|
|
Kortverhaalwenners aangekondig!Erns GrundlingDie wenners van die eerste nasionale Afrikaanse kortverhaalkompetisie is vroeër die week aangekondig tydens die bekendstelling van die Woordfeesprogram by die Sasol-Kunsmuseum op Stellenbosch. Die kompetisie word aangebied deur die Woordfees, in samewerking met LitNet en die Protea Boekhuis. Die bekroonde skrywer en joernalis, Rachelle Greeff, het die eerste prys van R10 000 verower met haar verhaal "Swiets in Rhodesië". Greeff wat al verskeie bundels en romans die lig laat sien het, het in haar reaksie op dié meevaller genoem dat "borge en organiseerders nie besef watter positiewe inspuiting so 'n kompetisie tot gevolg kan hê nie. Die amper 800 inskrywings wat dié kompetisie vir 'n eerste keer ontvang het, wys hoe groot die behoefte is." Christine Barkhuizen le Roux se "Persiese Sprokie" is in die tweede plek (R7 000) aangewys. Le Roux het in 2000 met die digbundel Dimensie gedebuteer, en is tans besig met 'n skripsie oor die Nederlandse poësie. "Ek was heeltemal oorstelp. Ek het gehoop om in die bundel opgeneem te word, maar beslis nie om 'n prys te wen nie!" Willemien Brümmer, joernalis by Die Burger en besig met haar MA in Kreatiewe skryf onder leiding van Etienne van Heerden by die Universiteit Kaapstad, het die debuutprys van R5 000 ontvang met die verhaal "Papagena". "Uitgewers moet hulle allerbeste doen om jong skrywers aan te moedig - deur debuutpryse soos dié en meer geleenthede vir publikasie te skep. Daar is genoeg mense wat kan, maar dit help nie as hulle voel dat hulle vir die wind en die voëltjies skryf nie, " het sy gesê. Van links na regs is Christine Barkhuizen le Roux (naaswenner), Rachelle Greeff (wenner) en Willemien Brümmer (debuutwenner). Foto: Marli van Wyngaard Die pryse is deur Louis Esterhuizen van die Protea Boekwinkel oorhandig. Protea Boekhuis beplan om 'n bundel met van die beste werke uit te gee en hierdie skrywers sal later in kennis gestel word. LitNet publiseer binnekort die drie wenverhale tesame met kommentaar deur die beoordelaars. Besprekings vir die Woordfees het reeds geopen. Skakel (021) 808 3513 of e-pos fees@sun.ac.za. Besoek ook www.sun.ac.za/woordfees. Hier volg 'n kort Heupvuur-onderhoud met die drie wenners: Klik hier vir haar verhaal
Bio: Vryskutjoernalis en bekroonde kortverhaalskrywer met een oorweldigende behoefte: eerder tien treffende woorde as 'n duisend middelmatiges. Te skryf én te lees. Behaal 'n MA in skeppende skryfwerk onder leiding van Etienne van Heerden aan die Universiteit van Kaapstad. Na 'n kwarteeu in die joernalistiek ly ek aan (my eie) woordversadiging. Hoe ouer ek word, hoe meer wens ek ek was 'n digter. 1. Hoe het die spesifieke verhaal by jou aangemeld? Die foto wat destyds oral verskyn het van die dooie Zimbabwiese boer wat lê onder die bedsprei met die Jack Russell langs hom, het my geruk. Ek het al meer gruwelike foto's in my lewe gesien, maar die impak van dié een het gebly - en gegroei. 'n Storie skiet in jou los na gelang van waar jy wentel in jou eie gemoed, jou kreatiewe wêreld en die groter sosiaal-politieke bestel. Só 'n prikkeling kan jy kunsmatig bedink, maar as dit uit die kollektiewe onderbewuste oppervlak toe bars - op presies die regte tyd - is dit soveel 'n sterker storie. 2. Waarom fassineer die kortverhaal as genre jou? Omdat ek 'n kort attention span het - raak maklik verveeld. Jy vuur uit die heup, dis die ander rede. En die woordekonomie is uitdagend. Gee my 700 woorde en 'n topic en ek skryf waarskynlik iets goeds; gee my net 'n topic, en wat ek skryf, is minder tight. Laastens: die lae van betekenis wat 'n kortverhaal in hom kan ronddra, die metaforiese digtheid, die intiemer omgaan met die poëtiese. 3. Wie is jou geliefkoosde kortverhaalskrywer, in Afrikaans en in ander tale? Dit hang af. Ek lees gereeld Granta, wat altyd goeie korter werk het en mens 'n gevoel gee van waaroor mense in die wêreld skryf. Oorlede Raymond Carver is en bly 'n baken. Hy sê net wat hy moet en hou dan op. Hy skryf ook in wat ek noem kombuistaal. Afrikaans het heelwat sterk kortverhaalskrywers. Jammer iemand soos Alexander Strachan skryf nie meer kort stories nie - wel, nie wat ek van weet nie. Of Etienne van Heerden. Ken Barris skryf in Engels hier by ons helder, digte verhale van integriteit. Maar ek lees meer poësie en romans en niefiksie as wat ek kortverhale lees. 4. Hoe voel jy oor die stand van die Suid-Afrikaanse letterkunde? Kan nie sê nie. Nie 'n kenner nie. 5. Watter drie boeke sou jy aanbeveel vir enigiemand wat wil skryf? Wat vir 'n vraag is dit nou? Nee man, elkeen stap mos na sy eie kompas. Maar as ek nou moet: die beste digbundel waarop jy jou hand kan lê. Plaaslik byvoorbeeld 'n Antjie Krog. Etlike goeie woordeboeke. En, net omdat hy op die oomblik weer in die nuus is, Primo Levi. 6. Wat doen jy om inspirasie te kry? Mens kry nie inspirasie nie, jy maak dit. Met elke gawe tot jou beskikking. Klik hier vir haar verhaal
Bio: Ek is 45 jaar oud, het 'n man en drie kinders en is tans besig met afronding aan my Meestersgraad by UWK oor Judith Herzberg, 'n bekende Nederlandse digteres. Ek het in 2000 'n poësiebundel gepubliseer: dimensie. Intussen was daar verhale in INSIG, en 'n bloemlesing Mense is mense. Ek is besig met afronding aan 'n kortverhaalbundel en 'n nuwe digbundel wat so tussendeur ontstaan het, en daar is 'n roman in wording. 1. Hoe het dié spesifieke verhaal by jou aangemeld? Ek is besig met 'n studie in Nederlandse letterkunde - spesifiek poësie. Daardeur het ek ook met die verskynsel van die multikulturele samelewing van Nederland te doen gekry. Ek het gedink dat daar 'n verhaal uit so iets te fabriseer is. Dit tesame met ons, Suid-Afrikaners, se verbintenis met Nederland. 2. Waarom fassineer die kortverhaal as genre jou? Die kortverhaal bied 'n uitdaging om 'n gebeurtenis of stuk lewe - hetsy waar, onwaar of gedeeltelik waar - in so min moontlik woorde, maar met soveel betekenis as moontlik weer te gee. Dit is ruimer as die poësie, en maak spasie vir 'n iets meer emosie en ook vir die "storie-aspek". Tog is die element van misterie belangrik, sodat die leser aan die einde van die verhaal steeds moet voel dat daar "vrae oorbly". Die poësie lê my egter die digste by die hart. 3. Wie is jou geliefkoosde kortverhaalskrywer, in Afrikaans en in ander tale? Ek dink 'n mens kan nie één enkele skrywer in Afrikaans noem nie, daarvoor is daar te veel goeies. In alfabetiese volgorde onder andere: Hennie Aucamp, Abraham H de Vries, Jeanette Ferreira, Rachelle Greeff, en Elias Nel. In Nederlands: J Bernlef, Arnon Grunberg (Grunberg rond de wereld), Cees Nooteboom. Engels: Roald Dahl, Somerset Maugham. En dan ook Amy Bloom, Jorge Luis Borges en Guy de Maupassant. 4. Hoe voel jy oor die stand van die Suid-Afrikaanse letterkunde? Positief. Daar is genoeg goeie skrywers. Maar ek kry soms die indruk dat uitgewers nie dink dat nuwe skrywers ernstig opgeneem behoort te word nie. Ek sê dit nie om wille van myself nie, maar ek ken 'n hele paar "onbekende skrywers" wat eenvoudig nie daarin kan slaag om hulle manuskripte alleen maar gelees te laat kry nie! Ek sou ook wou sien dat bemarking van die kant van uitgewers beter word - nie net vir bekende skrywers nie en nie net vir 'n paar boeke wat vooraf "gemaak" word en op dié manier 'n kunsmatige situasie skep nie. Ek dink ook dat ons 'n groot behoefte het aan verantwoordelike resensente. Daar is natuurlik wel diesulkes, maar daar is ook dié wat geen gebalanseerde resensie kan skryf nie. 5. Watter drie boeke sou jy aanbeveel vir enigiemand wat wil skryf? Die blote storie van Hennie Aucamp; Skryf 'n storie (Hans du Plessis) en Die Afrikaanse Kortverhaalboek van Abraham H de Vries (sesde hersiene uitgawe). 6. Wat doen jy om inspirasie te kry? 'n Mens kan nie "iets spesifiek" gaan doen om "inspirasie te kry" nie. Maar 'n mens moet wel lééf - met jou sintuie oop. Dan kom daar soms stories op vreemde maniere na 'n mens toe. Klik hier vir haar verhaal
Bio: Willemien Brümmer (30) het eers drama aan die Universiteit van Stellenbosch studeer, waarna sy (uit vrees vir werkloosheid en selfmoordgedagtes) by die US se joernalistiek-departement gaan aanklop het. Nadat sy 'n honneursgraad in joernalistiek voltooi het, werk sy reeds die afgelope vyf jaar by Die Burger - en is tans verantwoordelik vir diepte-artikels en die weeklikse rubriek Oop Kaarte. Sy probeer tans haar M in kreatiewe skryfwerk klaarmaak aan die Universiteit van Kaapstad. Haar studieleier is Etienne van Heerden. 1. Hoe het dié spesifieke verhaal by jou aangemeld? My liewe liewe woonstelmaat het in die verlede heelwat probleme gehad met duiwe wat onwettig in ons dak "geplak" het. Sy het keer op keer by die woonsteleienaars (of hul gesante) gekla, maar bitter min het gebeur. Uiteindelik is die duiwe deur amptelike pesbeheermense (of iets dergeliks) verjaag. Die gevolg? Toe die duiwe weg is, het sy hartseer by die venster uitgetuur en na die duiwe verlang. Die storie het my diep geraak, en ek wou nog altyd iets skryf daaroor - veral omdat dit 'n sekere hunkering in myself ook verwoord het. Dit was egter eers nadat ek in September of daar rond weer Mozart se opera Die Towerfluit gesien het dat ek my genoop gevoel het om agter my rekenaar in te skuif. Veral omdat Papageno, die voëlvanger in die opera, se eintlike soeke na liefde was, nie na voëls nie. En, nou ja, ek hoef seker nie oor al die betekenisse van "voël" uit te wy nie. 2. Waarom fassineer die kortverhaal as genre jou? As joernalis het ek nog altyd probeer om soveel as moontlik betekenis te prop in so min as moontlik ruimte - eers met heelwat trane, daarna (nogal verbasend!) met al hoe meer genoegdoening. Ek het naamlik besluit kort skryf hoef nie 'n straf te wees nie - dit kan ook op sigself 'n kunsvorm wees. Ook in kortverhale lê die kuns daarin om so min as moontlik woorde te gebruik om soveel as moontlik aan jou leser oor te dra. Elke woord dra betekenis - selfs die oop spasies en die stiltes. Vir my lê die kuns van goeie kortverhale juis in die feit dat als wat oortollig is, weggesny is. Die storie moet as 't ware kaal voor jou staan sonder dat hy homself hoef te verklaar of te verduidelik. 3. Wie is jou geliefkoosde kortverhaalskrywer, in Afrikaans en in ander tale? In Afrikaans is dit moeilik om te kies tussen Braam de Vries en Koos Prinsloo. In Engels waarskynlik AS Byatt. 4. Hoe voel jy oor die stand van die Suid-Afrikaanse letterkunde? Ek dink mense moet minder práát oor "Die Stand van die Afrikaanse Letterkunde", en meer dóén. Jy maak 'n taal (en 'n letterkunde) morsdoodvrek deur daaroor te teoretiseer en taaldebatte te hou totdat dit by jou ore uitloop. Wat ons nodig het, is meer mense met die moed om in ons wondermooie taal te skryf, en meer met die openheid om die taal te lees. Natuurlik ook uitgewers wat die moed (en die geld!) het om gehaltewerk in Afrikaans te publiseer. 5. Watter drie boeke sou jy aanbeveel vir enigiemand wat wil skryf? Little Black Book of Stories van AS Byatt (veral die verhaal "A Stone Woman"), Sewe dae by die Silbersteins van Etienne Leroux en, nou ja - dan sal hulle seker ook maar 'n paar laaaaaaaaang nagte opsy moet sit vir Agaat. 6. Wat doen jy om inspirasie te kry? Mmm, dis 'n moeilike een. Knoffel kap; opera sing; soos 'n besetene in die berg galop; deadlines; wanneer my studieleier, Etienne van Heerden, vir my frons omdat ek besonder lanklaas vir hom 'n storie gestuur het. Dalk ook wanneer boyfriends my los en ek ontsettend jammer vir myself voel. Nee, eintlik is skryf vir my baie soos sing. Dis iets waarvoor jy geanker in jouself moet voel en in kontak moet wees met 'n soort "heilige kern" binne jouself. Hoe verder jy van dié kern wegbeweeg, hoe meer nonsens sal jy skryf. Hoop nie ek klink soos 'n Happy Clappy nie.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |