Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Sheila Cussons

Joan Hambidge

Eenmaal in 'n digkuns eenmaal, was daar 'n Sheila Cussons. 'n Digter wat met die puik debuut in 1970 Plektrum vir ons verse gegee het oor Jackson Pollock, Hercules Seghers en 'n kwatryn oor Emily D. Waarskynlik is die verbluffende digterskap eers met Die swart kombuis in 1978 tot 'n werklike hoogtepunt gevoer. Ook die gesprek met Van Wyk Louw, haar Abélard, vertel van 'n liefdesverbintenis wat in beide se gedigte 'n nuwe en groter dimensie kry. Gedigte, terloops, vertel die werklike biografiese verhaal en al het die digters mekaar nie meer lief nie, is die gedigte bewys van 'n verbintenis wat vir altyd sal duur. Ons vind dan ook tot selfs in haar laaste verse 'n slapelose gesprek tussen haar en Louw, wat sy aanspreek as haar vriend.

Die digter Johann de Lange het hierdie liefdesverhouding natuurlik nog verder gemitologiseer in sy openingsverse in die bundel Wordende naak (1990). Hierdie magistrale vers is gebaseer op werklike foto's wat De Lange gevind het van die jong Cussons wat wag op 'n gas. Sy sit by 'n tafel met twee biere. In die tweede foto het die een bier gesak en dit is duidelik dat die ander persoon nog nie opgedaag het nie. In die agtergrond is daar 'n kelner en in die vyftigerjare in Amsterdam het kelners manelpakke gedra. Hierdie gegewe laai De Lange asof dit die bruidegom is op wie sy wag:

Die dag het omgeswaai, tref jou
uit 'n ander hoek. 'n Skadu val lankuit
oor die gruis. Dis koeler nou.
Die man sit by sy eerste bruid;
en jy sit smeulend waar jy sit
hierdie verminderende uur wat yk,
vermink, maar bly, en nie sal wyk.

En die volgehoue gesprek tussen Abélard en Heloïse word deur die digter De Lange ontgin en 'n nuwe, kragtige vuur gegee.

In my kreatiewe skryfkursus aan die Universiteit van Kaapstad het ek die afgelope semester die religieuse verse van Cussons behandel: 'n Engel deur my kop (1997). Hierdie digterkeuse, met die hulp van Amanda Botha, gee waarskynlik die beste blik op Cussons se vaardigheid se digter. Sy skryf oor die ónmoontlike, te wete die metafisiese en dit wat 'n mens in wese nie onder woorde kan bring nie. Ook versoen sy in hierdie magistrale verse die Boeddhisme en Katolisisme. Haar sentrale religieuse vers, "Christ of the Burnt Men", wat handel oor Thomas Merton, lewer bewys van die gelyktydigheid van haar beeldende krag. Die "sengende wonde aan die lyf" van Christus word later ook háár eie wonde en die verskriklike akkoord wat sy met Merton voel in die religieuse eenwording met God en die goddelike. As Elisabeth Eybers oor die "stil avontuur" geskryf het, dan dig Cussons oor die verskriklike avontuur, die waaghalsige avontuur. "Ape sug nie" - wat sy opdra aan Jorge Luis Borges, wie se verhale sy meesterlik vertaal het in Afrikaans - bring ons by die essensiële uitspraak van Cussons:

Én die digter wat speel met vuur, want
dig is speel met vuur - ...

In die vers "Noudat ek" skryf sy van die honderde mirakels wat vir haar geskep word. Die mirakel nie alleen van die goddelike nie, maar ook van die kragtige vermoë om 'n vers in 'n vlieg, koekie seep of selfs 'n drol raak te sien. Haar verse het die vaart van iemand wat onder 'n geweldige psigiese druk geskryf het. Soos alle mistieke digters, skryf sy op die rand van ineenstorting, van lewensvreugde enersyds, lewensafsku of -vrees andersyds. "Mi gruwelt dat ic leve" word hier nuut gelaai: die digter verlang na die "engel deur haar kop" en haar dood is nie 'n einde nie, alleen 'n tuiskoms, soos sy by herhaling versug.

'n Sug is meer as hoorbare asem, is die hele
lang geheue van die mens …

som waarskynlik die paradoksale aard van hierdie digkuns op. Om oor die vervlietende, die nietasbare te dig en dit terselfdertyd konkreet voor te stel, kan as 'n digtershandtekening beskou word.

Een van my allergunstelinggedigte, "H. Teresa van Avila op 'n sending", verwys ook na die lewenshouding van Cussons:

Sy bid en deur die transparantheid van die gebed
sien sy die hooi op die land
en deur die transparantheid van die hooi
en die land sien sy die woorde van haar gebed.

In vele van ons gesprekke het Sheila Cussons die laaste tien jaar van haar lewe 'n lewensmoegheid bely. Sy het geweldig baie geskryf en waarskynlik haarself emosioneel uitgeput toe sy in die laat sewentigerjare die een bundel na die ander geskryf het. Die gedigte is soos 'n "vulkaniese droom", 'n enorme kragtige ontlading waarin sy die beperktheid van menswees plaas teenoor Goddelike volmaaktheid.

Een van die belangrikste eienskappe van Cussons was haar humor en ook humeurigheid wat 'n mens in persoon ervaar het. Sy het dus volledig geleef, en haar gedigte vergestalt 'n ryk onbewuste waarin die paradokse van menswees versoen word.

Hierdie digter het die "silwer skole van die sintuie" so goed in haar digkuns ontgin dat die leser dikwels net verstom staan voor haar beeldbeheer, soos in "Ichtus":

Hoe goed is van wees
selfs die blote lyfwees;
hoe glad glip die vogtige been
in sy potjie die oog in sy kas, die tong
in sy mond …

Lank na haar dood sal ons, die lesers, nog die plektrum van ons interpretasies oor haar ryk en uitdagende gedigte kan speel. Uiteindelik het Cussons, soos sy voorspel in die vers "Digter II" (uit Die swart kombuis) die "belofte van die self" in die woord gevind, die knetterende woord.

Eenmaal in 'n digkuns eenmaal, was en is daar vir ewig 'n Sheila Cussons.

Joan Hambidge
26 November 2004

Heloise

Ek het vergeet wat ons gesê het, lief,
die tyd het oud geword -
en ek lê eenkant niemand praat
daar's niemand nie - ek het stil geword.
Kind wat my nooit sal ken nie
nooit en nooit nie - stief groot geword …
Nooit weer in die krom van jou lyf
my lyf as ek slaap nie, o Abelard -
maar koud en vrugteloos en alleen
in 'n huis in die wind
vroetel en nie vind nie …
ou hande in papiere papiere papiere
het kinds geword.

Sheila Cussons





LitNet: 29 November 2004

terug    /     boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.