KlankKas - Musiek en meer!Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.



Die Wêreld Jeugkoor sing vokale jazz

Coenraad Walters

Konsert van 17 Januarie 2001

Ernstige pret. Prettige erns. Dié parafrase van dirigent Stephen Zegree se woorde is ’n gepaste opsomming vir die konsert van die Wêreld Jeugkoor, gehou in ’n voller-as-vol Oude Libertas-amfiteater op Stellenbosch. Hulle program het geheel en al bestaan uit vokale jazz, en die gehoor — wat sekerlik jazz-liefhebbers sowel as koorfoendi’s ingesluit het — was meegevoer.

Gewoonlik as ’n dirigent tydens ’n konsert so baie praat soos Zegree, raak ek onrustig. Sy gemaklike en grapperige verhouding met die gehoor was egter ’n pluspunt vir dié konsert, waaroor ek ongelukkig in die verlede tyd moet skryf, aangesien die toer van die koor hier opgehou het. Zegree het heelwat inligting omtrent die koor oorgedra wat belangrik was om die prestasie wat op die verhoog plaasgevind het, na waarde te kon skat.

Die Wêreld Jeugkoor word deur die Internasionale Sentrum vir Koormusiek (ISKM) in Namur, België, beheer. Jong mense tussen 19 en 26 doen aansoek by die geaffilieerde koorvereniging in hul eie land, wat uit die aansoeke ’n aantal keur en aan die ISKM voorlê. Uit al die voorleggings word ongeveer 100 sangers van oor die wêreld na Namur genooi vir die jaarlikse Somersessie van die Wêreld Jeugkoor. Tydens hierdie sessie word “tradisionele” koormusiek gesing: hoewel die koormusiek van die laat twintigste eeu nie noodwendig vir alle luisteraars tradisioneel sal klink nie, word dit op tradisionele wyse aangebied; met ander woorde, die koorsangers (in uniform geklee) staan stil in netjiese rye en hou die dirigent met valkoë dop.

Uit hierdie koor word 32 gekeur vir die Wintersessie, waartydens dikwels van die tradisionele formaat afgewyk word. In 1998 is byvoorbeeld Latyns-Amerikaanse musiek uitgevoer. ’n Dirigent wat spesialiseer in die gekose styl word genooi om die sessie te lei. Met hierdie kleiner groep is dit dan makliker om lande soos Suid-Afrika te besoek, aangesien die logistiek eenvoudiger en die koste laer is. (Ai! Geld wat “krom” is …)

Wanneer die koor van die Wintersessie van 2001 (ons werk natuurlik met die Noordelike Halfrond se seisoene) vingerklappend op die verhoog stap, weet jy dadelik dat al jou tradisionele verwagtinge omtrent ’n koorkonsert deurbreek gaan word. Almal is in swart geklee: die mans in T-hemde en langbroeke, die vroue in pikante swart nommertjies van kort tot korter. Hulle neem twee-twee by mikrofone stelling in en die aansteeklike energie is dadelik waarneembaar in die liggaamsbewegings: geen poging (nodig) om stil te staan nie. Dirigent Zegree draf letterlik op die verhoog, wys vir die instrumentaliste (tromme, baskitaar en klavier) om te begin, en die sangers val weg.

Hoewel ek van jazz hou, is my toleransie redelik laag, veral as die aanbieding eenselwig is. Hierdie program het egter deurentyd geboei. Maar my kennis van dié musikale veld is hopeloos te klein om enige jazz-aanbieding werklik te kan evalueer; en die nog meer onbekende terrein van vokale jazz dryf so sterk in teen my eie tradisionele kooropleiding en -ervaring dat ek bloot subjektief op die konsert kan reageer. En, soos die oorgrote meerderheid van die gehoor, het ek vinnig my verwagtinge laat vaar en die aanbieding uit eie reg begin geniet.

Dis nie so maklik as wat dit klink nie. Wanneer jy die naam Wêreld Jeugkoor sien, wil jy darem mooi koorsang en mooi stemme hoor. Die mikrofoonversterking verleen ’n ander kwaliteit aan die klank as die “unplugged” koorklank waaraan ons gewoond is, en jy moet deur dié kwaliteit luister. Maar dan vertel die dirigent dat die gekose sangers nie weens hul jazz-agtergrond gekies is nie, dat hulle drie weke tevore byeengekom en begin repeteer het. In daardie tydjie het hulle die styl bemeester, geleer om met mikrofone te sing (en om hul eie klank te beoordeel met behulp van die terugvoerluidsprekers), gewoond geraak aan sing saam met ’n “rhythm section”, en die twee-uurlange program gememoriseer. En glo my, geen van die verwerkings is eenvoudig nie.

Ek praat nou van die styl. In die program is daar soveel variasie dat verskillende jazz-style gedemonstreer word. “The Campdown races” van Stephen Foster is gesing sonder die mikrofone (die mees koor-tradisionele nommer van die aand). Een van Ward Swingle se Bach-verwerkings was seker die oudste stuk “jazz” op die program. En verskeie bekende treffers van verskillende dekades (onder meer “Honeysuckle Rose”, “Cheek to cheek”, “Route 66”, “Bridge over troubled water”, “I’ve got you under my skin”, “Love makes the world go round”) is in verskillende verwerkingstyle aangebied.

Vele lede van tradisionele kore sal kan getuig van die drang om soms saam met ’n stuk wat die koor uitvoer, te beweeg. In die middel van ’n Monteverdi-motet wil ’n mens soms ewe “happy-clappy” jou arms rondswaai. In die vinnige dele van ’n Bach-motet sien die gehoor dikwels hoe koorlede met die kop tydhou. En party konsertgangers vind dit steurend as koorlede met die voete tik tydens ’n lewendige Amerikaanse Spiritual.

Wanneer vokale jazz gesing word, is al hierdie bewegings, en nog veel meer, deel van die uitvoering. Koorlede kon hulself inleef en uitleef deur met net soveel beweging as knap korrekte tegniek te sing. Die jeugdige energie het alles deurstraal en die gehoor meedoënloos bekoor.

Nog ’n “verbreking” van tradisionele koorprotokol is die gebruik van soliste. Terwyl die koor sing, kom ’n lid vorentoe (en baie van hulle het die kans gekry), neem een van die spesiale mikrofone, sing ’n stuk (of stukkie) solo, buig en ontvang applous, en sluit dan weer by die koor aan. Die mooiste solo’s van die aand was die Suid-Afrikaanse bas in “What a wonderful world”, en die uitgebreide solo deur ’n Kanadese meisie in die heel moderne gospellied “Operator” (“Operator Information, get me Jesus on the line!”). Twee mans, een van die VSA en een van Kuba, het ook die kans gekry om hul “scat”-vaardighede ten toon te stel — ’n mens kon kwalik glo hulle had geen jazz-ondervinding nie — en ’n meisie het in Frans ge-”scat”. Dit was iets om te hoor.

Die instrumentaliste het die koor uitstekend ondersteun. Twee van Zegree se jazz-studente het die baskitaar (Mark Ziegler) en tromme (Jon Rogers) behartig. Die pianis, Michele Weir, is ’n gerekende kollega van Zegree. Benewens haar klavierspel en uitstekende verwerkings van ’n paar items, het sy ook die koor gelei in van die nommers, en ter afwisseling ’n uitvoering gelewer van “Everytime we say goodbye” — slegs Zegree as pianis en Weir se pragtige jazz stem.

Die gehoor is vroeg reeds vertel dat hulle dié koor se laaste konsert beleef. Enigeen wat al vir ’n tyd lank só intensief in ’n groep ingeweef is, om aan die einde daarvan weer losgeskeur te word en soos Aspoestertjie na die werklikheid toe terug te keer (Zegree het self dié verwysing gebruik), sal die emosionele omvang van hierdie oorgangsrite begryp en aanvaar dat ’n paar dinge op die verhoog sal gebeur wat gewoonlik vreemd opval. Aan die einde, tydens die laaste applous, het die dirigent byvoorbeeld elke koorlid persoonlik gegroet. Daar is ook spesiaal melding gemaak van een lid wat nou die boonste ouderdomgrens bereik het en nie vir die volgende sessie oorweeg sal word nie.

Vir my was die emosionele hoogtepunt die uitvoering, onder leiding van een van die Suid-Afrikaanse koorlede, Richter Grimbeek, van “Nkosi Sikelel’i Afrika”, waarvan ’n deel in Afrikaans gesing is. Dit is opgevolg deur ’n opgejazzde “My Sarie Marais”, verwerk deur die Potchefstromer Bernard Kruger — heerlik! (En die sewe Suid-Afrikaners wat gekeur is, het goeie werk gedoen aan hul koormaats se Afrikaanse uitspraak!) Daar moet asseblief nou net ’n Suid-Afrikaanse koor kom wat dit so lekker kan sing!

Ten spyte van my onkunde oor die betrokke musiekstyl, of miskien juis as gevolg daarvan, was hierdie aand saam met die Wêreld Jeugkoor besonder interessant en leersaam. Maar veel belangriker: dit was ’n oorweldigende musikale genot. Mag ons hierdie koor weer in Suid-Afrika kan ontvang.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.