KlankKas - Musiek en meer!Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.



Karoo Kitaar Blues DVD 'n tydsdokument van onskatbare waarde

Erns Grundling

Klik op omslag om te bestel by kalahari.net!

Wen 'n Karoo Kitaar Blues DVD!!!
'n Gelukkige LitNet-leser kan 'n Karoo Kitaar Blues DVD wen! Al wat jy moet doen is om 'n e-pos te stuur na sharon@litnet.co.za en vir ons een voorstel vir 'n LitNet-artikel te maak. Die kompetisie sluit op 31 Julie, maar skryf sommer nou in en kom solank in aanmerking!

Klik hier om te bestel by kalahari.net

Ons het by die KKNK in Maart 2001 die eerste keer kennis gemaak met David Kramer se Karoo Kitaar Blues. Ek dink niemand wat daardie eerste vertoning in die M-Net Banketsaal bygewoon het, sal dit ooit kan vergeet nie.

Daardie dag het mense soos Tokas Lodewyk van Richmond en Hannes Coetzee van Herbertsdale vir die eerste keer voor 'n groot gehoor opgetree en ons bekend gestel aan hul Karoo-musiek - die musiek van skaapwagters, skaapskeerders, rondreisende troebadoere op soek na 'n los werkie vir die volgende maaltyd.

Musiek wat reeds eeue gelede ontstaan het en sonder twyfel die ware roots van 'n Suid-Afrikaanse musiektradisie is.

Musikale roots wat vir dekades grotendeels misken is - en jammerlik vandag nog steeds deur baie misken word. Deels uit onkunde, deels uit 'n halsstarrige onvermoë om inklusief te kyk na die herkoms van plaaslike musiek. Dit bly jammer dat so min van hierdie invloede vandag neerslag vind in hedendaagse musiek.

In die aangesig van skrikwekkende TV-advertensies met sweterige country-nooiens met hopeloos te veel grimering (meestal voor, tydens en na rugbywedstryde) en middelmatige sangers wat die term kunstenaar wild en wakker rondslinger, was hierdie projek 'n welkome en broodnodige bydrae.

Danksy die baanbrekerswerk van David Kramer (soortgelyk aan Ry Cooder se Buena Vista Social Club)kon hierdie Karoo-musikante - wat letterlik die laaste eggo's is van 'n vervloë tyd en musiektradisie - die laaste paar jaar prominent op die voorgrond tree.

Karoo Kitaar Blues is na 2001 se Karoofees in die Baxter opgevoer, het weer 'n draai by die KKNK gemaak en daarna ook na ander sentra in Suid-Afrika getoer. Die musiek is op cd beskikbaar, en van die Karoo-musikante het verlede jaar ook as inspirasie gedien vir Kramer se skitterende album Huistoe.

Klik op omslae om te bestel by Kalahari.net!
Karoo Kitaar Blues
Huistoe

Einde verlede jaar het 'n uitstekende DVD, Karoo Kitaar Blues, verskyn. Dit is 'n vollengte-film deur Liza Key wat David Kramer se musikale reis deur die afgeleë en dikwels droewige landskap van Namakwaland en die Karoo volledig dokumenteer.

Die DVD bestaan uit die "Director's cut" (90-minuut-weergawe), 'n korter weergawe van 54 minute, 'n fassinerende onderhoud waarin David meer agtergrond gee oor die musikale roots van die Karoo-musikante, 'n insetsel oor handgemaakte vioolmusiek, en 'n insetsel oor Hannes Coetzee se vermoë om met 'n lepel oor die kitaar te gly. (Klik hier om David Kramer se gedagtes oor plaaslike musiek te lees in verlede jaar se grensverskuiwende kubergesprek met Koos Kombuis op LitNet.)

As jy 'n DVD-speler besit en sterk voel oor plaaslike musiek, wil ek jou aanraai om nie eens verder te lees nie en dadelik Karoo Kitaar Blues te bestel. Dit mag dalk soos blatante gratis bemarking oorkom, maar ek kan nie anders as om hierdie briljante tydsdokument vir soveel musiekliefhebbers as moontlik aan te beveel nie.

Dit is belangrik dat hierdie storie vertel word.

Dit bevat al die elemente van 'n uitstekende dokumentêre film: 'n diep menslike storie, landskap-kameraskote wat jou asem wegslaan, oorgenoeg humor, patos en opregte emosie wat geen mens onaangeraak sal laat bly nie, en natuurlik heerlike musiek. Met die rye en rye telefoonpale wat langs 'n uitgestrekte langpad op aandag staan en als metafories saambind tot 'n geheel.

Ek wil allermins die film se vele verrassings verklap, maar wil graag 'n oorsig bied en 'n paar hoogtepunte met LitNet-lesers deel.

Die DVD skop af met hoogtepunte van die Karoo Kitaar Blues-vertoning in die Baxter gedurende 2001. Tokas wat riel (wat 'n onvergeetlike gesig!), Hannes wat die lepel inlê teen die kitaar se brug, en van die ander kunstenaars wat kook op blikviool ... 'n Karoo-karnival as ek nog ooit een gesien het.

Dit was juis die dood van een van daardie reeks vertonings se sterre, Japie Jaers (blikviool), wat David laat besef het: die tyd raak min. Hierdie kunstenaars is deel van 'n tradisie wat vinnig begin uitsterf, en as iemand hulle nie nou dokumenteer nie, gaan dit te laat wees.

Só vertrek hy saam met Hannes Coetzee in 'n wit Volkswagen kombi op die langpad, op soek na iemand om Japie se skoene vol te staan. Terselfdertyd word dit 'n reis na afgeleë en agtergeblewe gemeenskappe in Namakwaland en die Karoo, op soek na die sogenaamde "ou liedjies". Soos David sê: "the last echoes of a South African music tradition".

So skop die reis af by Nourivier in Namakwaland, waar David en Hannes besoek aflê by die ontslape Japie Jaers se familie. Die verslae gesigte van sy familie, en die kameraskote - waarvan elkeen sigself 'n stillewe-foto word - is aangrypend.

Jan Willems van KharkamsDaarvandaan verder oor die godverlate Karoo na die dorpie Kharkams, waar David gehoor het dat die ontwykende Jan Willems - glo self 'n bobaas op die "rankie" en blikviool - hom deesdae bevind. Hier speel van die film se humoristiese juweeltjies hulle af: ene Pieter Cloete wat vir David verduidelik dat hy sy kitaar "Noord" stem. Dis nie lank nie of Hannes pluk die lepel uit en die musiek laat al wat leef en beef ronddans.

Nog een van die legendariese Karoo-musikante is Johannes Coetzee van Concordia, wat glad nie op sy bek geval is nie en allerhande skreeusnaakse slimstories kwytraak voor hy byna sy laaste asem uitblaas op 'n bekfluitjie. Een van sy classic lines kom wanneer hy spot oor die moeilikheid om vrou te vind: "Ek is in die regte kas maar in die verkeerde laai!"

By Oppiberg in die Sederberge word die bebrilde en bejaarde Dawid "Loks" van Rooi by die verrigtinge betrek, wat met sy kieriebeentjies 'n riel kap dat die stof so staan.

Daar is ook 'n emosionele toneel (in die vollengte-weergawe) waar Hannes Coetzee na 45 jaar met sy oom Daantjie herenig word.

Helena Nuwegeld en Siena MouersDie Mouers-familie van Victoria-Wes is ook legendaries. Tant Siena Mouers is die enigste vrou wat David op sy reise gevind het wat die "ou liedjies" op kitaar kan speel. Sy en haar man, Jan Mouers, maak saam musiek. Siena vertel dat sy vroeg reeds besef het sy sal 'n man moet vind wat saam met haar kan kitaar speel, om huismoles te verhoed.

Helena Nuwegeld van Beaufort-Wes is sonder twyfel die Karoo se Cesaria Evora. Sy het dalk nie dieselfde kragtige stem nie, maar die opregtheid en deernis waarmee sy sing, gee mens hoendervleis. Haar broer, Koos Lof, is die bestendigheid self op trekklavier.

Dan kan ons ook nie vir Tokas Lodewyk van Richmond buite rekening hou nie. Dié kêrel, skaars 'n paar bakstene hoog, het diep onder die gehoor se vel ingekruip met sy sjarme op die verhoog en die vernuftige riel wat hy so nou en dan - wanneer hy voel dis geleë - op die verhoog uitkap. Om Tokas te sien operate in sy eie vallei is 'n belewenis.

Op Herbertsdale ontmoet ons Hannes se vrou, Sheila. Sy vertel van die ekstreem gelowige mense van Herbertsdale wat nie wil hê Hannes moet saam met David speel nie, want "dit meng in met die dinge van die Here".

Sy bied ook 'n angswekkende en emosionele blik op die gesinsgeweld en onderlinge twis wat dikwels die lewens van kinders en familielede eis. Dis 'n donners harde wêreld hierdie, besef mens opnuut. Dis uiters gepas dat David se "Kruispad" ná een van hierdie vertellings in die agtergrond speel. 'n Reality check in die Karoo:

Dit is pikswart daarbo
dit is 'n donker Karoo
ek het baie om te sê
maar niemand wil my glo

niemand wil my glo nie
die hemel het nie vloer nie
God sit nie op 'n troon nie
o die hemel is nie so nie

dit mag ek nie sê nie
niemand wil dit hê nie
die plekke waar ek slaap
wil niemand anders lê nie

hulle sê
ek ken die duiwel
en die duiwel
die duiwel ken my naam
hy kan maak met my net wat hy wil
toe ek onder in die kruispad staan.

Só word die bekende blues-legende van die kruispad in Amerika waaroor Robert Johnson so uitstekend sing, slim vervleg met 'n soortgelyke Suid-Afrikaanse musiektradisie in die Karoo.

Na al die reise en omswerwinge keer nege van die Karoo-musikante saam met David terug na Kaapstad, waar hulle van die liedjies opneem en weer saam met hom in die Baxter optree.

Wees gerus op die uitkyk vir die tonele waar Hannes Coetzee vir hom valstande kry by 'n deeltydse besigheid in Bonteheuwel, en Siena Mouers en Helena Nuwegeld wat wik en weeg oor klere vir die konserte.

Die film eindig met etlike hoogtepunte van die laaste reeks konserte in die Baxter gedurende 2002. Weer eens staan mens verstom voor die energieke vertonings en die Karoo-musikante se vermoë om skynbaar moeiteloos die oorgang van hul klein dorpies na 'n groot verhoog in die Baxter te bewerkstellig.

In tye waar elke tweede Jan Rap en sy maat met 'n lewende konsert op DVD begin smous, bied Karoo Kitaar Blues 'n genotvolle alternatief, 'n belangrike tydsdokument van onskatbare waarde. Bravo!



LitNet: 05 Julie 2005

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

Klik en stuur jou geliefde 'n geskenkie

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.