KlankKas - Musiek en meer!Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.



Zoid besweer die sleur

Katvrou

Karin Zoid en Don ReynekeDis al bykans 'n duisend jaar later nadat Karen Zoid een snikhete laatmiddag in 2000 my Poles Apart by Cool Runnings in Pretoria-Noord geteken het.

Vandag is my kop net skoenbokse vol foto's, blaailêers met digitale beelde en vreeslose lirieke uit haar wêreld. Hier loop die ewig wisselende bende musiekmakers saam met Karen, met die sporadiese uitsondering gedoop Don Reyneke as haar eggenoot, vennoot en geesgenoot. Die basspelers (eers Dave en toe Llewellyn) en die tromslaners (Johnathan eerste, toe Wynand, Dudley, Etienne en toe Prieur) muteer bykans teen dieselfde tempo as wat die nuwe liedjies uit haar val.

Vanaand doen Karen 'n akoestiese stel saam met Don - en hier is Rixi, die nuwe sessnaarbaskitaarplukker. Karen verkies om nie 'n dromstel in Back2Basix in te span nie - die klank werk net beter vir haar daarsonder. Ek sien dus nie hoe Marlon as vars tromhanteerder die stokke swaai vanaand nie. Iemand het wel 'n week terug vir my Karen se nuwe ritmebende as "shit-hot" beskryf. Akoesties al dan nie - Back2Basix is weer verby die pilare vol vir hierdie befokte vrou wat argeloos die begrip rockchick met elke optrede sommerso in die verbyswalk 'n moerse snotklap gee.

RixiDaar word nie te veel tyd aan die ouer liedjies gespandeer nie. Steeds raak die meeste in die gehoor saf in die hart vir "Engel", maar die gevoel is meer oop en blootgestel van die verhoog af. Hier is ons, sonder maskers en sulke snert. Rixi glimlag soos 'n engel en sing nog meer so. Hy't die oë van 'n teddiebeer met wimpers soos waaiers. Sy kitaar lyk swaar en breed, maar hy doen dik dinge met daardie ses snare. Die respek vir hom kom duidelik en herhaaldelik terug uit die hande en fluite uit die gehoor.

Karin Zoid soos 'n engelKaren en Don is nou 'n soomlose ding wat met net soveel lyftaal as professionele vaardigheid voor ons gebeur. Sy dans. Sy gil. 'n Hees kreun, die stem sak na 'n stilte sonder woorde. Sy laat sagte woorde in die mikrofoon klim. Don hou haar stip dop terwyl sy vingers 'n vreemde braille-dans op die kitaar teen sy heup doen. Karen gooi haar kop terug en doen 'n verbete "The devil doesn't dig it" - wat 'n golf van emosie uit die mense voor haar trek. Deur die vensters na die parkeerplek oorkant Perthweg sien ek hoe die twee motorwagte onder die boom omdraai om te kyk hoekom die mense dan so raas vanaand.

Nie een van die liedjies op Chasing the Sun word afgewater weens die gebrek aan 'n deurlopende tromslag nie. Die liedjieskrywer het geweet wat sy doen toe sy die note en woorde aanmekaar gesit het. "Dinosaur" met sy windgat vleisvreters - "I love the Pterodactyl, he is my favourite reptile …", en 'n verrassende "Meisie wat haar potlood kou" - 'n paar minute wat die meeste van ons in Back2Basix met 'n stil hand toemaak.

Dan maak sy weer die hek oop met "Danville Diva", die kenmerkende "Uhh-uhhhh" wat rye koppe voor my laat ruk en skud, ruk en skud - "Maak staat op jou eie smaak, sonder labels is jy naak, it's all just marketing, baby …" Ek sit so tussen my koprukke en mal lostrekkende lidmate en wonder hoeveel mense haar regtig hoor. Dit wat sy sê. "Die weke word mônde, ek huil in die ônde, ek soek na 'n ôntwoord in 'n blikkie bier, so hier's my ballade, God gee genade, ek sou selfmoord pleeg, môr die Minôras is duur!!!" Mosh-mosh, skud jou lyf. Die liewe is 'n lied. "My siel is beskôdig, ek voel eienôrdig, HEY-HEY!" 'n Vinnige glimlag flits agter die mikrofoon voor sy uitkreet: "K-K-K-K-KYK, k-k-k-k-kyk, k-k-k-k-kyk maar uit vir jouself my ding!"

Don ReynekeTussen alles is Don 'n geheime wapen. Niks gebeur sonder sy vingers en die snare se medewete nie. Hy loer streng oor sy swartraambril, asem elke sekonde van die musiek in en voer dit foutloos vir ons terug. Hy is 'n plesier om te beleef. Sy stil selfvertroue, die nuwe ritmes in sy tegniek, en die respek waarmee hy elke string note behandel. Niks om jou te duisel met 'n fieferige gevroetel nie, my bra. Hier ken ek kitaar en kitaar ken vir my.

Ja, die liedjies is bekend. Sommige luister jy op pad werk toe, ander wanneer jy nie lus is vir mense en hulle kak nie. Soms was jy die matte, ander kere hoor jy haar in die luidsprekers van Jeeps en viertrektjorre by Up The Creek buite Swellendam. Of by Oppikoppi, vroegoggend in die tent terwyl die slaap nog taai in jou oë plak.

Karen skep asem vir 'n minuut en lig ons in dat hulle volgende week aan die nuwe album begin opneem.

'n Bulderende gejuig.

Sy wag grynsend tot daar weer praatplek is. Knik vir Don, Rixi skuif sy boude bietjie rond op die houtstoeltjie, en hier kom "Familiereünie". En dis duidelik. Hier is die volgende treffer wat "Afrikaners is plesierig" in die meeste mense se langtermyngeheue gaan bêre. Dis snaaks, dis vinnig, dis ougat, en dis Zoid. Hier gaan jy jou gat sien as jy dit gaan probeer afskryf as "jongmusiek" of "ag sy skree dan so baie", of die immervervelige "ek hou nie van haar musiek nie, dis te wild".

Karen Zoid is paraat teen die sleur van liedjies uitryg soos bokkoms aan 'n vislyn. Een soos die ander, ander soos die een. Se moer. Sy gaan nie met hierdie nuwe liedjies by die 46664-konsert optree omdat sy lekker dans, wilde blonde hare het en die Zoeloe so lekker kan gooi nie. Sy is 'n befokte liedjieskrywer en 'n ontembare kunstenaar. Elke ding wat uit haar klim as net nóg 'n nuwe struktuur en 'n nuwe kwas vol kleure is so deel van haar DNA as wat moddervreet is vir 'n kleuter.

Gaan kyk en luister weer Karen Zoid as jy lanklaas by een van haar optredes was. As jy nie wil platgedruk word tussen duisende lywe op George nie, kry haar by die kleiner plekke. En daar waar jy sit met jou wyn, die spyskaart, of ja, jou geliefde se bobeen hier onder jou hand, wees van voor af dankbaar sy bly in Linden, speel kitaar en skryf liedjies vir haar mense.

Viva, Zoid. Viva.

LitNet: 8 Maart 2005

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

 

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.