer van die musiek van die sogenaamde alternatiewes en die sogenaamde kinders van die rewolusie, maar ek is geweldig bang vir oordrewe rock-snobisme. Kan mens werklik nou al die koring van die onkruid skei? Kyk hoe het die Voëlvry-beweging suur geword. As jy backtracks afskryf, skryf jy ook vir Mandoza af. As jy alle entertainers weggooi, maak jy jou oë toe vir die interessante dinge wat Thys die Bosveldklong nou met townshipmusiek wil doen. Mens weet nooit van wie die volgende vernuwing gaan kom nie. Dalk van iemand wat glad nie 'n "cool" image het nie, soos Robbie Jansen! Van jou optredes saam met Els het jy gesê jy "vind die entertainers van ons industrie 'n besonder pretensielose en aangename groep mense". Waar plaas jy jou optrede met Rocco? Beide Jurie Els en Rocco de Villiers se musiek is ligjare verwyder van myne. Dis uit pure desperaatheid en verveling met myself dat ek deesdae sulke uiteenlopende mense nader trek. Een van die dae deel ek 'n aand met Jan Blohm. Ek hoop dat sulke briljante ouens 'n bietjie die aandag sal aftrek van my eie tekortkominge! En waar plaas jy jou musiek in die huidige music scene? Ek pas nou glad nie meer in 'n kategorie in nie. I am too old to rock 'n roll and too young to braai. Is Koos Kombuis in 'n doodloopstraat, of ly jy bloot op die moment aan skrywersblok? Die vraag is na aanleiding van jou uitlating dat jy verveeld is met jou eie musiek/opvoerings. Nee, ek is ongelukkig nie in 'n writer's block nie. Ek is wel besig met selfondersoek. Die afgelope 20 jaar het my solo-optredes min verander. Op die ouderdom van 50 besef ek skielik ek act soos 'n bloated, overgrown teenager. Ek wil graag die eerlikheid in myself vind om vir mense te sê: "Hier is ek nou, dis wat aangaan met my." Ek begin dit regkry in my prosa, maar my solokonserte moet heeltemal geherstruktureer word en ek weet eerlikwaar nie waar om te begin nie. In retrospect is ek baie bly daar was verlede jaar geen resensie van my solo-show nie. Ek het die show agterna self gekyk op 'n privaat sogenaamde DVD, en ek was met bodemlose afgryse vervul. My hele konsert het bestaan uit vervelige liedjies, flou grappies en dieselfde Koos-cliché's wat ek nou al jare doen. Hierdie jaar is my deadline: as ek dit nie regkry nie, sal ek oorweeg om heeltemal op te hou, soos ek soms al wou, en liewer konsentreer op die groeipunte in my werk, soos my romans en rubrieke. Dalk word ek nog eendag 'n skilder of spotprenttekenaar … watch this space. As jy 'n resensie oor jou huidige musiek kon skryf, wat sou daarin staan? Ek kan nie 'n resensie oor my eie werk skryf nie, maar's hier's 'n miljoen-dollar leading question: "Wat sou Koos Kombuis gewees het sonder die Struggle?" Van jou roerendste lirieke is byvoorbeeld vers 3 uit "Kaptein Koebaai", waar Coetzenburg se waterstroom glad 'n ander deuntjie sing, en die grensverskuiwende "Onder in my Whiskeyglas": Wie's die man daar in sy donker jas?
Dankie! Die Rooi Kombuis was opgedra aan Sheila Cussons. En Blou Kombuis? Verteenwoordig dit 'n angst-periode, en indien wel, waaroor gaan die angs/blues? Jy't die connection raakgesien. Dit lyk my dat, elke keer wanneer ek iets produseer met kombuis in die titel, dit sinspeel op 'n spanpoging (too many cooks?). Lank terug was daar 'n Sheila Cussons-toonsetting saam met Valiant Swart, wat dalk nog net op ou bootlegs bestaan. Rooi Kombuis was 'n samewerking met Anton Goosen met verwysing na Cussons. Blou Kombuis is nie 'n angstige affêre nie, net die naam van die live album wat ek opgeneem het saam met die blues kitaarspeler Albert Frost. Dit is my enigste vrolike album. Is daar liedjies wat jy wens jy self geskryf het? "Die Toneelstuk" van Lize Beekman, "Victoriabaai" van Lucas Maree, "Why does the whole world hate America?" van Anton Goosen, "Saad van 'n Psigopaat" deur Abel Kraamsaal, "Aan Elize" deur Jan Blohm, "Die Rewolusie het Begin" deur Kristoe Strauss, en "Soen soveel as wat jy wil" van Fokofpolisiekar, om maar 'n paar te noem. Dis sulke fokken goeie songs! Is Koos Kombuis 'n speelnaam, 'n verhoognaam soos Johannes Kerkorrel byvoorbeeld? Koos was my bynaam op skool vanaf standerd 3 tot standerd 9. Al my ou skoolmaats noem my nou nog Koos. Ek het in ongeveer 1990 my stage naam verander vanaf André na Koos deels omdat ek gemakliker gevoel het daarmee. Dis net my nuwe vriende, my vrou en my familie wat my André noem. As ek oorsee gaan, stel ek myself ook gewoonlik as André voor, omdat "Koos" vir hulle soms moeilik is om uit te spreek. Rocco het van jou ou en nuwe liedjies verwerk vir die vertoning. Watter liedjies is gekies? Dis ons geheim. Wat is boemelaarvrede? Boemelaars het nie eintlik vrede nie; dis 'n moerse pretentious statement. Hulle is die heel tyd honger en ongelukkig en ongesond. Wat lees jy op die oomblik, en wil jy iets daaroor sê? Ek neem aan dit is nie 'n omnibus nie? Ek het nie nou tyd om boeke te lees nie, maar ek het gister die sleeve notes gelees van 'n posthumous CD van Eva Cassidy. Dit was vreeslik hartseer.
Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |