|
|
Verstommende opera-ervaringCoenraad WaltersAlcina (Georg Friedrich Händel) Oorspronklik opgevoer in Londen in 1735 Ek sal nou nie met stelligheid beweer dat daar nog nooit n Barok-opera in Suid-Afrika opgevoer is nie, maar dis beslis waar dat ek self nog nooit een te siene gekry het nie. Suid-Afrika staan nou nie juis op die voorpunt van uitdagende opera-vernuwing nie: in Europa en die Verenigde State en elders is daar al jare lank n herlewing in die belangstelling in en opvoering van operas uit dié tydperk. Dus moet n mens Kaapstad Opera loof vir hul waagmoed en gelukwens met hul prestasie. Ek het pragtige musiek en dramatiese verveling verwag, maar hoe is ek nie oorrompel nie! Die opvoering behoort egter met n waarskuwing gemerk te word: laat jou verwagtinge van Mozart se ensembles, Verdi se romantiese melodieë, Wagner se enorme orkeste en Puccini se semiwerklikheid (verismo) tuis. Alcina se verhaal is dié van n sprokie, met towenaresse en vormwisseling aan die orde van die dag. In kenmerkende Barokstyl word die openingsdeel van al die arias herhaal. Die ingewikkelde verhaal en die formeel-gestruktureerde musiek verleen dus iets staties aan die gebeure. Regisseur Paul Stern en die ontwerpspan het werklik hard probeer om lewe te blaas in die gegewe, en terselfdertyd huldig hulle die byna vaudeville-gees waarin die opera oorspronklik opgevoer sou gewees het vermaak vir die massas! Mozart se Die Zauberflöte is nie n onvanpaste vergelyking nie. Fyn visuele detail, soos die rooi band wat Alcina (Stapelberg) en haar minnaar Ruggiero (Anguelov) deur die meeste van die lang eerste gedeelte voor die pouse verbind, beeld die verhaal ook visueel uit. Die slot van die eerste deel (Alcina se wraakaria, kan n mens sê) en die rooi toneel in die tweede deel, waar Alcina haar towergeeste oproep, was van die mees dramatiese operamomente wat ek nog beleef het, en die opvoering daarvan is met betreklik eenvoudige middele bewerkstellig. Natuurlik sou die slim verhoogwerk nie sonder uitstekende sang geslaag het nie. Al die soliste voer die moeilike lopies suksesvol uit, hoewel sommige van die jonger stemme nog effens klein is. Die pragtige tenoorstem van Phandulwazi Maseti is n voorbeeld hiervan. Die soprane Teresa de Wit en Marion Roberts dra hulle tonele goed, maar ook hier hoop n mens dat hulle volume sal ontwikkel. Dmitri Moses was baie goed, en dit was heerlik om die soet stem van Sanet Allen weer hier ter plaatse te hoor, hierdie keer as dié van n veertienjarige seun! Die sterre van die aand was egter Violina Anguelov in die broekrol van Ruggiero, en Zanne Stapelberg as die verleidelike towenares Alcina. Sulke opwindende sang het ek lanklaas gehoor! Ek moet waak teen beskrywings in die oortreffende trap. Albei van hulle speel hul rolle ook baie oortuigend veral Stapelberg, met haar beduidende lengte, omskep die slot van die eerste bedryf tot n formidabele toneel. Die uitstekende sang word goed ondersteun deur die Kaapse Filharmoniese Orkes onder leiding van Katschner. Die partituur vereis instrumente wat gewoonlik nie in opera-orkeste gehoor word nie, soos die klavesimbel en blokfluite. As n mens wil diep raak oor die verhaal (en jy moet maar die programnotas en die boskrifte met aandag lees om by te bly!), dan sê dit iets oor huweliksontrou (die hele kwessie van betowering) asook oor gender-kwessies. Daar is twee broekrolle in Alcina: Ruggiero en Oberto. (Broekrolle is manlike karakters wat deur vroue gesing word, soos Cherubino in Die huwelik van Figaro van Mozart, en Octavian in Richard Strauss se Der Rosenkavalier. Dié soort gender-bending was alledaags in die Barok, maar vir ons val dit vreemd op.) Maar daarbenewens het jy n vroulike karakter, Bradamante, gesing deur n vrou, wat haar suksesvol vermom as haar broer Ricciardo om haar betowerde man Ruggiero uit die kloue van Alcina te bevry. Benewens die feit dat Ruggiero self haar as Ricciardo aansien, raak Alcina se suster Morgana op hom verlief! Prettig chaoties. Op n negatiewe noot wonder n mens wel waarom die regisseur soveel van die sangers laat lê en sing, en jy hoop dat almal in die rolverdeling mettertyd kon sorg dat hulle hulself korrek plaas op die verhoog sodat die effektiewe beligting optimaal kan werk. Maar dis mindere kritiek. Kaapstad se operaliefhebbers behoort hierdie besonderse produksie met vol sale te vereer.
Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |