KlankKas - Musiek en meer!Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.



Miskien sal ek die wingerd(stok) prys ...

Erns Grundling

Tassenberg All Stars 4
Trippy Grape Records, 2003
E-pos: dirkuysproduksies@hotmail.com
Verspreiding: Bowline (011) 314 8700 of (021) 550 9700

Lys van snitte:

Russian And Chips — Jack Hammer
Eye Shadow — Valiant Swart
Mitchells Plain — Gian Groen en Spinnekop
Be Inviting — Sons of Trout
Slow Down — The Rudimentals
Ai Man Rasta — Akkedis
One In Many — Frosted Orange
Gangsta — Delta Blue
Inbluesstation — Delta Blue
Something in my Eye — The Boulevard Blues Band
Repent — Frosted Orange
Suitcase Vol Winter — Piet Botha
Geelperskereën — Anton Goosen
Dizzy Groove — Afrotone
The Score — Flowerheads
R.I.V. — Diff-Olie
Hola! — African Rhythm Travellers
Cape of Storms — Golliwog

Die foefie (nota aan anti-Engfrikaners: nice woord vir gimmick nè?) met hierdie CD-resensie se opskrif verwys natuurlik na die openingsreël van NP van Wyk Louw se epogmakende digbundel Tristia (1962).

Dis egter presies waar alle satiriese parallelle stop, want Dagga-Dirk Uys se vierde aflewering in die Tassenberg All Stars-reeks — dié keer lewende opnames van Wingerdstok 2003 — is sonder twyfel prysenswaardig.

Waar die vorige 3 CD’s die Tassenberg Stalteater se aksie by die KKNK gedokumenteer het, het Wingerdstok vroeër vanjaar by die Theewaterskloof Dam buite Villiersdorp plaasgevind. Nadat baie KKNK-gangers vanjaar dik- en droëbek moes ronddool omdat daar geen Stal was nie, is dit wonderlik om weer ’n nuwe toevoeging tot ’n baie suksesvolle reeks te sien.

Diegene wat gelukkig genoeg was om einde Februarie aan drie dae se onblusbare hedonisme en musikale vergrype tydens Wingerdstok 2003 te kon deelneem, sal dié kragtige partytjie sekerlik onthou. (Of dalk nie, na gelang van die oormaat Tas wat soms binne-aars gevloei het, ontwakings op tweedehandse matrasse agterop anonieme bakkies/in tente en desperate reinigings à la Ou Testamentiese gebruik in die Theewaterskloof Dam terwyl NSRI-rubber ducks vervaard waarskuwings rig oor naderende kragbote ...)

Maar kom ons keer terug na die CD se agtien snitte, voor die tyd se newels in (hang)overtime gaan ...

Die openingsnit is die klassieke Russian And Chips van Jack Hammer. Piet Botha en Jonathan Martin draai hier die krane oop, elektriese kitare brul en die skare jil. Later op die CD is Piet ook die mamba self met ’n stomende weergawe van Suitcase Vol Winter. “Klein bietjie liefde/ Klein bietjie geluk/ En heelwat van dit en dat ...”

Kort op sy hakke is Valiant Swart met Eye Shadow, daai klassieke Valiant-song wat Ilse-Marie van Big Brother 2 so spuls gemaak het. Die gehoor het geriel en gerinkhals, en Valiant is op sy stukke met ’n koggel of twee voor die song afskop.

Die wat reeds Gian Groen se puik CD Groenkitaar aangeskaf het, sal bekend wees met Mitchells Plain. ’n Grootse song wat woede en deernis verrassend goed kombineer: “En nogtans laat in die nag hoor jy die kinders lag/ En vure brand want daar is niks meer krag/ As Mabalel vanaand weer die brood kom breek/ Vergeet ons vir ’n oomblik van bloed se reuk.” (Op die CD doen Gian ’n op en wakker rap van “Prophets of the City” voor die song begin.)

Sons of Trout is vir eers bietjie stil, met Mike Rennie wat oorsee is. Gelukkig kan mens nou lekker nostalgies raak met Be Inviting, ’n uiters catchy tune wat die Trouts se essensie vasvang: “No more war/ No more fighting/ Open up your arms and be inviting ...”

The Rudimentals is ’n groep wat ska, township- en roots-musiek kombineer. Hulle maak deesdae groot naam in die Kaap en het die Mystic Boer onlangs laat bewe hier op Stellenbosch. Slow Down sal vir baie luisteraars ’n eerste ontmoeting wees ... gewis nie ’n laaste nie.

Akkedis, nog een van die Tassenberg All Stars se veterane, doen weer hul ding met Ai Man Rasta, ’n heerlike reggae tune wat soos dreadlocks op mens groei.

Frosted Orange — met Albert Frost en Simon Orange aan die spits — het twee snitte op die CD, One In Many en Repent. ’n Wenkombinasie van diverse musiekstyle ... Euro-pop, blues en lirieke oor vroumense en drugs, nie noodwendig in daardie volgorde nie.

Delta Blue speel deesdae die wêreld aan die brand en hul derde CD, Inbluesstation, is op die rakke. Op Tassenberg All Stars 4 kan mens die titelsnit sowel as Gangsta hoor. Gerald Clark is op sy stukke met die groep se kenmerkende blues-klank, wat getrou bly aan die tradisie maar ook hul eie stempel afdruk.

Een van die hoogtepunte op die album is Something in my eye, deur die Boulevard Blues Band. Dié groep is ’n kombinasie van Blues Broers-lede en ’n paar gesoute blues-musikante. Hierdie kêrels mág maar. Hulle kan ook op van die vorige Tassenberg All Stars-CD’s gehoor word en op die kompilasie-album High on Blues.

Van al die snitte vang Anton Goosen se Geelperskereën die gehoor se ekstase tydens Wingerdstok die beste vas. Die Bushrockband is in volle swang, met Mike Rennie se viool wat die pas aangee en die gehoor wat die koortjie lustig saamsing soos destyds in die sangklas.

Afrotone, nog ’n groep van Stellenbosch wat maar vanjaar in die lewe geroep is, beïndruk met hul Afro-funk in Dizzy Groove. Wingerdstok was maar hul tweede lewende optrede; mens hoop om nog baie van hulle te hoor.

Flowerheads se The Score is harde rock uit die wynland wat mens laat regop sit. Dis duidelik dat Not my Dog iewers as inspirasie kon dien.

Stean van Diff-Olie se formidabele en veelsydige sangstem is teen dié tyd geen geheim nie. Hy gee dan ook behoorlik gas tydens R.I.V.

Die African Rhythm Travellers is een van die mees energieke groepe op die plaaslike musiektoneel. Hulle klank lê vir my iewers tussen UB40 en Bjork (dus baie uiteenlopend!) ... Luister gerus na die opgewekte Hola!, en maak ’n draai by een van hul vertonings.

Die laaste snit behoort aan Golliwog met Cape of Storms. Dagga-Dirk Uys noem hulle klank “Porno-deurdrenkte Sleaze-Funk”, en mens hoef seker niks meer as dit te sê nie.

In dae waar mens oorweldig word deur vinnige-geldmaak kompilasie-albums wat haastig saamgeflans word met bedenklike titels soos Blaas my Bal Op en Sokkiejol-Treffers Volume XXXVIII, lewer die Tassenberg All Stars-reeks ’n waardevolle bydrae tot die evolusie van Suid-Afrikaanse rock-musiek.

Dit is beslis ’n belangrike tydsdokument wat veral aandag gee aan opkomende groepe, sonder om die gevestigde kunstenaars enigsins af te skeep. Die CD-oplaag is ook relatief klein; wins is beslis nie die belangrikste oogmerk nie.

Die opnames is oorwegend uitstekend, in sommige gevalle so goed dat mens amper die live-gevoel verloor. Dis ook jammer dat Kobus!, Plank, Arbor en Karen Zoid nie ingesluit is nie, maar Dagga-Dirk Uys is tevrede dat die seleksie verteenwoordigend is van die groepe wat op die Tassies-verhoog opgetree het. Uys, aka Zenzaber Halaalballa, gee ook pittige agtergrond oor Wingerdstok 2003 in die CD-omslag.

Vir die wat by Wingerdstok was, is dié CD ’n nostalgiese terugblik, terwyl die wat by tye bietjie flou geboogy was, nou kan hoor wat hulle gemis het.

Tassenberg All Stars 4 hoort in elke plaaslike rock-aanhanger se versameling, en dien as uitstekende barometer (dalk koorspen?) vir van ons voorste rockers.

Beslis sal ek die wingerd(stok) prys, en altyd aan hom dink/drink!

(Moenie vergeet om aan die LitNet-kompetisie deel te neem en een van vier Tassenberg All Stars 4-CD’s te wen nie!)


boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.