|
|
Lisbé Smuts: 'n HuldeblykJoan HambidgeOp Sondagaand 6 Februarie bel ek my kollega en vriendin Lisbé Smuts op. "Sal jy asseblief die bekendstelling behartig van my nuwe bundel En skielik is dit aand?", vra ek. "Jy het Ruggespraak so mooi gelanseer en jy ken my gedigte so goed." Sy lag. "Ek sal graag, maar ek is besig. Dit moet net na Junie wees, Johanna." "Goed. Maar asseblief, jy moet die praatwerk doen." Ons gesels verder oor die gewone omwentelinge in ons lewens, met die belofte van 'n spoedige wedersiens. En Maandagoggend vertel my kollega Etienne van Heerden simpatiek vir my van haar dood. 'n Grusame aanval op haar in haar huis. Ek ry Wellington toe saam met ons kollega, Sizwe Satyo, wat my hand vashou. En langs die pad dink ek hoe sy elke dag hierdie pad gery het en hoe sy die blomme met haar oë gepluk het. Die landskap waardeer het. En ek dink aan die eerste gedig uit Ruggespraak wat in 2002 verskyn het en hoe mooi sy oor my boek gepraat het daardie jaar in November toe die boek verskyn het. En aan die openingsgedig van die bundel waarvan sy soveel gehou het: Skryfode En nou, op hierdie Maandag die sewende om sewe-uur, keer hierdie gedig al my sieninge op sy kop oor die aangesprokene in die vers. Ofskoon dit nie oorspronklik vir Lisbé geskryf is, word hierdie gedig háár vers. In al ons gesprekke deur die jare (ons het mekaar in 1992 ontmoet) het ons altyd gepraat oor die aangesprokene in die vers. Die ewige Ek. Die fokus van die vers wat voortdurend verander. Dat die bedoelde ek méér word as daardie "ek" wanneer jy die vers publiseer en dat mense wat hulself "gelykstel" aan 'n vers, die gedig se betekenis vereng. Of as kritici dit so beperkend lees, word die gedig in die proses verminder. Ons beide se belangstelling in Jacques Lacan, die psigoanalis, se "pratende ek"/"skrywende ek" en die intieme aard van poëtiese taal, soos Julia Kristeva dit gedefinieer het in terme van die chora of baarmoederlike, het ons gesprekke opwindend gemaak. "Vir so 'n raasbek dig jy darem baie oor die stilte," het sy ook op 'n keer opgemerk. Teen haar kantoormuur het ek ná 'n bloedige liefdeskeiding "Nooit weer" teen haar muur met 'n koki geskryf. Met die datum daarby. "Dit bly net hier. Dis 'n grootse kunswerk, Johanna," het sy laggend opgemerk. "Ek sal jou hieraan herinner wanneer jy weer in 'n verhouding staan." En dit is presies wat haar so besonders gemaak het. Haar kennis van beeldende kuns (sy het aan Michaelis studeer en was uit eie reg 'n goeie kunstenaar) én teoretiese besinnings oor die figuur Breyten Breytenbach, verdien vermelding. Haar doktorale tesis oor Breytenbach is 'n monument en sy is tereg deur die UK vereer met 'n "Distinguished Teacher's Award" vir haar uitnemende klaswerk. Studente het haar 'n opwindende en briljante dosent gevind. As kollega was sy altyd bereid om agter-die-skerms-werk te doen, roosters uit te werk, studente voor te lig en almal van raad te bedien. Intens privaat en diskreet, dit is hoe ek haar sal opsom. En juis hierom is die verwerking van haar dood vir my des te pynliker: die grusame betreding van haar private ruimte. Toe ek haar bedank het in die nawoord van Die buigsaamheid van verdriet, wat verlede jaar verskyn het, het ek geskryf dat ek nooit my gesprekke met haar mag onderskat nie. Dankbaar is ek vanaand dat ek Ewebeeld aan haar opgedra het. En nog vir oulaas haar gebel het op 'n Sondagaand, en oudergewoonte kon skerts. My pyn en verdriet lê buite woorde. Dit is iemand met wie ek vele verliese verwerk het, onder andere ook die dood van haar eggenoot Timo Smuts. Tussen-in
Bibliografie
LitNet: 09 Februarie 2005
Stuur 'n bydrae per e-pos na webvoet@litnet.co.za
indien jy 'n herinnering van Lisbé Smuts-Smith met ons wil deel.
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |