|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
LitNet is n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |
|
|
|
Vreet my want ek haat my hasie
Katvrou
Die meeste van die tyd is Oppikoppi se slagspreuke nogal lekker aweregs. There's dust on my meerkat. Hond uit 'n box. You check the level, the level is fine with me.
Hierdie April-naweek is gedoop Haat my want ek vreet my hasie - uit 'n skeefgehoorde stuk liriek in die rockmanne Fokofpolisiekar se "Leeglê Drome Droom", waar dit lui: "… so haat my want ek vrees my nasie."
Al wat ek egter die hele naweek in my kop hoor knor, is Vreet my want ek haat my hasie.
Siestog.
Dinge werk egter ook oor die algemeen bietjie andersom hierdie naweek.
Daar is geen padblokkades voor of na Northam se buitewyke nie.
En die boonste klein verhoog word nie gebruik nie - die groter James Phillips-verhoog regs aan die voet van die koppie gaan skud en kraak - die einste verhoog wat Koos Kombuis (met Kristoe Strauss aan sy linkerflank) twee jaar terug met Oppikoppi se tiende verjaardag tot teen die rantjie tussen die aalwyne en klippe uit volgepak het.
Nietemin, diegene wat nou manhaftig teen die koppie uitsteier, vind wel die kroeg oop en in werkende orde. Die ander dorstiges word ook voorsien van voggies by wyse van 'n kleiner biertent langs die verhoog. Niemand oor 18 jaar gaan dehidreer nie. So sê die plakkaat (met die spelfout) wat langs die boom hang. Die kroegtent is ook vernuftig sowat 12 meter van die verhoog staangemaak - op daardie manier kan die feesvoos lywe 'n koue enetjie drink en kyk hoe die son agter die horison doodgaan terwyl die musiek net langsaan uit die luidsprekers val.
Die plaas is geil van die groen. Baie spinnekoppe. Urrrggggg. Jy moet mooi trap. En die hitte is 'n warm, skurwe hand, heeltyd aan 't grawe hier agter in jou nek en in die waaie van jou bene. Dit is glad nie prakties om hierdie naweek sjokolade-eiers in jou broeksak te dra nie.
Maar
ons is nie hier om heeltyd soos dassies tussen die doringbome te sit en maagvelle
bak nie. Musiek is die ding wat hierdie drie dae se rooigrond onder jou toonnaels
en taai oksels die moeite werd maak. Al is die James Phillips-verhoog so hoog
bokant jou kop dat jy heeltyd jou nekwerwels voel swik elke keer wanneer jy
opkyk.
Die nuuskierigheid lóóp oor Guy Swinnen, die oopgesig Belgiese sanger wat laasweek sulke puik vertonings saam met Roof Bezuidenhout in Gauteng laat loop het. Hy vind hierdie subkultuur erg interessant. "You have lots of Calvinists here, yes?" Hy het vir sy seuntjie een van Kuifie se boeke gekoop - nou kan die outjie Tintin in Afrikaans geniet. En natuurlik is ons land vir hom onmeetbaar groot. "You know, in Belgium you drive for two hours and you are out of Belgium. Here you drive for three hours and you are in the next town. You have a very large country."
Hy sê dit met 'n glimlag wat die middagson troef.
Ben Lee is ook hier uit Australië met 'n sterk folk-inslag en handevol blomme. Mens wil hom half in 'n hippieboks druk, maar die kort hare en skoolseungesig steek 'n stokkie daarvoor.
Hoofsaaklik vier afsonderlike bewussynstrome tref my hierdie naweek. Hard. Laat ek probeer verduidelik.
- Nog nie op die verhoog beleef nie - maar ek's getoor
Brasse Vannie Kaap
Kyk, jy ken vir "Potjiekos" en so. Die hondjies, katjies, die babatjies
sonder die tandjies. Maar om dit lewend voor jou op die verhoog te sien
is lekkerder as warm water in die buitelugstorte. Ek sweer. Mr Fat met Bonteheuwel
in sy bloed en daardie erg onhebbelike kuiltjies in sy wange (ons praat
liewer nie oor daardie bewegende buitebandmaag nie), die dansers met hulle
klipharde maagspiere, die gangsterwoorde, die vinnige voete, die hip-hop,
die sweet, die Afrikaans in "Yskoud". En die briekdans, my Bra. Die briekdans.
Mr Fat kan nie ophou vertel hoe bliksems lekker dit is om "terug te wies"
nie. Op 'n stadium tydens "Potjiekos" val die ritme in dik stukke tussen
die kopdoeke en tekkies en ek sien ek hoe die sekuriteitsmanne bekommerd
die styfgestapelde luidsprekers aan die regterkant van die verhoog dophou.
Skuif-skuif wil hulle dans. Want Bie-Vie-Kaaaa's innie hys, voorwaar. Kyk
dan nou net so my gevriet!!
Net 'n wenk. Indien 'n groot, bewegende drilmaag jou ontstel, trek net
jou trui/hemp/romp oor jou kop. Jy sal dan niks meer sien nie en jou retinas
sal ook nie meer so brand nie.
Clark en Van Der Hoven
Gerald Clark, voorsanger van die bluesgroep Delta Blue, span kragte saam
met Werner van der Hoven - 'n boorling uit Potchefstroom. Werner se stem
kou aan jou. Dis 'n stem wat jy in jou lewe nog nooit beleef het nie. Darem
ook nie soos 'n stootskraper wat jou oordromme ongeskik met 'n stomp lem
kom platstoot nie. Hy skryf net in Engels en sing in die kleur van ou gelooide
leer. Saam met Gerald se stowwerige stem en glykitaar sit ek oopbek en luister
na nuwe akoestiek wat weier om middelmatig te wees. Twee ouens met hulle
eie liedjies en kitare - in die bosveld. Smullig. Dan gaan staan en sing
Gerald ook nog iets wat hy in Afrikaans geskryf het - "Somerreën". Hy sê
dis cheesy. Gmf. Sy moer.
Beleef gerus hoe klink hulle "Shiny Streets" op MK89.
Rian Malan
Lyk vir my die man is bietjie olik. Iemand sê iets van malaria. Hy lyk bleek,
en sweet bietjie in die laatmiddag. Hy hou sy kitaar mooi vas. Styf teen
die bors. Maar met sy donker woorde en onthutsende note oor trekboere en
die wilde krul van die tango kry hierdie moerige man my aan die siel beet
en sing-brom my in so 'n staat van sintuiglike bewustheid in dat ek opsluit
die stemme in my kop vergeet. Ek ken hom nie. Het nog nie sy CD nie. Weet
nie of hy wyn drink nie. Maar ek weet van die goed wat oor hom geskryf is.
Positief, negatief - wat ook al. Sy musiek is nie iets wat jy op sy baadjie
takseer nie.
Ben Lee
Kom sit hierdie skoongeskropte jongeling met sy skewebekglimlag op 'n hoë
houtstoeltjie en sit die aandskare netjies in die holte van sy palm. En
dit het niks met sy beeldskone perkussievennoot te doen nie. Of met die
feit dat hulle al hulle instrumente moes leen nie. Dat sy perkussievenoot
met 'n hewige frons steeds soos 'n engel lyk, maar haar enkeldrom soos die
duiwel speel terwyl sy die klawers vertel wie is Dawid en waar is daardie
wortelplantasie. Ben Lee sing oor sielsdinge. Hy bind bosse blomme vas aan
sy mikrofoonstaander. Hy lag baie. En mens kan sommerso saam met sy liedjies
harmoniseer.
Hy het ook die mense van Nedbank ontmoet. "You know, when Nedbank phoned
me to ask if they could use my song … you know that one, it goes: 'Just
do it whatever it is, just do it …', yes, you know it? Anyway, when they
wanted to use it, I said SURE, of course, but I want a Swiss bank account
and a million dollars in it. They said they'd get back to me."
Ons wag vir die res. En hy lag oopbek, vee deur sy hare.
"Three days later Nedbank called me back and said I could have eighty
rand and an account in Blomfontein!"
'n Dawerende gelag. Jy kan dit nie eintlik verhelp nie. HAHAHAHA. Blomfontein.
Ben Lee bring so 'n bietjie edelheid vir jou. En hy voel nie vir 'n sekonde
verleë of sentimenteel nie. Jy ook nie.
The Narrow
Hanu de Jong en die res van hierdie klipharde staalpypvouers is vinnig en
verbete en gorrel olie voor ontbyt. In Afrikaans. Hulle lyk en gooi die
taal soos superfikse sportonderwysers - basman Jow herinner my nogal erg
aan 'n kremetartboom. Kyk hoe swaai hy sy kitaar soos 'n byl. En brul woedend
vir die koue nag terwyl "Lonely-Lonely" woord vir woord vanuit die gehoor
teruggeskreeu word. Weet net: as jy lank genoeg voor die verhoog staan met
jou rugstring wat binne jou vel van pure lekkerte sidder, voel dit of jy
perdebye met 'n tuinslang kan opsnuif en 'n haai in Valsbaai op sy snoet
wil soen.
Guy
Swinnen
Guy is folk en rock en bietjie punk binne een pot. Gaan soek hom gerus op
www.guyswinnen.com.
Hierdie man kom beslis volgende jaar terug vir nog. Vanaand is dit net hy
en sy kitaar - maar jy voel die krag in elkeen van sy liedjies. Geen videobeelde
of dansspanne agter hom wat die aandag verdeel nie. Net sy stem in jou kop.
En dit wat hy skryf - veral oor vroue. En die simpel goed wat soms ongenooid
agter jou borsbeen wil uitklim.
- Ken nie, maar stel belang.
Evolver
Aangenaam. Hulle val goed op die oor met 'n slim (en moderne) aanwending
van sewentigersrock en puur rock 'n roll plesier. Geen gebrek aan selfvertroue
nie, en hulle gooi daardie dansbewegings met mening. Vir die manne wat nie
agtergebly het om te kyk hoe Evolver se nuwe tromspeler haar stel uitmekaar
haal nie - jammer om te hoor.
Ménage à Trois
Mens moet ander projekte ook op jou bord rondskuif - en dit geniet ook.
Dis wat Rokkeloos se Tequila Mockingbird (noemnaam Auriel) doen, met 'n
bedrewe basman, tromdonderaar Jaco van Scicoustic en 'n elegante vennoot
met pienk haasoortjies op tjello. En sy ken haar storie. So ook Illimar
Neitz, kitaartemmer van Gordon's Suitcase in jazz en ander buigbare vingerstyle.
'n Aangename variasie is Jenna-Lee Phillips, voorsanger van Scarlet Box,
wat vir 'n nommer of twee haar sterk stem laat geld. Tussenin doen die viertal
nog 'n skeut reggae ook, met duidelik gewaardeerde sosiale kommentaar uit
Auriel se pen wat my tone laat krul.
- Ken wel, en boeta, hulle's beter as ooit
Bed On Bricks
Nou kyk. Ons weet hulle skrik nie vir die tokkelos nie. Dat Mike Hardy die
beste lyfbeheer het met "War" en "Humanarium". Dan weer daardie vries-ding
wat hulle doen in "Funny". Met een van Ben Lee se pienk angeliere wat nog
om Mike se mikrofoon vasgevleg is, hehohahaha. En die lelike feedback wat
vir drie sekondes vir Dave van der Linden laat ontvries om net gou sy pedaal
te skop-skop. Tot binne "They don't say fuck on the radio - hey Mr DJ, shut-the-fuck-up!!"
Vandag is effe vreemd - het in my lewe nog nooit die bosveldbegeesterdes
gesien mosh vir "What's in it for me?" nie. BEVANGE. Saam met Mike voel
jy self so aan jou derms: "Oh I gotta come up for air …"
Tidal Waves
Jacob Wulana is die reggaepriester. Wat Afrikaans gooi soos 'n wollerige
pels voor die kaggel. Sam Shoai en sy skerp, berekende "… you reap what
you sow!" van agter die tromstel, wat bietjie hoër as die res van die verhoog
gebou is. Om beter te kan sien, my kind. Elkeen vanaand voor hierdie verhoog
sien Tidal Waves op 'n vlak van begeesterde vaardigheid wat hierdie koppie
nog nooit beleef het nie. Uit die gehoor kom die gille: "Hartseerland!!
HART-SEER-LAAAAND!!!" Ja, met Jacob en sy erkenning aan Koos, dan
die "… wondergomwoordê … die boks vol boez in jou lênkerhand". Die encore
is desperaat. En hulle kom terug onder applous wat my wil laat huil. Jacob
wat kaalvoet op die punt van die verhoog staan met sy geraaskitaar, en die
ding gil in sewe tale, en hoe harder Jacob suig aan sy skyf, hoe vinniger
trippel daardie vingerpunte van hom oor die snare, en hoe stadiger val die
gerookte assies van die skyf af ondertoe toe, verby die goiinglap, grond
toe. Ons kan om die dood nie ophou gil nie - terwyl die danse en spronge
korte mette maak met enigiets wat net vaagweg lyk na 'n graspol.
Tidal Waves. Lekker-lekker dans. Want o, die gort is gaar - vir dié wat
kan nie mooi-mooi dans. Halala.
Valiant Swart
Dis alles goed en wel, ou pêl
Maar kom laat ek jou 'n ding vertel
Van die lewe op die highway to hell
Tussen AC/DC en die Rolling Stones
Tussen die noodnommers en die pay phones
Lê die langpad besaai met ouens soos ons.
So doen Valiant dan ook sy nuwe "Horisontaal" - met die jonge Basson Laubscher
van Zinkplaat briljant en bitsig op voorkitaar, Simon Orange agter (en soms
bo-op) die klawerbord, Vernon Swart wat die tromme beheer en Barry Steenkamp
lankal binne die pens van die baskitaar. Pietman sing saam en dans vir die
sterre. Almal het wit hemde aan. Dit lyk vreemd eteries - terwyl die musiek
bose dinge doen. "Man Johan," spu Valiant dit in die mikrofoon in. "Die
meeste mense is maar lekker zef!"
Amen, my Kroon.
Terwyl grys voëls ons dophou en die grond smaak na sout.
Brixton Moord en Roof Orkes
Roof Bezuidenhout en "Vis" is die klap teen jou kop voor jy gesig eerste
in jou eie vullis verstik. Saam met Guy Swinnen doen hulle 'n paar gekombineerde
musiekrariteite, en my magtig man, dit WERK. Dan verdwyn Guy, en skielik
is daar 'n duisternis nuwe gesigte (veral manne) voor die verhoog omdat
Rokkeloos se twee heksnagtegale bietjie saam kom sing. Die testosteroon
vleg in sulke dik toue tot teen die verhoog vas. Prinses Petro is mos nou
juis nie 'n onooglike gedierte nie - en ek weet nie hoeveel ouens hóór vanaand
Kapelaan Pat Plank se solo met "Trane van 'n Terroris" nie.
Chris Chameleon
"Hy lyk kwaad," sê iemand agter my toe Chris met sy kitaar in die rook kom
sit. Ek sien 'n halwe frons - wat verdwyn die oomblik wanneer hy Ingrid
Jonker langs hom laat sit. Ek is verbaas hy sing niks van sy nuwe Engelse
album nie. Tog doen hy weer daardie herskepping van elke gedig op Ek
Herhaal Jou. Die hele grasperk is natuurlik volgepak - die meeste van
die bykans 2 000 feeslywe is hier. En jy sing kliphard met elke long. Terwyl
jy saam val deur 'n pikswart diep nag - vir myle wat soos pyle deur jou
steek - met "Aaaaaaaaaaaaaaaaaaaaa - aaaaaaaaa … my pop val stukkend!!!!!!"
Gaan dan voort om summier jou kop van jou nek te probeer losskud soos hy
in falsetto papa-rapppaa-parrrapppapaaaaa uitkweel. Raak jy hom gewoond?
Sjoe. Jy't probleme. Jy luister te vlak. Gaan dieper en kyk presies waar
haal hy daardie note uit.
Matthew van der Want en Anika
Nie een van hierdie twee mense doen dinge omdat ander wil hê hulle moet
nie. Uitgesproke, vreesloos en swaar belas met talent. Hulle musiek laat
die vlak genaamd substandaard in ander uitspansels verpoeier. Plaas die
twee saam op 'n verhoog, sit plat op die gras en luister na kitaar, twee
teenstellende stemme, en klawers - veral wanneer Jennifer Ferguson se note
vereer word - en wees maar seker jy gaan trane uit jou oë voel glip.
Koop 'n CD, enige CD, van Matthew of Anika. Veral Matthew se Bignity en
Anika se Hovering. Doen dit nóú. Jy gaan meer waarde daarin vind
as 'n jaar se selfhelpboeke.
The Parlotones
Daar is net soveel stemme wat oor Kahn Morbee en sy ouens gal braak as wat
daar geesdriftiges is. Ek verafsku hulle weergawe van Boom Boom Room se
"Here Comes The Man". Daarom gaan stort ek gou onder die kil bosveldsterre
en drie kaal verdorde doringbome links van die baksteenmuur. Met "Radio
Controlled Robot" is ek terug en vergaap my aan die effek wat hulle moeiteloos
uitstuur. Die nuwe album het 17 liedjies. Daarom hoor jy maar min van Episoda.
Nietemin. Hulle weet wat hulle doen - wat straks die SAMA-benoeming verklaar.
Ek gaan staan buite die dansende singende massa jubelendes - en kyk en kyk.
Die ooggrimering laat Kahn soos 'n empatieke moderobot lyk. Hy sing met
getekende maskara-oë vir Oppikoppi en kry elke stuk van sy energie terug.
Dubbel en dwars.
Skielik mis ek vir Jack Hammer. Om te hoor hoe Piet "Morrison Hotel" doen.
Fokofpolisiekar
My voete is twee kole vuur. Ek bons en ruk en sidder nou reeds sedert halfsewe
voor hierdie verhoog sonder ophou. Daar's niks meer vog in my lyf nie. Die
naglug druk sy ysmesse in my niere. Maar Francois van Coke stap op die verhoog,
Wynand spoeg daardie skitterboog water die lug in en bepluk die baskitaar,
en Hunter Kennedy gee oor aan sy kitaar. En ek vrees niks - behalwe my nasie.
Francois vra of ons moeg is. Wie wil water hê? Is ons OK? Langs my sê 'n
fetus (wel - hy is baie jonk) vir my: "Is tannie OK hier voor? Ons gaan
nou mosh." Ek glimlag. "Lyk ek vir jou bang, boetie?" Hy frons en laat my
alleen. Anika verskyn links uit die donker en kom hou vas aan die muur met
"Brand Suid-Afrika" - later sien ek haar nie meer nie - dis 'n maling en
groot gewriemel tussen die skreeue en vuiste in die lug vir die kokende
"Hemel op die Platteland". Die sekuriteitsouens staan bankvas links en regs
van die muur en hou die bonsende koppe en stampende lywe dop. Uit die luidsprekers
kraak en bulder wilde woorde. En ek beklou die muur terwyl ek (soos altyd)
staar en staar na Fokofpolisiekar se frenetiese styl. En hoe duidelik hulle
passie oor elke stuk musiek loop. Ja. Moenie so fokken verveeld lyk nie.
- Die gees van Oppikoppi
Wanneer
jy op die plaas is, kom jou binnekant tot rus. Of jy nou drink, mediteer,
binne doringbome inbliksem, kampvuur probeer aan die gang blaas of vreemde
sampioene vreet; of jy vir vier dae nugter op jou gat sit en musiek inslurp;
of jy in 'n vreemde tent agter die verhoog in 'n semikoma neerslaat en 12
ure later eers ontwaak met klitsgras en sigaretstompies in jou hare - jy
word weer bietjie heel hier. Al is dit so koud in die nag dat jy nie jou
neus se punt kan voel nie.
- Dis Marlise-hulle se sleepwa net langs die groot spinnerak geparkeer
om nie die diklyfspinnekop met sy sewe swart grilpote te pla nie. Hoe
die web stil-stil in die oggendson vir jou knipper.
- Die Rastakampie met hulle bont gehekelde pette en sakke om jou sigarette
en hoofpynpille in te bêre.
- Saterdagmiddag - vanaf 15:00. Vier opeenvolgende akoestiese speelbeurte
sonder halfgebakte stempogings of verveling. Moeilike ding om reg te kry
voor 'n Oppikoppi-gehoor. Mense ry nie vir drie ure na hierdie plaas toe
om na twak te kom sit en luister nie.
- Die afterparty Sondagnag in die boonste kroeg. Waar Gerhard en Jan
en die res van die KOBUS!-dissipels plat op hulle agterente voor die toegeboude
verhogie sit en vroteier speel. Ja. Vroteier.
- Albert Frost wat sy nuwe kitaar kom buig al is hy nie op die speellys
nie, en daardie knoetserige ou blues so hard uit hom laat val dat niemand
meer wil teruggaan tent toe nie.
- Die Fake Leather Blues Band wat kliphard in hulle spesiaal vergunde
speelgleuf bewys hoekom sekere ou omies met hulle geel snorre en dik geite
so 'n kramp in die gat is. Jaco Mans sê die album is bykans voltooi. Lekkerrrrrrr.
Met "Lady Grey" gaan hulle jou gewis 'n lessie leer.
- Niemand word gemoer nie. Nie eens die klontkop wat Saterdagoggend sewe-uur
sy zefmusiek in die ganse Oppikoppi-kampeerders se kele afdruk nie. Die
stronterige geteem hou egter op na drie liedjies. Dalk is die battery
uit sy motorenjin gepluk. Dalk.
- Die vreemde gesnuif vieruur Sondagoggend aan my tent. Dit klink soos
'n moerse groot bok. Dalk 'n renoster. Snuif-snorrrrff, SNUIF.
Ek begin bid dat die ding nie 'n nood het nie. Nog 'n paar snuiwe. Ek
bid nog 'n stukkie. Dan knars die stokkies onder sy pote verder af, na
Ras se tent toe.
- Roof Bezuidenhout bo-op die kroegtoonbank - terwyl hy met 'n grinnik
so wyd soos die hemel die dansendes onder hom met kanne vol water bespat.
- Die broederskap. Altyd die broederskap, my Bra.
Vlnr: Roof Bezuidenhout, Valiant Swart, Guy Swinnen, Basson
Laubscher Fotograaf: Onbekend
LitNet: 10 Mei 2006
Wil jy reageer op hierdie katswink? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za
om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
Klik hier vir meer oor Katvrou
to the top / boontoe
|