Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Verwyder net eers die struikelblokke vir swart Afrikaanse skrywers!

Willem Fransman Junior*

Wat ‘n interessante vraag word hier deur Nèlleke de Jager gevra! “Waar is die nuwe generasie swart Afrikaanse skrywers?”

Dit is ‘n vraag wat op vele maniere beantwoord kan word. Tog gaan ek nie poog om op al die vrae te beantwoord nie, gewoon net omdat ek ook maar nie oor al die antwoorde beskik nie. My betrokkenheid by die Afrikaanse Skrywersvereniging het my egter baie geleer van die ongemak wat opkomende skrywers met hoofstroom-uitgewers ervaar het en steeds ervaar. Redes waarom werke van die swart Afrikaanse skrywers nooit oor die drumpels van die uitgewers kom nie, is legio.

Ek is bewus van vele skrywers op die platteland, en selfs in stedelike gebiede, wat eenvoudig net nie by magte is om hul skryfwerk ordentlik getik te kry nie. Ons het maar eers onlangs verneem dat Kwela handgeskrewe tekste aanvaar. Dit was nooit algemene kennis nie. Geld speel in die hele proses natuurlik ook ‘n beduidende rol. Baie swart en bruin (en deesdae ook wit) skrywers is glad nie by magte om hul werke by uitgewers uit te kry nie, agv werkloosheid. Mens kan dit afmaak as verskonings, maar as ‘n skrywer moet kies tussen die geld van posversending van ‘n manuskrip en melk en brood, sal laasgenoemde altyd voorrang geniet.

Maar dat daar ‘n behoefte aan manuskripte vanuit swart Afrikaanse skrywersgeledere bestaan, is ‘n seker saak. Die mens se oeroue drang om hom uit te druk, is nog steeds by ons aanwesig. Dit is so dat daar die afgelope paar jaar selfs skrywers én digters vanuit plakkerskampe se geledere kom.

Wanneer alles in ag geneem word, rus die onus steeds op die individuele skrywers of hulle gepubliseer wil word al dan nie. Dalk is daar nie die nodige selfvertroue nie. Dalk hét skrywers al hul werk aan hoofstroom- uitgewers voorgelê en was hulle so ontnugter met die keurdersverslag dat hulle eerder verkies om molskrywers te bly. ‘n Molskrywer is een wat sy werk klaar skryf, dit vir sy vriende wys en dit dan weer terugsit in die laai of koevert.

Dit is vir my ‘n riem onder die hart om weekliks tekste van onbekende hoopvolle skrywers te ontvang. En dit verteenwoordig ook al die genres. Sommige kom wel deur die pos, ander per e-pos en ander sommer per hand afgelewer. Toegegee, nie almal is publiseerbaar nie. Toegegee, feitlik al die digters se werke is so persoonlik en intiem van aard dat mens voel jy loer by iemand se slaapkamer in! Ander is weer uitsluitlik godsdienstig van aard. Toegegee, daar is baie van die tekste wat nog vanuit die wit gemeenskap kom (soos Nèlleke ook tereg na verwys).

Die geskiedenis het geleer dat oral waar ‘n nasie of groep mense verdruk word, daar ‘n opbloei in hul letterkunde kom sodra bevryding gekom het. So was dit in die onlangse verlede die geval nadat die Berlynse muur geval het. So was dit toe die USSR verbrokkel het. En so was dit ook aanvanklik net na ons bevryding. Memela se woorde is inderdaad geldig. Ek dink nie die wit lesende Afrikaanse publiek is werklik voorbereid om van ons bitter pyn van die verlede te hoor nie. Aanvanklik was uitgewers met tekste oor ons “struggle” toegegooi. Toe is deur uitgewers gesê dat daar niks nuuts in die tekste is nie, omdat almal maar eintlik net “sonbesie-letterkunde” is: al die skrywers zoem op dieselfde trant voor. Want die “struggle” het nie net in ons poësie inslag gevind nie, maar ook in ons dramas en kortverhale! As mens dan vra waar die swart Afrikaanse skryfwerk is, is die antwoord reeds aan baie uitgewers bekend. Skryf, so word ons geleer, kan terapeuties wees. So was daar gepoog om die struggle uit ons lywe te skryf kort na bevryding en slegs ‘n klein getal skrywers het die geleentheid gekry om hul saak in dié verband te stel. As swart Afrikaanse skrywers net kort na bevryding toegelaat was om hul harte en koppe oop en leeg te skryf, sou daardie vraag nooit in 2005 gevra hoef te word nie.

In ‘n artikel in Mei 2004 maak ek in Die Burger (dis ook later in Beeld gepubliseer) die stelling dat daar ‘n “hek voor die uitgewerye is”. My antwoord, van ouduitgewer Koos Human, het ewe sarkasties gekom: “Die hek is daar vir almal.” Net snaaks dat daardie hek vir ons maar baie stadig oopswaai. En dit is ‘n feit dat daar in die tien jaar van demokrasie bekende sangers se werke gepubliseer is. Dit is ‘n ander bekende feit dat as daar gekies moet word tussen ‘n onbekende swart Afrikaanse skrywer en ‘n bekende openbare persoonlikheid, laasgenoemde beslis voorrang gaan geniet. Want soms, net soms, verkoop persoonlikhede se gesigte beter as gehalte! Vir uitgewers is dit – en dis my beskeie mening – eerder belangriker wat gaan verkoop en watter boeke sal later tog verpulp moet word (lees: geld dan gemors word).

De Jager maak nêrens in haar relaas melding van gemeenskapspublikasies of tuispublikasies nie. Is dit opsetlik? Dis hier waar die onbekende swart Afrikaanse skrywer dink sy uitweg lê. Daar is talle van die swart Afrikaanse skrywers wat hul heil by tuisuitgewers gaan soek het. En daar is nogal baie wat ‘n redelike reputasie opgebou het. Selfs die Afrikaanse Skrywersvereniging het met behulp van befondsing hierdie as ‘n uitweg raakgesien. Maar ook hierdie uitweg word helaas die onbekende swart Afrikaanse skrywer nie gegun nie! Werke van skrywers wat self uitgee het, word met absolute venyn en minagting deur sommige resensente behandel. So asof hulle aangestel is as wagters op Sionsmure (uitgewersmure). Van hulle maak dan asof hulle Don Quichotte is wat in elke tuispublikasie ‘n windmeul sien wat hulle moet stormloop. Baie van hierdie pogings het meriete. Met ‘n tweede of ‘n derde uitgeepoging sal baie foute reggestel word.

Suid-Afrikaanse skeppende skryfwerk sal net kan gedy as daar tussen die hoofstroomuitgewers en die onbekende skrywers ‘n soort van samewerkingsooreenkoms kom. Soos byvoorbeeld dat gesamentlik verantwoordelikheid aanvaar sal word vir manuskripontwikkeling. Maak nie saak of daar nie sulke reëlings in ander lande in plek is nie. Ons is histories benadeel en daarom (om die Bybelse uitdrukking te ontleen) rus die verantwoordelikheid op diegene wat finansieel sterk is om die een te help wat swak is!

En die leserskorps is daar! Die geelpers het dit nou al bewys! Ons moet net sorg dat die mark gestimuleer word met boeke vanuit die eie gemeenskap. Sorg dat boeke gedruk word wat die kind se eie leef- en begrippewêreld weerspieël. Dan sal ons nie net ‘n nuwe geslag lesers kweek nie, maar ook sommer ‘n nuwe geslag skrywers.

Miskien sal dit die laaste keer wees dat die vraag: “Waar is die nuwe generasie swart Afrikaanse skrywers?” gestel word. Dalk kry ons al die antwoorde tog by die Derde Swart Afrikaanse Skrywersimposium.

Intussen moet ons ook self hand uit eie boesem trek, op ons skryfspiere gaan sit, ophou die struikelblokke voorhou, en begin skryf.

*Willem Fransman Junior is stigterslid van die Afrikaanse Skrywersvereniging en dien tans in sy tweede termyn as nasionale voorsitter. Hy is rubriekskrywer vir Die Burger, toneelresensent en bekroonde radiodramaturg, gepubliseerde kortverhaalskrywer en digter.


LitNet: 14 Oktober 2005

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.